Lukas 15:1-10

Waar vind ek God? (Preek 2)



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
In ons eerste preek in hierdie reeks van vier preke het ons ons eerste een tot een gesprek met Jesus gehad. Die van u wat hier was sal onthou dat ek gesê het dat ons as mense baie keer in ons lewe die behoefte het om ons vrae, die moderne vrae van ons tyd, vrae wat mense in die tyd van die Bybel nie aan Jesus kon vra nie, dat ons daardie vrae vandag aan Jesus sou wou vra. Ons het baie keer die behoefte, by wyse van spreke, dat Jesus net vir ‘n paar minute in persoon teenoor ons kan gaan sit en dat ons dit wat in ons harte is, vir Hom kan vra. Sou dit nie wonderlik wees om te kan terugsit en te hoor wat Jesus se moderne antwoorde op moderne vrae sou wees nie!

Met ons eerste preek het ons gesien dat Jesus, in sy antwoorde op vrae wat aan Hom gestel was, meestal geantwoord het deur middel van stories, gelykenisse wat vir mense bepaalde waarhede oorgedra het.

Die eerste twee vrae wat ons verlede keer vir Jesus gevra het was of daar werklik ‘n liefdevolle God is en of Hy so teenoor ons optree? En uit die stories van Jesus het ons ontdek dat daar nie net ‘n liefdevolle God is nie, maar dat Hy op geen ander manier optree as volgens sy liefde nie. Liefde is wat God is, dit is altyd hoe Hy optree.

Maar, en dit is die vraag wat vanaand op die tafel is, die vraag wat ons vanaand aan Jesus wil vra, as dit dan nou waar is, hoekom sien ons so min van die liefdevolle God in ons lewe? Daar is hoeveel mense wat godsdienstige soektogte na God het en wat Hom nie kry nie. Ek lees van ‘n toneelstuk met die naam Waiting for God waar twee mense by die kruispad tussen tyd en ewigheid wag vir God en God kom nie. Hulle soek Hom, maar hulle kry Hom nie. In die toneelstuk sê die twee mense dat hulle hul afspraak met God nagekom het en Hy nie gekom het nie. En hulle belewenis dat God nie altyd te vinde is nie, is ook biljoene ander mense se belewenis. Met al die ‘soek’ wat daar na God se liefde in hierdie wêreld plaasvind, ook in my en jou lewe, moet daar nie meer ‘vind’ wees nie? As die liefde van God, soos wat ons dit laas week gesien het, dan die suurstof van die geestelike wêreld is, moet dit nie meer geredelik beskikbaar wees om van asem te kan haal nie? Hoekom lyk Jesus se liefdevolle Vader in die hemel so duidelik sigbaar vir Hom en so vaag en soms selfs afwesig vir ons?

Daarom: kom ons vra dit vanaand vir Jesus in ons gesprek met Hom: hoekom wys God homself nie duideliker in die wêreld nie? As ons almal ‘n stem uit die hemel kon hoor of ons soos Paulus ‘n lig uit die hemel op ons sien skyn of êrens in die skepping die onbetwisbare handtekening van God kon kry, dan sou dit maklik gewees het om te glo. Maar dit gebeur nie! Hoekom nie?

Daarom ons vraag vanaand: ‘Jesus, waar moet ons die liefdevolle God gaan soek dat ons Hom sal kry?’ En soos die eerste keer nooi Jesus ons om by Hom op die groen gras te kom sit, en dan vertel Hy vir ons die volgende storie:

Die parlementslid, raadslid Gawie Verster, gaan binne die volgende uur by die dinee aankom wat hy hou om geld in te samel vir die volgende algemene verkiesingsveldtog. Al die gaste is al omtrent daar en as hy eers opgedaag het, sal hulle kan begin eet aan die R1000-00 per kop ete. Een of ander TV-ster is solank besig om die gaste te vermaak. Mnr Verster wag solank in sy hotelkamer vir die strategies regte oomblik om sy verskyning by die dinee te maak. En terwyl hy wag sit hy die TV aan. Die nuus is op die TV.

