1 Johannes 5:14-15; Jakobus 5:13-18; Matteus 6:10a

Voor die troon in God se huis (Preek 6)



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Verlede keer het ons gesien, toe ons vanuit ‘n effense ander hoek na die bede ‘laat U Naam geheilig word’ gekyk het, dat wanneer ons tot God in die gebed nader (in die kapel van sy huis ingaan), die eerste ding wat ons moet doen is alles behalwe om te praat. Nee. Ons moet liewers ons hand op ons mond sit uit eerbied vir God se heiligheid. Ons moet eers bewus word van die feit dat ons in God se heilige teenwoordigheid is. Ons moet eers stil raak. Ons moet eers luister. Eers rustig raak. Eers hoor wat God wil sê. En dan tot sy troon in die kapel nader om te bid.

En wanneer ons dan begin bid, broers en susters, het iemand eendag gesê, moet dit nie soos gewoonlik klink nie. Gewoonlik, sê die iemand, klink ons gebede soms presies soos wanneer ons ‘n hamburger bestel: ‘Ek soek een pro­bleem opgelos en twee seëninge, en maak gou, asseblief, ek is haastig’.

Hoe, broers en susters, moet ons gebede begin? Jesus self, broers en susters, leer ons hoe om te begin. Onse Vader wat in die hemel is, laat U Naam geheilig word, laat U koninkryk kom. Wanneer ‘n mens bid ‘laat U koninkryk kom’, broers en susters, nooi ‘n mens die Here om self in jou lewe in te kom. In jou hele lewe in. Om op die troon van jou lewe te gaan sit. Jou besitter te wees. Jou lewe oor te neem. Om teenwoordig in jou hart te wees. In jou kantoor. In jou huwelik. Om die Here van jou vrese te wees, van jou bekommernisse, van jou twyfel. En van jou wanhoop.

En as ons, broers en susters, hierdie gebed, met hierdie bedoeling, vurig en opreg bid, sal ons lewens nooit weer dieselfde wees nie. Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag, het ons in Jakobus 5:16 (Ou Vertaling) gelees. Dink u wat ek sê is moontlik? Dink u dat ‘n opregte gebed werklik ‘n groot verskil kan maak?

Ek dink so, broers en susters. Veral as ons na die verhaal van Ester kyk. Die meeste van ons ken die verhaal van die boek Ester. Ahasveros was koning van Persië, wat in sy tyd gestrek het vanaf Indië tot by Etiopië.. Ahasveros was magtig. Met die blote lig van ‘n wenkbrou kon hy die lot van duisende mense beïnvloed. En kom ons sê vinnig en voorlopig: in hierdie opsig simboliseer Ahasveros die mag van God (let wel: nie God nie), ons God wat alles beheer, soos ons tevore in sy uitkyktoring gesing het.

Haman, broers en susters, was Ahasveros se regterhand. Oor hom kan jy nie ‘n enkele goeie woord in die hele boek Ester lees nie. Hy was selfsugtig, magsugtig, eersugtig, ‘n onversadigbare en volslae egoïs. Almal, wou hy gehad het, moes hom aanbid. Almal moes voor hom buig. En almal het. Behalwe die Jood Mordegai.

Dit het Haman briesend gemaak, so briesend dat hy besluit het dat, omdat Mordegai ‘n Jood was, al die Jode in die ryk uitgewis moes word. In oorleg met Ahasveros is ‘n datum dan ook vasgestel.

Ester, broers en susters, was op daardie stadium die ko­ningin. Sy het koningin geword deur ‘n skoonheidskom­petisie te wen. As Jood (wat Ahasveros nie geweet het sy was nie), het Ester binne die bestek van ‘n dag van niks, ‘n totaal onbekende, gevorder tot koninklike, koningin, ge­vorder tot in die paleis.

‘n Plan moes gemaak word om Haman se plan teen te werk. En eintlik was die plan voor die hand liggend. Ester, die koningin, was ‘n Jood. Sy kon dus maar net vir die Jode by Ahasveros intree. Immers, dit was ook Mordegai se voorstel aan haar.

