Psalm 23:5; Johannes 21:1-14

God, die sonde en ons (Preek 11)



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Ek wonder party keer wat vir Petrus die ergste was: die seer dat hy Jesus verraai het, of die wete dat hy gesweer het dat hy dit nooit sou doen nie. Ons almal ken hierdie verhaal baie goed. ‘Here’, het Petrus gesê, ‘al sal al hierdie ander u verraai of verlaat, ek sal dit nooit doen nie’. En toe Jesus se antwoord: ‘ Ja Petrus, praat maar, maar jy sal sien: die haan gaan nie vannag kraai voordat jy my verloën het nie’.

En toe gebeur dit: en nie een keer nie, sommer drie keer. Soos Judas gedoen het. Maar miskien erger as Judas! Wat meer is, moes hy nog daarby vloek ook? Want hoe het hy nou weer gesê? ‘Toe het hy begin vloek, sê Matteus 26:74, en begin sweer: Ek ken hierdie man nie!’

En Petrus se hart was gebreek. En hy besluit: terug Galilea toe. Wat ‘n mens eintlik kan verstaan. Want Jesus het tog gesê dat Hy hulle weer in Galilea sou ontmoet. En Petrus het geweet dat die Here lewe, want hy het dan self die leë graf gesien. So, dit maak eintlik sin.

Maar Petrus gaan nie net terug Galilea toe nie, hy besluit om te gaan visvang. En dit maak nie sin nie. Want Jesus het gesê dat Hy hulle op ‘n berg sal ontmoet, nie by die see nie. So, hoekom gaan hy dan see toe? Omdat hy honger was? Ek dink nie so nie.

Petrus se gebroke hart het hom daartoe gedryf. Hy kon tog nie sy verloëning van Jesus ontken nie. Dit het gebeur. Ja, miskien kon hy sy skaamte probeer wegsteek. Ander kon dit dalk nie sien nie. Maar hy het geweet dat dit daar was. Daarom: kom weg van alles, gaan doen maar weer wat jy altyd gedoen het. Word weer deel van die normale. En vergeet van alles. Want Jesus sal tog nie weer na iemand toe kom wat Hom so in die steek gelaat het nie.

Het ons nie al dikwels ook maar dieselfde gedagtes gehad nie, broers en susters? Petrus was beslis nie die enigste mens wat al die einste dinge gedoen het wat hy gesweer het hy nie sou doen nie.

Here, ek sal nooit weer ontrou wees nie.
Here, ek sal in die vervolg my tong in toom hou.
Here, ek sal nie weer my humeur verloor nie.
Here, ek sal nooit weer oneerlik wees nie.

Hoe geweldig, broers en susters, is soms nie die omvang van ons edele voornemens nie, en ja, hoe verwoestend is die smart nie wanneer ons maar net weer in die skande kom nie?

Iemand skinder by ons – en ons skinder saam.
Iemand vertel ‘n leuen – en ons smeer dit toe.
Iemand is oneerlik – en ons speel saam vir eie voordeel.
En dan kraai die haan – en Petrus het ‘n bondgenoot daar in Galilea op sy bootjie. En daar sit ons: ek, jy, Judas en Petrus. Almal lekker snoesig saam.

En ons verwyt onsself. Hoe kon ek dit weer doen? Ons ween ons harte aan flarde. En ons doen wat Petrus gedoen het. Ons keer terug na ons ou lewens. Want, glo ons, miskien sal alles net weggaan. Ja, ons doen wat in ons aard is, in plaas van wat ons gewete vir ons sê. Ons reageer menslik, in plaas van geestelik. Terwyl ons wonder of Jesus ooit weer vir ons tyd sal hê. Want kyk net wat het ons aangevang, en dit nadat ons gesweer en gesê het ons sal dit nooit weer doen nie!

En wat maak Jesus? Soos Hy daardie aand voor sy dood sy dissipels genooi het vir ete, doen Hy dit weer. Want daar wag Jesus vir hulle op die strand. Met ‘n vuurtjie en ‘n broodjie. Wat vir Petrus soos ‘n feesmaal moes gevoel het. Sy Here het hom kom soek, en nooit weer was Petrus se lewe dieselfde nie. Want God is sterker as enige sonde, sy heiligheid is meer as ons sondige menswees, en Hy gee nooit met ons moed op nie, al gee ons so dikwels moed met onsself op.

