Job 38:1-18; 39:34-38; Matteus 6:9b

Die kapel in God se huis (Preek 5)



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Ons almal, glo ek, ken spreekwoorde en/of uitsprake soos ‘Sit ‘n wag voor jou mond’, ‘die tong, so klein, kan ‘n geweldige vuur aansteek’, `wees stadig om te praat maar vinnig om te luister’, of, ‘God het ons twee ore gegee en een mond, om twee keer meer te luister en die helfte minder te praat. Almal spreekwoorde/spreke wat sê: ons is eenvoudig maar net ‘n spesie wat meer daarvan hou om te praat as om te luister. Praat kan ons goed doen, maar luister minder goed.

In Job se lewe, broers en susters, was dit aanvanklik nie anders nie. As daar ‘n fout in sy lewe was, was dit sy tong. Hy het eenvoudig te veel gepraat.

Dit alles het op ‘n dag begin wat Job nooit sou vergeet nie. Die eerste slegte nuus was inderdaad sleg, maar darem nie so sleg nie: Job se vyande uit Skeba het Job se osse en donkies gesteel, van sy slawe doodgemaak, en was nou heerlik besig om iewers langs die pad ‘n vleisie te braai. Toe kom die tweede boodskap: die weerlig het al sy kleinvee doodgeslaan. En toe kom die derde: al u kamele is gesteel. En toe die vierde en ergste: die wind het die huis waarin u kinders besig was om partytjie te hou van al vier kante af laat inval.

Maar nog was dit het einde niet. Voor Job kans kry om hulp in te roep, verskyn die melaatsheid op sy hande en die swere op sy vel. En Job stap na die ashoop. Gister nog in sy huis, vandag tussen die vullis en as. Sy vrou kom hom darem besoek, en die ou simpatieke siel wat sy was, het vir hom baie goeie raad so tussen al haar gepraat deur: ‘Vervloek God en sterf’.

En voor Job nog oor sy vrou se raad kon sit en tob, daag sy vriende op. Ook hulle is baie goed in die kuns van praat. Met die takt van ‘n brandnetel, praat hulle baie om aan Job baie mooi die oorsaak van sy situasie te verduidelik: God is regverdig, ou maat — daarom, alles wat jou getref het, is jou eie skuld. So seker as wat een en een twee is, het jy iewers kwaad gedoen, baie kwaad gedoen, die dat jy nou so erg moet ly. Lyding soos hierdie, kan net die gevolg van sonde wees.

So het hulle aangegaan. Elifas, Bildad en Sofar, sogenaamd Job se vriende, het elkeen sy eie, presiese interpretasie van God gehad. Elkeen van hulle het geglo dat hy presies geweet het wie God was, en waarom Hy doen wat Hy doen. En Job, broers en susters? Wat het Job gemaak? Hy was, soos nog ‘n ander spreekwoord sê, ook nie eintlik op sy mond geval nie. Lustig het hy, driftig, saamgepraat, saamgestem en verskil. Sy opinie was darem ook ter sake. Hy was immers betrokke. Hy was immers die een wat nie uit eie keuse op die ashoop gesit het nie.

En so het hulle gepraat, oor en weer. Kyk hoe mooi beskryf die boek Job dit:

  • Job het begin praat (Job 3:1);
  • toe sê Elifas die Temaniet (Job 4:1);
  • toe het Job weer gepraat (Job 6:1);
  • toe sê Bildad die Suagiet (Job 8:1);
    toe het Job weer gepraat (Job 9:1);
  • toe sê Sofar die Naämatiet vir Job (11:1);
  • en toe het Job weer gepraat (Job 12:1).

Hierdie mondelinge tafeltennis, broers en susters, hou vir nie korter as 23 hoofstukke aan nie. Maar nog was dit het einde niet van al die gepraat. Want op ‘n punt in die gesprek, aan die begin van hoofstuk 24, besluit Job dat hy nou genoeg gehad het van al die geredekawel, van die dinkskrum wat oor God aan die gang was. Dit het tyd geword, besluit Job, vir sy groot toespraak. Hy vat daarom die mikrofoon stewig vas met die een hand, die preekstoel met die ander, en vir ses hoofstukke lank gee hy sy mening oor God. Hy sê vir God wie God is, hy definieer God, hy verduidelik wie God is, en gee sommer as tema ‘n oorsig oor God. En uit alles wat Job sê is een ding baie duidelik: Job weet beslis meer van God as wat God van Homself weet!

Maar dan, broers en susters, dan breek God sy stilswye. Ek wil amper sê: na 37 hoofstukke het God nou genoeg gehad van al die gepraat. En skaars het God begin praat, of Job besef dat hy eintlik liewers moes stilgebly het. Maak jou reg vir die stryd Job, die stryd wat jy begin het met al jou gepraat. Wat dink jy weet jy van My af? Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het? Wie, dink jy, het die aarde afgemeet? Weet jy dit? Wie het die maatlyn oor die aarde gespan? Waarop is die aarde se voetstukke gesit? Wys dit ‘n bietjie vir my, jy wat so baie praat en tog so slim is?

