Psalm 23:6

God soek na jou ... selfs wanneer jy twyfel (Preek 14)



Broers en susters in onse Here Jesus Christus

Ons lees of hoor dikwels van kinders wat wegraak.  Die mees onlangse geval is seker die van Leigh Matthews (‘n student van Johannesburg) wat later dood gevind is nadat haar vader ‘n grot som geld as losprys betaal het.

Sonder uitsondering, broers en susters, wanneer so iets gebeur, kom ‘n mens onder die indruk hoe ver die ouers van so iemand bereid is om te gaan om hulle kind terug te kry.  Niks word ontsien nie, geen geld is te veel of tyd is te min nie.  Hulle soek, want hulle wil weer hulle kind terug hê.

Een so ‘n geval was die van ene Eric Hill.  Hy was ‘n briljante jong man, was pas klaar gestudeer en het dadelik ‘n baie goeie pos by ‘n bekende maatskappy gekry.  Die lewe het oop voor hom gelê.  Maar ook nie.  Want in sy kop het hy aanmekaar stemme gehoor wat hom later wou mal maak.  Geen terapie of medikasie het gehelp nie.

Een aand het hy vir sy suster gesê hy gaan so entjie stap.  En nie weer teruggekom nie.  Want in sy kop het hy ‘n stem gehoor wat hom ‘n ‘opdrag’ gegee het om vullis langs ‘n hoofweg te gaan optel.  Hy het in ‘n gat op ‘n leë erf gebly.  Vir sestien jaar lank.

En toe vind sy suster hom weer.  Op ‘n vreemde manier.  Eric is gevind langs die snelweg waar hy ineengekrimp gelê het van pyn.  ‘n Motoris het hom na ‘n dokter geneem.  Toetse het bevestig dat hy maagkanker het.  Die dokter kon nie glo dat niemand hierdie man geken het nie.  En toe klim hy op die internet.  En suster vind weer vir broer.

Maar hy het haar nie erken nie.  Hy wou nie saam met haar huis toe, maar het tog teen sy sin by haar ingetrek in ‘n woonstel wat sy gehuur het, ver van haar eie huis af.  Weg van haar man en kinders.  Dit was nie maklik nie.  Haar broer wou eintlik niks van haar weet nie, en sy het na haar huismense verlang.

Maar sy het nie tou opgegooi nie.  Sy het verstaan dat hy nie kan verstaan nie.  So het sy hom vir meer as vier jaar versorg, totdat hy gesterf het.  Toe is sy terug huis toe.  En toe iemand haar vra hoe sy dit reggekry het, hoekom sy bereid was om vir amper vyf jaar haar werk en huismense op te gee, was haar antwoord eenvoudig: ‘want hy was my broer’.

Ouers soek hulle kinders, want dit is hulle kinders.  ‘n Suster soek haar broer, want dit is haar broer.  En ja, so soek God ook na ons.  Want Hy is ons Vader, en ons is sy kinders.  En wat maak ons so dikwels, broers en susters, wanneer God ons vind?  Ons maak soos Eric Hill.  Ons herken God nie, ons glo nie dat Hy in ons lewens teenwoordig is nie.  Of ons reageer doodeenvoudig met ‘n houding van: eintlik wou ek nie gehad het Here, dat u my moes vind nie.  Ek wil alleen wees.  Ek wil liewers langs die snelweg vullis optel as om in u huis, by u te bly.

Wat maak God dan?  Hy loop agter ons aan.  Hy volg ons en agtervolg ons (op soveel maniere) totdat ons uiteindelik insien dat ons sy kinders is, dat Hy ons Vader is en wil wees.  Selfs al duur dit al die dae van ons lewe (OAV) of dan my lewe lank (NAV), soos Psalm 23:6 dit stel.  Is dit nie wonderlik nie?  God soek ons, Hy wil hê dat ons gevind sal word, en daarom soek Hy.  Soek Hy met guns, met goedheid, met liefde, al die dae van ons lewens, totdat ons tuis is in sy huis, en so sal Hy soek, tot in lengte van dae.

Ja, broers en susters. Ons buie verander – nie God s’n nie.  Ons verander van plan – nie God nie.  Ons toewyding is soms nul – nie God se toewyding nie.  Selfs wanneer ons geloof maar wankelrig en baie dun is, bly God getrou.  En Hy eenvoudig net nie op om ons te soek, en op te soek nie.

