Johannes 11:1-4; Openbaring 1:9-11; 8:1-5; Matteus 6:10b-c

Die ketelkamer in God se huis (Preek 8)



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Ek wil hê dat ons vanaand onsself ‘n persoon sal voorstel. Hierdie persoon se naam is ‘iemand’. Die persoon se geslag is nie belangrik nie, ook nie die persoon se titel of hoe die persoon gelyk het nie. Want hierdie persoon is nie belangrik oor wie hy of sy was nie, nee, hierdie persoon is belangrik oor wat hy/sy gedoen het.

Wat het hierdie persoon gedoen? Hierdie persoon het namens ‘n vriend na Jesus toe gegaan. Sy vriend was siek en Jesus kon help. En iemand moes dit vir Jesus gaan sê. Ander het op ander maniere na die siek man omgesien. Party het kos gebring, ander het hom behandel, en ander het die gesin help troos.

Maar nog hulp was nodig. Iemand moes na Jesus gaan om te sê dat sy vriend, Lasarus baie siek was. En omdat hy gevra is, het hy gegaan. Wie, broers en susters, was hierdie persoon? Dit is die iemand van wie ons in Johannes 11:3 lees: ‘Die susters het iemand na Jesus te gestuur om te sê: Here, hy vir wie u lief is, is siek’.

Hierdie iemand, broers en susters, het Marta en Maria se versoek aan Jesus gaan oordra. Iemand was bereid om die pad na Jesus te loop. Iemand was bereid om namens Lasarus na Jesus te gaan. En, omdat hierdie iemand bereid was om te gaan, het Jesus gereageer.

En dadelik wil ‘n mens vra: was hierdie persoon se rol so belangrik? Het Jesus nie geweet van sy siek vriend nie? Heel waarskynlik het Hy, broers en susters. Die feit is egter baie duidelik uit die teks: Hy het nie op die familie se nood gereageer voordat hierdie iemand aan Hom die boodskap gebring het nie. En Lasarus is eers genees nadat hierdie iemand aan Hom die boodskap gebring het.

Sou Jesus op sy vriend se nood gereageer het as die boodskapper nie gekom het nie? Miskien, sal party van ons sê. Ander weer sal sê heel waarskynlik. Dit maak egter geen verskil aan die voorbeeld wat hier in ons teks voorgehou word nie: omdat iemand gaan vra het, het Jesus gereageer. Omdat iemand gevra het, is die mag van God aan die beweeg gebring. Omdat iemand, by wyse van spreke, gebid het, het God gereageer, en soos vers 4 sê, is die wonderbaarlike mag van God geopenbaar, en is God daardeur verheerlik. Het Jesus die dood aan sy kake ge­vat en Lasarus teruggeroep na die lewe, net omdat iemand gaan vra het.

In God se huis, broers en susters, is daar ‘n ketelkamer, en in hierdie ketelkamer is daar ‘n vuurmaakplek wat die hele huis beïnvloed en warm hou. Wanneer ons bid, is ons gebede soos kole op daardie vuur. Ons pleidooie voor God is soos fynhout wat die vuur hoër laat brand. ‘n Vuur en ‘n warmte wat ander in God se huis ook bereik, omdat ons help stook het aan die vuur met ons gebede. Efesiërs 6:18 (vry vertaal) sê dit ook presies so: Julle moet altyd en onder alle omstandighede bid onder leiding van die Gees. Moenie verslap nie en wees altyd gereed. Hou aan om ernstig voorbidding te doen vir al die Christene (en natuurlik alle mense, sou ons hier kon byvoeg).

Johannes, broers en susters, stem in sy evangelie hiermee saam. Want toe hy die verhaal van Lasarus vertel het, het hy die volgorde sorgvuldig aangeteken. Die genesing het gekom nadat die versoek gerig was.

Wat meer is, broers en susters, is dat dit nie die eerste en laaste keer is wat die apostel Johannes hierdie argument aanvoer nie. Ongeveer sestig jaar later (in die boek Openbaring) tref ons Johannes aan op die eiland Patmos. Op die dag van Here, sê verse 10 en 11, was hy besig om te bid onder leiding van die Gees. En terwyl hy bid het hy ‘n stem gehoor wat sê: skryf neer wat jy nou gaan sien.

Wat sien Johannes toe? As’ t ware hoe dit in die hemel lyk. Wat in die hemel aan die gang was. Engele wat praat. Gelowiges wat God toesing ‘Heilig, heilig, heilig. Ouderlinge wat bid. Martelare by God wat pleit vir hulle wat nog op aarde is. En ‘n groot menigte wat niemand kan tel nie wat uitroep: ons redding kom van ons God, Hy wat op die troon sit, en van die Lam!

