Eksodus 3:1-15; Matteus 6:9

Die fondament van God se huis (Preek 3)



Votum en seën
Lofsang: Gesang 191:1, 3, 4 en 6
Na wet: Gesang 226:2
Na belydenis: Lied 30:1-3 (Proefsangbundel)
Gebed
Skriflesing: Lukas 15:11-24; Matteus 6:9
Sang:
Prediking:
Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Vir die wat nie die eerste twee geleenthede teenwoordig was nie, vinnig die volgende: die Onse Vader-gebed kan gesien word as die huis van God, die huis waarin God ons siel, ons gees, wil huisves. Die Onse Vader is ‘n gebed, maar ook ‘n huis waarin ons kan skuil, met ons hele lewe. Verder: elke strofe van hierdie gebed, selfs sekere woorde in hierdie gebed wat Jesus sy dissipels geleer het, kan gesien word as een of ander vertrek in die huis van God. Verlede keer het ons aandag gegee aan God se woonkamer, en vanaand gee ons aandag aan die fondament van God se huis.

Die belangrikste woord in die Onse Vader, broers en susters, is ook die kortste. Dit is ‘n woordjie so kort dat ‘n mens maklik verby dit kan lees, maar sonder hierdie woordjie kan die huis van God nie bly staan nie. Haal jy hierdie woordjie uit, stort God se hele huis in duie. Die woordjie waarna ek verwys, broers en susters, is die woordjie ‘is’, in die eerste strofe van die Onse Vader, naamlik Onse Vader wat in die hemel is.

Wat wil die ‘is’ in hierdie bede vir ons sê? Dat God is. Nie dat God was nie. Nie dat God sal wees nie. Nie dat God God kan wees of behoort te wees nie. Maar dat God is. Hy is God in die teenwoordige tyd. En Hy is die fondament van sy eie huis. Kom ons kyk vanaand wat ek hiermee bedoel, en ek wil sommer dadelik begin met ‘n baie eenvoudige voorbeeld.

Sê nou maar u moet na Kaapstad toe vir ‘n vergadering of werk, en u bespreek ‘n plek op ‘n vliegtuig om daar te kom. Kan u uself indink dat die volgende sal gebeur wanneer die lugwaardin u daar by die trappies van die vliegtuig inwag: meneer/mevrou, voor u die vliegtuig binnestap, moet u eers ‘n paar vragies antwoord. Sê vir my, kan u vlieg? Kan u arms vinnig op en af swaai om op te styg? En weet u hoe om te land wanneer u eers in die lug is? Belaglike vrae, broers en susters. Want die feit van die saak is, my vermoë om te kan vlieg of nie, is nie belangrik wanneer ek my sitplek op ‘n vliegtuig inneem nie. Hoekom? Eenvoudig: ek maak staat op die krag van die vliegtuig om my te bring waar ek wil wees. En met dit het my vermoë om self te kan vlieg, niks te make nie.

Kom ons sê dit anders: my prestasies, hoe edel ook al, my getuigskrif, hoe skitterend ook al, is van geen belang as dit kom by die feit dat God God is nie. God is dit sonder my. Hy is die fondament van alles, van sy huis. Die sleutelvraag in die lewe is daarom nie ‘hoe sterk is ek nie’, maar ‘hoe sterk is God’. Fokus op God se krag, nie op joune nie, wil hierdie woordjie ‘is’ dus sê. Hou jou besig met wat God is, nie met die grootte van jou boarmspier nie.

Presies, broers en susters, wat Moses hier in Eksodus 3 gedoen het. Of, ten minste, dit is wat God vir Moses gesê het om te doen. Ons ken die verhaal goed. Maar kom ons kyk vir ‘n keer vanuit ‘n ander hoek daarna. In die heel eerste sin, sê God vir Moses wie en wat hy is, en wie en wat Hy (God) is. ‘Trek uit jou skoene, want die plek waarop jy staan, is heilige grond’. Met hierdie dertien woorde, broers en susters, word Moses ingeskryf vir ‘n kursus oor God. En onmiddellik word elkeen se rol uitgespel. God is heilig. Hy is God, Hy is anders as ons. Wat meer is: dit gaan in hierdie lewe nie oor wat ons kan doen nie, maar in die eerste plek oor wie en wat God is, en wat Hy kan doen. Daarom, in hulle gesprek verspil God nie tyd om Moses te oortuig wat Moses kan doen nie, maar God verduidelik aan hom wat Hy wat God is, kan doen.

