Matteus 6:12b, 14-15; Lukas 6:37-38

Die gang van God se huis (Preek 11)



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Wanneer ‘n mens mooi gaan dink sal jy altyd aan iemand kan dink wat jy meen jou iets skuld. Dalk meen jy dat iemand jou ‘n verskoning skuld, dalk ‘n tweede kans, ‘n nuwe begin, of ‘n verduideliking. Ons kan soms selfs voel iemand skuld ons ‘n dankie vir iets wat ons gedoen het, ons kan voel iemand skuld ons ons jeug, ons loopbaan, ons hele lewe.

Ons hoor dit dikwels, broers en susters. Ons hoor hoe mense sê (en soms met goeie rede): my ouers moes my vroeër van die eise van die lewe vertel het, hulle moes meer beskermd teenoor my opgetree het, hulle moes nie so kwaai met my gewees het nie, hulle moes meer aandag aan my gegee het. Ja, my kinders moes my meer waardeer het, maar hulle het nie. Die ouderling moes my meer gereeld kom besoek het, om nie eers van die dominee te praat nie. Of: my maat moes beter na my geluister het, my werkgewer moes my nog ‘n kans gegee het om myself te bewys.

En so kan ons aangaan. Feit van die saak is egter, of ons nou reg of verkeerd is in ons oordeel, meeste van ons voel tog soms dat ander mense by ons in die skuld is. Soms is dit regtig so, soms miskien nie. Maar dit is hoe ons dikwels voel.

Een van die belangrikste vrae wat ooit oor ‘n Christen se pad kom, en weer en weer sal kom, is wat ons gaan doen met die mense wat by jou in die skuld is. Êrens in my verlede het iemand my te na gekom, hy/sy weet dit, ek ook. Wat gaan ek daaraan doen? Hierdie vraag, broers en susters, is baie belangrik. Of kom ons sê dit anders: daar is min vrae wat belangriker is as hierdie een Want om skuld reg te hanteer, lê aan die hart van ‘n mens se geluk.

Kom ons begin om hierdie belangrike vraag te beantwoord:
God se huis, broers en susters, het ‘n gang soos enige ander huis. Verder is God se huis so gebou dat ‘n mens nie van een vertrek in God se huis na ‘n ander loop sonder om van die gang gebruik te maak nie. Wil jy van die woonka­mer na die studeerkamer, moet jy in die gang af loop. En wil jy vanaf die kombuis gaan na God se kapel, moet jy ook so ‘n entjie van die gang gebruik maak. En omdat dit dieselfde is vir almal wat in God se huis woon, sal jy altyd, wanneer jy in die gang beweeg, ander mense teëkom. Mense met wie jy in vrede leef, of dalk hulle wat jou skuld. Hulle wat jou werklik pyn veroorsaak het. Wat gaan jy doen, vra God, wanneer jy hierdie mense in die gang van sy huis raakloop, in die gang van God se huis waarin julle albei woon, jy en jou skuldenaar?

Dit wat ons met ander se skuld behoort te doen, broers en susters, vind ons in die gedeeltes wat ons vanaand saamgelees het. Nadat Jesus ons in Matteus 6:12a by implikasie vertel het van die genade wat ons ontvang wan­neer God ons ons skuld vergewe, praat Hy van die genade wat ons moet uitdeel. ‘En vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe. Want as julle die mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredings nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredings ook nie vergewe nie.

Wat, wil Jesus met hierdie verse sê? Baie eenvoudig: om wraak te neem op hulle wat jou skuld, om iemand in gelyke munt terug te wil betaal, kan (en gaan) jou baie duur kos. Jy gaan ‘n duur prys daarvoor betaal, al dink jy nie so nie.

Om maar een ding te noem, broers en susters, jy gaan ‘n prys betaal wat betref jou verhouding met ander mense. Want wie wil in die geselskap wees van iemand van wie almal weet: hier is iemand wat ‘n bestaan daarvan maak om met ander af te reken? Let daarom maar op: mense wat lewe volgens die beginsel ‘tand vir ‘n tand en oog vir ‘n oog’, is dikwels eensaam. Sonder vriende, sonder egte en sinvolle verhoudings met ander.

