Matteus 6:13

Die mure van God se huis (Preek 12)



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Die tweede laaste frase van die Onse Vader is aan die een kant ‘n belydenis en aan die ander kant ‘n smeekbede: dit bely aan die een kant dat God in beheer van ons wêreld en lewe is, en aan die ander kant is dit ‘n bede dat God ons teen die aanslae van die bose sal beskerm.

Dit laat ‘n mens die vraag vra: maar as God in beheer van die wêreld en ons lewens is, as Hy mag oor alles het, hoekom dan so bid? Sal God ons ooit in versoeking laat kom? Jakobus 1:13 sê immers: Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: ‘Ek word deur God versoek’ nie; want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie. As God ons nie versoek nie, waarom dan bid: laat ons nie in die versoeking kom nie?

Omdat, broers en susters, die Onse Vader steeds die gebed van ‘n kind is en bly. Die Onse Vader is ‘n gebed van God se kinders, ‘n gebed wat met ‘n kinderlike hart gebid moet word. Dit is ‘n gebed van God se kinders wat reeds gevra het vir versorging vir elke dag (gee ons vandag ons dag se brood), wat reeds gepleit het vir vergifnis van gister (vergeef ons ons oortredings), en nou bid vir beskerming wat môre betref.

Kom ek verduidelik dit met ‘n eenvoudige illustrasie. Stel jou ‘n pa en seun voor wat in ‘n sneeubedekte straat loop. Die pa waarsku die seun om versigtig te wees, maar hy is te opgewonde om stadig te loop. Nie lank nie, of sy voete gly onder hom uit en hy val plat in die sneeu. Sy pa snel hom te hulp en help hom op sy voete. Die seun sê hy is jammer dat hy sy pa se waarskuwing verontagsaam het, en dan, met sy hand styf in sy pa s’n, vra hy: hou my asseblief van die gladde dele af. Moenie dat ek weer val nie.

‘n Kort illustrasie, broers en susters, wat ons in wese presies so terugvind in Psalm 36:23-24: Dit is die Here wat ‘n mens op die regte pad hou; Hy laat jou veilig loop en hou die wag oor jou. Al sou jy val, bly jy nie lê nie, want die Here hou jou hand vas. Dit, broers en susters, is wat aan die hart lê van hierdie bede. Dit is ‘n teer versoek van ‘n kind aan ‘n vader. Want ons laaste paar valle in die lewe het ons geleer: dit is baie gevaarlik in hierdie lewe om alleen te loop. Daarom sit ons ons swak hand in God se sterk hand en sê: Vader, bewaar my van die kwaad. Bewaar my van die versoekings in die lewe.

Wie, broers en susters, is die een wat ons versoek? Party sê dit is die Satan, ander weer sê dit is die duiwel, ander weer (ook ek) hou meer van die uitdrukking die bose. Wie is hierdie vyand, wat altyd op die wag is en op die loer lê om ons van God se pad af weg te trek? Ons sou baie lank hieroor kon praat. Maar kom ons gaan vanaand, om dit so eenvoudig moontlik te maak, van die standpunt uit wat Luther oor die duiwel gehuldig het. Wie, het Luther gevra, is die duiwel? Sy antwoord was, baie interessant: die duiwel is God se duiwel. Die duiwel het verskillende rolle om te speel, afhangende van God se raad en doel. Hy word gedwing om God se wil te doen in hierdie lewe; hy moet maak soos die Almagtige sê.

Satan wat na die pype van God dans? Wat eers God se toestemming moet kry? Klink ‘n bietjie eienaardig, sou ‘n mens wou sê. Maar tog nie, broers en susters: want God is almagtig, Hy het mag oor alles en almal, en dit geld ook wat betref die bose en die mag van die bose in hierdie wêreld. Wat meer is, God se almag strek so ver dat Hy selfs die planne van die bose gebruik om die saak van sy koninkryk in die wêreld te bevorder. Ten minste op drie wyses. En kom ek verduidelik.

