Psalm 23:1

Het ons regtig ‘n Herder nodig? (Preek 2)



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
In ‘n vorige preek oor Psalm 23 het ons gesien dat ons soms soveel onnodige bagasie met ons saamdra. Bagasie soos skuldgevoelens, bitterheid, smart, moedeloosheid, woede en vrees.

Ons het verder gesien dat Psalm 23 ons wil leer dat ons, ter wille van onsself, ter wille van die mense vir wie ons lief is, maar ook, en die belangrikste, ter wille van die Here wat ons dien, ons iewers moet begin om hierdie bagasie neer te sit.

Die eerste stuk bagasie wat Dawid in hierdie Psalm wil hê ons moet neersit, het ons gesien, is die afgod wat ons soms van God maak. Ons maak God soms so klein. Dawid se God is egter die Here: dié Een wat nie verwek of veroorsaak of geskep is nie, die Een wat laat gebeur, laat veroorsaak, wat skep, die onveranderlike God, die ewige God, die God wat alles regeer. Met hierdie God pak Dawid sy lewensreis aan.

Ons het afgesluit deur te sê dat ons een ding altyd moet onthou: hoe kleiner jou God, hoe swaarder gaan jy in die lewe dra. Hoe meer jy van God ‘n afgod maak, ‘n eie god, ‘n god wat jou pas, hoe meer gaan ons die lewenspad alleen stap. En al jou reistasse self dra.

Vanoggend, broers en susters, vra Dawid vir ons of ons werklik reken dat ons ‘n herder in die lewe nodig het of nie. Nie so ‘n dom vraag nie, sou ek reken, juis omdat ons so dikwels soveel dinge op ons manier wil doen. Ek is God se kind, ja, en daarom behoort ek God se manier van doen altyd te soek, maar nee, liewers op my manier. Want ek weet mos hoe.

Ja, al wat ek moes doen was om stil te bly en te luister, maar toe maak ek my mond oop. Ja, al wat ek nodig gehad het was geduld, maar toe neem ek self beheer oor. Ja, al wat ek moes doen was om verskoning te vra, maar toe moes ek eers stry. En ja, al wat ek moes doen was om alles aan God oor te laat, maar nee, ek moes alles self regmaak.

So is ons maar te dikwels, broers en susters. Te hardkoppig, te onafhanklik, te vol selfvertroue. Ek het niemand se raad nodig nie. Ek kan self, en daarom: ek het eintlik geen herder nodig nie. Vergeet God se manier, vergeet die regte manier, doen dit sonder Hom. Met ander woorde: wees jou eie herder.

En dit, sê Die Bybel, is in wese ons eintlike probleem: ‘Ons het almal afgedwaal soos skape, ons het elkeen ons eie pad geloop’ (Jes 53:6). Juis omdat ons oordeel ‘n herder is nie nodig nie.

‘n Mens sou egter wou dink, broers en susters, dat skape juis die minste kan bekostig om sonder ‘n oppasser, leier en iemand wat hulle kan beskerm, te wees. Want ons ken mos skape. Skape is dom. Hulle kan nie na hulleself omsien nie. Hulle kan nie die pad terugvind as hulle verdwaal het nie. Hulle kan hulleself nie verdedig nie. Hulle het nie slagtande of skerp kloue nie. Hulle kan ook nie eers weghardloop as dit moet nie. Ander diere kan toertjies doen, maar nie ‘n skaap nie. Ons taal sê dit selfs: so dom soos ‘n skaap.

Maar kon Dawid, wil ons vra, nie ‘n beter beeld vir God gebruik het as ‘n herder nie. Dan hoef ons mos nie skape te gewees het nie. HY het mos op ‘n keer vir Goliat ‘n ding of twee gewys. Waarom nie gesê God is my bevelvoerder en ek is sy krygsman nie. Dit klink mos meer na iets. Of wat van die Here is my koning, en ek sy ambassadeur/verteenwoordiger. Dan is jy darem iets.

Want almal luister mos as ‘n ambassadeur praat. En almal het respek vir ‘n geharde krygsman. Maar wie wil nou ‘n skaap wees? Maar wie knip ‘n oog as ‘n skaap iewers opdaag, of verdwaal? Wie onthou dat ‘n skaap altyd weerloos is, altyd sorg nodig het. Niemand eintlik nie. Behalwe God, wat sy skape se Herder is. En dit is die punt wat Dawid hier wil maak.