Die hoofnuus-bulletin wys ‘n kar wat in die stad, waarvan hy raadslid is, in die middel van ‘n verlate parkeerterrein staan en ‘n klein weermag van polisie en ambulanspersoneel wat op ‘n afstand staan en kyk. ‘n Helikopter sirkel die area en daar is TV-kameras op die omliggende geboue se dakke om almal deeglik ingelig te hou van elke stukkie van die tragedie wat besig is om hom af te speel. In die kar sit ‘n man - die nuusberig sê sy naam Allan Smith. Selfs deur die zoemlense van die kameras kan ‘n mens sien dat daar op die agterste sitplek een groot stuk plastiese plofstof is. ‘n Paar uur gelede het Allan Smith op die parkeerterrein gestop en mense begin dreig en verjaag sodat hulle die terrein sou ontruim. Nou sit hy in sy kar, gereed om homself en vier blokke van die middestad weg te blaas. En die rede vir die drastiese optrede is dat sy restaurant ‘n jaar gelede bankrot gespeel het en in die maande daarna het hy ook sy vrou en sy gesin verloor. Hy was ‘n moedelose man met niks verder om te verloor nie.

Maar met een van die nabyskote sien die politikus, Gawie Verster, dat hy die man ken. Allan het ‘n jaar of wat gelede by een van sy funksies gespyseneer. Hy onthou dit goed want die kos was fantasties. En ewe skielik kom die gevoel in raadslid Verster op dat Alan Smith een van sy mense is. Hy het dadelik sy baadjie aangetrek en besluit dat sy dinee-gaste maar nog langer kan wag en na die parkeerterrein vertrek.

Toe hy daar aankom het hy gemaklik nader na die kar toe gestap, hande in die lug en homself bekend gestel. Allan het die politikus dadelik herken. “Wat maak jy hier, mnr Verster?” “Ek kan vir jou dieselfde vra Allan.” “Ek moet iets doen meneer. So kan dit nie aangaan nie.” “Ek dink nie jy hoef enige iets te doen nie. Hier is 200 polisiemanne om jou, en ek kan verstaan dat jy in ‘n moeilike situasie is, maar ek is ‘n parlementslid en ek kan dalk iets vir jou doen. Ek het baie invloed op baie plekke. Laat ek jou motor deur oopmaak en dan stap ek en jy saam hieruit.” “Jy maak seker ‘n grap. Die oomblik as ek uit die kar klim gaan die polisie my gryp.” “Ek belowe jou ek sal nou gaan reël dat jy saam met my in my kar klim en dan vat ek jou saam na ‘n partytjie toe. Hoe klink dit?”

Die politikus het weggestap van die kar af, die reëlings gaan tref soos hy gesê het en toe vir Allan gaan haal. Hulle het sy aan sy weggestap en in Gawie Verster se luukse motor geklim en na die dinee toe gery. Die gaste daar het alles op ‘n grootskerm TV gesien gebeur en het beide die mans met ‘n staande toejuiging verwelkom by die dinee. Toe het Gawie Verster by die mikrofoon gaan staan, Allan se hand in die lug gehou en geroep: “Sê welkom aan Allan, want hy is een van ons!.”

Ons kan die verhaal die eienaardige titel gee van die Goeie Politikus. En ek is seker dat daar onmiddellik die reaksie sal wees van, maar dis nogal ‘n ironiese titel: ‘n goeie politikus? Die realiteit is net dat ons nogal die persepsie het dat politici nie betroubaar is nie. Hulle laat ons so ‘n bietjie ongemaklik voel want ons weet nie of ons hulle kan vertrou nie.

