Lukas 11:3-15

Is God lief vir ons en tree Hy so op? (Preek 1)



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
In die dagboek van ‘n man wat in ‘n kliniek opgeneem is omdat hy aan alkohol en ander chemiese middels verslaaf was, lees ons die volgende: “Ek voel so dood binne in my. Die omstandighede wat ek in die gesig moet staar maak dat dit voel of die lewe uit my uit gedreineer het. En in die hele proses het ek net een vraag: Waar is God? En soos die meeste mense wat al die vraag gevra het, het ek met die vraag gewag tot byna niks anders in my lewe enige sin meer maak nie. Maar miskien is ek nou eers in my lewe by die situasie dat dit wat ek beleef in my lewe so dringend is, so ingrypend is, dat ek nou eers die nodige erns het om die antwoord op die vraag te gaan soek.”

Maar dit is nie net hy wat hierdie vrae vra nie. Mense wat langs die sterfbed van iemand staan, mense wat met ernstige depressie worstel; jongmense wat vir die eerste keer uitvind hoe wreed die wêreld kan wees; mense wat ‘n groot terugslag of mislukking in hulle lewe beleef het — hulle almal vra hierdie vrae. In die warrelwind van emosies wat mense beleef sê hulle soms: “Ek wens net dat Jesus nou hier was in persoon. Ek wens dat Hy aan die anderkant van die tafel teenoor my kon sit en ek hom ‘n paar vrae direk kon vra. En ek praat nie nou van gebed nie, ek wil Hom sien, ek wil sy antwoord hoor. Ek wil geen twyfel in my hart hê oor wat Hy my antwoord nie. Soos wat die mense daar in Israel kon gaan sit en na Jesus kon luister en kon vrae vra en sy antwoorde hoor, dit is wat ek nodig het!”

En laat ons maar eerlik wees, broers en susters. Baie van die vrae wat ons vandag het, die moderne vrae wat spruit uit die lewe wat ons vandag moet leef, dié se antwoorde is nie so maklik uit die Bybel af te lei nie. Baie van die worstelinge wat ons het en die twyfels wat saam met die moderne tyd gekom het wat soms in elkeen van ons draai, dit is nie altyd so eenvoudig om die Bybel daaroor aan die woord te laat kom nie. En juis daarom sou dit wonderlik wees as ons ‘n persoonlike oudiënsie met Jesus kon hê; as ons met alle nederigheid vir Jesus sou kon vra: “Here, sit net vir ‘n paar minute daar en antwoord net gou vir my die vrae”.

En dit is presies wat ek graag wil hê dat ons in hierdie preekreeks van vier moet gaan doen. Kom ons probeer om ons moderne vrae aan Jesus te stel, so te stel dat sy antwoorde deur ons gehoor kan word. Wat ons gaan ontdek is dat die antwoorde wat Jesus in die verlede op vrae gegee het was meestal stories of gelykenisse was. Wat vir ons ‘n onmiddellike probleem skep: omdat ons nie in daardie wêreld geleef het nie, is dit vir ons vandag nie so maklik om daardie stories te verstaan op so ‘n manier dat dit ons moderne vrae antwoord nie. Daarom gaan ek probeer om Jesus se gelykenisse te vertaal in moderne verhale. So sal ons miskien iets van die waarhede wat Jesus met sy gelykenisse wou oordra aan die mense van daardie tyd in ons tyd op ‘n moderne manier hoor klink. En dalk sal dit juis die antwoorde wees op ons moderne vrae. En miskien, net miskien, sal ons dalk in hierdie proses iets hoor van wat Jesus in vandag se tyd sou gesê het in antwoord op ons vrae.

Die twee moderne vrae wat ek vanaand aan die orde wil stel, broers en susters, is die volgende: Is God lief vir ons? En tree God werklik soos ‘n liefdevolle God op? Kom ons vra vanaand vir Jesus Christus hierdie twee vrae: Here is daar werklik ‘n liefdevolle God en tree Hy werklik liefdevol teenoor ons op? Wat sou Jesus se antwoord wees? Dalk sou Hy, soos Hy altyd gemaak het, ook vandag vir ons ‘n storie vertel, ‘n storie wat dalk soos volg sou klink:

Dit was middernag toe ‘n man en sy familie in hulle antieke Cortina voor die hek van die moderne sekuriteits-golfkompleks stop. Hy verduidelik aan die veiligheidswag dat hy gekom het om by vriende in die kompleks te kom kuier. Die wag sien dat langs die man sy vêr swanger vrou sit en agter op die sitplek twee seuns lê en slaap. Hy laat hulle ingaan en Charlie stop die Cortina voor die luukse huis. Hy druk die klokkie en na ‘n rukkie hoor hy ‘n slaperige antwoord: “Wie is daar?” “Hallo Henry, dit is Charlie.” “Charlie wat maak jy hier?” “Ons het gedink dat ons vir ‘n kuier sal kom, jou brief het mos gesê ons is altyd welkom.” “Ons?” “Ja my vrou en die twee seuns is in die kar.” “Maar dis in die middel van die nag Charlie. Kom moreoggend weer dan praat ons. Goeie nag”.