Wat meer is, broers en susters, is dat God dit vir ons moontlik maak – al is ons wat, al doen ons soms wat - om saam met Hom aan die lewe as sy feesmaal aan te sit. En Dawid beskryf dit vir ons in Psalm 23:5 op ‘n besonderse wyse. Baie geleerdes oordeel dat wanneer ons hier by vers 5 in hierdie Psalm kom, Dawid reeds in die bergveld met sy skape is, en waar hy vir die skape hulle weiding gereed moet maak.

Gewoonlik, wanneer dit moontlik was, het herders hulle skape op plat weiveld, gelyke grond, laat wei. Dit was eenvoudig beter. In die bergveld was dit moeiliker. Daar was nie altyd genoeg water nie, daar was vreemde en giftige gewasse, en wildekatte en wolwe was volop.

Die grootse gevaar was egter ‘n bepaalde soort adder, ‘n klein bruin slangetjie wat ondergronds gelewe het. Hulle het die gewoonte gehad om, wanneer hulle gesteur word, hulle koppe skielik uit hulle gate te steek en ‘n skaap op sy neus te pik. Dit het dan gewoonlik tot infeksie gelei, en later tot dood.

Om die skape hierteen te beskerm, het die herder ‘n bietjie olie in die adder se gat gegooi wat die adder se gat glibberig gemaak het sodat dit nie vinnig uit die gat kon spring nie. Ook het hulle ‘n bietjie olie aan die neus van elke skaap gesmeer wat die adders van die skape weg gehou het. So het die herder die skape beskerm, so het hy die ‘tafel vir hulle voorberei’.

En dit doen God as ons herder ook vir ons. Hy het ook vir ons die graf oorwin. So het Hy die mag van die bose gebreek. Nie dat dit beteken dat ons nou nooit weer sonde sal doen nie. Maar dat die mag van die sonde gebreek is.

Met ander woorde, ons kan teen die sonde stry. Ons is nie daaraan uitgelewer nie. Ook en veral omdat God vir ons sy Gees gegee het. Sy Gees wat ons nie alleen lei nie, maar ook bring om ons sonde raak te sien, en ons by die punt te bring om dit voor God te bely. En God vergewe, broers en susters. Dit leer sy Woord ons. As die opregte berou daar is, as die bewustelike voorneme daar is om nou anders voor God te lewe, vergewe God ons.

Twee dinge is egter hier belangrik. Dit help tog nie om, wanneer ons werklik voor God gefaal het, soos Petrus terug te keer na die ou, gewone lewe nie. Ons skuld voor God sal nie weggaan nie. Die bagasie gaan net swaarder en swaarder word.

Daarom, wanneer God ons spreekwoordelik deur sy Gees by die see kom besoek, moet ons soos Petrus kom. En spreekwoordelik weer by Jesus se tafel aansit en ‘n broodjie saam met Hom breek.

Maar, broers en susters, dit help nie vergifnis vind net plaas in ons verstand, maar so 45 sentimeter af – in my hart – gebeur daar niks nie. Ons sien dit dikwels in ons eie lewens. Ons vergewe iemand sogenaamd, maar altyd vorentoe dink ek nog aan die ding wat aan my gedoen is. Dan het vergifnis net in my kop, en nie in my hart plaasgevind nie.

Dieselfde geld vir ons verhouding met God. Ons moet sy vergifnis met ons verstand en hart aanvaar, alleen dan sal ons werklik vry voor Hom voel en met oorgawe voor Hom kan lewe.

Hy het immers die tafel gereed gemaak. Die dood is oorwin, al die adders is terug in hulle gate, en kan nie uitkom nie. Die mag van die sonde is werklik gebreek. Die wyse waarop ons gehoorsaam voor God lewe toon dan ook of ons dit werklik glo of nie.
Amen