Psalm 23:4

Die gawe van eensaamheid (Preek 10)



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Wanneer ‘n mens so bietjie deur die Psalms blaai wat Dawid geskryf het, kry ‘n mens nogal die indruk dat hy soms baie alleen en eensaam gevoel het.

Vat nou maar Psalm 25:16 as voorbeeld. Daar skryf hy: ‘ Sien my in genade aan, Here, want ek is eensaam en verstote’. En in Psalm 6:7-8 skryf hy: Ek is uitgeput van alleenwees en verdriet, ek is swak omdat ander my nie raaksien nie. En in Psalm 35:13-17 sê hy so bietjie meer van die eensaamheid wat hy beleef: toe my vriende siek was, het ek gerou en sonder ophou vir my broer of vriend gebid. Maar nou dat ek in die moeilikheid is, kry ander lekker en span saam teen my. Noudat ek struikel en hulle nodig het, lag hulle vir my.

Dawid, lyk dit vir my, het eensaamheid geken. Hoekom? Wanneer ons iets onthou van sy lewensgeskiedenis, sal ons dit verstaan. Vat nou maar die geleentheid toe die profeet Samuel na Isai (Dawid se pa) gegaan het om sy agt seuns deur te kyk in die soeke na iemand om as koning te salf. Wat maak Isai? Hy roep net sewe van sy seuns, Dawid uitgesluit. En toe Samuel vra of daar dan nie nog een seun oor is nie, sê Isai: ja, die jongste is oor. Klink nie sleg nie, tot ‘n mens besef dat die woord wat Isai vir ‘jongste’ gebruik eintlik uitvaagsel beteken.

Later saam met Saul in die paleis gaan dit met Dawid nie veel beter nie. Saul haat Dawid later so, dat Dawid vir ‘n spies moet koes om aan die lewe te bly. En dan moet vlug. Tien jaar lank, waar hy alleen in grotte moes slaap en van wildsvleis moes oorleef.

En wanneer ‘n mens dit weer hoor, kom die insig baie duidelik: ja, nou verstaan ek hoekom Dawid sulke dinge in van sy Psalms kon sê: hy was soms baie bitter alleen. Hy het eensaamheid geken.

En dalk kan van ons vanaand hier sê: dit is nie so erg nie, want ek ken dit ook. Ek weet ook wat dit beteken om eensaam en alleen te wees. Ek onthou baie goed, broers en susters, toe ek nog nie baie lank predikant was nie, ek een oggend in my gebed vir die Here dankie gesê het vir al die vriende wat ons het, ook vriende en medegelowiges in die gemeente, en dat Hy ons die insig moet gee om ons vriende en hulle behoeftes raak te sien. Na die diens het iemand my, heel tereg, so effens tereg gewys. Jy, het hy gesê, het miskien te veel vriende om te tel, maar ek het niemand nie. ‘n Mens kan omring wees deur ‘n kerk vol mense, maar steeds eensaam wees.

En eintlik is dit baie waar, broers en susters. Ons almal weet dat eensaamheid nie noodwendigheid alleenwees beteken nie. Want ‘n mens kan tussen ‘n klomp gesigte wees en steeds eensaam voel. Eensaamheid is nie die gebrek aan gesigte om ons nie. Dit is eerder die gebrek aan gemeensaamheid, die werklike saamwees met ander, die gebrek aan intimiteit. Eensaamheid is nie die gevolg van alleen wees nie, dit is die gevolg van alleen voel.

Dit gryp jou aan die strot daar waar jy begin voel dat jy alleen die toekoms en die dood moet tegemoetgaan, dat jy alleen ‘n ernstige siekbed moet deurmaak, dat jy sonder iemand sal moet oud word. Dat niemand meer van jou weet of aan jou dink nie. Waar ‘n mens begin sê: ek voel so alleen. Is daar nie meer een mens wat omgee nie?

En wat sal mense nie alles, doen, broers en susters, om van hierdie eensaamheid ontslae te raak nie? Feitlik enige iets. Maar kom ons vra vanaand anders, kom ons dink vanaand so bietjie anders: moet ons? Moet ‘n mens so gretig wees om die eensaamheid een kant te hou? Moet ‘n mens dit nie soms aangryp nie? Meer nog: is dit dalk nie eerder ‘n geskenk van God nie?

En dadelik sal ‘n mens op hierdie vrae antwoord: dit kan tog nie wees nie! Eensaam en alleen – ‘n gawe van God? Dit kan tog nie, want eensaamheid maak jou hart swaar, dit laat ons terneergedruk en alleen voel. En dit is allesbehalwe ‘n gawe. Dit is eerder ‘n straf.

