Psalm 23:5

Ons het meer as genoeg (Preek 13)



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Ons is maar dikwels geneig om onsself, ons lewe, dit wat ons het, en dit wat ons is, met ander, alles en almal rondom ons te vergelyk. Veral met dit wat ander het en dit wat ander is.

Wanneer ons dit doen, broers en susters, word ons eintlik net van een saak bewus: dit wat ander het of is, en dit wat ek nie het of is nie. Wanneer ons ons gedagtes met hierdie dinge besig hou, begin jou gedagtes met ‘n paadjie wat net by een plek uitkom: die plek waar ‘n bordjie reg voor jou staan wat lees ‘jaloesie’.

Die gevolg wat jaloesie in ‘n mens se menswees veroorsaak, druk die Spreukeboek op twee plekke baie mooi uit: ‘jaloesie maak jou rasend ... dit laat jou selfs wraak neem’ (Spr 6:34), en ‘kalmte en vrede is goed vir jou, maar jaloesie is soos ‘n vernietigende siekte’ (Spr 14:30).

Jaloesie maak rasend, dit is soos ‘n siekte. Of kom ons sê dit prakties: dit bring jou by die punt om van ander te skinder, ander te verkleineer, ander maak jou kwaad (sonder rede), jy word bitter, jy dink alles is onregverdig, alle vrede en vreugde verlaat jou. Omdat jy dink dat die lewe jou onregverdig behandel. En, aan die einde van alles, verloën jy jouself. Want dan is jy nie meer jy nie, jy wil dit wees wat die ander een is. Jy haat selfs jouself, want jy wil nie meer wees wat jy is nie, jy wil anders wees, meer hê. Of wat ook al. Jy word rasend. En soos ‘n siekte vreet jaloesie aan jou.

In Psalm 23:5 bied Dawid ons, wat ek wil noem, ‘n teengif vir hierdie siekte. ‘n Teengif vir jaloesie. ‘Ek word oorlaai met hartlikheid’, lees die Nuwe Vertaling, of, ‘my beker loop oor’, soos die Ou Vertaling dit stel. Is ‘n beker wat oorloop vol? Natuurlik. Die wyn kom tot by die rand en stort bo-oor. Die glas is nie groot genoeg om die hoeveelheid te hanteer nie.

Anders gesê: volgens Dawid is ons harte nie groot genoeg om God se seëninge en gawes te bevat nie. Dit is te veel. Dit loop oor. Maar voor ek meer hieroor sê, eers ‘n ander vraag.

As jaloesie die resultaat is van fokus op die dinge wat ‘n mens nie het nie, wat gaan die resultaat wees wanneer ‘n mens fokus op die dinge wat ‘n mens wel het? As jaloesie die gevolg is van bewus wees van alles wat jy dink jy moes gehad het en nie het nie, wat gaan die gevolg wees as jy konsentreer op die dinge wat jy wel het? Psalm 23:5 sê: tevredenheid.

Wat het ons? Eerstens, oorvloedige genade. Die visse in die see bekommer hulle nie een oomblik dat daar nie genoeg water sal wees waarin hulle kan leef nie. Want daar is eenvoudig genoeg. Net so is die arend of valk nie bekommerd dat op ‘n punt die lug sal ophou nie. Want daar is eenvoudig genoeg lug.

Net so hoef God se mense nooit bekommerd te wees dat hulle bekers van genade op ‘n kol sal leegloop nie. Hoekom nie? Want dink maar net weer wie ons is en wat ons is, dink maar net wat God vir ons in Jesus Christus gedoen het, dink maar net hoeveel genade God elke dag in ons lewens moet uitstort sodat ons God se kinders kan bly. Nee wat, daar is nie ‘n kans dat ons bekers van genade ooit kan leeg loop nie. Inteendeel. Dit loop oor.

Dieselfde geld vir God se liefde en vergifnis. As ons maar net dink hoe lief God ons het, en hoeveel maal Hy vergewe, sal ons besef dat dit eintlik nie bereken kan word nie. Ons leef omdat God ons liefhet en vergewe. Sy liefde en vergifnis is elke dag deel van ons lewe. Dit is ons lewe. Dit gee ons die lewe. Ja, miskien loop my beker nie van kontant of status oor nie, maar van God se liefde en vergifnis wel.

