Lukas 12:13-22

Waar vind ons ‘n vol en vry lewe? (Preek 3)



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
In die vorige twee preke van hierdie reeks preke het ons probeer om ons moderne vrae in ‘n een tot een gesprek met Jesus op die tafel te sit en op ‘n verstaanbare manier ‘n moderne antwoord op ons moderne vraag te kry. In ons eerste gesprek met Jesus het ons gevra: ‘Is daar ‘n liefdevolle God en tree Hy so teenoor my op?’ En die antwoord was: ‘Daar is verseker ‘n liefdevolle God en Hy tree op geen ander manier op as op grond van sy liefde nie’. En toe, verlede week, het ons vir Jesus gevra: ‘Waar moet ek hierdie liefdevolle God gaan soek sodat ek Hom sal kry?’ En die antwoord het heeltemal anders geklink as wat ons verwag het: ‘Dit is nie ek en jy wat vir God soek nie, dit is Hy wat in sy groot liefde ons soek en ons vind en ons huis toe dra’.

Nou goed, kan ons dit sê, dit verstaan ek nou. Maar noudat ons as ‘t ware terug in die kudde is, by God is, hoop ek net dat ek iets van vrede en volheid en vryheid in my lewe sal beleef. Ek is nie ongelukkig en ontevrede om te weet dat ek by God en in God se huis is nie, maar ek hoop nou net nie dat om in die kudde te wees, om by God te wees, nou iets van my vryheid en volheid van my lewe gaan wegneem nie. God moet tog net nie die verwagting hê dat ek daar in die kudde die volgende Moeder Theresa moet word of soos ‘n monnik moet leef nie, want vir daardie tipe van gebondenheid sien ek nie kans nie. God moet net nie van my verwag dat Hy nou my hele lewe so kan oorneem dat ek darem nie ook kan doen en lewe soos ek graag soms wil nie.

Daar is baie min van ons, indien enige van ons, wat nie die toewyding van iemand soos Moeder Theresa bewonder nie. Maar daar is baie min van ons, indien enige, wat so wil lewe. Ons wil vry wees. Ons wil ons lewens leef soos wat ons dit goedvind; soos wat ons keuses ons lei. Ons wil geluk najaag soos wat ons geluk verstaan. Iemand het gesê: selfs die mees godsdienstige mense is eintlik geïnteresseerd in hoeveel hulle vir hulleself kan lewe — sonder om God ongelukkig te maak. Dink mooi daaroor: is dit nie ook van my en jou waar nie? Ons word gedryf deur ons ambisie om vir onsself te lewe, en ons sal dit sover as moontlik neem sonder om te oordeel dat dit ons verhouding met God skaad. Maar in wese wil ons wil vry wees om te kan lewe — soos ons die lewe verstaan en wil hê.

Ons weet verder, broers en susters, dat omstandighede soms mense se vryhede kan inperk. En daarom werk ons baie hard daaraan om ook ons omstandighede te verander en te verbeter sodat ons die maksimum vryheid kan beleef. Wetenskaplikes sê dat elke organisme probeer om sy omstandighede vir sy eie groei en voorspoed so te verbeter dat hy kan floreer. Dit is waar van ‘n swartmossel op ‘n rots in die see en dit is waar van my en jou. Ons werk aan ons loopbaan, ons verhoudings, oefenprogramme — alles sodat ons vir onsself ‘n ruimte kan skep waarin ons ons verwagtings en ons drome kan uitleef. In daardie ruimte sal ons suksesvol kan wees, glo ons, geluk kan najaag en al die negatiewe dinge uit ons lewe kan weer.