Daar was egter ‘n probleem. ‘n Groot probleem, en ons lees daarvan in Ester 4:11: as enigiemand na die binneste voorhof gegaan het waar Ahasveros gesit het, sonder om genooi of versoek te word deur die koning self, het net een wet gegeld: die doodstraf. Daar was egter ‘n moontlike uitsondering: as iemand ongevraagd/ongenooid tot die koning sou nader, kon die koning, indien hy wou, sy goue septer na so iemand uitsteek. Dan was so iemand welkom.

Dit was dus, so onmoontlik soos dit klink, dus nie eers vir die koningin moontlik om na die koning te gaan sonder ‘n uitnodiging nie. Niemand mog in die troonkamer gekom het sonder ‘n uitnodiging nie.

Maar Ester besluit om die kans te waag. En toe sy voor die koning gaan staan, lees ons in Ester 5:2, het sy die koning so bekoor met haar skoonheid dat hy sy septer na haar toe uitgesteek het. En ons almal weet wat daarna gebeur het: Ester vertel vir Ahasveros van die plan om al haar volksgenote dood te maak. Die koning is woedend, stop die volksmoord, en wil ook weet wie agter die plan sit. En so word Haman opgehang aan die galg wat vir Mordegai bedoel was, en Mordegai kry Haman se pos.

Dit alles, die red van ‘n hele volk, omdat Ester dit gewaag het om tot die koning te nader. Omdat sy bereid was om ‘n versoek te rig. Een versoek, wat baie mense se lewens verander het. Een versoek, wat geweldige gevolge gehad het.

Dit is met ons, broers en susters, nie baie anders as met Ester nie. Soos Ester, woon ons in ‘n paleis. Soos Ester is ons van ver af na die paleis gebring. Soos Ester verdien ons nie eintlik om in God se huis te woon nie. Soos Ester is ons ook ‘n bruid, die bruid van Christus.

Maar ons verskil ook van Ester, broers en susters: ons hemelse koning mag genader word, sonder uitnodiging. Meer: ons hoef God nie te bekoor sodat Hy na ons sal luister nie. Inteendeel, as sondaars is ons totaal onmagtig om God eers te probeer bekoor. Ook: ons mag gaan wanneer ons wil. Soveel keer as ons wil. Ons mag in die kapel ingaan. Ons mag voor die troon gaan staan. En vra.

Maar as ons vra, broers en susters, moet ons reg vra. Of kom ek sê dit anders: as ons vra, kan ons nie maar net vra wat ons wil, en wat ons dink vir ons die beste is nie. Soos Ester gevra het dat God se wil moes geskied deurdat onskuldige mense nie vermoor moes word nie, so moet ons, en mag ons eintlik net, na God se wil vra.

1 Johannes 5:14 sê dit duidelik: ons kan met vrymoe­digheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons na sy wil vra. En wanneer ons bid, broers en susters ‘laat U koninkryk kom’, vra ons inderdaad na God se wil. Ons vra dat hy Koning van ons hele lewe sal word. Here van ons hele lewe. Dat Hy ons lewens sal oorneem. Dit alles, is God se wil vir u en vir my. En daarom ‘n gebed, wanneer dit opreg en vurig gebid word, wat verhoor sal word.

‘n Gebed, broers en susters, wat verreikende gevolge in ons lewens sal hê. Soos Ester se versoek verreikende gevolge gehad het. Soos Elia se gebede, waarvan Jakobus hier praat, verreikende gevolge gehad het. Dit is ‘n gebed wat ons lewens sal verander.

Het ons al werklik opreg en vurig, broers en susters, hierdie gebed gebid? Gevra dat God Heer van my hele lewe sal word? Dat God my besitter sal word? As ons dit nog nie gedoen het nie, mag ons nou maar. As ons reeds het, mag ons maar weer.

Eintlik: ons kan nie anders nie. Want Jesus het ons selfs geleer: wanneer jy voor God gaan staan, Hom Vader genoem het, geluister het wat Hy vir jou wil sê, en dan self begin vra, moet jy so begin: Laat U koninkryk kom. In my lewe. In my hele lewe. So ‘n gebed sal verhoor word.
Amen