Geluide vul die lug: trompette, aardbewings, uitroepe en verklarings. Intussen word die sewe seëls oopgemaak, een vir een. En toe kom die sewende seël, waarvan ons in hoofstuk 8 gelees het. En wat gebeur toe? Johannes vertel dit so: toe die lam (Christus) die sewende seël oopmaak, het daar skielik stilte in die hemel gekom. Omtrent ‘n half uur lank. Hoekom? Want die rook van die wierook wat deur die engel aan die offer was, het opgestyg saam met die gebed van die gelowiges.

Elke lied hou op. Elke wese in die hemel swyg en elke stukkie geraas bedaar, vertel Johannes. Hoekom? Omdat ‘n gelowige of gelowiges gebid het. Dit was dalk ‘n moeder vir haar kind. ‘n Predikant vir sy gemeente. Of gemeentelede vir hulle predikant. Dit kon selfs ‘n dokter gewees het vir sy siekes. Of ‘n man vir sy vrou of ‘n vrou vir haar man. Ja, dalk het iemand gebid: Here, die een vir wie u baie liefhet, is siek. En die hemel het stil geraak. En God het gehoor. God hoor, broers en susters, wanneer ons bid, vir ander bid. En wanneer God hoor, handel Hy. Handel Hy dat sy wil wat in die hemel geskied, ook op aarde gesien kan word. Dat sy mag in die hemel, ook op aarde sigbaar word (soos Joh 11:4 dit stel).

God, broers en susters, kom tot ons redding wanneer ander vir ons bid. Of ons vir ander bid. Johannes beskryf vir ons presies die volgorde so. Hoekom doen God dit?

Kom ons antwoord deur weer te kyk na die sinnetjie wat Lasarus se vriend gebruik het toe hy vir Jesus van Lasarus se ellende gaan vertel het. Here, Hy vir wie U baie lief is, is baie siek. Hy sê nie: Here, hy wat U baie liefhet is siek nie. Nee, die een wie U baie liefhet. Met ander woorde: daardie iemand wat na Jesus gegaan het baseer nie sy versoek op die liefde van Lasarus nie, maar op God se liefde vir Lasarus. Anders gesê: God antwoord nie ons gebede, God verhoor nie ons gebede op grond van ons liefde vir Hom of bloot op grond van ons versoek(e) nie, maar op grond van sy liefde vir ons. Here, omdat U hom liefhet, handel asseblief tog.

Daarom kan ons, en moet ons broers en susters, hierdie sinnetjie op baie maniere herhaal. Here, die een wat U liefhet, is siek, is moeg, hartseer, platgeslaan, het moedeloos geword, het tou opgegooi, is bang, is verlore, is met die verkeerde dinge besig. Die woorde van die gebed kan maar wissel, maar die reaksie van God se kant af sal nooit nie.

Hy hoor ons gebede. Hy maak selfs die hemel stil om ons te hoor. God luister aandagtig. Sorgsaam. Soos wierook, soos kosbare juwele, kom ons gebede by God uit. Baie ernstig neem God ons gebede op. Al voel jy jy stotter of stamel. Al voel jy dat jy niemand sal beïndruk met jou gebed nie.

Dit beïndruk God, by wyse van spreke. Hy maak die hemel stil om jou mooi te kan hoor. En op grond van sy liefde vir ons, op grond van sy mag en heerlikheid, hoor en verhoor Hy ons.

Sou God gehandel het sonder jou gebed? Heel waarskynlik. Het God ons gebede nodig om Hom aan die beweging te sit? Heel waarskynlik nie. Ons weet hierdie dinge nie. Maar wat ons wel weet is dat, wanneer ons bid, dit soms God in beweging bring. God in beweging bring waar Hy dan mense se lewens, selfs die wêreld, verander.

Daarom, broers en susters, daardie iemand wat na Jesus gegaan het, het ‘n naam. Sy/haar naam is u naam en my naam. Ons het toegang tot God se ketelkamer. Ons het toegang tot sy vuurmaakplek. Ons gebede is soos kole op daardie vuur, wat dit hoër laat brand sodat ander ook God se warmte kan ervaar.

Hoe dit werk, weet ons nie. Die misterie van die gebed verstaan ons minder. En dat God soms handel alleen nadat ons gebid en gevra het, verstaan ons dalk nog minder. Maar die Woord is vanaand baie duidelik, en dit kan ons weet: dit gebeur soms, of kan gebeur dat die gebede van God se kinders God laat handel. Laat God se heerlikheid en mag wat in die hemel is, ook op die aarde sigbaar word. Soos in die geval van Lasarus. En soos dit in baie ander gevalle al was, en nog sal wees. Dit alles, omdat iemand gebid het.

Wonder ons nog, broers en susters, of ons vir onsself en vir ander moet bid? Ek glo nie.
Amen