En omdat, broers en susters, ons bekers oorloop van genade, liefde en vergifnis, loop dit ook oor van hoop. Oor hoop het iemand een keer die volgende pragtige vergelyking getref: sit jy in ‘n pikdonker kamer, kan jy niks sien nie. Maar stoot jy die deur oop, of trek jy die gordyn oop, en die strale van die son skyn in die kamer in, al is dit net ‘n straaltjie, sien jy alles wat jy nie kon sien nie.

Net so skyn God se hoop in sy mense se lewens in. Jy is siek, en God gee jou ‘n straaltjie van genesing. Dan sien jy beter wat die lewe is. Jou omstandighede is moeilik en donker, en God verander dit. Skielik sien jy die lewe uit ander oë. Hoop word deel van jou lewe, dit laat jou anders kyk, en daarom sien jy ander dinge raak. En voor jy dit besef, sien jy dat jou beker eintlik oorloop.

As God dit vir sy mense doen, broers en susters, waarom is ons alewig besig om grade te tel, getuigskrifte te vergelyk, besittings te vergelyk, suksesse te meet? Waarom wil ons altyd die belangrikste wees? Dit, terwyl God ons ‘n ereplek aan sy tafel gegee het, en ons bekers oorloop?

In Dawid se dae het ‘n oorvol beker nogal iets baie belangriks gesê. Wanneer jy vir ete genooi was, en jy aan die gasheer se tafel gesit het, en die gasheer jou beker sonder ophou vol gehou het, was dit ‘n teken dat hy jou geselskap en teenwoordig wees geniet het. Daarom het hy jou beker vol gehou. Daarmee het hy gesê: bly nog ‘n bietjie, moenie nou loop nie.

As hy egter opgehou het om jou beker op te vul (vol te hou), en jou die beker laat leegdrink het, het hy eintlik gesê: dit is nou tyd vir jou om te gaan. Nou moet jy asseblief jou ry kry.

Wat sê Dawid dus hier met die beeld van die oorvol beker wat God sonder ophou oorvol hou? Bly asseblief my kind, moenie nou gaan nie. Ek wil hê jy moet bly. Ek wil jou altyd by My hê. Hoef dit alleen, broers en susters, nie ons harte van dankbaarheid te laat oorloop nie?

Daar is ‘n pragtige en bekende Noorse fabel wat vertel van die pa en seun wat aan die voet van ‘n vallei naby ‘n dam gewoon het. Elke dag het die pa agter die huis in die berg gewerk, en die seun moes alles by die huis versorg. Elke aand het die pa by die huis gekom met ‘n kruiwa val grond en klippe. En elke aand het hy vir die seun gesê om die grond en klippe in sakke te gooi en voor die huis te pak.

So was dit elke dag. Bedags was die seun tuis. Hy kon nie doen wat die ander jongmans gedoen het nie. Hy was bitter en jaloers op hulle. En elke aand, as die ander gekuier het, moes hy die grond en klippe in sakke gooi en voor die huis pak. Dit het hom nog meer bitter gemaak. Hy was jaloers op sy maats. Hy wou alles anders hê.

Toe een aand, breek die wolke, en dit reën. En reën. Totdat die damwal bars. Die water het alles voor hom platgevee. Die keerwal by die pa en seun se huis het hulle egter net genoeg tyd gegee om te vlug.

Die pa het sy seun gelei deur ‘n tonnel wat hy deur die berg gegrawe het tot by ‘n nuwe huisie agter die berg. ‘Hier, my seun’, het die pa gesê, ‘sal ons veilig wees’.

Toe het die seun besef wat sy pa die hele tyd besig was om te doen. In plaas daarvan om hom te gee wat hy wou hê, het sy pa hom dit gegee wat hy nodig gehad het.

Dit is wat God ook met ons doen. Hy gee ons genade, liefde en vergifnis. Hy hou ons bekers vol. Daarmee sê Hy: bly nog so bietjie. Moet nie nou gaan nie. Ek wil hê dat jy altyd aan my tafel sal sit.

So gesien, broers en susters, moet ‘n mens vra: wie het dan meer as ons? Op wie moet ons dan jaloers wees? Inteendeel. Omdat ons bekers so vol is, permanent oorloop, kan ons gerus van dit wat in ons bekers geskink word, in ander se bekers giet. Want God gee ons selfs genoeg om dit met ander te deel.
Amen