Matteus 6:13; Markus 4:35-41

Die kapel in God se huis (Preek 13)


Broers en susters in onse Here Jesus Christus

In ons preekreeks oor die Onse Vader het ons gesê dat hierdie gebed die huis van God voorstel. En elkeen van die bedes in die Onse Vader, het ons gesê, stel een of ander kamer in die huis van God voor. In God se woonkamer, het ons gesien, het hy aan ons gesê dat Hy altyd ons Vader sal wees. In die gang van sy huis het ons geleer om ander wat ons daar raakloop te vergewe, ons het die fondament van sy huis besoek, die uitkyktoring, die kombuis waar Hy ons daagliks voed, asook gekyk van die dak van genade wat oor die wag hou, en die sterk mure van die huis wat ons teen alle versoekings beskerm. Ook was ons in die kapel van God se huis, waar ons geleer het om stil voor God te raak sodat ons kan ervaar wat dit beteken om Hom teenwoordig in ons lewens te ervaar.

Vanaand, met die laaste bede van die Onse Vader, te wete, aan u behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid, besoek ons ten slotte weer die kapel in God se huis. En daar is rede voor: omdat God wil hê dat ons, wanneer ons ons gebed afsluit, weer aan Hom sal dink, op Hom ons gedagtes sal vestig, en op niks anders nie. Want hoe meer ‘n mens jou oë ophef, broers en susters, hoe meer ons bewus is dat ons voor God leef, in sy teenwoordigheid, hoe meer word ons hier onder op aarde geïnspireer om werklik voluit te leef.

Ons kan dit vergelyk met die bekende verhaal van Petrus wat op die water geloop het. Terwyl hy sy oog op Jesus gevestig gehou het, het die wind en die groot branders hom nie gepla nie, maar toe hy vir die branders begin kyk, het hy gesink.

Dieselfde gebeur dikwels ook met ons: wanneer ons alleen al die terugslae en moeilikhede in die lewe raaksien, begin ons te kla oor alles wat ons met verduur en verdra. Dan voel ons soms so uitgelewer aan ons omstandighede, dan voel ons of alles buite beheer raak. Wanneer ons egter ons oog op die Here gevestig hou, bewus daarvan word dat Hy alles beheer, kom daar rustigheid en rigting in ons lewens.

Presies dieselfde lees ons in Kolossense 3:1-2: Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op aarde is nie.

Ook Psalm 34:4 sê dieselfde, alhoewel ander woorde gebruik word: Maak die Here saam met my groot, en laat ons saam sy Naam verhef! Presies dit waartoe ons genooi word om hier aan die einde van die Onse Vader in die kapel te doen. Om iets groot te maak, beteken letterlik om iets te vergroot sodat ‘n mens dit beter kan sien en kan verstaan. Wanneer ons die Here, en die naam van die Here grootmaak, doen ons presies dieselfde. Ons neem ons gedagtes oor onsself en ons omstandighede weg van ons af en vestig al ons aandag op God, op sy grootheid, sy genade en sy heerlikheid. So raak ons meer bewus van God, en veral van sy teenwoordigheid in ons lewens. En dit is presies wat dit beteken wanneer ons bid: aan U behoort die koninkryk, die krag en heerlikheid tot in ewigheid. U is in beheer. U regeer. U beheer alle dinge.

Om in beheer te wees, is nie vir die meeste van ons ‘n vreemde ervaring nie. Wanneer ons motor bestuur, is ons in beheer van iets wat eintlik baie gevaarlik is wanneer dit buite beheer raak. En so kan ons nog baie voorbeelde noem. Maar weet ons wat dit beteken om in beheer van die hele heelal te wees? Nee, ons weet nie. Buitendien, dit is net gesag en mag waarop Jesus Christus, God, aanspraak kan maak.

En kom ek noem u net een voorbeeld van die gesag van Jesus Christus. In Markus 4:35-41 lees ons dat Jesus en sy dissipels besig was om die see van Galilea oor te steek. Skielik, vertel Markus ons, het daar ‘n groot storm losgebars, die golwe was so groot dat dit in die skuit begin slaan het, sodat die skuit vol begin word het. Die dissipels het bang geword, en na Jesus gesoek. Net om te vind dat Hy rustig vas aan die slaap was.

Effens vies, lei ‘n mens af, het hulle Hom wakker gemaak met half verwytende woorde: gee U nie om dat ons vergaan nie? Ons ken hierdie woorde baie goed, broers en susters. Die van u wat die ouers van ‘n tiener was of is, het al baie hierdie woorde gehoor. Wanneer ons ons kinders nie wil toelaat om na ‘n plek te gaan waarheen al die ander maats dan gaan nie, hoor ons die woorde: maar gee julle nie om dat ek uit voel nie, dat ek vergaan nie? En as ons nie bereid is om, by wyse van spreke, ons huisverband te verhoog om daardie duur paar skoene te koop wat almal dan dra nie, hoor ons dit weer: gee julle nie om dat ek vergaan nie?

Gee ouers om wanneer hulle so besluit? Natuurlik gee hulle om. Dit is net dat ouers ‘n ander perspektief op sake het. Want wat tieners soms as ‘n geweldige storm beskou, lyk vir ons soms maar as niks meer as ‘n sagte lentereëntjie nie. Hulle is lankal genoeg deel van die lewe om te weet dat giere kom en gaan.

