Psalm 23:1

Hoe groot is jou God? (Preek 1)



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Ons dra somtyds soveel onnodige bagasie met ons saam. ‘n Sak vol skuldgevoelens. Oor die een skouer ‘n tas vol onvergenoegdheid en bitterheid. En oor die ander skouer ‘n sak vol smart. In die een hand ‘n tas vol moedeloosheid en vrees, en in die ander hand ‘n tassie vol eensaamheid. En agter ons sleep ons ‘n trommel saam vol woede vir die lewe en bitterheid oor soveel dinge wat ons nie eers kan opnoem nie. Geen wonder dat ons elke aand so moeg en uitgeput in die bed neersak nie.

Ter wille van onsself, broers en susters, ter wille van die mense vir wie ons lief is, maar ook, en die belangrikste, ter wille van die Here wat ons dien, moet ons hierdie bagasie neersit. Want hoe kan ‘n mens genade met ander deel as jy self onder skuldgevoelens gebuk gaan. En hoe kan ons iemand vertroos as jy self sonder troos is. En hoe kan ons ander se laste dra as ons arms reeds so oorlaai is met ons eie bagasie?

Psalm 23, broers en susters, wil ons leer en lei om al hierdie soorte bagasie in ons lewens neer te sit sodat ons vry kan wees om God en mekaar te dien. Sonder verhindering, met oorgawe, omdat ons nie anders kan en wil nie.

En die eerste stuk bagasie wat Dawid in hierdie Psalm wil hê ons moet neersit, is God. Maar dan nie God soos en wie Hy werklik is nie, maar die god wat ons dikwels van God gemaak het. En kom ek verduidelik dadelik.

Wie en wat is God vir u en my, broers en susters? Dit is ‘n vraag wat ons elkeen self moet beantwoord. Maar kom ek noem u ‘n paar voorbeelde van wat God soms vir ander mense is:

  • Vir party is God letterlik soos daardie spreekwoordelike gesie in die bottel. Het ek iets nodig, moet God my nou help, vryf ek net die bottel. En soms voel ek dat ek nie alleen kry waarvoor ek God nodig gehad het nie, genadiglik gaan die gesie terug in die bottel in. Vir verdere gebruik, later, wanneer dit nodig is.
  • Vir ander weer is God soos ‘n gawe oupa. Sagte hart, liefdevol, vergewe altyd. Verstaan altyd. Word nooit kwaad nie. Jy hoef niks vir hierdie gawe oupa te doen nie, want Hy doen alles vir jou. Sonder om iets terug te verwag. Net jammer dat jy soms voel dat wanneer jy hierdie oupa nou regtig nodig het, hy ‘n bietjie gaan lê het om te rus. En dan is jy nie meer met die gawe oupa tevrede nie, want kyk hoe laat hy jou in die steek.
  • En vir ander is God soos die besige pa. Maandag vertrek hy vir sy werk weg van die huis. Dit is vergadering op vergadering, die week is baie druk. Saterdag kom hy darem terug, en Sondag is hy die hele dag by die huis. Baie netjies aangetrek en baie geestelik. Maar Maandag kan jy weer doen wat jy wil – hy sal dit tog nie weet nie, want hy is mos nie in die week by die huis nie.
    U sal dalk, broers en susters, effens ongemak hê met die voorbeelde wat ek gebruik het, maar glo my maar, dit is hoe sommige mense God sien. ‘n God wat goed lyk, maar nie veel beteken nie. Want ‘n besige pa het nie tyd om jou moeilikhede op te los nie, en ‘n oupa is te swak om jou swaar laste te dra. En ‘n gesie in ‘n bottel is swakker as jy, want jy besluit wanneer hy uit die bottel moet kom. Dus: God wat eintlik maar ‘n afgod geword het. En ja, soos alle ander afgode, nie veel beteken nie!

Is dit die God wat ons God noem, broers en susters? As ons Dawid hierdie vraag sou vra, sou sy antwoord wees. Nee. En hy sou verder sê: kom ek vertel julle wie God is. En dan doen hy dit deur Psalm 23 op ‘n aangrypende wyse te begin met twee baie belangrike woordjies: Die Here is my Herder.
En kom ek verduidelik. Die Israeliete het die naam van God as te heilig beskou om deur menselippe uitgespreek te word. Daarom het hulle, wanneer hulle God aangespreek het, die woordjie Adonai gebruik, wat ook Here beteken. En as hulle God se naam moes skryf, het die skrywer gebad voor hy die woordjie Adonai geskryf het, en agterna die pen wat hy gebruik het om Adonai te skryf, verbrand. Want God was te heilig. Jy kon nie sy regte naam gebruik nie.

