Matteus 6:11

In God se kombuis (Preek 9)



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Mense hou daarvan om oor kos te praat. Nie alleen word resepte gereeld uitgeruil nie maar ook die manier waarop kos gaargemaak of gekook of voorberei moet word is dikwels die tema van mense se gesprekke. Om nie eers te praat van sekere kossoorte waarvan mense hou en waarvan mense nie hou nie.

Ook kom mense se vreemde eetgewoontes dikwels onder die loep. Soos die een kind wat altyd stroop oor alles gooi wat hy eet. Of die een wat altyd die poeding eerste eet en dan eers die ander kos aanpak. Of ouers wat vir hulle kinders sê: moenie op jou rug lê en eet nie, moet nooit melk drink saam met vis nie, draai die lepel onderstebo as jy roomys eet, dan sal jy nie kopseer kry nie, en so kan ons aangaan.

Om nie eers te praat van etiket as dit by kos kom nie, broers en susters. Veral as dit kom by verskillende kulture. In sekere lande is ‘n leë bord ‘n teken aan die gasvrou dat jy nog honger is, ‘n vurk en mes langs mekaar op ‘n leë die bord sê die kos was heerlik, en ‘n vurk en mens oorkruis sê die kos was alles behalwe heerlik. En so sal ons kan aangaan.

Feit van die saak is dat kos en die plek waar kos gaargemaak word, die kombuis, dikwels die onderwerp van ons gesprekke is. En daar is ‘n goeie rede voor, broers en susters: kos is ‘n basiese behoefte. Ons kan nie daarsonder nie. Dieselfde geld vir ‘n kombuis: ‘n motorhuis is opsioneel, so ook ‘n woonvertrek, ‘n studeerkamer is ‘n luukse, en ‘n tweede badkamer is onderhandelbaar. Maar nie ‘n kombuis nie. Dit is absoluut noodsaaklik. Elke huis het een. Ook God se huis.

Of miskien moet ons sê, veral God se huis. Want wie is meer begaan oor ons basiese behoeftes as God? God, broers en susters, voorsien nie alleen in ons geestelike behoeftes nie. Dieselfde hand wat ons in geregtigheid in Christus klee, gee vir ons klere aan die lyf. Dieselfde hand wat ons geestelik voed, voed ons ook liggaamlik. Eenvoudig gesê: ons redding in Christus en kos vir ons maag kom uit dieselfde hand van God.

Daarom is daar ‘n groot kombuis in God se huis. As jy sy kombuis instap sien jy ‘n geweldige groot tafel met ‘n ontelbare aantal stoele. Want daar is sitplek vir al sy kinders. Verder is dit ‘n gewone kombuis, met nog net een iets spesiaals: teen die muur hang daar ‘n bordjie met ‘n eenvoudige gebed op: gee ons vandag ons dag se brood. En kom ons maak gou eers ‘n paar inleidende opmerkings oor die bede.

Hierdie gebed, broers en susters, het al dikwels in my ‘n klompie vrae na vore gebring. Waar, het ek al gewonder, is die asseblief in hierdie bede? Kan ‘n mens sommer by God instap en sê: gee vir my? Dit klink net nie reg nie. Verder vra die bede so min. Net brood? Wat van so ‘n ietsie anders om te eet as net brood? En wat van môre? Mag ‘n mens dan nou net vir vandag vra, hoekom nie so ietsie vir die spens vir môre ook nie?

Miskien moet ons weer na daardie bede op die muur kyk om hierdie vrae te antwoord. Want in fyn skrif onder die bede op die bordjie staan daar twee reëls. Ons het seker ook reëls in ons kombuis of aan tafel. Iets soos: was jou hande voor jy kom eet. Aan God se tafel is daar ook reëls, twee reëls in fynskrif onder aan die bede op die bordjie. Twee reëls wat lees: ‘moenie skaam wees nie, vra’ en ‘vertrou die Kok’.

Kom ons kyk na God se eerste reël aan sy tafel, naamlik, moenie skaam wees nie, vra. Wanneer ons die bede bid ‘gee ons vandag ons dag se brood, mag dit miskien kortaf en opeisend en selfsugtig klink. Feit van die saak is, broers en susters, dat wanneer ons hierdie bede bid, dit nie die eerste ding is wat ons vir God vra nie. Dit is ook nie eerste vertrek wat ons binnegegaan het in God se huis nie.

Nee. Ons het begin by die bede Ons Vader, waar ons in sy woonkamer gaan sit en gesien het hoe lief God ons het. Dat Hy weier om op te hou om ons Vader te wees. Toe het God ons sy huis se fondament gaan wys, waar ons gesien het hoe ewig God is, dat Hy daarom altyd by ons is. Toe was ons in God se uitkyktoring, en het ons bewus geword van die omvang van sy handewerk. In sy kapel het ons geleer om God se heiligheid raak te sien, en in sy studeerkamer het ons gehoor wat dit is om werklik na sy wil te vra. Toe het ons gesien dat God luister wanneer ons bid.

Hierdie eerste drie bedes, broers en susters, Onse Vader wat in die hemel is. laat u Naam geheilig word, laat U koninkryk kom, laat U wil geskied, is drie bedes wat vra dat God ‘n mens sal verander. Want hierdie drie bedes laat ons God se heiligheid, sy koninkryk en sy wil raaksien, en daarom ons onheiligheid, hoe ons aan ons eie koninkryke wil bou, en hoe groot ons sonde is.

Daarom, teen die tyd wat ons in God se kombuis ingaan, is ons nuutgemaakte mense. Ons is getroos deur ons Vader, verander na sy aard, verwonder deur sy skepping, oortuig van ons skuld deur sy heiligheid, geleer wat sy wil is.