Charlie het weer die klokkie gedruk, maar die keer was daar geen reaksie nie. Toe begin hy maar om die huis stap om Henry se aandag te probeer kry. As Henry hom net eers sien. Skielik gaan ‘n vloedlig aan, en die alarm wat daaraan gekoppel is. En in al die huise om Henry se huis begin die ligte aangaan soos wat mense wakker word. Teen die tyd wat Charlie weer voor die huis staan, is Henry ook buite. “Wat op aarde maak jy?” “Ons het nêrens om heen te gaan nie, Henry. Ek is bankrot. Daar is nie eers genoeg petrol in die Cortina om êrens heen te ry nie. En my swanger vrou voel glad nie lekker nie.” “Kyk, Charlie, my situasie is tans eintlik baie ongemaklik. Ek en my gesin het eintlik ‘n piekniek vir moreoggend beplan. So, dit gaan moeilik wees as ek julle nou inneem. Maar kyk, ek sal vir jou geld vir petrol gee, maar dan moet jy ry.”

Terwyl Henry sy beursie gaan haal het, kom die veiligheidswag van die kompleks daar aan. Oral staan mense op hulle stoepe om die hele petalje te aanskou. Desperaat haal Charlie die brief uit sy sak wat gesê het dat hy altyd welkom is en probeer vir die wag en die omstanders iets wys van sy bedoelings.

Toe, skielik staan Henry se vrou, Denise, langs Henry in die voordeur. “Wie is die mense?” En Charlie antwoord: “Ek en Henry is vriende van skooltyd af. My vrou is agt maande swanger en sy voel nie lekker nie.” En dan sê Denise: “As die mense jou vriende is, Henry, dan moet ons hulle in die huis kry. Wat maak ons almal hier buite?” En so is Charlie en sy gesin in die huis in.

Elkeen van ons is ons hele lewe lank besig om aan deure te klop — figuurlik gesproke. Deure na mense se harte toe, na ‘n werk toe, na die vrese in ons eie harte. Dit is in so ‘n benarde situasie wat Charlie van die moderne storie in is as hy aan iemand anders, sy vriend se deur klop. En ons weet net soos hy dat baie deure vir ons toe bly. En toe ek die verhaal vertel het, is ek seker dat toe Denise gesê het `Wat maak ons hier buite? Kom binne’, ons geweet het dat dit die regte reaksie was. Die storie het ons by die punt gebring dat ons gevoel het: dit is reg. Nou doen iemand ten minste die regte ding.
Dit is presies dieselfde reaksie, broers en susters, wat Jesus wou gehad het van sy hoorders toe Hy op ‘n keer ook ‘n soortgelyke gelykenis vertel het. En met die reaksie van die hoorders het Jesus daarin geslaag om sy hoorders iets te laat verstaan van wie en wat God werklik is.

Kom ons lees Jesus se gelykenis in Lukas 11:5-13.

In die Bybelse tyd het die reëls van ordentlikheid bepaal dat ‘n huiseienaar dadelik sou reageer as daar ‘n vriend of enige iemand by sy deur aanklop. Dus, soos Henry se reaksie vir ons onaanvaarbaar was, so was die optrede van die huiseienaar onaanvaarbaar vir Jesus se gehoor.

Die gelykenis van Jesus beklemtoon in die eerste plek die noodsaaklikheid dat gelowiges met volharding God sal bly vra wat hulle nodig het in hulle lewe. In die gelykenis gee die huiseienaar uiteindelik vir die man wat hy nodig het, net om nie skande te maak by sy bure nie. Hy sou snaaks aangekyk geword deur mense as hy sy vriend buite laat staan het, hy sou ook alle eer verloor. Dus, al wil die man nie eintlik help nie, word hy eintlik deur omstanders verplig om gasvry op te tree, net omdat die man so aanhoudend en dringend vra, en sy eer en naam duidelik op die spel is.

Wil die gelykenis dus sê dat ons van God kan verwag dat Hy vir ons sal gee wat ons nodig het net omdat ons bly vra en God se eer op die spel is? Al wil Hy ons nie werklik help nie?

Nee broers en susters, die boodskap van die gelykenis lê op totaal ‘n ander vlak. As die druk van buite, wat ander mense van hom dink en sy eer en reputasie ‘n sekere genadige optrede na vore laat kom by ‘n blatant onvriendelike huisbaas, hoeveel te meer sal die Vader in die hemel, wat ons werklik van harte lief het, reageer op ons dringende versoeke? Hoeveel meer as iemand wat net ter wille van wat ander van hom dink op ‘n sekere manier optree, hoeveel meer sal God nie na ons luister nie?

