Psalm 23:2

Ek sal julle rus gee (Preek 4)



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Een siekte van ons tyd is ‘n siekte wat ons soms maklik miskyk. Baie tieners ly daaraan. Middeljariges het die meeste daarmee te kampe. Ook ons senior burgers word dikwels deur hierdie siekte oorval. En behandeling vir hierdie siekte is legio: van mondskerms tot kruietee word vir hierdie siekte aanbeveel. En net so min van hierdie medikasie help.

Kan ons raai, broers en susters, wat hierdie siekte is? Is dit depressie? Nee. Dit is eenvoudige slaaploosheid.

‘n Mens sou dink dat mense wat hard werk, doodmoeg sommer maklik aan die slaap sal raak. Maar soms gebeur dit nie. Hoekom nie? Want so dikwels neem ons alles en almal, ek wil amper sê ‘die hele wêreld’, saam met ons bed toe.

Ons dink aan wat ons alles more moet doen. Ons dink aan wat ons vandag nie gedoen gekry het nie. Ons dink aan wat ons dalk vandag verkeerd gedoen het. Ons dink aan ander mense. Aan hulle probleme. Of aan dit wat hulle aan ons gedoen het. Ons dink soms selfs aan dit wat ander mense aan ander gedoen het.

En ja, ons dink ook aan dinge wat met die sin van die lewe te make het. Waar kom ek vandaan? Doen ek met my lewe dit waarvoor God my bestem het? Waarheen is ek werklik op pad? Weet ek waarheen ek op pad is? Wat is die doel van die lewe? Wat is reg? Wat is verkeerd? Is daar lewe na die dood? En as daar is, gaan ek daaraan deel hê?

Hierdie vrae, broers en susters, is vrae van die siel. En as die siel nie antwoord kry nie, bly ons sonder rus. Kan ons nie slaap nie. Ja, omdat die siel moeg is, word ons moeg van al die moeg voel. Ons moeg wees maak ons net meer en meer moeg. En later rus niks van ons nie: nie ons liggame nie, nie ons gedagtes nie, nie ons verstand nie, ook nie ons siel nie.

Interessant, broers en susters, is dat daar net een ander lewende wese op aarde is wat, net soos die mens, baie moeilik tot rus kom. ‘n Skaap. Skape slaap nie maklik nie. Om ‘n skaap aan die slaap te kry, moet alles perfek wees. Daar mag nie roofdiere in die omgewing wees nie. Daar mag geen spanning in die lug wees nie. Geen muggies of muskiete nie. En die skape mag ook nie honger wees nie.

Juis daarom, broers en susters, is die beeld van die skaap en die herder wat sy skape na groen weivelde bring om te rus, in hierdie Psalm so treffend. En wat dit nog meer treffend maak, is wanneer ons in ag neem dat die skaapwagter Dawid dit vir ons sê. En kom ek verduidelik.

Die plek waar Dawid sy pa se skape opgepas het — die koppies rondom Bethlehem — was maar klipperig en dor. Dit was beslis nie ‘n groen weiveld nie. Om ‘n groen weiveld vir die skape te bied, was daarom die herder se werk. Hy moes die harde en klipperige grond skoonmaak, die stompe verwyder, die bossies uittrek, die grond omdolwe en gras of lusern aanplant. Dit alles was die herder se werk.

As Psalm 23:2 dus sê ‘Hy laat my in groen weivelde rus’, moet ons die ‘Hy’ in hierdie vers nie mis lees nie. Dit is God, sê Dawid, wat dit vir my moontlik maak om te rus. Dit is Hy wat vir my rus gee.

En hoe doen Hy dit? Hy doen dit deur aan ons die vierde gebod (van die Tien Gebooie) te gee. Interessant nogal is dat hierdie gebod die langste van al die gebooie is (lees die gebod).
Die Here ken ons goed, broers en susters. Hy weet hoe ons ons kan laat stuur en beheer deur die lewe en die eise van die lewe. Maar hier praat God met ons darem baie duidelik: Een dag in die week sal jy nee sê vir werk, en ja vir aanbidding. Jy sal jou voet van die petrolpedaal afhaal, briek aandraai – en rus!

En ja, broers en susters, dan begin ons maars. Maar hoe sal die werk klaarkom? Wat van dit wat nog gedoen moet word? Wat van dat wat nog nie klaar is nie? En so gaan ons aan. Maar God bly ons herinner: as die hele skepping nie in duie gestort het toe Ek gerus het nie, sal dit staande bly terwyl jy rus. Jy hoef nie die wêreld aan die gang te hou nie. Ek sal dit doen.

‘n Boog wat permanent gespan is, sal een of ander tyd breek. En die boer sal ons ook vertel: ‘n stuk grond moet so nou en dan braak lê om gereeld goeie vrugte te lewer. En ons moet rus om gesond te bly. En as ons rus, sal God ons gesond maak: gesond in die liggaam, gesond in die gees, gesond in die siel.

As Dawid sê ‘Hy laat my in groen weivelde rus’, sê hy eintlik daarmee: My Herder laat my rus in sy voltooide werk. Hy laat my rus in die weiveld wat Hy vir my gereedgemaak het. En dit het God vir ons gedoen, broers en susters.

Die deurboorde hande van Jesus aan die kruis het die weiveld vir my siel voorberei. Ons hoef ons nie meer te bekommer oor ons verlossing nie. Dit is klaar voorberei. Daardie deurboorde hande het ook al die doringbosse van oordeel uitgeroei, en al die los klippe van sonde weggedra. En toe dit klaar was, het hy lande vol genade geplant, en dit omring met diep poele vol liefde.

En al wat God doen, is om ons uit te nooi om daar te kom rus. Kan ons onsself indink, broers en susters, met hoeveel genoegdoening die Herder na ons kyk wanneer ons sy voltooide werk ons s’n maak, wanneer ons rustig in hierdie voltooide weiveld gaan lê, en eenvoudig net rus?

Hierdie weiveld is ‘n geskenk aan ons. Ons het dit nie self aangeplant nie. Ons verdien dit daarom nie. Efesiërs 2:8 sê dit mooi: ‘Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God’.

Dit is egter, broers en susters, wanneer ons in hierdie lewe ons eie weiveld van rus wil uitkap, dat ons nooit tot rus kom nie. Dan glo ons die wêreld sal sonder ons insette en kommer nie staande bly nie. Maar wat maak ons dan?

Ons skep ‘n weiveld vol klippe, vol menslike tekortkominge en mislukkings, ons skep ‘n weiveld wat ‘n mens uitput om daarin te oorleef. En omdat ons nie ‘n perfekte weiveld geskep kry nie, probeer ons harder. En meer. En hoe meer ons probeer, hoe groter word die chaos rondom ons, hoe meer word die spanning, hoe moeër word ons. Tot ons moegheid ons later doodmoeg maak.

God se antwoord daarop is: moet nie net die swart kolletjie op die wit stuk papier raaksien nie. Sien ook — en veral — die groot stuk wit om alles. Sien dat alles in my hande is. Sien dat ek my skepping in stand hou.

Vat daarom soms net af. Doen net niks. Word bewus van my teenwoordigheid. Weet Ek het alles in beheer. En rus. Want jy mag. Ek het dit ook vir jou gegee.
Amen