Enige vrees dat God nie in ons behoeftes wil voorsien nie, het ons reeds in sy uitkyktoring agter gelaat. Sal God al daardie dinge maak, die sterre, en dit in stand hou, en nie vir ons brood wil gee nie? Nooit nie. Hy het onderneem om sy hele skepping, ook ons, in stand te hou. Ons is ook nie besig om, wanneer ons vir ons dag se brood te vra, krummels uit ‘n onwillige hand te wring nie. Nee, ons is eintlik maar net besig om te bely dat daardie hand van God oorvloed in dit het. Dit is eintlik maar net ‘n bevestiging dat God sorg.

Wat meer is, hoe sal God ooit van ons verwag om sy werk te doen, om onderrig te gee, as sy getuies te lewe, te weerlê, te bestraf, Hom te dien, sonder om in ons basiese behoeftes te voorsien wat ons nodig het om dit te doen? En kom ons wees maar eerlik: ons het dalk nie altyd ‘n feesmaal gehad nie, maar nog altyd kos. Daar was ten minste brood. En dikwels ook ‘n feesmaal.

Dus: ons bid hierdie bede, broers en susters, net om te vind dat dit reeds verhoor is. Presies soos Dawid se woorde in 1 Kronieke 29:14 ‘Alles kom tog van U af en ons gee aan U wat ons van U af gekry het’.

Ja, broers en susters, ons mag dalk die tjek by die kruidenierswinkel uitskryf of self die sop in die pot roer, maar dit gaan oor baie meer as dit om kos op die tafel te kry. Wat van die oeroue simbiose van saad en grond en water en son en reën? Waar kom dit vandaan? Wie het diere geskep vir kos en minerale vir die metaal van die pot waarin jy nou so staan in roer? Lank voor ons dit nog geweet het, het God so voorsien in jou behoeftes.

Daarom is die eerste reël van God se kombuis die reël van afhanklikheid. Vra gerus maar vir God wat jy nodig het. Hy het onderneem om vir jou te sorg. En erken maar ook dat God tot dusver meer as uitmuntend daarin geslaag het.

Die tweede reël van God se kombuis is baie duidelik: vertrou die kok. En om dit te verduidelik wil ek God se kombuis met ‘n restaurant vergelyk. God se kombuis word nie beheer deur vreemdelinge nie, dit behoort aan God. Jy ken die eienaar persoonlik. God se kombuis is nie ‘n plek wat jy so paar keer ‘n jaar besoek en dan weer vertrek nie. Nee, dit is ‘n plek waar jy elke dag kom, vertoef, kuier en gesels en so al geselsende al die kos kry wat jy nodig het. In God se kombuis eet jy nie en betaal dan nie. Jy eet en sê dankie.

Die grootse verskil, broers en susters, tussen God se kombuis en ‘n restaurant is daardie iets wat ons ‘n spyskaart noem. In ‘n restaurant sit jy aan, neem die spyskaart en besluit wat jy wil eet. In God se kombuis, en aan sy tafel, werk dit egter nie so nie. Daar is nie iets soos ‘n spyskaart nie.

Nee, in God se kombuis is Hy die een wat besluit wat jy vandag sal eet, wat die soort brood is wat jy vandag nodig het. Hy besluit self, berei dit self voor, en gee dit spesifiek vir jou. Omdat Hy presies weet wat jy vandag nodig het.

En het ons dit nie ook al ervaar nie, broers en susters? Party dae is ons bord aan God se tafel oorlopens vol, en bly net voller en voller gelaai word. Dit het dalk begin met ‘n bevordering by die werk, en toe kom ‘n geweldige voorreg wat jy nooit gehad het nie, ook by. En toe nog ‘n nuwe vriendskap. En ‘n geskenk. En toe laai God ‘n leeftyd se genade bo-op alles. en gooi ‘n heerlike sous van vergifnis oor alles. Dit is wanneer ons dan soos Dawid mag uitroep en sê: ‘U laat my by ‘n feesmaal aansit...u ontvang my soos ‘n gas, ek word oorlaai met hartlikheid’.

Dan is daar ook dae, broers en susters, wanneer ons kool of broccoli moet eet. Dalk laai God op ons bord trane, leed, hartseer, kommer, smart of dissipline. Dalk is ons porsie soms teenspoed.

Onthou dan God se kombuis se tweede reël: vertrou die Kok! Hy weet wat vir jou die beste brood is. Al hierdie soorte kos is belangrik, want almal kom van God af. Soos Romeine 8:28 dit stel: ‘ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. Hierdie bede leer ons, broers en susters, om — soos Paulus in Filippense 4:11-13 sê — ‘om vergenoeg te wees met my omstandighede waarin ek is...om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly’.

Miskien, broers en susters, lê die hart van hierdie gebed in Spreuke 30:8-9: ‘[M]oet my nie arm maak of ryk nie, gee my net die kos wat ek nodig het, sodat ek nie te veel het en U verloën en sê ‘Wie is die Here’ nie, en sodat ek nie arm word en steel en my God se Naam oneer aandoen nie’.

Wanneer u bord, broers en susters, volgende keer meer kool as koek bevat, meer broccoli as appeltert, onthou wie vir u daardie maaltyd voorberei het. Elke porsie wat God gee, sal Hy vir u moontlik maak om te kan sluk.

Vra gerus wat u nodig het, maar vertrou die Kok. Hy het nie alreeds in soveel dinge voorsien nie, Hy sal presies weet wat elke dag op u bord gesit moet word. Met hierdie gesindheid mag ons maar bid: Gee ons vandag ons dag se brood!
Amen