In die eerste plek gebruik God die werke van die bose om gelowiges te louter. Ons almal, broers en susters, het maar die siekte in ons om nie altyd te nederig te wees nie. Dit was selfs die geval met Paulus. Hy het ‘n indrukwekkende getuigskrif gehad. Jesus het persoonlik aan hom verskyn, hy het hemelse gesigte gesien, God self het hom as sy apostel gekies, hy was medeskrywer van die Bybel. Daar is min wat hom dit kan nadoen.

En miskien, broers en susters, het Paulus dit geweet, en miskien was daar ‘n tyd wat toe Paulus begin het om homself op die skouer te klop. Maar God, wat Paulus liefgehad het, het Paulus teen die sonde beskerm. Wat meer is, Hy het Satan gebruik om dit te doen, soos ons uit 2 Korintiërs 12:7 kan aflei: daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan. Daar word nie gesê, broers en susters, wat hierdie doring was nie, maar ons word wel vertel wat die doel daarvan was: om Paulus nederig te hou. Daar word verder ook vir ons gesê wat die oorsprong daarvan was: ‘n boodskapper van Satan. Hierdie boodskapper kon die pyn self gewees het, of ‘n probleem of ‘n persoon wat hom swaar laat kry het. Ons weet nie. Maar wat ons wel weet is dat die boodskapper onder God se beheer was. Dit lei ons baie duidelik af uit verse 8 en 9 van 2 Korintiërs 12: Drie maal het ek tot die Here gebid dat dit van my weggeneem moet word. Sy antwoord was: My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is. Dus: die werke van Satan in die hand van God om Paulus te louter.

En dieselfde, weet ons, kan ons sê van dit wat met Job gebeur het. Wanneer die Satan die standvastigheid van Job se geloof bevraagteken, gee God aan hom toestemming om Job se geloof te toets. Alles wat hy het, het God vir die Satan gesê, gee ek in jou hande oor, net aan sy lewe mag jy nie raak nie. Wanneer Job die toets dan slaag kla die Satan by God en sê dat Job alleen die toets geslaag het omdat hy nie pyn hoef te verduur het nie. Weer gee God dan toestemming aan Satan en weer bepaal Hy die omvang : Hy is in jou mag. Net sy lewe mag jy nie neem nie.

Wat gebeur? Desondanks al die pyn en vrae is Job se geloof en gesondheid sterker aan die einde as ooit. Weer eens, broers en susters, mag ons dalk nie die rede van/vir die toets verstaan nie, maar baie duidelik weet ons wat die bron daarvan was. Pragtig lees ons dit in die laaste hoofstuk van Job, Job 42:11: Hulle [sy familie en vriende] het hulle medelye kom betoon en hom getroos oor al die rampe wat die Here oor hom gebring het. Dit was toe al die tyd die Here wat Job beproef het, gelouter het, en die Satan se versoek het Hy daarvoor ingespan.

God gebruik, broers en susters, ook die Satan se werke om slapendes wakker te maak. Honderde jare voor Paulus het nog ‘n Joodse leier ‘n stryd gehad met sy ego. Saul, die eerste koning van Israel, was verteer deur jaloesie. Hy was in die skadu gestel deur Dawid, die jongste seun uit ‘n herdersgesin. Dawid het alles beter gedoen as Saul: hy het beter gesing, hy was gewilder onder die volk, en selfs die reus doodgemaak wat Saul gevrees het. Dit het Saul waansinnig gemaak. In ‘n poging om Saul wakker te skud uit vyandige waansin, het God sy gewillige dienskneg, die Satan, ingespan. Daarvan lees ons in 1 Samuel 18:10: Die volgende dag het ‘n boosaardige gees wat deur God gestuur is, vir Saul beetgepak, sodat hy in sy huis te kere gegaan het soos ‘n waansinnige.

Hier, broers en susters, sien ons iets raak wat ons dikwels nie verstaan nie. Dit gebeur soms dat ons harte so hard raak en ons ore so doof vir God se stem dat God ons oorgee om te ly onder die gevolge van ons eie keuses. In Saul se geval is die Satan vrygelaat om Saul te folter. As Saul dan nie wou hoor nie, het God besluit, dan moet hy maar vir so ‘n bietjie voel.