Ons is so geneig, broers en susters, om die teenoorgestelde te doen. Ons sou dalk vir Moses verduidelik het hoe ideaal geskik hy is om terug te gaan Egipte toe — hy is immers ‘n voormalige prins wat die Egiptenare se kultuur verstaan en ken. Ons sou dalk ook vir Moses verduidelik het hoe geskik hy vir die lang woestynreis was — want wie ken die woestyn beter as hy, ‘n skaapwagter? Ons sou ook dalk tyd bestee om vir Moses te herinner aan sy lewens­geskiedenis, wat hy alles al reggekry het — daarom, kom ou Moses, jy kan dit doen, probeer net!

Maar God, broers en susters, doen dit nie. Inteendeel. Ek, sê God, het my volk se ellende gesien en hulle noodkrete gehoor. Daarom gaan Ek hulle red. Daarom stuur Ek jou. Ek sal by jou wees, en Ek sal jou sê wat jy moet sê. Jy is niks meer as my verteenwoordiger nie. En as hulle vra wat my Naam is, wie die Een is wat jou gestuur het, sê net ‘Ek is wat Ek is’, dit is my Naam.

Let mooi op, broers en susters. Moses se krag word nie in aanmerking geneem nie. Hy word nie moed ingepraat nie. Hy kry nie ‘n klop op die skouer omdat hy gekies is nie. Daar word nie een woord gesê om hom te werf nie. Maar baie word oor God gesê: wat Hy gehoor het, wat Hy besluit het, en wat Hy gaan doen. God se krag gaan alles laat gebeur, nie die krag van Moses nie.

In ander woorde: u en ek is nie die dryfkrag agter ons lewe nie, God is dit. Alles in die lewe rus en berus op God se krag, op die wat Hy is, op dit wat sy Naam is. En dit, broers en susters, sien ons baie goed, veral in die Ou Testament.

Om God se Name te verstaan, broers en susters, is nie sommer net ‘n vlugtige saak nie. Daar is per slot van rekening meer as tagtig name vir God net in die Ou Testament alleen. Name vir God wat, elkeen op sy eie, een of ander karakter van God openbaar. Kom ons kyk vlugtig na ‘n paar voorbeelde, en kom ons maak gebruik van die name wat van die geloofshelde in die Ou Testament vir God gegee het.

Interessant in die Ou Testament, broers en susters, is dat hoe beter die volk God leer ken het, hoe meer name hulle aan God toegedig het. Aanvanklik was God bekend as Elohim. In die begin het God (Elohim) geskep. Hierdie woord, Elohim, dra die betekenis van sterke of skepper (en kom 31 keer voor in Genesis 1). God was dus aan die begin bekend alleen as die Skepper.

Maar namate die volk God leer ken het, het hulle Hom begin sien as meer as maar net ‘n sterk mag. Hulle het Hom leer ken ook as die liefdevolle Vader wat hulle by elke kruispad van hulle lewens ontmoet/ingewag het. Jakob byvoorbeeld, het God begin sien as Jehova-raah, die sorgsame herder. Vir sy gesin het hy vertel van ‘die God wat my my lewe lank as Herder gelei het, tot vandag toe (Gen 48:15). Vir God was dit eintlik ‘n kompliment, want Jakob, weet ons, was maar ‘n baie wederstrewige skaap. Hy het sy broer twee keer bedrieg, en ten minste een keer sy pa. Ook het hy sy skoonpa uitoorlê met die aanteel van hulle vee, en een nag stilletjies met alles weggeglip wat nie vasgespyker was nie. Maar, al was Jakob nou nie eintlik die geskikste kandidaat om die toekenning skaap van die jaar te kry nie, het God hom nie vergeet en gelos nie. Hy het aan hom kos voorsien toe daar hongersnood was, al sy mislukkings en foute vergewe, en sy laaste jare aan hom geloof gegee.

