Lukas 15:11-24; Matteus 6:9

God se woonkamer (Preek 2)



Votum en seën
Lofsang: Psalm 146:1
Na wet: Gesang 2:3
Na belydenis: Gesang 1:4
Gebed
Skriflesing: Lukas 15:11-24; Matteus 6:9
Sang: Gesang 296
Prediking:
Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Ons het verlede keer, as inleiding tot die reeks preke oor die Onse Vader, gesê dat die Onse Vader-gebed gesien kan word as die huis van God, die huis waarin God ons siel, ons gees, wil huisves. Dat die Onse Vader ‘n gebed, ‘n huis is waarin ons kan skuil, met ons hele lewe. Ons het verder probeer aantoon dat elke strofe van hierdie gebed, selfs sekere woorde in hierdie gebed wat Jesus se dissipels geleer het, gesien kan word as een of ander vertrek van die huis van God.

Wanneer ons vanaand, broers en susters, aandag gee aan die twee woordjies Onse Vader (Mat 6:9), maak ons die voordeur van God se huis oop, en wanneer ons instap, vat God ons hand en lei ons na sy huis se woonkamer. As ons mooi na die foto’s teen die mure kyk, sal ons ons foto daar sien. En as ons by God se plakboeke sou stilstaan, sou ons ons lewensverhaal daar kry. Maar vandag is daarvoor nie tyd nie. Want God neem ons na sy woonkamer, en meer spesifiek, na ‘n skildery wat bo die kaggel teen die muur hang. Daar waar almal wat die huis binnekom, dit kan sien.

Vasgevang in die skildery, is ‘n ontroerende toneel van ‘n pa en ‘n seun. Agter hulle is ‘n groot huis op ‘n koppie. Onder hulle voete is ‘n nou paadjie. Die pa het bo van die huis af gehardloop gekom, en die seun het met die paadjie opgeloop. By die hek het hulle mekaar ontmoet.

Ons kan nie die seun se gesig sien nie, want dit lê vas teen sy pa se bors. Al wat ons van agter af kan sien, is sy vertoiingde klere en sy vuil hare. Daar is modder agter op sy bene, stof op sy skouers en op die grond lê ‘n leë beursie. Eens op ‘n tyd was daardie beursie vol geld, en die seun vol hoogmoed. Maar dit was dosyne drink- en kuierplekke gelede. Nou is die geld en die hoogmoed iets van die verlede. Die seun bied geen verduideliking aan nie. Al wat hy kan bied, is die reuk van varke en die verskoning wat hy vooraf voorberei het: Pa, ek het teen God en Pa gesondig. Ek is nie meer werd om Pa se seun genoem te word nie. Wat hy van plan is om te sê, weet ons: maak my ‘n slaaf. Straf my. Haal my voorletters van die posbus af, vee my naam uit die familiestamboom. Ek is bereid om ‘n huurling te word.

Maar daar is ‘n probleem. Alhoewel die seun bereid is om op te hou om seun te wees, is die pa nie bereid om op te hou om pa te wees nie. Want al kan ons nie die gesig van die seun op die skildery sien nie, kan ons die gesig van die pa nie miskyk nie. Trane loop oor sy wange, en ‘n glimlag breek deur sy silwer baard. Sy een arm hou die seun vas dat hy nie omval nie, en die ander een hou hom so styf vas dat hy nooit weer sal kan wegkom nie. .

Maak gou, skree hy. Bring klere, die beste, bring ‘n ring en skoene, en bring die vetgemaakte kalf, slag hom, dat ons kan feesvier. Want my seun wat verlore was, het ek weer teruggekry.
Hoe, broers en susters, moes hierdie woorde nie hierdie seun verstom het nie? Want alhoewel hy gewillig was om op te hou om sy pa se seun te wees, was hierdie pa nie bereid om op te hou om pa te wees nie. Hy is Pa, en sal altyd sy kinders se Pa, se Vader, bly.

Daarom, broers en susters, is dit nie vreemd dat ons in die Bybel sien dat van al sy name, die naam Vader vir God sy gunstelingnaam is nie. Terwyl Hy op aarde was, het Jesus God meer as tweehonderd keer Vader genoem. In die eerste woorde van Jesus wat in Lukas opgeteken is, het Jesus God Vader/Pa genoem (het u nie geweet dat ek in die huis van my Vader moet wees nie?) en in sy laaste woorde voor Hy sterf het Hy uitgeroep ‘Vader, in u hande gee Ek my gees oor. Net in die Johannesevangelie alleen herhaal Jesus hierdie naam 156 keer. God hou daarvan dat ons Hom vader noem. En, daarom nie vreemd nie, het Jesus se dissipels geleer om hulle gebed te begin met die woorde, ons Vader, ons Abba.

Wat, broers en susters, en dit moet ons dadelik raaksien, nie gebruik in die tyd van Jesus was nie. Want alhoewel die woordjie Abba daagliks deur Joodse kinders gebruik was om hulle vaders aan te spreek, vind ons in alle literatuur voor Jesus, geen enkele geval waar enige iemand God so aanspreek nie. Tog het Jesus dit sonder uitsondering gedoen (Behalwe vir een geval, Jesus se uitroep aan die kruis waar Hy gesê het, My God My God, waarom het U my verlaat.)