Iemand het dit by geleentheid so gestel: God is ons herder, ons is sy skape.  As Herder lei God sy kudde.  Die agterhoede word deur twee skaaphonde gedek.  En hulle name is goedheid en liefde.  Met goedheid en liefde volg Hy ons, tot ons in sy kraal kom.  En nie net soms nie  My lewe lank.  Elke dag.  Sonder ophou.  Altyd.  Hoekom: want dit is hoe God is!

Vir my persoonlik, broers en susters, is Psalm 23:6 ‘n geweldige stelling.  Dit sê nie alleen dat God my God is nie, dat God my Herder is nie, maar dat God elke dag van my lewe, solank as ek lewe, my met sy liefde en guns en goedheid sal volg.  Ek wil amper sê, sal agtervolg.  Op my alleen dae, in daardie dae wat ek gefrustreerd voel dat ek niks bereik nie, in daardie dae wat nie maklik is nie, in daardie dae wat ‘n mens soms nie eers wil lewe nie, in daardie dae wat ek smag na God se teenwoordigheid maar net bly voel dat Hy eintlik nie by my is nie, in daardie dae wat ek eintlik met keuse sonder Hom wil lewe, selfs in daardie dae wat ek twyfel aan sy goedheid en liefde.  Omdat ek so maklik glo ek verdien dit nie, ek is dit nie waardig nie.

Die vers is om ‘n ander rede ook vir my spesiaal.  Ons is soms so half gewoond met die idee dat God net op een plek is.  Daar iewers in die hemel.  Maar Dawid sê dat ons God ‘n aktiewe God is.  Hy soek ons, hy volg ons, Hy doen alles om ons by Hom te hou.

En as ‘n mens mooi dink, broers en susters, is dit ook hoe die Bybel God beskryf.  Dat God ‘n God is wat ons bly soek en opsoek.  Adam en Eva kruip weg, maar God vind hulle; na veertig jaar in die woestyn soek God vir Moses by wyse van ‘n brandende besembos op; Jona hardloop van God af weg, maar daar in die wye oseaan vind God hom; die dissipels is in die middel van die nag in ‘n vreeslike storm, en dan kom Jesus na hulle toe aangeloop op die water; die Samaritaanse vrou gaan na die put om water e skep, net om vir Jesus daar te vind; Johannes vlug na Patmos, waar God aan hom ‘n openbaring gee; Petrus het Jesus verloën, maar Jesus vind Hom daar waar hy en sy vrinne besig is om vis te vang, en ja, vir Lasarus vind Hy selfs in die graf.

Hoe agtervolg God ons, broers en susters.  Op soveel maniere.  Ons sien dit net nie altyd raak nie.  Want terloops, eintlik so tragies is.  Want Hy kom na ons toe in die gedaante van ‘n hulpvaardige vreemdeling, Hy staan voor ons in die oë van iemand wat vir ons omgee en vir ons jammer is, ons sien sy teenwoordigheid in die pragtige sonsondergang, Hy is by ons in die vraag van ‘n onskuldige kind, in die toewyding van ‘n getroue lewensmaat, of in die omhelsing van die een wat jou liefhet.

Hoekom sien ons dit soms so moeilik raak, broers en susters?  Miskien omdat ons dink dat ons geen waarde het nie.  Miskien omdat onsself juis die heel beste ons eie tekorte ken.  Omdat eintlik net onsself weet wie en wat ons eintlik is.  Omdat ons weet ons verdien niks nie.  Al sê ander ons is oulik, goed en gaaf, fyn en flink.

God wil hê dat ons anders oor onsself moet dink.  Ons moet ons waarde deur die oë van God meet, nie deur ons eie oë nie.  Deur die oë van die Een wat ons onvoorwaardelik liefhet.  Deur die oë van die een wat ons sonder ophou agtervolg.  Met sy liefde en goedheid.  Tot ons eendag in sy huis is.

Hoekom?  Want ons is sy familie.  Ons is sy kinders.  Ons is Jesus Christus se broers en susters.  Juis daarom sal God ons volg, al die dae van ons lewe!

Wat ‘n wonderlike wete.  Miskien te ongelooflik om te kan glo, juis daarom glo ons dit nie.  Miskien, broers en susters, moet ons op ‘n kol ophou om so klein oor God te dink.  Miskien, net miskien, is dit waar ons probleem lê.

Wie groot oor God dink, sal ervaar dat God groot dinge in sy of haar lewe doen!
Amen