Hoe drasties dit ook al vir ons mag klink, broers en susters, God sal in werklikheid laat toelaat dat iemand letterlik hel op aarde beleef in die hoop dat so iemand in die geloof weer wakker sal skrik. En so terloops, verduidelik dit nie miskien al die boosheid wat so welig op aarde tier nie? As God soms toelaat dat ons maar die gevolge van ons sonde moet dra omdat ons nie wou hoor nie, en as die wêreld vol sondaars is, dan gaan die wêreld mos wemel van boosheid. Is dit nie presies wat Paulus bedoel in sy eerste hoofstuk aan die Romeine nie? Nadat hy diegene beskryf wat die skepping dien eerder as die Een wat geskep het, sê hy: Daarom gee God hulle oor aan skandelike drifte (Rom 1:26).

Maar laat ons onthou, broers en susters: God se doel met dissipline is dat dit sal uitloop op genade, nie net op ellende nie. Sommige gelowiges skrik wakker met ‘n tikkie op die skouer, terwyl ander — by wyse van spreke — ‘n harde hou op die kop nodig het. En dit is net miskien dat God, elke keer wanneer iemand ‘n harde hou op die kop nodig het, Satan met sy versoekings inspan. Want wie nie wil hoor nie, moet dan miskien maar vir ‘n slaggie voel.

Laastens, broers en susters, gebruik God ook die werke van Satan om die kerk te leer. En hierdie is die lewe van Petrus miskien die beste voorbeeld. Kyk hoe waarsku God vir Petrus in Lukas 22:31-32: Simon, Simon, het Jesus gesê. Luister. Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif. Maar ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk.

Let gerus op wie hier in beheer is. Selfs al het Satan allerhande planne met Jesus se dissipels gehad, moes hy eers toestemming kry. In Matteus 28:18 het Jesus gesê dat aan Hom alle mag gegee is op hemel en aarde, en hier sien ons die bewys daarvan. Die wolf kan nie die skape bykom as die Herder dit nie toelaat nie, en die Herder sal alleen die aanval toelaat as dit op die lang duur die wins werd is nie.

Want die doel hier is om die kerk van ‘n getuienis te voorsien. Jesus laat toe dat Petrus beproewings ervaar sodat hy sy broers kan bemoedig. En dalk, broers en susters, is God besig om met u en met my presies dieselfde te doen. Hy weet dalk dat die kerk lewende getuienisse van sy krag nodig het. Daarom is dit dalk net moontlik dat ons probleme, ons siekte, ons omstandighede, die konflikte in ons lewe besig is om ons voor te berei om, wanneer ons daardeur en daaruit is, ‘n sterk stem van getuienis te wees. ‘n Stem wat uitroep: God is in beheer, al lyk dit nie altyd so nie, God kan en sal uitred, al lyk dit nie altyd so nie, God kan nuut maak, want kyk: ek is ‘n bewys daarvan.

Ek sluit af: hierdie bede van die Onse Vader sê iets van die sterk mure van God se huis. Dit sê iets van hoe God ons beskerm, dat God is beheer is, dat die bose nie oor ons mag het nie.

Meer nog, dit sê dat dit soms in ons lewens gebeur dat God die bose met al sy planne gebruik om ons te louter, ons wakker te skud, ons ‘n getuienis te maak van sy mag en heerlikheid.

Wanneer ons dus bid lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die bose, vra ons die Here eintlik so in ons lewens teenwoordig te wees en ons so te oortuig van sy liefde, dat ons werklik gehoorsaam en dankbaar voor Hom sal leef, so gehoorsaam en dankbaar dat dit nooit nodig al wees dat Hy aan die bose mag gee om ons te louter, wakker te skud of as getuienis te gebruik nie.

Ja, God wil hê dat ons sal hoor, nie dat dit nodig sal wees dat ons sal hoef te voel nie. Maar wanneer ons voel kan ons weet: al bring ons dikwels die ellende oor onsself, die mure van sy huis is sterker as enige versoeking, enige planne van die bose. Hy is in beheer.

Maar wie van ons, broers en susters, wil voel as ons eerder kan hoor? Daarom kan ons elke dag maar bid: En Here, asseblief, lei my nie in die versoeking nie, verlos my van die aanslae van die bose.
Amen