Jesus ook, broers en susters. Die einste storm wat die dissipels feitlik waansinnig van vrees genaak het, het Jesus vaak gemaak. Dit wat hulle gevrees het, het Hom aan die slaap gemaak. Wat vir die dissipels ‘n watergraf blyk te gewees het, was vir Jesus ‘n wieg. Hoekom? Hoe kon Hy deur so ‘n storm slaap? Maklik, want Hy was in beheer daarvan. En in beheer van die dissipels se lewe.

Kom ons maak gebruik van ‘n voorbeeld in ons eie tyd om te verduidelik hoe ons en God se perspektief op omstandighede van mekaar verskil. Almal van ons het seker al voor die televisie aan die slaap geraak. Maar gaan sit daardie selfde televisie in die hut van ‘n primitiewe persoon wat nog nooit tevore so iets aanskou het nie. Hy sal nie aan die slaap raak nie. Want hoe kan iemand aan die slaap raak voor ‘n kas wat praat? Vir al wat hy weet, kan die mense wat so praat uit die kas klim en hom ook doodskiet. Nee, daar is nie ‘n kans dat hy aan die slaap sal raak nie. Ook nie dat hy jou rustig sal los daar waar jy voor die snaakse kas lê en slaap nie. En wanneer ons wakker gemaak word, wat sal ons doen? Ons sal nie eers met hom argumenteer nie. Nee, ons sal rustig opstaan en die televisie afsit, of sommer net die afstandbeheer in die hand neem en die televisie afskakel.

Sonder om nou hierdie voorbeeld uit verband te ruk, broers en susters, en die verkeerde afleidings te maak, is dit in wese wat Jesus gedoen het toe sy dissipels hom wakker gemaak het. Hy het eenvoudig ‘n woord gespreek, en alles het rustig geword. Net een woord, en die see was so glad soos ‘n spieël, met geen briesie in sig nie.

En wat was die dissipels se reaksie? Hulle was met groot ontsag vervul en het vir mekaar gesê: wie kan Hy tog wees dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam? Wie het soveel mag, wie het soveel krag? En ons weet ook, broers en susters, dat dit maar die begin was van alles wat hulle sou sien. Want voor Jesus aan die kruis gehang het, sou hulle sien hoe visse letterlik in die boot spring, hoe kreupeles begin loop, lyke begin asemhaal, en duiwels Hom gehoorsaam.

As ons dit verstaan, broers en susters, as ons verstaan hoe sigbaar Jesus se dissipels sy mag en krag aanskou het, is dit nie vreemd wanneer ons hoor dat baie van hulle later in hulle lewens bereid was om te sterf vir Hom en sy koninkryk nie. Wat meer is, later hoor ons uit die mond van twee van die dissipels wat hierdie dag op die see deur Jesus gered is die volgende: Hy wat in julle is, is groter as enigiets wat in die wêreld is (Johannes in 1 Joh 4:4), en Hy is nou aan die regterhand van God nadat Hy die engele en magte en kragte aan Hom onderwerp het en die hemel ingegaan het (Petrus in 1 Pet 3:22).

Hulle kon nie anders as om te verklaar dat Jesus Christus alles beheer nie. Want hulle het dit dan gesien. Hulle het dit dan self ervaar.

Hierdie bede van die Onse Vader, nooi ons uit om dieselfde te doen. Ook vir ons is dit gepas om die almag van God te verklaar. Want hoeveel keer het ons nie ook maar in ons lewens gesien dat God, al het dit nie vir ons so gelyk nie, tog in beheer van alles was.

Meer nog, het Hy nie selfs die dood, en die angel van die dood, onder sy beheer geplaas nie? Is Hy nie die een wat gesê dat Hy altyd ons Vader sal wees, al wil ons Hom soms nie as Vader hê nie? Is Hy nie die een wat ons gewys het, daar is sy uitkyktoring, wat Hy alles geskape het en in stand hou nie? Het Hy ons nie die sterk fondamente van sy huis gewys, ons gewys op die dak van sy huis wat beteken dat sy genade altyd die wag oor ons sal hou nie? Het Hy ons nie aan sy tafel laat aansit en ons so gevoed dat ons besef het Hy versadig ons altyd nie?

Daarom, broers en susters, wanneer ons bid dat aan God alleen die koninkryk, die mag en die heerlikheid behoort, verklaar ons eintlik, bely ons eintlik, dat God alle mag het, en ek niks nie. Dat Hy van alles in beheer is, en ek nie.

Maar God verdien nie alleen om ons lof te hoor nie, ons moet dit ook aan Hom bring. Daarom kan ons maar gerus, en baie gereeld, weer na sy kapel kom, veral wanneer die golwe rondom ons, volgens ons perspektief en oordeel, te groot word, ons oë oprig om net weer raak te sien: Hy is in beheer, Hy het alle mag. En met die wete te gaan leef met die vrede in ons wat alleen Jesus Christus aan ons kan gee.

Want alleen aan Hom behoort die koninkryk, die krag en alle heerlikheid! Want net Hy is God. Net Hy het die regte perspektief op al ons omstandighede. Is dit nie wonderlik, broers en susters, om te weet dat Hy ons God is, meer nog, ons God wil wees nie?
Amen