Psalm 23:5

Hy maak my hoof vet met olie (Preek 12)



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Almal van ons het al teleurstellings beleef. En wanneer ‘n mens teleurgestel word, kan jy op verskillende maniere reageer. Kom ek noem u twee voorbeelde.

Die van u wat al Charles Dickens se klassieke werk Great Expectations gelees het sal die storie van ms Haversham onthou. As ‘n jong vrou is sy deur haar verloofde kort voor hulle troue in die steek gelaat. Haar reaksie op hierdie groot teleurstelling was nie goed nie. Sy het al die gordyne van haar huis toegetrek, en elke horlosie tot stilstand gebring. Sy het die troukoek op die tafel gelos om te verrot, en haar trourok aangetrek en dit nooit weer uitgetrek nie. Haar gebroke hart het die res van haar lewe oorgeneem, en met daardie gebroke hart en geel en verslete trourok aan het sy gesterf.

Of jy kan soos die apostel Paulus op teleurstelling reageer. Wanneer ‘n mens Handelinge lees (waarin Paulus se sendingreise beskryf word), kom jy agter dat Paulus baie graag Spanje toe wou gaan om daar te gaan sendingwerk doen. Maar God het dit verhinder, en in plaas van Spanje land Paulus toe in Rome in die tronk. Teleurgesteld. Maar nie gebroke nie. Want wat maak Paulus? Hy gebruik sy tyd in die tronk om briewe te skryf. Daarom is daar vandag boeke in ons Bybel soos Filemon, Filippense, Efesiërs en Kolossense. Paulus sou ongetwyfeld groot werk in Spanje verrig het. Maar sou dit vergelyk kon word met die impak wat hierdie vier briewe op die geskiedenis van die Christendom gehad het?

Ons was ook al daar, broers en susters. Soos windhonde op pad Spanje toe. En toe teleurstelling beleef. Ons was op pad kollege of universiteit toe. Maar toe gebeur iets. Op die punt om te trou. Maar toe gebeur iets. Gereed vir ‘n nuwe werk, en toe kom die baba. Op pad oorsee, maar toe word een van ons ouers ernstig siek. Hard geleer vir daardie belangrike toets, maar dit toe nie gemaak nie. Aansoek gedoen vir daardie pos, en dit toe nie gekry nie. En toe sit ons in Rome. Al was ons op pad Spanje toe.

Om hierdie dinge te verwerk (en eintlik het ek nie eers ernstige teleurstellings genoem nie), het ‘n mens hulp nodig. En Psalm 23:5 sê vir ons wat hierdie hulp is: ‘U maak my hoof vet met olie’. Dit klink vreemd, maar kom ek verduidelik.

In antieke Israel was olie iets wat vir veeboere van groot nut was. Dit was veral vir drie dinge deur skaapboere gebruik: om insekte weg te hou, om bakleiery tussen skape te vermy, en om wonde te help gesond maak.

Skape in die warm dele van Israel was veral deur ‘n sekere soort neusvlieg gepla. As hierdie neusvlieg eers daarin geslaag het om ‘n paar eiertjies in die skaap se neus te lê, het dit groot probleme veroorsaak. Die eiertjies het larwes (wurmpies) geword wat in die skaap se neus rondgekruip het. Dit het die skaap tot raserny gedryf. Om van hierdie irritasie ontslae te raak het skape soms hulle koppe moedswillig en aanhoudend teen rotse of boomstompe gestamp. In sommige gevalle het dit tot die dood van die skaap gelei, of die skaap het opgehou om te vreet. Hulle kon nie slaap nie, die ooie het nie hulle melk laat sak nie, en die lammers het van honger gesterf.

Om die skape hierteen te beskerm het die herder dan die skape se koppe ‘vet met olie’ gemaak. Die reuk daarvan het die insekte op ‘n afstand gehou, en die skape rustig.

Maar net totdat die paarseisoen aangebreek het. Want dan het die ramme baklei vir die ooie. Die ramme het regte ramkatte geword, en bakleiery onder mekaar was aan die orde van die dag. Hulle het baklei deur mekaar met die koppe te stamp. Wat tot die dood van ‘n ram kon lei. Maar weer eens het die herder met sy olie tot die redding gekom: hy het sy glibberige olie oor die neus en kop van elke ram in die trop gesmeer, sodat die ramme se koppe van mekaar afgegly het wanneer hulle in so ‘n geveg betrokke sou raak.

Maar natuurlik het ramme in sulke gevegte seergekry en wonde opgedoen. En dit is die derde rede hoekom die herder sy olie uitgehaal het. Hy het hierdie wonde, maar ook ander skrapies en stukkende plekkies wat dorings of wat ook veroorsaak het, met olie gesmeer sodat die stukkende plekke geseël kon word en vandag se wond nie more se infeksie, en volgende week se dood, word nie.

En net so maak die Here met ons, broers en susters, Hy wat ons herder is, en ons wat sy volk, sy kudde is (soos Psalm 100:3 dit stel).