Toe Dawid na ‘n beeld gesoek het om God se wese uit te druk, het hy heel waarskynlik sy dae as skaapwagter onthou. Hy het onthou hoeveel aandag hy aan die skape moes gee — dag in en dag uit — sodat hulle versorg en veilig kon wees. Dat hy altyd moes waak, dat hy hulle nooit alleen kon los nie. En dit, het Dawid besef, is wat sy God is: die Herder wat so waak. So versorg. So omsien. En daarom: as Dawid dan sê: die Here is my Herder, sê hy eintlik — ek is God se skaap. As God se kind is ek niks anders as ‘n skaap wat nie weet nie, wat altyd verdwaal, altyd leiding nodig het, en daarom nie sonder ‘n Herder, God, kan nie.

Dit is nie lekker, broers en susters, om te dink dat ‘n mens as kind van God met ‘n skaap vergelyk word nie. Veral nie as ons die bekende Afrikaanse spreekwoord wat sê hoe slim ‘n skaap is, in ag neem nie. Maar kom ons vra maar, broers en susters: is ons soos God, altyd dieselfde. Nooit knorrig nie? Nooit onnodig omgekrap nie? Verder: lewe ons altyd in vrede met ander? Het ons altyd almal lief?

Ja, en lewe ons nooit met enige vrees nie? Jy word met kanker gediagnoseer — en jy gaap van verveeldheid? Die ekonomie van die land stort totaal in duie — en dit skeel jou min. Jy hoor by die werk gaan hulle mense laat gaan — en jy slaap elke aand heerlik en rustig.

Ook het jy geen vergifnis nodig nie. Want jy het nog nooit ‘n fout gemaak nie. Nog nooit gejok of deur eie optrede ander diep seergemaak nie?

Nee, broers en susters. Kom ons wees maar eerlik. Ons is nie altyd in beheer van ons emosies nie. Ons verhoudingslewe is nie altyd wat dit moet wees nie. Ons het vrese, en ons het baie foute. Ons is soms so bang, en alles behalwe perfek. Ons verdwaal so maklik in die lewe. So dikwels weet ons nie waarheen of hoe nou nie. Ons weet ook dikwels nie meer waar die regte pad terug na sinvolheid en vreugde is nie. Is ons regtig so onafhanklik? Kan ons werklik geheel en al op onsself en ons eie oordeel staat maak? Ek dink nie so nie. Ek kan in elk geval nie. Daarom het ek ‘n Herder nodig. Daarom kan ek nie sonder ‘n Herder nie. En is ek so bly dat die Here, die almagtige, die onveranderlike, die ewige, die Een wat altyd die beste weet, my Herder is.

As ons nie so dink nie, broers en susters, as ons oordeel ons kan self, ons is darem nie dom skape nie, ons kan self regkom, ons kan ons self selfs verlos, ons sal alles self en reg doen, klink ons Psalm 23 egter so:

Ek is my eie herder. Daarom het ek altyd iets nodig.
Ek het nooit rus nie, en vind geen vrede nie.

Ek is altyd moeg, en ek ploeter deur die lewe, van een ding na ‘n ander, maar voel nooit beter nie.
Ek sien die vallei van die doodskaduwee, en val uitmekaar, want ek voel so alleen.
Ek is bang vir alles.
Ek is elke dag tussen baie mense, maar hulle is niemand behalwe my vyande nie.
Ek gaan huis toe, en almal vermy my.
Ek salf my pyne met alles en nog wat, en my beker loop van die verkeerde goed oor.
Ongeluk en hartseer sal my lewe lank by my bly, en in twyfel en onsekerheid sal ek bly lewe tot in lengte van dae.

Dit alles, broers en susters, omdat ons, wat ‘n Herder die meeste nodig het, nie ‘n Herder in ons lewens wil hê nie.

Ook leer ons soms so moeilik. Die lewe het ons geleer: doen dit op God se manier. En ja, so nou en dan doen ons dit. Maar so gou verdwaal ons weer, want ons pak die lewe sonder ‘n Herder aan. Sonder dié Herder.

Jesus het gesê: Ek is die Herder en julle my skape. Ek ken my skape, en hulle luister na my stem. Doen ons dit?

As ons dit doen, sal ons onnodige bagasie ook baie ligter word. En die lewe ‘n lied. Want dan weet ons waarheen, weet ons hoe, want dan is die Here my Herder, dié stem waarna ek luister.
Amen