Abraham weer het God Jehova-jireh genoem, die Here wat voorsien. Toe Abraham vanuit Ur getrek het, en sy gesin gevra het waar hulle gaan bly, het Abraham eenvoudig gesê: God sal voorsien. En God het. So was dit ook toe hy en Lot die grond moes verdeel, hy langs Sara gestaan het by ‘n leë wiegie, hy sy seun geneem het en op die altaar geplaas het om te offer. Toe al hierdie mense gevra het: maar hoe gaan ons oorleef, wanneer kom my kind, waar is die lam, het Abraham gesê: Jehova-jireh, God sal voorsien. En God het.

So was dit ook met Gideon. God het Gideon die opdrag gegee om die volk tot oorwinning oor die Midianiete te lei. Dit wat as ‘n onmoontlike moontlikheid vanuit menslike hoek gesien was. Maar dit is hoe God maak: staan op teen jou man wat jou mishandel, sê hy vir die huisvrou. Moet nie dwelms by ander neem nie, sê hy vir die kind wat onder geweldige groepsdruk verkeer. Jy, swakke mens, gaan verkondig aan die gemeente die waarheid, al is jy ook aan so baie dinge skuldig, sê Hy daagliks vir duisende predikers. Gaan Gideon, sê Hy. Want al weet Ek julle kan nie. Ek kan. En om dit te bewys, gee Hy aan ons elkeen in so ‘n situasie ‘n wonderlike geskenk. Hy bewerk in ons ‘n gees van vrede.

‘n Onlogiese vrede, soos Paulus (Fil 4:7) dit genoem het. ‘n Vrede wat alle verstand te bowe gaan. Hy het dit vir Dawid gegee toe Hy Goliat vir hom gewys het, vir Paulus nadat Hy die ware evangelie vir hom gewys het, vir Jesus nadat Hy aan Hom die kruis gewys het, en vir Gideon, nadat Gideon gesien het hoe magtig die Midianiete was. En wat maak Gideon toe? Hy bou ‘n altaar, en gee God ‘n naam: Jehova-shalom, die Here is vrede.

So was dit ook met Moses, om terug by hom te kom. Ons ken mos die verhaal net na die uittog uit Egipte. Drie dae lank het hulle getrek deur die woestyn in die warm son. Hulle was moeg en dors, meer as ‘n miljoen mense. En toe hulle uiteindelik by water kom, was die water brak, bitter en gevaarlik. Toe het Moses die Here aangeroep, en God het hom ‘n stuk hout gegee. En toe Moses die hout in die water gooi, het die water soet geword. En hierdie keer het God sommer self sy Naam bekend gemaak: ‘dit is Ek, die Here, (Jehova-rophe) wat julle gesond hou’ (Eks 15:26).

Hierdie, broers en susters, is maar ‘n paar name wat God se karakter beskryf, wat sê wie die ‘is’ is, in die eerste bede van die Onse Vader, Onse Vader wat in die hemel is. Onthou gerus maar ‘n paar van hierdie name, want daar mag miskien ‘n dag kom dat u en ek van hierdie name nodig mag kry.

Want wanneer ons miskien verward oor ons omstandig­hede en toekoms mag wees, is dit goed om te weet dat ons na Jehova-raah kan gaan, God as die Herder wat sorg. Of, as alles vir u voel of dit buite beheer raak, roep God gerus as Elohim aan, die sterke God wat alles geskep het en nog in stand hou. Wanneer jy bekommerd is oor voorsiening vir môre, praat gerus met jou Jehova-jireh, die Here wat voorsien. As jy vrede nodig het, roep Hom aan as Jehova-shalom, en as jy seer en stukkend deur die lewe gedruk en gepluk is, soek Hom gerus op as Jehova-rophe, God wat genees. En Hy sal jou te woord staan.

Want dit is wat en hoe God is. Hy doen dit vir ons. Hy is ons krag. Ons krag is nie nodig nie. Want God is wat Hy is. Hy is ons Vader wat in die hemel is. Hy is die Herder wat lei, die Here wat voorsien, die stem wat vrede in die storm bring, die een wat ons van alles genees. Want Hy is. En sal altyd wees. Daarom is Hy die fondament van ons hele lewe. Van alles wat ons is. Want Hy is.

Volgende keer gaan God ons wys hoe die uitkyktoring van sy huis lyk.
Amen

Dankgebed:
Slotsang: Gesang 4:1en 4
Slotseën