Hoe dit ook al sy, broers en susters, kom ons vat voorlopig saam: die eerste twee woorde van die Onse Vader-gebed, die woorde Onse Vader, herinner ons daaraan dat ons altyd welkom in God se huis is — veral in sy woonkamer — omdat ons deur die Eienaar van daardie huis aangeneem is.

Want wanneer ons, broers en susters, ons as sondaarmen­se tot God wend, vergewe God ons nie maar net nie. Nee, baie meer gebeur: van verdoemde weeskinders vol vrees word ons verander tot aangenome kinders sonder vrees. En hier is presies hoe dit gebeur: ons verskyn voor die regterstoel van God, vol opstand en oortredings. Omdat God regverdig is, kan Hy ons nie oorsien nie. Maar Hy het ons ook lief. Daarom verstom Hy deur homself aan die kruis te straf vir ons sondes. En so word God se regverdigheid en liefde in gelyke maat gehandhaaf. En ek, skepsel van God, word vergewe. Maar, soos reeds gesê, daar eindig dit nie.

Want in Romeine 8:15-16 staan daar: julle het die Gees van God ontvang wat julle tot kinders van God maak, en wat ons laat roep Abba. Hierdie Gees getuig saam met ons Gees dat ons kinders van God is. Of, Galasiërs 4:4-5: toe die tyd aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur om ons los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem is.

Dit sou seker voldoende gewees het, broers en susters, as God net ons skuld vrygespreek het. Maar God doen meer as dit. Hy gee ons sy Naam. Hy vat ons huis toe. Hy neem ons aan. Hoekom? Ek, dink, broers en susters, dat aanneemouers dit dalk beter sal verstaan as enigiemand anders (en ek wil hoegenaamd geen biologiese ouer hier te na kom nie — ek is self een). Ons as biologiese ouers ken die verlange om ‘n kind te hê, en in die meeste gevalle het ons wiegies maklik gevul geraak. Ons het besluit ons wil ‘n kind hê, en in die meeste gevalle het ‘n kind gekom. Om die waarheid te sê, soms het die kind gekom sonder dat ons eers ‘n besluit geneem het. Maar soos ons al dikwels van onbeplande swangerskappe gehoor het, broers en susters, het ek nog nooit van ‘n onbeplande aanneming gehoor nie.

Daarom dat ek dink dat aanneemouers God se passie om ons aan te neem, so goed verstaan. Hulle weet wat dit beteken om innerlik leeg te voel, om ‘n leë huis te hê. Hulle weet wat dit beteken om te soek en te soek en te bly soek, hulle weet wat dit beteken om die verant­woordelikheid te aanvaar vir ‘n kind wat dikwels ‘n sogenaamde bevlekte verlede en ‘n twyfelagtige toekoms het. Daarom, as daar iemand is wat God se ywer verstaan vir sy kinders, is dit iemand wat ‘n weeskind gered het van wanhoop. Want dit is wat God gedoen het. Omdat Hy sy huis vol wil hê, het Hy ons gesoek, en toe Hy ons kry, die dokument geteken en ons huistoe geneem. En al wat daarvoor nodig was, was twee woorde wat geuiter moet word: Ons Vader. My Vader. My Abba. En dan kan ons maar deur sy voordeur stap en in sy woonkamer gaan sit.

Een ding, broers en susters, moet ons egter baie goed verstaan. Een ding wat ons ook nooit moet vergeet nie. God neem ons nie aan omdat ons so mooi is, so goed is, of so fyn en flink is nie. God het nie ons geld of ons wysheid nodig nie. Hy doen dit omdat Hy wou. Om geen ander rede nie. Wat meer is: toe God dit gedoen het, het Hy geweet dat ons Hom heel waarskynlik nog baie probleme sal gee. En watter prys Hy daarvoor sou moes betaal. Maar Hy het. Want Hy wou. Om geen ander rede nie. En die Bybel het ‘n baie eenvoudige woord daarvoor: genade.

Ek sluit af. Nadat God ons voor hierdie skildery staan gemaak het, en ons genoeg tyd gehad het om daarna te kyk, en kon sien wie en wat God regtig is, vat God nou ons hand om ons die res van sy huis te gaan wys. Volgende op die lys is die fondament van sy huis. Daarna gaan ons volgende keer saam met God kyk. Maar net voor God ons uit sy woonkamer weglei, het Hy ‘n laaste versoek: kyk weer na die skildery, staan so ‘n bietjie nader, en sien dat heel onder op die skildery, in fyn skrif, iets neergeskryf is.

Die woorde wat daar staan is dit: Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Jesus Christus onse Here.

Hierdie is woorde, broers en susters, wat wil sê: Jou Vader sal jou nooit die deur wys nie. Die voordeur van sy huis staan altyd oop. Leer om te vertoef in die woonkamer van God se huis. Wanneer ander mense se woorde jou seermaak, of wanneer jou eie mislukkings jou ontstel, kom hier in. Kyk weer na hierdie skildery en laat dit jou aan God herinner: noem Hom heilig as jy wil. Want dit is Hy. Maar as jy sy hart wil raak, as jy regtig vir Hom wil sê wat Hy vir jou beteken, gebruik die naam wat Hy die graagste wil hoor. Noem Hom Abba, jou Vader.
Amen

Dankgebed
Slotsang: Gesang 294
Slotseën