Tweedens, broers en susters, betaal ‘n mens ook ‘n prys wat betref die fisiese, die liggaamlike. Job het dit uitgevind in sy lewe. Want in Job 5:2 erken hy dat ‘verbitterdheid ‘n dwaas doodmaak’, en in Job 18:4 sê hy dat iemand wat in woede teenoor ander lewe, eventueel, homself later deur sy eie woede verskeur. iemand wat daarop uit is om ander terug te kry, broers en susters, vind nooit rus nie. Want hoe kan so iemand rus hê? Om een ding te noem, jou vyand mag dalk nooit opdok nie. Soveel as wat jy reken jy verdien ‘n verskoning, net soveel mag jou skuldenaar reken jy verdien die verskoning nie. Die een wat jou te na gekom het, mag dalk nooit berou hê nie, hy mag dalk selfs nooit verander nie. So, die kanse is daar dat jy in elk geval nooit ‘n sent se geregtigheid sal kry nie.

En, as ons wel slaag, sal die ander se verskoning genoeg wees? Want hoe goed sal sy/haar verskoning moet wees dat jy nou kan besluit: nou is ek tevrede. Vrede binne-in jouself sal jou altyd ontwyk.

Vrede, broers en susters — sê Jesus in die gedeeltes wat ons saamgelees het — sal alleen deel van jou lewe begin word as jy sy woorde in Matteus 6:12, en 14 en 15, ernstig begin opneem. Kom ons lees hulle weer: ‘Vergeef ons ons oortredings, soos ons ook dié vergewe wat teenoor ons oortree.... As julle ander mense hulle oortredings verge­we, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredings nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredings ook nie vergewe nie.

Deur hierdie verse, broers en susters, leer ons wat die hoogste prys is wat ons betaal as ons nie vergewe nie, hierdie verse leer ons wat ten diepste die oorsaak is van die onvrede wat soms in ons woed as ons nie wil vergewe nie: geestelike armoede.

Dit is nie maklik om hierdie verse reg te verstaan nie. So, voor ons sê wat ons reken Jesus met hierdie verse bedoel, kom ons sê eers wat hulle nie beteken nie. Die verse wil nie sê dat ons God se genade verdien deur genade te betoon nie. So met die eerste lees van hierdie verse, gee ek gelyk, is dit immers wat Jesus hier sê: as jy jou vyand vergewe het, dan sal God my my skuld vergewe. So ‘n interpretasie, broers en susters, is doodeenvoudig onmoontlik omdat dit nie strook met die res van die boodskap van die Bybel nie. As ons vergifnis kan bekom deur te vergewe, hoekom het ons dan ‘n Verlosser nodig? En as ons vir ons sondes kan betaal deur ander hulle sondes te vergewe, waarom ‘n Christus wat aan die kruis vir ons sondes hang? As verlossing die gevolg kan wees van ons eie pogings, waarom het Paulus dan uitdruklik verklaar: julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God (Ef 2:8)?

Verlossing is ‘n gratis geskenk. So ook vergifnis. Ons het verlede Sondag die vraag gevra, en kom ons vra dit weer: as Jesus aan die kruis finaal met al ons sonde afgereken is, as ons deur daardie offerdood reeds met God versoen is, hoekom dan nog bid en vra: Here, vergewe my al my sonde?

Om presies dieselfde rede, broers en susters, dat u en ek byvoorbeeld van ons kinders sal verwag om dieselfde te doen. As een van my kinders een of ander huisreël verbreek, oneerlik is of wat ook al, verwerp ek hulle nie. Ek jaag hulle nie uit my huis of verwag van hulle om hulle van te verander nie. Maar ek verwag wel van hulle om eerlik te wees en verskoning te vra. En totdat hulle dit doen, gaan ons verhouding daaronder ly. Die aard van ons ver­houding gaan nie anders wees nie — ek gaan nog hulle pa bly en wees — maar die intimiteit van die verhouding gaan nie meer dieselfde wees nie.

Dieselfde gebeur in ons verhouding met God. Belydenis skep nie ‘n verhouding met God nie, dit voed dit net. As gelowige verander jou skuldbelydenis nie jou posisie voor God nie, dit vermeerder en verdiep egter wel jou vrede met God. Want wanneer jy bely stem jy saam; jy hou op om met God te stry en stem met Hom saam oor jou sonde. Onbelyde sonde lei tot ‘n staat van onenigheid. Jy mag dalk God se kind wees, maar jy wil nie met Hom praat nie. Hy het jou steeds lief, maar totdat jy erken wat jy gedoen het, gaan daar spanning in die huis wees.