Wat was God se regte naam? Moses het dit die eerste uitgevind. Sewe eeue voor Dawid sy Psalm skryf, ontmoet God vir Moses in ‘n brandende besembos. God se opdrag: Moses, jy moet terug Egipte toe, maar Moses wou nie. Hy dink aan allerhande verskonings. Waarvan ons die een baie goed ken. Wie sal ek sê, Here, het my gestuur?
En wat antwoord God? Antwoord hulle: ‘Ek is’ het jou gestuur. Wat beteken dit, broers en susters? Die woordjie ‘ek is’ in Hebreeus is dieselfde woordjie wat die Hebreeus gebruik om te sê ‘om te wees’. Hierdie twee woordjies, op hulle beurt weer, is afgelei van die woordjie Jahwe, dit wat God se eintlike naam was.

Dus: God se Naam was Jahwe, en dit beteken dat God is, dat Hy onveranderlik is, dat Hy nie verwek of veroorsaak is nie. Nee. Hy laat gebeur, Hy laat veroorsaak, Hy skep, maar is nie geskep nie. Met ander woorde: Jahwe is die enigste God, die onveranderlike God, die ewige God, die God wat alles regeer. Hy is Jahwe, want ‘Hy is’.

Voor ek verder gaan, broers en susters, kom ons sê net vinnig iets meer oor hierdie ‘Ek is’. Ken u iemand wat rondloop en sê ‘ek is’. Nee. Ons voeg altyd iets by. Ek is Jan, ek is moeg, ek is bly, of ek is hartseer. Ons moet altyd iets na die ‘is’ bysit om te sê wie of wat ons is of voel of wens of dink.

Maar nie God nie. Hy hoef nie iets by te voeg nie. Hy is eenvoudig. Hy is Jahwe, die enigste, die ewige, die almagtige, Hy is eenvoudig net.

En wat maak Dawid as hy God as sy herder aanspreek? Hy noem God nie El Shaddai (almagtige God) nie, hy noem Hom nie El Elyon (die hoogste God nie) nie, hy noem Hom ook nie El Olam (ewige God) nie. Nee. Hy noem God Jahwe.

Hoekom? Want dit is God se naam. Dit is wie God is. Die Een wat alles geskep het, alles veroorsaak, alles laat gebeur het en laat gebeur. Hy is die ewige God, wat nooit verander nie en altyd by ons is. En is dit nie, broers en susters, die soort God of Herder wat ons eintlik nodig het nie. Nie maar net ‘n selfgeskepte afgod nie, maar God, God self.

Het ons nie al genoeg veranderinge in ons lewens beleef nie, broers en susters? Hoeveel beperkinge het ons nie. Ons is nie altyd gesond nie. Die weer is nie altyd goed nie. Soveel verhoudings misluk. En soms voel ons of die wêreld elke dag maar net nog meer onderstebo word.

Maar nie Jahwe nie, nie ons God nie. Hy het altyd dieselfde beginsels. Dieselfde plan. Daar is altyd dieselfde liefde. Dieselfde genade. Hy verander nooit nie. So totaal anders as ons en ons wêreld. Net so min as wat die see stormagtig sal word of ‘n tornado sal ontstaan as ons een klippie daarin gooi, net so min kan ons God verander. Hy is die ankerpunt van alles. Hy is die Een wat vas bly staan, Hy is die Een na wie ons altyd kan gryp. En wanneer ons gryp, is Hy nooit uithuisig of uitstedig nie.

En omdat niemand Hom tot stand gebring het nie, kan niemand Hom van ons wegvat nie. Nie ‘n aardbewing of tornado nie. Kanker kry God nie onder nie. Al die begraafplase saam in die wêreld versteur nie sy alomteenwoordigheid nie. Hy was hier voor enigiets en enigiemand. En Hy sal steeds hier wees as alles en almal weg is.

Ja, ons kan mekaar troos as die storms daar is, ons kan mekaar help om bo te bly in die storm, maar God alleen is die Een wat die storm kan stilmaak. Jou vriende sal jou hand vashou wanneer jy op jou sterfbed lê, maar God is nodig wat die graf oorwin het. En filosowe kan praat oor die sin van die lewe, maar dit is alleen God wat die lewe sinvol kan maak.

In kort, ons het God nodig. Ons het Jahwe nodig. Die Een wat is, alleen is, onveranderlik, onbeperk, onverwek.

Met watter God, broers en susters, wil u die lewensreis aanpak? Watter God wil u hê moet u herder wees? ‘n God op ‘n rak wat soms tog so handig is, ‘n god in ‘n bottel, mooi verpak vir eie gebruik?

Onthou: hoe kleiner jou God, hoe swaarder gaan jy in die lewe dra. Hoe meer ons van God ‘n afgod maak, ‘n eie god, ‘n god wat ons pas, hoe meer gaan ons die lewenspad alleen stap. En al jou reistasse self dra.

Nee. Ons het ‘n God nodig wat, alhoewel Hy verbysterend magtig is, ons in die stilte van die nag kan aanraak met die teerheid van die eerste sagte lentereën. ‘n God vir wie alles moontlik is, waar so min dinge deesdae vir ons moontlik lyk.

Ons het Jahwe nodig. Die God waarvan Dawid hier praat. ‘n Almagtige en heilige God wie ons ons Herder mag noem!
Amen