Psalm 23:4; Lukas 22:39-44

Van vrees na vrede (Preek 9)



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
In die evangelies word verskeie gesigsuitdrukkings van Jesus beskryf. Ons lees van ‘n Jesus wat glimlag. Van ‘n Jesus wat by tye hartseer was, ja, soms gehuil het. Ons lees ook van ‘n Jesus met ‘n streng uitdrukking op sy gesig. En is ons rustig hiermee. Want, Hy was ook ‘n mens soos ons. Daarom kan dit mos maar so wees.

Wanneer ons egter lees dat Jesus op ‘n keer beangs was, maak dit ‘n mens effens ongemaklik. Want ons is dié wat bang mag word. Nie Hy nie. Meer nog: ons lees dat daar trane op sy wange was. En nog meer: Dat sy sweet soos bloeddruppels op die grond geval het. Dit het ons baie duidelik in Lukas 22:39-44 gelees. Pas dit in in ons prentjie van God, van Jesus? Nie eintlik nie.

Ek onthou goed toe ek in die laerskool was, daar ‘n kinderbybel in die klas was met ‘n prentjie van Jesus in die tuin van Getsemane. Op daardie prentjie was die uitdrukking op Jesus se gesig sag en rustig, met sy hande vreedsaam in gebed gevou. Maar kan dit, broers en susters? Van die gebeure in Getsemane sê Markus baie duidelik: ‘En toe Hy ‘n bietjie verder gegaan het, val Hy op die grond en bid...’ (Mark 14:35). En in Matteus 26:37-38 lees ons: ‘Toe het Hy bedroef en beangs geword en vir hulle gesê: ‘’Ek voel doodsbenoud’’. En Lukas 22:44 sê: ‘ Ek het in doodsangs geraak’.

So ‘n effens ander prentjie as dié in die kinderbybel, sou ek sê. Hoe sou ons hierdie prentjie skilder, op grond van die gedeeltes wat ons opgenoem het? Iets soos: ‘n Jesus wat plat uitgestrek op die grond lê, met ‘n gesig verwronge van vrees, sy hande geklem om die grashalms rondom Hom. Met bloeddruppels van sweet wat van Hom afdrup.

Wat maak ons met so ‘n prentjie van Jesus, broers en susters? Eenvoudig: ons roep dit op wanneer ons so voel. Ons lees die gedeelte wanneer ons presies dieselfde voel en dalk ook lyk. Heel waarskynlik: sê baie, was hierdie Jesus se mees intense emosie, omdat Hy presies geweet het wat vir Hom voorgelê het. So duidelik dat Hy selfs vir sy Vader gevra het: ‘Vader, as u wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg’.

Watter omstandighede maak dat ‘n mens so ‘n gebed moet bid, broers en susters? Dit sal nie vir ons almal dieselfde wees nie. Vir party sal dit wees om daardie vlug met ‘n vliegtuig te onderneem. Vir ander sal dit wees om voor ‘n groot klomp mense te praat, of om vir daardie onderhoud te gaan vir ‘n nuwe werk. En vir ander miskien as hulle in die spitsverkeer moet bestuur. Ons almal het hierdie soort vrese. Vrees wat maak of dit letterlik voel of jou hart tot in jou maag sak, jou asem laat wegslaan, jy naar word, en die bloed uit jou gesig laat wegloop.

Dit is hoe Jesus gevoel het. En ja, dit kon wees dat Hy letterlik van vrees gebloei het. Die mediese term vir hierdie toestand is hematidrose: geweldige angs en skok maak dat chemikalieë vrygestel word wat die haarbloedvaatjies in die sweetkliertjies laat bars, en dan word sweetdruppels vrygestel wat rooi met bloed gekleur is.

Is dit nie merkwaardig dat Jesus hierdie soort vrees ervaar het, broers en susters. Maar meer merkwaardig is dat Hy sy dissipels daarvan vertel het. Want ons doen mos net die teenoorgestelde. Ons maak of ons vir niks bang is nie. Ons steek ons sweterige hande in ons broeksakke weg. Ons sluk maar aan die naarheid wat ons wil oorval. Maar nie Jesus nie. Hy gee nie voor dat Hy sterk genoeg is om hierdie angs te dra nie. Wat Hy wel doen, is om krag te vra om dit te kan dra. En wie vra Hy? Vir God, vir niemand anders nie.