In die gedeelte wat ons gelees het, sien ons dat Jesus by sy storie ‘n paar stellings voeg: watter pa sal as sy seun vir hom ‘n vis vra, vir hom ‘n slang gee? Of as sy seun ‘n eier vra vir hom ‘n skerpioen gee? En ons reaksie op die vraag is onmiddellik: maar geen pa sal dit doen nie. En dan kom die gevolgtrekking van Jesus: maar as ons wat sondig is dan weet om vir ons kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal die liefdevolle Vader in die hemel vir ons gee wat ons werklik nodig het.

Selfs die slegste van jou bure sal liefdevol optree al is dit net ter wille van hulle reputasies. Selfs die slegste van pa’s sal vir hulle kinders die goeie probeer gee. En as dit waar is van sondige mense, hoeveel te meer is dit nie waar van ‘n absolute liefdevolle Vader nie? In die gelykenis probeer Jesus sê dat ons op God se liefde en goedheid kan staatmaak. As ons, by wyse van spreke, voor God se deur staan en klop en om hulp vra, dan hoef ons nie te twyfel dat God weet wat ons nood is en wat vir ons goed is nie. Ons kan weet dat God op ‘n liefdevolle manier die klop aan sy deur sal antwoord. Want Hy is lief vir ons. Hy is ons Vader.

Dalk is dit juis hierdie beeld van ‘n liefdevolle Vader wat vir baie van ons nie die maklikste beeld is om positief op te neem nie. Dalk het jou pa jou al ‘n paar keer in jou lewe teleurgestel. Dalk het julle soveel keer koppe gestamp dat die beeld eintlik nie iets positiefs uitdruk nie, en die beeld van ‘n liefdevolle Vader jou nie juis aanspreek nie.

Maar weet u, my broer en suster, toe elkeen van my kinders in die wêreld gekom het en ek daardie kleine bondeltjie in die hande van die dokters sien, dan gebeur daar iets in jou. Sonder dat jy kan help wil jy vir die verpleegster sê sy beter jou kind versigtig dra na waar die pediater haar gaan ondersoek, want as sy jou baba laat val, dan val sy. En jy wil die pediater wat ‘n pyp in jou pasgebore kindjie se neus opdruk om die baarmoedervloeistof wat dalk in haar asemhalingsisteem is uit te suig, aanspreek omdat jy voel dat hy te rof werk, want kyk net hoe huil my kind nou. Ja, in daardie oomblikke besef ‘n mens hoe ongelooflik intens die liefde van ‘n pa vir sy kind is. Op daardie oomblik weet jy dat as daardie kleintjie jou vir ‘n stukkie brood gaan vra, jy vir haar/hom etes vir die res van haar/sy lewe sal koop. As daardie kleintjie ‘n vis sou vra, sal jy jou bes probeer om ‘n paar vissersbote aan te skaf. As daardie kleintjie vir ‘n eier vra, sal jy helder en veelkleurige paaseiers gee, en vir solank as wat sy paaseiers wil soek dit vir haar sal wegsteek. Ek glo, broers en susters, dit is nie net ek wat dit beleef het nie. Ek glo u het presies dieselfde ervaring gehad toe u kind of kinders gebore is.

Nog baie meer liefde as dit, sê Jesus in hierdie gelykenis, het ons liefdevolle Pa in die hemel vir ons. God voel oneindig meer vir ons as wat ‘n pa vir sy pasgebore kindjie voel.

Daarom, sê Jesus in hierdie gelykenis: wat ons ook al in ons lewe verwag en van God vra, grondves daardie versoeke en verwagtinge in die realiteit van ‘n liefdevolle en sorgende Vader in die hemel, want dit is hoe God is. Dit is wat Hy is. Wat ons van God verwag; hoe ons Hom sien, moet bepaal word deur hierdie beeld van die liefdevolle Pa wat sorg; die liefdevolle God wat gee wat ons werklik nodig het.

Ja, in die diepste deel van die heelal klop ‘n hart van liefde: God se liefde. Vir ons. Sy kinders. Dit kan ons weet, en dit moet ons glo.

Ons het aan die begin twee moderne vrae aan die orde gestel: Is daar ‘n liefdevolle God en tree Hy so op? Volgens Jesus se storie, die ou een en die moderne een, is daar ‘n oneindige liefdevolle God en Hy tree op geen ander manier op as juis volgens sy liefde nie. Hy tree nie op ‘n manier op om sy reputasie skoon te hou nie, maar omdat Hy so oneindig lief vir ons is.

Dit is die een ding wat die almagtige God nooit kan doen nie: Hy kan nie ophou om op te tree uit liefde nie. Dit is wie God is. Dit is hoe Hy optree teenoor ons. God se liefdevolle hart is groter as enige iets anders.

Ek weet, broers en susters, dit is nie altyd maklik, veral in bepaalde spesifieke omstandighede, om dit te glo en te bly glo nie. Maar die dag as jy jou pasgebore babatjie in jou arms hou en jy beleef hoeveel liefde jy vir daardie totaal afhanklike wesentjie het, besef dat God se liefde strek nog oneindig verder as dit wat jy op daardie oomblik voel.
Amen