Dit is alles miskien waar, broers en susters, maar dit kan wel ‘n gawe wees. ‘n Gawe om ons afhanklik van God te hou. ‘n Gawe om ons weer te laat besef: maar eintlik kan ek nie sonder God nie. Stilte, broers en susters, kan soms raas. Dit kan vir ‘n mens te erg word. Hoekom? Want ons is altyd so besig. Die musiek en die TV is altyd aan. Altyd is daar mense rondom ons. So besig, so min tyd vir stilte.

Maar wat maak ‘n mens wanneer jy skielik alleen is? Waar daar skielik stilte is? Jy is so moeg, jy kan nie meer werk nie. Jy voel werklik niemand hoor jou meer nie. Die kerk raak vir jou al hoe verveliger. Jy is nie meer lus vir mense nie. Ja, so verdwyn ‘n mens se opsies somtyds, so een vir een. Totdat jy besef: maar eintlik het ek net vir God in my lewe oor!

Dan, broers en susters, wil ek amper sê, wanneer al jou keuses vir besig wees en saamwees op is, dan begin jy God se musiek in jou lewe te hoor. Dan ontdek jy wat Dawid ontdek het: Here, U is by my!

Soos Moses ook gesê het: Watter groot nasie se god is by hulle soos God by ons is? (Deut 4:7). Soos Paulus gesê het: Hy is nie ver van enigeen van ons af nie (Hand 17:27). En soos Dawid hier sê: U is by my!

Hoekom kon Dawid so sê, broers en susters? En hierdie beskou ek nogal as ‘n baie belangrike vraag. Dawid het met verskeie beloftes van God in sy hand gesit: ‘Ek sal jou nie in die steek laat nie’ (Gen 28:15). ‘Ek sal die volk Israel nie verlaat nie’ (1 Kon 6:13). ‘Die Here verstoot sy volk nie’ (Ps 94:4). ‘Die Here julle God sal julle nie alleen laat nie’ (Deut 31:6).

Dit was net beloftes. Soos ons ook met God se beloftes in ons hand sit. En wat het Dawid daarmee gemaak? Eendag, iewers, ons weet nie wanneer en waar nie, het Dawid gesê – en dit bedoel – die Here is by my. Hoekom? Want toe Hy stil geraak het, of dalk alleen was, alleen was net met God, het hy heel waarskynlik oor sy lewe gedink, en besef: die Here was nog altyd by my. Werklik, hy is by my. En wanneer dit met ‘n mens gebeur, broers en susters, dan ontvang jy werklik ‘n gawe uit die hand van God. Wanneer dit gebeur, al is dit die gevolg van eensaam of alleen wees, kom jy tot die besef: maak nie saak wat al met my gebeur het nie, ek kan sien God was altyd by my. Daarom weet ek nou: Hy sal altyd by my wees.

Hierdie insig, gewaarwording, besef (noem dit wat u wil), maak ‘n verskil in ‘n mens se lewe, broers en susters. Ek wens ek kan dit vanaand oor en oor sê. Dit maak ‘n ongelooflike verskil. Dit maak die wêreld se verskil. Want ewe skielik besef jy: ek gaan nie my dood alleen tegemoet nie, al verloor ek my werk, ek is nie alleen nie, al is jou huwelik in ‘n warboel, jy hoef dit nie alleen uit te sorteer nie, al gebeur wat, jy hoef dit nie alleen te hanteer nie. Want die Here is regtig by jou!

Dan verander ‘n mens se eensaamheid in gemeensaamheid. In gemeenskap met God. Waar jy elke dag bewustelik begin leef met die wete, en ervaring, met die onbetwyfelbare realistiese en konkrete wete: my God is by my!

Laat ek vanaand eerlik wees, broers en susters: ek glo nie alle gelowiges verstaan dit altyd nie. Ek glo nie alle gelowiges ervaar dit altyd nie. Hoekom nie? Want ons is tog so besig. Ons is so bang vir alleen. Ons is so bang vir stilte. Ons is so aan die gang. Ons is so min net eenvoudig alleen. So alleen, dat jou eie geselskap in jou kop met jou opraak. So alleen, dat jy besef: maar net God is by my! En dit, ja, dit is ‘n gawe.

Wanneer laas, broers en susters, was ons, in stilte, net met God besig? Wanneer laas was ons so stil, dat ons God se musiek begin hoor het? Wanneer laas, broers en susters, het ons net met God gepraat?

Wanneer dit gebeur, is alleenwees ‘n gawe uit die hand van God. Want dit bring ons uit waar ons moet wees: by God. Mag ons saam met Dawid kan sê – en dit werklik glo – Here, U is by my!

Dit, broers en susters, maak ‘n verskil aan ‘n mens se wêreld. Meer nog: dit maak jou so ryp vir die lewe, dat jy nou in ander se lewens ook ‘n verskil kan maak. En dit is tog een van die dinge wat God van ons vra!
Amen