So anders as wat ons dikwels doen, broers en susters. So maklik gaan ons orals heen om hulp te soek. Berader toe. Sielkundige toe. Sommiges gaan selfs kroeg toe. Of ons koop een boek na die ander. Of na wie ook al toe. Dit is nie wat Jesus gedoen het nie. Hy het my sy vrees na sy Vader gegaan.

En eeue voor hierdie nag van doodsangs van Jesus maan Dawid ons om dieselfde te doen: ‘Al gaan ek deur die dal van doodskaduwee, ek sal nie bang wees nie’. Hoekom is Dawid hier so doodseker? Want hy het geweet waar sy hulp vandaan kom: Want U is by my. In u hande is ek veilig.
Wat doen Dawid hier presies, broers en susters? In plaas daarvan om op sy probleme te konsentreer, het hy na sy hemelse Vader gedraai. Omdat hy geweet het waar om vir hulp te soek, en waar hy die hulp sou kry, kon hy sê: Ek sal nie bang wees nie.

Dit is amper of Dawid ons hier eenvoudige raad wil gee wanneer ons vrees: moenie op jou vrees konsentreer nie, konsentreer op die oplossing daarvoor. Dit is wat Dawid gedoen het. Dit is wat Jesus gedoen het. En dit is ook wat die skrywer van die Hebreërbrief ons maan om te doen: laat ons elke las van ons afgooi, en laat ons die wedloop hardloop met die oog gevestig op die Voleinder van ons geloof, Jesus Christus.

Presies wat Dawid gedoen het: U is by my, in u hande is ek veilig. Presies wat Jesus gedoen het. Hy het sy gesig van vrees na God gedraai. Presies soos Psalm 56:4 dit stel: Die dag as ek bang word, vertrou ek net op U’.

En ons kan maar net presies ook so doen, broers en susters. Ons hoef nie die lewe se tuine van Getsemane te probeer vermy nie. Gaan hulle gerus binne. En wees eerlik as jy daar is. Slaan maar met jou vuiste op die grond. Jy kan maar huil en skree. En as jy bloed sweet is jy beslis nie die eerste mens wat dit oorkom nie. Maar moet net nie alleen in daardie tuine instap nie. Doen wat Jesus gedoen het: maak jou hart vir jou Vader oop.

En maak soos Jesus: Gee aan God die besonderhede. Jesus het gebid: neem tog hierdie lydensbeker van My af weg. Daarom: sê vir God watter vlug jy moet haal, en waarom jy so bang is. Sê vir God hoekom jy bang is om voor ‘n groot klomp mense te praat, wat jou bang maak as jy vir ‘n onderhoud vir ‘n nuwe werk moet gaan. En hoekom jy nie meer kans sien om in die spitsverkeer te bestuur nie, en dit net doen as dit regtig nie anders kan nie.

Want God is nooit te besig om te luister nie. Hy het altyd genoeg tyd vir sy mense. En baie geduld. En baie, baie medelye. God sal nooit dink jou vrese is ongegrond, onnodig, onbenullig, onrealisties of selfs dom nie. Want Hy was al daar waar jy nou is. Hy weet hoe jy voel. Meer nog: Hy weet wat jy nodig het. Daarom moet ons in ons gebed ook sê soos Jesus gesê het: ‘ as U wil.’

En wat het God vir Jesus gedoen? Hy het nie die kruis weggeneem nie, maar wel die vrees. Hy maak nie altyd die storm stil nie, maar Hy kalmeer die kaptein van die skip. Hy neem nie altyd ons tuine van Getsemane weg nie, maar Hy maak ons rustig om dit te kan doen wat gedoen moet word.

Ek sluit af met die bekende gedeelte uit Filippense 4:6: ‘Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend’. Moet nie probeer vasstel hoe hoog die berg is nie, praat liewers met die Een wat berge kan versit. Moenie die wêreld op jou skouers dra nie. Praat liewers met die Een wat die wêreld gemaak het en alles in stand hou.

God, en hoop, en uitkoms, en vrede, is so naby as jou volgende gebed.
Amen