Lukas 24:13-35; Matteus 6:10b

In God se studeerkamer (Preek 7)



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
In ons gedeelte tref ons twee bedrukte dissipels aan, twee dae nadat Jesus gekruisig is, op pad vanaf Jerusalem na hulle huis Emmaus. Te oordeel aan hulle hangskouers en bedrukte gesigte sou ‘n mens nooit kon glo dat dit Opstandingsondag was nie. As jy vir hulle sou kyk sou dit lyk of Jesus nog in die graf gelê het.

Want hoor wat sê hulle in vers 21: ‘Ons het so gehoop dat dit Hy is wat Israel sou verlos’. Asof Jesus nie het nie, broers en susters! So pas het Jesus opgestaan en die hele wêreld verlos van hulle sonde, so pas het Jesus met die dood afgereken. En wat maak die twee? Hulle kla oor die juk van Rome, al is die juk van die sonde weg. Hulle kla oor die vrystelling van belasting, al is al hulle reeds van al hulle sondes bevry.

Wat dus ‘n vreugdevolle dag vir hulle moes wees, was vir hulle ‘n dag vol van wanhoop. Hoe, wil ‘n mens vra, was dit moontlik? Dat twee dissipels van Jesus, wat so na aan Hom gelewe het, nie besef het dat Jesus lewe nie? Dat hulle die betekenis van sy dood misgeloop het? Hoe was dit moontlik?

Dit was moontlik, broers en susters, omdat hulle nie geweet het hoe om die wil van God te verstaan nie. En hulle is nie alleen nie. Ook ons het dikwels al na die lewe en omstandighede gestaar en gewonder watter rigting om te gaan. Dit terwyl ons goed weet dat God ‘n wil vir ons het. Dat hy ‘n plan vir ons almal het. Bo alles: dat God vir ons elkeen ‘n baie goeie plan het.

Wat is hierdie plan? Jeremia 29:11 stel dit so: ‘Ek weet wat ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teëspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting!

Die vraag wat dikwels in ons brand, broers en susters, is eenvoudig: ek weet God het ‘n plan vir my. Dit staan dan so duidelik in die Skrif. Maar hoe kom ek daarby uit? Een van die beste maniere om hierdie vraag te beantwoord is om te kyk na hierdie verhaal van daardie twee verwarde dissipels op pad na Emmaus. En daar is geen beter plek om dit te doen juis in God se studeerkamer nie, en geen beter tyd om, voor ons in God se studeerkamer instap, te bid: Here, laat asseblief U wil in my lewe geskied.

Daarom: indien ons werklik wil weet wat God se wil vir ons lewe is, kom ons stap saam met God in sy studeerkamer in. Twee stoele staan in die middel van die vertrek. Een vir jou, en een vir God. En wanneer jy gaan sit, hoor jy God se eerste woorde: jy soek My wil in jou lewe. Ek wil hê dat jy sal weet wat my wil vir jou is. Kom ek sê vir jou wat my wil vir jou is. Meer nog: kom ek vertel jou hoe jy My wil sal agterkom. En dit gaan Ek, sê God, doen deur ge­bruik te maak van die verhaal van hierdie twee dissipels op pad na Emmaus. Hulle het my dood misgeloop. Hoekom? Daar is ten minste vier redes, of dan, ‘n paar foute wat hulle gemaak het. En omdat hulle hierdie foute gemaak het, het hulle die betekenis agter die gebeure van die kruis nie verstaan nie.

Hulle fout nommer een was die volgende: hulle het die woorde van hulle mededissipels verontagsaam. Ek, sê God, openbaar dikwels My wil deur ander mense. Soos Ek op die eerste Opstandingsondag met deur die vroue gepraat het, en hulle weer met ander gaan praat het. Die vroue was die oggend by die graf. ‘n Engel het aan hulle meegedeel dat Ek lewe. En aan baie ander. Ook aan daardie twee mans op pad na Emmaus. Maar hulle wou dit nie glo. Daarom het hulle nie in Jerusalem gebly nie, maar die pad gevat Emmaus toe. As hulle daardie vroue geglo het, en soos baie ander na My graf gegaan het om te sien dat dit regtig leeg is, soos hulle geweet het dat Ek lewe. Dit was hulle eerste fout.

God, broers en susters, werk vandag nog nie anders nie. Hy praat nog steeds deur gelowiges met gelowiges. Dit gebeur op verskeie maniere. In gesprekke met ander gelowiges. Tydens Bybelstudie waar mense opmerkings maak en hulle ervaring van God se teenwoordigheid met mekaar deel. Dit gebeur wanneer ons tee drink na ons oggenderedienste.