Wanneer ons ons sonde voor God erken, broers en susters, is dit soos ‘n graadeentjie wat voor sy juffrou staan met ‘n verbroude tekening. Juffrou, ek het te veel oor die lyne ingekleur, kan ek asseblief oor begin op ‘n skoon bladsy? Natuurlik, sê die juffrou, of, sê Dawid in Psalm 32:1: dit gaan goed met die mens wie se oortredings nie gestraf word nie, wie se sonde vergewe word.

Sal dit ooit gebeur, broers en susters, dat die juffrou die graadeentjie se versoek sal weier? Dit mag gebeur. Veral as sy oomblikke vantevore gesien het hoe daardie selfde graadeentjie wat nou voor haar staan vir die maatjie langs hom, toe hy gevra het vir ‘n skoon bladsy, dit eenvoudig geweier het. Sou ons haar verkwalik as sy dan vir hom sou sê, as hy haar ‘n skoon bladsy kom vra: Kom ek sê jou wat. Ek gaan met jou maak soos jy so pas met jou maatjie gemaak het. Ek weier jou versoek.

Hierdie eenvoudige voorbeeld, broers en susters, bring ons by die basiese betekenis van die vers ‘as julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe’: Vergeef ons ons oortredings soos ons dié vergewe wat teen ons oortree het.

Behandel my Here, soos ek my naaste behandel. Gee vir my wat ek hulle gee. Gee aan my dieselfde vrede wat ek aan ander gegee het. Laat my dieselfde verdraagsaamheid geniet wat ek aan ander bied.

In enige gemeente, broers en susters, is daar twee soorte Christene: dié wat aansteeklik is in hulle vreugde, en dié wat ander wegstoot met hulle gekla oor alles. Die een persoon is oor alles dankbaar, die ander een is altyd knorrig. Ja, albei het Christus aangeneem, albei is gered, albei is op pad hemel toe (om dit so te stel), maar die een sien altyd die reënboog en die ander een altyd net die reën.

Wat sou hierdie verskil kon verklaar, broers en susters? Sou dit nie kon wees dat hulle dieselfde mate van vreugde ervaar wat hulle aan hulle skuldenaars gegee het nie? Die een het gesê ‘ek vergewe jou’, en werklik vergewe gevoel. Die ander een sê ‘ek is kwaad’, en leef kwaad vir die hele wêreld.

In Lukas 6:37 en 38 het Jesus gesê: spreek vry, en julle sal vrygespreek word, gee, en vir julle sal gegee word. Dit, broers en susters, is die verskil. Kyk maar gerus rondom u in die lewe na ander Christene. Hulle is dalk nie so suur soos u en ek nie. Ons het nog altyd gewonder hoekom lyk hulle so vol vreugde en ons is so knorrig. Hoekom die verskil. Dalk verstaan ons dit nou.

Is dit nie miskien omdat God vir ons gee presies wat ons aan ander gee nie? Gee vrede, en jy sal dit in jou eie lewe beleef. Gee vergifnis, en jy sal vergewe voel. Vergeef ander, en jy sal rus kry wat betref jou innerlike haat en woede.

Ek sluit af. Die bede ‘vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe’. en die kommentaar wat Jesus tot hierdie bede byvoeg na die Onse Vader-gebed in Matteus, te wete ‘want as julle die mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredings nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredings ook nie vergewe nie’ beteken nie dat ons vergifnis ‘n voorwaarde is vir God se vergifnis nie. Nee, dit wil sê: God maak soms met jou, as sy kind, soos jy met sy kinders maak. As jy nie vreugde uitdeel nie, moet nie vreugde in jou lewe verwag nie. As jy nie vrede met ander soek nie, moet nie wonder waar die vrede in jou lewe nou skielik heen is nie.

Want hulle wat nie wil vergewe soos hulle hemelse Vader vergewe nie, het nie opgehou om God se kinders te wees nie. Nee, hulle is dit nog, maar iets skort met hulle verhouding met God. Die intimiteit is weg. Die vonk is weg. Iewers is iets nie reg nie. Die rede is dalk eenvoudig omdat God aan hulle dit gee wat hulle aan ander gee!

As ons wat dit ervaar dit anders wil hê, meen ek die oplossing is maklik. Volgende keer, wanneer u en ek in die gang van God se huis afstap, en ons kom hulle teë wat ons meen ons iets skuld, kom ons gee hulle wat ons graag wil hê God ons moet gee. En ons sal alles van God ontvang wat ons so graag van Hom wil hê!
Amen