Waar is die plek waar die lig woon? En die donkerte, waar bly dit? Was jy al daar waar die sneeu gebêre word? Wie gee die reën? Het die reën ‘n vader? Wie bring die ryp en ys te voorskyn? Wie beheer die sterre? Weet jy hoe die sterre werk? Kan jy die wolke se stem laat praat? Kan jy weerligstrale uitstuur? En so gaan God aan.

God vul Job se kop met vrae, en Job kan nie anders as om die boodskap te kry nie: net God ken Homself. Net God kan God definieer. Job kry skaars kans om sy kop te skud voor die volgende vraag kom. Maar Job kry die boodskap: jy moet die alfabet ken voor jy kan lees. En jy Job, jy wat nie eers die ABC van die hemel ken nie, hoe kan jy iets oor My wil sê?

Of anders gesê: Sodra jy, ou Job, in staat is om eenvoudige ou dingetjies te doen soos om die sterre op hulle plek te hou, dit te laat reën, die volstruis sy vlerke te laat klap, dan kan ons begin praat oor die sin of rede agter pyn en lyding. Maar tot dan, tot dan sal ons kan klaarkom sonder al jou kommentaar en jou baie woorde.

Kry Job die boodskap, broers en susters? Ek dink so, want in Job 39:37 sê Job: Kyk God. Ek besef nou. Ek is te gering. Wat kan ek U antwoord? Ek lê my hand op my mond!

Moet nie, my broer en suster, die radikale verandering in Job se gesindheid en optrede hier mislees nie. Voor Job vir God gehoor het, aan die begin toe hy God nie kans wou gee om te praat nie, kon Job nie genoeg praat nie. Hy het ‘n verklaring vir alles gehad. Maar toe praat God. En toe kon Job nie ‘n woord sê nie.

Wat, broers en susters, wou God hier vir Job — en vir ons — leer? Dat daar oomblikke in ‘n mens se lewe kom wanneer jy liewer moet luister as om te praat. Skerper gesê: daar kom tye in elke kind van God se lewe wanneer daar liewer gewag moet word dat God moet praat, as wat God met ‘n stortvloed van woorde toegetakel word. Die woord vir sulke oomblikke is eerbied, die plek (vertrek) vir sulke oomblikke is die kapel in God se huis, en die bede wat in daardie kapel gebid moet word, is: Laat U naam geheilig word.

Hierdie frase van die Onse Vader, broers en susters, is ‘n smeekbede, ‘n versoek, dit is nie ‘n stelling nie. Laat U Naam geheilig word. Dit is iets wat moet gebeur. Dit is iets wat ons moet toelaat om te gebeur. Ons moet God kans gee om God te wees, by wyse van spreke. En kom ek verduidelik dadelik wat ek met hiermee vreemde stelling op die oor bedoel.

Wanneer ‘n mens op see in ‘n storm beland, is daar eintlik net een manier om by die land uit te kom. Dit help nie om vir ander bote te mik, of die hele tyd na die golwe te kyk nie. Nee. Jy moet jou oog op iets rig, die boot in die rigting van iets stuur wat nie deur die wind en die golwe geaffekteer word nie. Soos ‘n lig wat op land skyn. Daarop kan jy, en moet jy mik, want die lig staan vas, altyd op dieselfde plek. Dit word nie beïnvloed deur golwe, reën, seestrome of wind nie.

Daarom: wanneer die golwe van die lewe my lewe wil omslaan, die wind my van koers af wil druk, die seestrome my stadig wegvoer die donkerte in, my omstandighede my verstand deurmekaar waai, dan kom ons Vader in wie se huis ons bly, Hy vat ons aan die hand en lei ons in die kapel van sy huis in. Met die woorde: gaan sit, bid ‘Laat U Naam geheilig word’ en wees dan stil. En luister.

Laat My toe om God te wees. Fokus op My. Ek wat groter as al jou vrae is. Ek wat groter as elke omstandigheid van jou lewe is. Ek wat alles beheer. Bly stil en fokus op My, Ek wat groter as enige storm of vraag in jou lewe is.

En soos Ek Job geantwoord het, my kind, so sal Ek jou ook antwoord. Meer nog: soos Ek weer sin in Job se lewe gebring het, so sal Ek dit vir jou ook doen. Ek sal jou al die antwoorde op jou vrae gee. Op My manier en op My tyd. Ek sal. Want Ek weet van jou. Jy is dan my kind.

Maar dan moet jy gereeld in my kapel kom sit. En al wat jy mag sê is: Here, laat U Naam geheilig word. Laat my net toe om God te wees, die God wat Ek is, en nie die God wat jy dink Ek is nie. Luister net, en in jou gedagte en lewe sal jy al die antwoorde kry.

Praat net minder. Babbel net minder. Moet net nie altyd so slim soos ‘n boom vol uile wil wees nie. Luister net. Sit net. Ek is God, en in my kapel, daar waar my kinders kom sit om te luister, daar kry hulle al die antwoorde op hulle vrae.

Wanneer laas, broers en susters, het ons regtig voor God stil geraak sonder om iets te sê? Dalk lanklaas? Dit is heel waarskynlik ook die rede vir al die vrae oor die lewe wat ons soms so met ons saamdra.
Amen