Matteus 6:12a; 2 Korintiërs 5:16-21

Die dak van God se huis (Preek 10)



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Mense let selde op na die dak van ‘n huis. Mense sal dikwels byvoorbeeld ‘n opmerking maak oor jou huis se aansig, hoe ruim dit is, dat die huis ‘n mooi kleur geverf is, dat die tuin mooi netjies is, of dat die huis lekker warm in die winter is. Ons almal, glo ek, het al óf hierdie soort komplimente ontvang, óf uitgedeel.

Het iemand al egter, broers en susters, u huis se dak gekomplimenteer? Iets soos: dit is nou een van die mooiste dakke wat ek al gesien het. Dit is wel moontlik, maar nie sommer nie. Inteendeel, baie huise se dakke is nie eers sigbaar nie. ‘n Dak bly maar ‘n dak. Mense sal eerder ‘n mooi voordeur raaksien as ‘n dak.

Met God se huis, broers en susters, is dit egter anders. Toe God sy huis bedek het, het Hy, wat die dak van sy huis betref, geen koste en moeite ontsien nie. Om die waarheid te sê, die dak van sy huis was die duurste item van die hele gebou. Dit het Hom sy Seun gekos om die dak van sy huis op te sit. Want die dak van God se huis, broers en susters, het ‘n naam: die dak van genade. En geen ander bede in die Onse Vader, as die bede ‘vergeef ons ons skuld’, beskryf hierdie dak van genade beter nie.

Kom ons gaan kyk na hierdie dak van God se huis. En kom ons begin by die woordjie ‘skuld’ in hierdie bede. Die woordjie skuld, broers en susters, beteken onder andere om aan iemand geld te skuld: ek skuld die apteker geld, ek skuld die Ontvanger van Inkomste geld, ek skuld geld aan die bank. Die meeste van ons is bevoorreg om in staat te wees om hierdie skulde te kan betaal. En ons weet: terwyl ons nog geld in ons rekening het, is alles reg, kan ons nog alles betaal, maar as ons geld op is, of as ons limiet by die bank oorskry is, en ons skryf nog ‘n tjek uit, kom daardie tjek terug met die harde woorde op: onvoldoende fondse. Wat eintlik wil sê: nou is jy regtig in die skuld, want nou het jy niks meer oor om jou skuld te betaal nie.

By God, broers en susters, kan ons sê, om dieselfde beeld te gebruik, is ons ook soms in die skuld. Of liewer: by God is ons altyd in die skuld. Want kom ons nie by God in die skuld wanneer ons aan sy gebooie ongehoorsaam is nie? Hy sê ons moet noord gaan, en dan gaan ons suid. Hy sê on moet links draai, en dan draai ons regs. Hy sê ons moet ons medemens liefhê, en dan maak ons hulle seer. In plaas daarvan om God se wil te soek, soek ons ons eie wil. Ons is ongehoorsaam aan God.

Net so kom ons by God in die skuld wanneer ons nalaat. Hy stuur iemand op ons pad wat ons nodig het, maar ons loop en leef doodeenvoudig by so iemand verby. HY oortuig ons deur sy Gees om te vergewe, om bepaalde verhoudings reg te stel, maar ons besluit dat as dit ooit gebeur, dit op ons tyd en op ons manier sal wees.

Ons kom by God in die skuld wanneer ons sy kinders minag. Wat sal u doen as ek in u teenwoordigheid u kind beledig, op u kind sou skree of selfs aanrand? U sal dit nie toelaat nie. Maar maak ons nie dikwels met God se kinders presies so nie? Hoe dink u voel God wanneer ons sy kinders met minagting behandel, wanneer ons sy kinders vloek, wanneer ons ‘n kollega uit nyd en jaloesie kritiseer, as ons van ‘n medegelowige skinder, as ons oor sy kinders praat en nie met hulle praat nie. Kom ons nie by God in die skuld, broers en susters, wanneer ons sy kinders so behandel nie?

As God se dak van genade, broers en susters — Jesus Christus se kruisdood en meegaande vergifnis — ons nie gedek het nie, sou ons by God baie gou oortrokke gewees het. Sterker gesê: baie gou sou die tjekkie teruggekom het met die woorde op: onvoldoende fondse. Onvoldoende heiligheid. En ons weet: net hulle wat heilig is, sal God eendag sien. Dit leer die Bybel ons tog. En nou sit ons. Ons heiligheidsrekening is oortrokke. Daar is onvoldoende fondse. En wat nou gemaak?

Goed, ons kan ‘n paar deposito’s probeer. Of altans, dit is wat ons dikwels doen in ‘n poging om ons rekening by God weer in balans te bring. Ek sal, besluit ek, volgende keer vir my buurman vriendelik waai om gister se ongeduld met hom in balans te bring. Ek sal more met my vrou vriendelik wees, en dit sal gister se norse houding teenoor haar in die reine bring. Of ek sal vir die volgende maand gereeld kerk toe gaan, dan sal my balans by God weer positief wees, in die swart, uit die rooi uit.

Maar daar is so paar vrae waarmee ons die heeltyd sit. Hoe weet ek wanneer ek genoeg gedeponeer het? Hoeveel keer moet ek bank toe gaan om my rekening by God in balans te bring? Hoeveel krediet het ek nodig om te oorleef? En wanneer kan ek ontspan?

En dit is juis die probleem, broers en susters. Jy kan nooit nie. Want dit help nie, sê Romeine 4:5, om God te probeer beïndruk deur goeie dade te doen nie. Jy sal nooit vrede hê as jy dit probeer doen nie. Jy gaan die res van jou lewe uitasem probeer om elke dag by die bank uit te kom voordat dit toemaak. Want jy probeer ‘n rekening vereffen wat jy nie kan nie.