Maar hoe belangrik dit ook al is om jou omgewing te probeer aanpas om suksesvol daarin te kan funksioneer en hoe groot verskil dit ook al in jou lewe en in ander mense se lewe maak, om een of ander rede is daar nog nie vir die mens werklike volheid en vryheid nie. Elkeen van ons weet van mense wat hulle omgewing perfek aangepas gekry het en diep ongelukkige mense is. En nou moet ons sê dat ons nogal skrikkerig is om Jesus hieroor te vra, want ons is bang dat Hy dalk vir ons daarop gaan wys dat ons onsself moet verloën en agter Hom aankom. En dit is nie heeltemal wat ons graag sou wou hoor nie. Ons weet dat Jesus gaan sê dat ware vryheid lê daarin om van onsself af weg te kyk, maar… Maar miskien is dit juis wat ons moet vra: Here waarom dring U aan op selfverloëning eerder as om ‘n mens se eie belang na te jaag?

En Jesus glimlag as Hy die vraag hoor. Hy wys dat ons rustig op die gras moet gaan sit sodat Hy vir ons ‘n storie kan vertel.

Sally klim van een van die vliegtuie wat op die water kan land af by die klein hawetjie op die verlate paradyseiland. Sy is hier vir die begrafnis van haar suster. Sy is dood toe haar seiljag skielik in die hawe ontplof het. Dit het haar dood en die dood van haar enigste twee vriendinne veroorsaak. ‘n Volle twaalf jaar het verloop sedert sy laas haar suster gesien het. Dit was met haar pa se dood toe hy in sy testament 90% van sy boedel aan haar suster gelaat het en Sally met krummels laat gaan het. En met die fortuin wat sy geërf het, het Sally se suster onder andere die eiland gaan koop waar net sy en die man wat haar finansies bestuur het en haar werkers gaan bly het. Net Sally en die dominee wat die begrafnis moes lei was op die vliegtuig. En net Sally en Barry, haar suster se finansiële bestuurder was by die begrafnisseremonie.

Na die as oor die see gestrooi is, het Sally en Barry gaan sit om ‘n paar dinge deur te praat. Hulle het ooglopend nie van mekaar gehou nie. “Ek wil dit net vir jou duidelik maak, Barry, alles is nou myne. Wat ook al haar testament sê, ek kry nou alles wat my pa destyds nie vir my wou gee nie en alles wat my suster die afgelope twaalf jaar met dit gemaak het.” “Dit is dalk nie heeltemal so eenvoudig nie Sally.” “Jy moet nie dink dat ek gaan toelaat dat jy nou weer wat myne is van my af gaan wegvat nie!” “Ek het nie jou geld nodig nie. Wat jy dalk nie weet nie is dat ek op pad was om pad te gee van die eiland af. Jou suster was ongelooflik bang dat ek dalk haar geld sou steel en daarom het sy my nie eers vertrou met die rekeningnommers en geheime kodes vir al die plekke waar haar geld gebêre was nie. Een maal per jaar het sy my en haar twee vriendinne bymekaar geroep en vir elkeen van ons ‘n derde van ‘n rekeningnommer en kode gegee om te bewaar. Sonder al drie die derdes van die kodes sou niemand aan haar geld kon raak nie, behalwe as ons drie met mekaar sou praat. Toe sy agterkom dat ons wel een keer kontak gemaak het met mekaar, kon ek sien dat sy begin planne maak het. Ek dink sy het met die hele ontploffing-ding probeer wys dat sy wel met ‘n klomp van haar besittings graf toe kon gaan, want alles is nou weg — dit sal op geen manier aan geraak kan word nie.” “Wil jy my sê sy het selfmoord gepleeg en moord op haar twee vriendinne?” “Ek dink net dat al haar geld het haar ‘n gevangene gemaak – ‘n paranoïese gevangene. Haar pogings om ten alle koste haar rykdom te verseker het uiteindelik haar lewe gekos.”