Dit is, terloops, broers en susters, hoekom Satan ons nie in die kerk wil hê nie. Want ons weet mos hoe dit werk: wanneer ons ‘n laagtepunt in ons lewens bereik, wil ons nie tussen ander mense wees nie. Daarom, as die erediens klaar is, maak ons soos die Emmausgangers — ons stryk aan huis toe. Ons wil nie ander sien of hoor nie. Dalk sien ons dat hulle blymoedig in hulle laagtepunte is. Dalk dring hulle dit by ons aan om op te staan en weer te begin lewe. En omdat ons nie daar is nie, tussen God se kinders is, hoor ons hulle nie. Hoor ons nie vir God nie. Want God het so baie metodes om met ons te praat, as wat daar mense is.

Satan, broers en susters, wil ook nie hê dat ons God se Woord sal lees nie. Want dit is nog ‘n manier waarop Hy sy wil vir ons openbaar. En dit is juis ook die tweede fout, My kind, wat hierdie twee op pad na Emmaus gemaak het. Hulle het My Woord verontagsaam. Eerder as om die Skrif te gaan raadpleeg, het hulle na hulle vrese geluister.

Dit is hoekom Jesus daar op pad na Emmaus vir hulle die Skrifte uitgelê het. Glo julle nie die dinge wat die profete gesê het nie, het Hy hulle gevra? Het hulle nie gesê dat Jesus Christus al hierdie dinge moes ly om in die heerlikheid in te gaan nie? Daarom het Hy by Moses begin en al die Skrifuitsprake wat op Hom betrekking het, aan hulle uitgelê. Dus: deur die Skrifte te gebruik, het Christus My wil geopenbaar.

Vandag nog, broers en susters, doen God presies dieself­de met sy Skrif. Want as ons dit oopmaak, sal ons baie vinnig baie van God se wil te wete kom. Kom ek noem u net so drie voorbeelde:

  • En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: dat julle almal op die laaste dag sal opstaan (Joh 6:39);
  • So is dit ook die wil van julle Vader in die hemel dat nie een van hierdie kleintjies verlore sal gaan nie (Matt 18:14); en
  • Dit is die wil van My Vader: dat elkeen wat in sy Seun glo, die ewige lewe sal hê (Joh 6:20).

Dit is God se wil dat die wêreld gered sal word, ook u en ek. En as ons dit weet, moet ons onsself inspan om onsself in ooreenstemming met sy wil te bring. Daarom: elke keer wat ek myself betrap dat ek tussen twee paaie moet kies, moet ek vra: Watter pad sal die meeste bydra tot die koninkryk van God?

En ja, soms is die keuse maklik. Daar is byvoorbeeld geen manier dat pornografie, skelmstreke of leuens die koninkryk sal bevorder nie. Ander kere is dit moeiliker. Maar die vraag: watter keuse sal die koninkryk die beste dien, bly dan nog steeds nuttig. As ek moet kies tussen twee beroepe moet die vraag wees: watter een van die twee sal my in staat stel om die grootste bydrae tot die koninkryk te maak? Moet ek weer vergewe en nog ‘n kans gee? Watter keuse sal die grootste impak op die koninkryk maak?

Die derde fout, broers en susters, wat hierdie twee man­ne gemaak het, was om God teenwoordigheid te verlaat. Om van Hom af weg te stap, van Jerusalem af, Emmaus toe. En hoe sê die spreekwoord? Vêr van jou dinge, naby aan jou skade.

So is dit ook met God. Om God te ken, om God se hart te ken, om God se wil vir jou te ken, moet jy ‘n persoonlike verhouding met Hom hê. So persoonlik, dat God met jou sal praat soos Hy nie met ander praat nie. Want hulle is anders as jy. Daarom sal God anders met jou praat as met ander mense. Net omdat God met Moses deur ‘n brandende bos gepraat het, beteken dit nie dat ons ook onder ‘n bos moet gaan sit en vir God wag om met ons te praat nie. Net so het God ‘n vis gebruik om Jona te oortuig van sy ware opdrag. Dit beteken nie dat ons ons eredienste in ‘n akwarium moet hou nie. Inteendeel. God openbaar sy hart en wil aan elke mens persoonlik.