Wanneer ons as sondaarmense voor God, broers en susters, tot hierdie insig gekom het, vat God ons aan die hand, in sy huis in, en vra ons om boontoe te kyk, na die dak van sy huis, sy dak van genade. ‘n Dak wat sê: God self spreek jou vry, God self skryf jou skuld af, God self bring jou rekening in balans. Kyk na die dak van my huis, sê God, en weet: Ek het die taak om jou rekening in balans te bring, op myself geneem. Jy kan nie self met jou eie skuld, jou eie sondes afreken nie. Maar Ek kan, en Ek het!

Hoe, broers en susters, het God dit gedoen? Het Hy dit doodeenvoudig oorgesien? Hy sou seker kon. Hy sou seker maar net ons oortrokke rekeningstaat kon verbrand en al ons geweierde tjeks kon ignoreer. Maar sal, kan, ‘n heilige God dit doen? Nee, want dan sou Hy nie heilig wees nie. Bowendien, is dit hoe ons wil hê God met ons moet maak: Hy moet maar net ons sondes ignoreer, en so eintlik ons opstand en verkeerde lewe goedkeur? Sou God dan nog die heilige God wees wat onreg haat?

Of, broers en susters, God kon ook seker besluit om ons vir ons sondes te straf. Hy kon, om ons oortrokke rekening wat ons nie kan vereffen nie af te sluit, ons naam eenvoudig in die boek van die lewe doodgetrek het of ons van die aarde af weggevee het. Maar kan ‘n liefdevolle God dit doen? Niks, sê sy Woord, kan ons skei van die feit dat God ons ongelooflik liefhet nie. Daarom was dit ook nie vir God ‘n oplossing nie. Want dan sou Hy nie meer ‘n God van liefde wees nie.

Dus, wat doen God toe? 2 Korintiërs 5 vers 19 en 21 sê dit mooi: Hy het ons met Homself versoen deur ons nie oortredinge toe te reken nie, maar om Christus, sy Seun, wat sonder sonde was, sonder ‘n oortrokke bankrekening, in ons plek as sondaar te behandel, sodat ons rekening in balans kon kom.

Ons ken hierdie boodskap so goed, broers en susters, daarom pleit ek vanaand dat u nie verby dit sal hoor wat u so pas gehoor het nie. Moenie miskyk wat werklik in hierdie twee verse staan nie. God het ons bankstaat wat wemel van rooi inskrywings en onbetaalde tjeks gevat en sy naam boaan dit geskryf. Hy het sy bankstaat gevat, met miljoene deposito’s daarop en met geen onttrekkings nie, en jou naam boaan geskryf. Jy het sy fortuin gekry. En Hy jou skuld.

En dit is nie al nie. Hy het nog verder gegaan. As iemand by die bank oortrokke is, moet hy boete betaal, boete wat ons rente noem. As jy by God oortrokke is, moet jy ook boete betaal. By die bank is die boete of rente ‘n lastigheid. Dit kan afgelos word. Maar nie God se boete, God se rente nie, broers en susters. Want God se boete op oortrokke bankrekenings is nie maar net ‘n lastigheid nie, nee, dit is die ewige verdoemenis, ‘n ewige lewe sonder God se teenwoordigheid.

En wat maak God? Hy het nie alleen jou rekening in balans gebring nie, Hy het selfs jou boete afgelos deur Christus deur daardie Godverlatenheid in die graf te laat gaan sodat ons nooit weer sonder God se teenwoordigheid sal hoef te lewe nie.

Jesaja 53:3 sê dit pragtig: Oor óns oortredinge is Hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.

Ja, dit was die eenmalige en finale deposito op ons elkeen se bankstaat. Geen deposito was en is hierna nodig om ons rekening in balans te bring nie. So volledig was hierdie deposito, dat in Johannes 19:30), wanneer Jesus aan die kruis sê ‘dit is volbring’, ‘n bankterm van daardie tyd gebruik word. Die woordjie wat Johannes daar in Grieks vir volbring gebruik is tetelestai, ‘n term wat gebruik was om die laaste paaiement aan te toon, dat die laaste betaling van ‘n aantal gedoen was. En daarom, broers en susters, mag ons bid: vergeef ons ons skulde. Daarom kan ons dit bid. Want ons leef onder God se dak, onder die dak van sy huis wat genade genoem word.

Wat ek vanaand aan u voorgehou het, broers en susters, weet ek is bekende nuus. My gebed is dat ons, met die weer aanhoor daarvan, bemoedig sal word. Weer krag sal kry om ons elkeen se pad voor God te stap. Terwyl ons altyd sal onthou: om God se uitnodiging te aanvaar en onder sy dak van genade en vergifnis in te stap, maak van die armste bedelaar die rykste mens, om uitgenooi te word maar nie onder God se dak te wil instap nie, maak van die rykste mens ‘n bedelaar.

Ek sluit af: Maak nie saak wie en wat u en ek is nie, maak nie saak hoe ons verlede lyk nie, maak nie saak waaraan ons skuldig staan voor God nie, God kom vanaand na u en na my met ‘n tjek. Die tjek is deur Hom onderteken, en by die bedragkolom is ingevulde: voldoende genade. Al wat ontbreek, is die naam van die ontvanger van die tjek. En terwyl ons besluit of ons ons naam op die tjek gaan invul, gaan staan God stilletjies eenkant in die gang van sy huis. Want dit is die volgende gedeelte van die huis van God wat ons saam met God sal besoek.
Amen