Interessant is dat dit nogal dieselfde tipe van reaksie en emosies was wat Jesus se gehoor oor skaapwagters sou gehad het. Om ‘n skaapwagter te wees in daardie tyd was rowwe, fisiese, gevaarlike werk in moeilike omstandighede met baie lae betaling. Skaapwagters het in daardie tyd die sosiale status gehad van slootgrawers. In gemiddelde tot arm gesinne het een van die gesin sommer die skape opgepas, maar as mense meer as 50 skape gehad het, dan is dagarbeiders gehuur om na die skape om te sien. En hierdie huurlinge was beroemd vir hulle onbetroubaarheid. Ook was hulle beskou as onrein, aangesien hulle die hele tyd met diere in kontak was. En nou, broers en susters, gebruik Jesus juis hierdie negatiewe gevoelens oor skaapwagters om ‘n punt te maak in een van sy gelykenisse:

Kom ons lees hierdie gelykenis in Lukas 15:1-10.
Jesus vertel hierdie gelykenis om sy eie optrede teenoor sondaars te probeer verduidelik. Sy optrede is ‘n weerkaatsing van God se optrede; van dit wat in God se hart is. Hoekom maak hy vriende met sondaars en mense wat deur die gemeenskap uitgestoot is? Dit is sy opdrag, sy werk, sy lewe, sê Jesus, om na hulle wat verlore is te gaan soek en om vir hulle te sorg daar waar hulle ook al is — daar in hulle verwardheid en hulle hulpeloosheid. Presies soos dit in die gelykenis beskryf word: die herder gaan soek die skaap en dra hom dan op sy skouers terug.

Mense wat skape beter as ek ken sê dat as ‘n skaap afgedwaal het, gebeur dit baie maklik dat hy naderhand so pateties en hulpeloos word en bloot gaan staan, en dat hy selfs dan moeilik aangejaag word, omdat hy so verward is. En dan moet daardie skaap gedra word.

Op dieselfde manier sal Jesus groot moeite doen om die mense wat verlore is te kry en hulle weer na God toe terug te bring. En dit is ook wat in ons moderne verhaal gebeur het: ‘n Man gaan uit sy pad uit om na iemand toe te gaan wat hulpeloos en verward is en daar in daardie persoon se situasie deur te breek en daardie persoon terug te bring na waar hy hoort.

Maar onthou nou wat ons vraag vanaand aan Jesus is: Waar kan ek vir God gaan soek dat ek Hom kry? Hierdie verhaal van Jesus, die oue en die moderne een, gee vir ons die antwoord op hierdie vraag, ‘n antwoord wat ons verras: Dit is nie in die eerste plek mense wat op soek is na God nie, maar God wat op soek is na mense. Dit is God wat soek na verwarde en desperate mense wat in totaal hulpelose omstandighede is. Dis nie in die eerste plek ons wat na God soek nie — dit is Hy wat na ons op soek is, wat in die somse woestyn van die lewe rondloop en roep na ons, sodat Hy ons op sy liefdevolle skouers kan tel en ons kan terugbring na waar ons behoort te wees — by Hom, saam met die res van sy mense. Met die gelykenis teken Jesus vir ons ‘n prentjie van God wat ons soek en ons vind en ons terugbring — dit alles omdat Hy so liefdevol is, omdat Hy ons liefhet.

En om sy punt nog sterker te maak, vertel Jesus, sien ons, ‘n tweede verhaal vertel van ‘n vrou wat ‘n muntstuk verloor het en dit dan soek. In daardie tyd het dit soms gebeur dat vroue as huweliksgeskenk, soos ‘n man vandag ‘n verloofring sou gee, tien silwer muntstukke sou kry. Vir haar was dit dus net so erg om een van daardie munte te verloor, as om haar verloofring te verloor. Daarom soek sy tot sy die muntstuk kry. En wat is die aandeel van die muntstuk om gekry te word? Net mooi niks. Net soos wat die skaap niks gedoen het om gekry te word nie, het die muntstuk geen bydrae gelewer nie. Die gedagte aan ‘n muntstuk wat haar eienaar soek of ‘n skaap wat na die herder soek is eintlik lagwekkend. Dit is God wat ons soek tot Hy ons kry.

