Psalm 23:3

Om verdwaal te wees, maar dit pla nie (Preek 6)



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Almal van ons het seker op ‘n keer al verdwaal. Of gedroom ons verdwaal. Daardie droom wat eintlik niks anders as ‘n nagmerrie is nie. Jy is iewers in ‘n bos of ‘n oerwoud. Jy weet nie waarheen nie. Bo alles is dit donker. En wat jou banger maak is al die geluide wat jy hoor. Of jy is op pad iewers heen. En maak nie saak watter afdraaipad jy vat nie. Elke keer kom jy op dieselfde plek uit.

Dalk het u dit al ervaar. As u het, sal u weet watter emosies ‘n mens beleef wanneer jy voel jy het regtig verdwaal. Vrees, angs, miskien selfs so ‘n bietjie woede. Maar beslis wanhoop. Want jy weet nie waarheen nie.

Baie mense, broers en susters, voel elke dag so. Hulle voel of hulle in die oerwoud van die lewe verdwaal het. Want die lewe voel vir hulle soos ‘n oerwoud waarin daar nie meer rigting is nie. ‘n Oerwoud vol gebroke harte, hospitaalmure en skeihowe. ‘n Oerwoud vol mense wat kla en baklei, mekaar te na kom en inloop. ‘n Oerwoud vol eise en opdragte. Die diere wat hulle jaag is dagboeke en opdragte, rekenings wat betaal moet word, begrotings wat nie klop nie.

Wat hulle jaag is wat in die verlede gebeur het. Wat hulle dink nog gaan gebeur. En alles wat hulle beleef en moet hanteer is so baie, dat hulle geen pad uit alles sien nie. Rigting is daar nie meer nie. Party vra darem nog: ‘Hoe nou gemaak’. Ander vra nie eers meer of probeer nie eers meer nie. Hulle het aanvaar hulle het in die lewe verdwaal, en niks kan dit verander nie.

Dalk is u en ek so gelukkig dat ons nog nooit werklik so gevoel het nie. Maar ek dink dit moet erg wees. Sonder plan, sonder energie, sonder hoop. Sonder lig in die tonnel. Om ewe skielik te besef: maar nou weet ek wat wanhoop regtig beteken.

Wanneer ‘n mens ‘n krisis beleef, broers en susters, wil ‘n mens nie alleen wees nie. Meer nog: want ‘n mens nodig het is iemand wat jou laat insien dat alles tog nie so erg is nie, en meer nog: dat daar tog ‘n pad uit jou krisis of situasie is, en dat hierdie persoon bereid is om saam met jou daardie pad te stap.

Psalm 23 sê vir ons dat ons so iemand het. Jesus Christus, ons Herder, wat ons nuwe krag gee en wil gee. En as ons leer om werklik op God te vertrou, broers en susters, sal ons elke dag hierdie nuwe krag ontvang. Maar dan moet ons verstaan wat dit beteken wanneer ons sê God is ons Herder wat ons nuwe krag gee.

En kom ek verduidelik wat ek hiermee bedoel. Ons dink dikwels dat God se hulp en bystand ons omstandighede moet of sal verander. En wanneer dit nie gebeur nie, word ons soms so vinnig kleingelowig. Soms selfs ongelowig. Want God, wat sê Hy is my krag, my hulp, het dan niks gedoen nie. Alles is dan nog dieselfde. Niks het dan verander nie.

God, broers en susters, verander soms (selfs dikwels) sy kinders se omstandighede. Maar dit is nie al nie. God, wanneer Hy sê Hy gee ons nuwe krag, wil in die eerste plek ons verander. Hy wil hê dat ons insig sal kry, anders sal dink, en dan anders sal doen. Hoe doen God dit?

Hy herinner ons, soos 1 Petrus 2:11 ons leer, dat ons eintlik maar net bywoners en vreemdelinge in hierdie wêreld is. Die wêreld waarin ons lewe, wat soms as ‘n oerwoud ervaar word waarin ons totaal verdwaal het, is nie alles nie. Dit is net tydelik. Dit gaan verby.

Wat eintlik saak maak, is dat God nou hier by ons is, en dat ons eendag by Hom sal wees. Daarom sy opdrag in Kolossense 3:3: ‘ Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op aarde is nie ...’. En kyk op na die berge, en weet waar jou hulp en krag vandaan kom. Jou krag kom van die Here wat nooit sluimer of slaap nie, van die Een wat jou bewaar teen alle gevare. Jou lewe sal Hy beskerm, sê dieselfde Dawid in Psalm 121.

In kort: wanneer Psalm 23 sê dat God ons nuwe krag gee, sê die Psalm in die eerste plek nie dat God ons wêreld, lewe of die oerwoud waarin ons soms voel ons onsself bevind, gaan of sal verander nie. Nee. Die Psalm sê dat God ons wil verander. So wil verander dat dieselfde oerwoud waarin ons lewe nie meer vir ons soos oerwoud voel nie.