Om hierdie redes, broers en susters, is dit so belangrik dat ons almal, hulle vir wie die geloof werklik saak maak, saam met God sal wandel. Terwyl ons een ding baie goed onthou: God openbaar nie sy hart aan ons tydens so ‘n terloopse gesprekkie of tydens ‘n weeklikse besoekie aan Hom nie. Ons leer God se wil en hart vir ons alleen ken wanneer ons werklik saam met Hom, in sy teenwoordigheid leef. En kom ek maak van ‘n baie eenvoudige voorbeeld gebruik om wat ek so pas gesê het te illustreer. As jy lukraak in die telefoongids iemand se naam uitkies, en vir my sou vra: wat dink jy is hierdie persoon se gevoel oor drankmisbruik, sal ek jou ‘n antwoord moet skuldig bly. Maar as jy my vra hoe my beste vriend of vrou daaroor voel, hoef ek hulle nie eers te vra nie. Ek weet. Want ons praat nou hier van my beste vriend en my vrou. Ek het lank genoeg die pad met my vrou saamgeloop om te weet hoe sy oor baie dinge voel.

Dit is presies net so waar van God. Loop ‘n lank genoeg pad saam met Hom, praat gereeld met Hom, bou ‘n persoonlike verhouding met Hom op, en jy sal weet wat God se passie, sy wil, sy hart is, wat baie dinge betref.

Interessant is dit ook wat presies in hierdie gedeelte gebeur. Toe Jesus by die mans se dorpie aankom, wou Hy verder gaan. Maar hulle wou Hom nie toelaat nie. Hulle wou Hom by hulle gehad het. Wou verder gesels en baie dinge van Hom hoor. Met die gevolg? Toe Hy by hulle die brood breek, het hulle gesien wie al die pad saam met hulle geloop het. Deur in sy teenwoordigheid te wees, het hulle Hom leer ken.

En net so terloops. Het u opgelet wat gebeur het toe Jesus saam met hulle by hulle dorpie aangekom het? Hy het gemaak of Hy verder wou gaan. Maar toe hulle Hom nooi, het Hy gebly. God, broers en susters, wil hê ons moet Hom nooi. Hy wil hê dat ons na Hom sal roep, na Hom sal soek en smag, dan sal Hy by ons wees. En wanneer ons in sy teenwoordigheid kom, leer ons wat sy wil vir ons is.

Die laaste manier, broers en susters, waarop God sy wil aan ons bekendmaak, lees ons van in verse 31 en 32: toe Jesus met hulle op pad gepraat het, sê hierdie twee mans, het hulle harte warm geword. God, broers en susters, openbaar ook sy wil aan ons deur ons harte aan die brand te steek. In Nehemia het Hy ‘n vuur aangesteek vir ‘n vergete stad. Vir Jeremia het Hy ‘n brandende hart vir verharde harte aan die brand gesteek. Abraham se hart het Hy aan die brand gesteek vir ‘n ver land wat hy nog nooit gesien het nie. Al die gespot van ander kon Noag se brandende hart nie doodblus nie, hy het eenvoudig die ark bly bou. Veertig jaar se geswerf in die woestyn kon Moses se passie om die beloofde land te sien, nie blus nie. Jerigo kon Josua nie rem nie, en Goliat het Dawid nie gestuit nie.

So, broers en susters, het God in ons elkeen ‘n vuur aan die brand gesteek, al klink dit vir u hoe vreemd. Word u telkens geraak deur kinders wat verwaarloos word? Voel u dikwels in uself die behoefte om hulle wat swaarkry te help en by te staan? Brand jou hart om ander te lei. Gaan doen dit dan. Want dit is ook hoe God sy wil aan ons bekend maak. Hy gee vir ons ‘n vuur. ‘n passie, vir die dinge wat Hy wil hê ons moet doen, vir die plekke waar Hy wil hê ons betrokke moet raak.

Dit dan, broers en susters, ons les vanaand in God se studeerkamer. As ons opreg bid en vra: Here, laat U wil in my lewe geskied, wil God ons leer wat sy wil is. Verkeer saam met ander gelowiges en luister hoe hulle oor God praat, en praat met hulle, God wil u dalk so gebruik. Moet nooit ophou om sy Woord te lees nie, en soek na sy teenwoordigheid. Poog om jou verhouding met God werklik ‘n persoonlike verhouding te maak. En helaas: moenie daardie dinge wat u graag wil doen verontagsaam nie. God het daardie behoefte in u geplaas, en dit is sy wil dat ons dit gaan doen.
Amen