‘Maar as dit waar is’, vra u dalk nou by uself, “hoekom is ek nog nie deur God se liefde gekry nie? Want ek voel nie gevind nie.” En wat gebeur? Die oomblik as dit nie vir my voel of God my al gevind het nie, dan begin ons dink dat dit dalk is omdat God nie bestaan nie of Hy dalk nie vir my omgee nie. Soms is dit so, broers en susters, dat ons nie gered voel nie, maar is die rede daarvoor dan dat dit so is omdat God nie omgee nie? Beslis nie. Miskien eerder is van die volgende dalk moontlike redes hoekom ons soms voel God gee nie meer om nie:

n Mens beleef eers regtig ‘n mens se geredheid as jy besef hoe verdwaal jy is. Soms is dit nodig om eers die volle impak van jou verdwaaldheid te beleef voor jy die tuiskoms volledig beleef. Soms voel ons so in beheer van ons eie lewe, dat ons nog nie voel soos die skaap wat verlate in die wildernis staan en blêr nie. Dit voel nie eers of ons werklik vir God nodig het nie, want ek kom heel goed reg op my eie, baie dankie. Maar dit is eers as jy besef dat jy alleen in die veld is, dat jy alleen in die middel van die ontruimde parkeerterrein is, dat jy alleen in jou situasie staan, dan is dit wanneer jy werklik iets van jou gered wees beleef; dat jy dit beleef hoe God jou op sy skouers tel en na die partytjie toe dra. Dit is dan wanneer die woorde van God: “Jy is een van Myne”, werklik impak op jou maak. Maar solank as wat jy nog nie werklik besef hoe nodig jy die liefde van God het nie, solank as wat jy nog veilig voel in die beskerming van ‘n kudde (wat daardie kudde ook al mag wees), vir solank is dit onwaarskynlik dat ons die liefde wat God vir ons het so direk gaan beleef.

‘n Tweede moontlike rede waarom dit vir ons soms voel asof ons nog nie gevind is nie: Is ons bereid om gevind te word? Is ons bereid om opgetel te word en weggedra te word vanwaar ons nou is? Is ons bereid om terug gedra te word na die kudde van God? Die kerkvader Augustinus het in sy jongensjare nie ‘n gelowige lewe geleef nie. Maar tog het hy gereeld gebid. Een van die gebede wat hy gebid het was: “Here, verander my, maar tog net nie nou al nie!” Daar was nog te veel wat hy wou doen soos wat hy wou — dinge wat hy geweet het nie God se goedkeuring sou wegdra nie. Daarom was hy nog nie bereid om te verander nie. Op daardie stadium was Augustinus nog nie bereid om opgetel te word en êrens anders heen gedra te word nie. Die wildernis was nog te opwindend. Daarom: as dit ‘n mens se belewenis is dat jy nog nie deur God gevind is en teruggedra is nie, vra jouself of jy bereid is om verander te word? God is by ons, en Hy staan en wag tot ons besef hoe nodig ons Hom het en ons dan soos ‘n klein kindjie ons arms na Hom toe uitsteek.

Ek sluit af: ons vraag vanaand aan Jesus was: Here, waar kan ons vir God kry? Waar kan ons gaan soek? En in sy antwoord het Jesus ons vraag op sy kop omgekeer: Dit is nie in die eerste plek jy wat vir God soek nie. Dit is Hy wat jou soek en dit is Hy wat jou kry en dit is Hy wat jou optel en op sy liefdevolle skouers terugdra — huis toe, daar waar jy hoort. So belangrik is jy vir Hom. So lief is Hy vir jou.

Voel u en ek egter nie so gevind nie? Ervaar ons nie God se optel en terugdra nie? Dit is nie so omdat God jou nie soek nie. Dit is nie so omdat Hy jou nie gevind het nie. Die feit dat jy al ‘n soeke in jou lewe beleef het, is die bewys van hoe lank God al in jou lewe teenwoordig is en daar werk. Hy is by jou; Hy is besig om ook in jou lewe ‘n verskil te maak. God is lankal besig om vir u en my te probeer wys hoe verdwaal ons soms is en hoe nodig ons Hom het. En dit is dalk presies wat God vanaand in u en my lewe wil doen. God staan langs ons in die veld, ons die verdwaalde skaap. Hy staan langs ons in die verlate parkeerterrein, ons, die uitgeputte, oorlaaide en moedelose mense. Kyk net op — Hy is by ons. Steek jou arms uit en laat jou Pa jou huis toe dra. Daar wag ‘n partytjie vir jou.
Amen