Daar word die verhaaltjie vertel van ‘n man wat op ‘n keer op safari was, diep in ‘n oerwoud. Sy gids voor hom het ‘n handbyltjie gehad, en sover hulle geloop het met hierdie byltjie ‘n pad voor hulle bly oopkap het. Na ‘n hele dag se stap, het die man moeg en natgesweet gefrustreerd gevra: ‘Waar is ons? Weet jy waarheen jy op pad is? Hier is dan glad geen pad nie!’ En die gids se antwoord was: ‘Ek is die pad.’

Ons vra dikwels dieselfde vrae, broers en susters. Veral wanneer ons verhouding met God vir ons belangrik is. ‘Waarheen is u met my op pad, Here?’ ‘Is daar ‘n pad?’ Hoe lank is hierdie pad nog?’ Gaan dit makliker word?’ Dan antwoord God ons: ‘ Ek is die weg en die waarheid en die lewe’ (Johannes 14:6).

Let mooi op wat God hier sê. Hy sê nie vir ons altyd waar die pad uit die oerwoud is nie, waarheen die pad loop, hoe lank die pad is, en of die pad reguit of krom of opdraande of afdraande is nie. Nee. Hy sê vir ons Hy is die pad, want Hy is saam met ons op pad. Hy neem nie die oerwoud weg nie. Maar Hy stap saam met ons deur die oerwoud.

As Psalm 23:3 dus vir ons sê dat God ons nuwe krag gee, sê die Psalm nie dat God noodwendig ons omstandighede gaan of sal verander nie, maar dat Hy ons wil verander. So verander dat ons weet ons is eintlik nie verdwaal nie, nie alleen nie, dat daar rigting en uitkoms is al sien ons dit nie, dat alles eintlik in plek en reg is, al lyk dit nie so nie. Want Hy is ons pad, Hy is by ons. By ons in ‘n wêreld waarin ons eintlik bywoners is, in ‘n wêreld waar ons eintlik nie hoort nie.
Ek dink, broers en susters, dat ons soms met die lewe een groot fout maak. Ons lewe met die droom dat eendag alles reg en goed sal wees. Dat ons sal lewe, nie siek nie, nie bekommerd nie, dat alles in plek sal wees. Geen krisisse, geen verrassings, geen finansiële kommer of kommer oor my kinders of oor môre of oor wat ook al nie.

Dit is dalk moontlik, broers en susters, ek weet nie. Wat ek wel weet is dat ons deel is van ‘n gebroke en moeilike wêreld. Ons is deel van ‘n lewe wat nie maklik is nie. ‘n Lewe wat soms deur ons, en soms deur ander vir ons lekker deurmekaar gekrap word. Probleme sal daar altyd wees. Die hoop na beter sal daar altyd wees. En ons sal dikwels verdwaal wees. En heel waarskynlik sal dit altyd so wees. Miskien gaan dit nooit verander nie.

Daarom moet ons verander. Ons moet weer en weer hoor dat God by ons sal wees, al die dae van ons lewe. Ons moet weer hoor dat ons heel waarskynlik altyd in een of ander oerwoud sal wees. En wat die verskil gaan maak tussen verdwaal wees in die oerwoud of op pad wees in die oerwoud die feit is dat ons weet en glo dat God in daardie oerwoud ons pad is.

Van ons vanaand hier, broers en susters, is dalk so gelukkig dat ons vanaand alles behalwe iewers in ‘n oerwoud verdwaald sit en wonder waarheen nou. Dalk bevind u vanaand uself op ‘n lekker oop pad, ‘n pad wat u weet waarheen lei en presies hoe ver dit nog is.

Die pad van die lewe maak egter soms snaakse draaie met ‘n mens. Nie een van ons weet wat môre vir ons wag nie. Ons weet nie waarheen die pad waarop ons nou is ons gaan lei nie. Om die volgende draai wag daar dalk ‘n begraafplaas, ‘n hospitaalbed, ‘n leë huis, kommer of hartseer. Ja, miskien wag daar vir u en vir my ‘n groot oerwoud.

Maar dit maak nie saak nie. Want ons ken die pad. God is ons pad. Want Hy gee ons nuwe krag. Genoeg krag vir elke dag. Ons weet ons hoort nie eintlik hier nie. Hierdie is nie alles nie. Ons weet ons het nie altyd die kennis om die regte pad te vind nie. Maar dit maak nie saak nie. Want Hy wat ons nuwe krag gee, sal saam met ons stap.

Hoe wonderlik moet dit nie wees, broers en susters, om in die middel van die oerwoud wat die lewe soms is te staan, totaal verdwaal, en te kan sê: wat ek nou sien en ervaar maak nie eintlik saak nie, want God is by my.

Ek wens ek is altyd daar as dit by glo in God kom. Want ek dink dat iemand wat so lewe en so kan sê, geleer het wat dit beteken om werklik te vertrou op God. En elke keer te ervaar: maar Hy gee my elke oomblik nuwe krag.
Amen