Net soos skape doen ons ook wonde op in ons daaglikse lewe. Dikwels is ons wonde die seer wat in jou hart gaan lê as gevolg van byvoorbeeld teleurstellings. En as ‘n mens nie oppas nie, word hierdie seer verbittering. Daarom moet ons ook behandeling kry, net soos skape.

Ons het verder ook voorsorg teen infeksie nodig. Ons wonde moet ook geheel word. Ons raak geïrriteerd met ander, stamp kop, en kry seer. Baie van ons teleurstellings begin met daardie klein irritasietjies. Die grootse gros van ons probleme is nie daardie groot krisisse nie, maar eerder daardie swerm frustrasies, misverstande en seerkry-oomblikke. Jy haal nie die span nie. Jy kry nie daardie werk nie. Jy word nie gekies vir dit of dat nie. Jou werkgewer sien nie hoe hard jy werklik werk nie. Niemand sê dankie vir alles wat jy doen nie. Niemand waardeer wat jy is en wat jy doen nie. Jy voel al meer terneergedruk, geïrriteerd en seergemaak.

En dan kan jy nie slaap nie. Jy kan nie eet nie. Uit frustrasie stamp jy jou kop teen die muur. Soos ‘n skaap wat deur neusvlieë gepla word. Of dalk stamp jy met iemand kop. Almal van ons kan soms so hardkoppig wees. En van die seerste wat ons kry is dikwels die seer wat ons kry van kopstamp met ander mense.

Wat meer is, die lewe veroorsaak soms soveel skaaf- en snyplekkies aan ons. Ons word oud, ons staan familie en vriende aan die dood af. Ons gesondheid kry ‘n knou of twee. Ons moet dikwels onreg verwerk. Aanpas by voortdurende verandering. Ons dagboeke word net voller en voller. En voor ons sien word ons wonde net seerder en seerder, en wil later nie meer gesond word nie.

Daarom het ons ook ‘n Herder nodig, met sy kannetjie olie. En die wonderlike is: ons het so ‘n Herder! Ek is die goeie Herder, en ek lê my lewe af vir my skape, het Jesus in Johannes 10:11 vir ons gesê.

Hoe is Jesus ons Herder? Hy het spreekwoordelik olie aan sy dissipels se koppe gesmeer deur vir hulle te bid. Hy het hulle toegerus deur vir hulle gelykenisse te vertel. Hy het hulle twiste onderbreek. En vir soveel ander het Hy hulle wonde genees. Blinde oë het Hy geopen, melaatsheid weggeneem. Mense uit die dood opgewek. Nikodemus se soekende hart het Hy stilgemaak, Saggeus se oop hart het Hy binne gegaan, en Maria Magdalena se gebroke hart heelgemaak. Paulus het Hy van sy hardkoppigheid genees en Petrus se voortvarendheid het Hy weggeneem sodat albei sy evangelie met oorgawe verkondig het. So het Hy almal se hoofde ‘vet met olie’ gesmeer.

En dit wil die Herder ook vir ons doen. Maar dan moet ons God die geleentheid gee om ons Herder te wees. Hoe doen ons dit? Deur ten minste drie dinge te doen (en ek sal kort wees).

Ons moet eerstens met ons teleurstellings na Hom toe gaan. Gaan eerste na God toe voor jy jou teleurstellings met ander deel. En moenie sê God sal jou nie hoor nie. So dikwels sê mense: daar is hongersnood en aardbewings en armoede en soveel ander dinge waaraan God aandag moet skenk. Hoekom sal hy Homself dan nou ophou met my klein teleurstellingtjie? Hoekom laat ons God nie toe om self daaroor te besluit nie, broers en susters? Werp al julle bekommernisse op Hom, sê 1 Petrus 5:7, want Hy sorg vir julle.

Die tweede stap wat ons moet neem is om die regte houding voor God in te neem: buig voor die Here. Om met olie besmeer te word, moes die skape hulle koppe laag afbuig en stilstaan om die herder toe te laat om sy werk te doen. Daarom, wanneer ons na die Here gaan, eis ons nie, ons vra. Ons nader Hom met nederige harte en hoë verwagtings. Ons sê wat ons behoeftes is, maar ons bid dat ons sal kry wat reg in die oë van die Here is. En as God ons dan na Rome se tronk toe stuur en plaas van Spanje toe, aanvaar ons dit.

En dit is die derde ding wat ons moet doen sodat God ons ook ‘vet kan smeer met olie’. Ons Hom vertrou. Gaan eerste na Hom, wees nederig voor Hom, en vertrou Hom.

Skape verstaan nie hoe dit werk dat olie neusvlieë weghou nie. Hulle verstaan ook nie hoe olie wonde gesond kan maak en infeksie weghou nie. Al wat ‘n skaap weet of verstaan is dat daar iets goeds gebeur wanneer die herder met hom werk.

En dikwels, broers en susters, is dit ook al wat ons moet weet om te verstaan. Daarom: kom ons gaan na God, kom ons buig voor Hom, en kom ons vertrou. Dan sal ons ook ervaar, wanneer Hy ons hoof ‘vet maak van olie’, dat iets goeds met ons gebeur wanneer die Herder met ons werk.
Amen