Wat kan ‘n groter toonbeeld van vryheid wees, broers en susters — vanuit ons perspektief — as iemand wat nooit eers die rente op beleggings sal kan opgebruik nie en wat in ‘n paradys leef op haar eie eiland? Daar kan jy maak wat jy wil. Daar kan jy werklik gelukkig wees. Dit is vryheid. Dit is volheid. Dit is die droom. Maar: dit is ook ‘n goeie halwe waarheid…

Jesus, broers en susters, was op ‘n keer gekonfronteer deur ‘n jong man wat gevoel het dat sy ouer broer nie sy erfdeel regverdig wou verdeel nie. Daarom het hy na Jesus gekom om raad te vra. Jesus moes sy broer se onregverdigheid uitsorteer. En ons sal nou lees dat Jesus dit nie wou doen nie. Inteendeel, Jesus het gepraat met die jongman oor die gesindheid wat in sy eie hart was. Eerder as om aan die man se oproep gehoor te gee, het Jesus die man se eie prioriteite aangespreek en hom gewaarsku.

Kom ons lees van hierdie gebeure in Lukas 12:13-22.

Dit is asof Jesus vir die jongman vra: Maar gaan kyk ‘n bietjie mooi na jou motiewe. Vra jy my hulp omdat jy opsoek is na reg en geregtigheid? Of vra jy dit omdat jy inhalig is? En om die konsekwensie van inhaligheid op ‘n mens se lewe te wys vertel Jesus dan die gelykenis. Die gelykenis van Jesus, broers en susters, is baie kort, maar in hoe dinge gesê word en in wat nie gesê word nie, kan ons ‘n klomp dinge raak lees oor wat in die broer se hart aangaan.

Die man se lande dra meer as ooit van te vore en dit konfronteer hom met ‘n probleem: Wat op aarde gaan ek met al die koring maak? En dit is nie dat hy ongelukkig is met sy probleem nie, maar nêrens lees ons iets dat hy dankbaar was teenoor God wat die Gewer van al die gawes is nie. Daar is nie die geringste aanduiding dat hy homself sien as iemand wat ‘n gawe van God ontvang het wat hy nou moet bestuur nie. Nee. God speel in sy redenasies geen rol nie. Hy is nie rentmeester van God se gawes nie, hy is ‘n ‘selfmade-man’. Hy skep sy eie omgewing. Hy is — of so dink hy — in beheer. So wat moet hy nou met die te groot oes maak? In plaas daarvan dat hy dit wat hy nie kan hanteer aan die armes van sy tyd skenk, bedink hy self ‘n plan. Op ‘n baie selfsugtige manier redeneer hy by homself en soos hy praat hoor jy die refrein: “my oes, my skure, my graan, my lewe om te geniet”

En soos wat die man se selfgenoegsaamheid ‘n hoogtepunt bereik, kom God se uitspraak oor die man: ‘Jou dwaas’. En daar is sy lewe en alles wat hy bymekaar gemaak het nie meer syne nie. Sy inhaligheid en sy suinigheid en sy selfgesentreerdheid het uiteindelik sy dood veroorsaak. Presies wat ook in ons moderne verhaal gebeur het: Te midde van al die moontlikhede wat vir die ryk sussie daar was, te midde van al die oënskynlike vryheid, was sy al meer en meer ‘n gevangene van haar eie idee; ‘n gevangene van dit wat sy as sukses beskou het. En dit het uiteindelik haar dood veroorsaak.

As alles in die lewe, broers en susters, net oor onsself gegaan het, ja, as daar nie ‘n God was wat van elke mens rekenskap gaan vra oor wat hy/sy gedoen het met dit wat God aan hom/haar toevertrou het nie, dan sou dit goeie idees gewees het om bloot nog meer en meer skure te bou en om jou geld in geheime rekenings weg te steek. Maar hoor mooi wat Jesus wil sê: as ‘n mens alles aanhoudend om jou manipuleer bloot ter wille van jou eie behoeftes en jou eie belange, dan sal jy uiteindelik ‘n ongelukkige mens wees — ‘n gevangene van jou poging om vryheid en volheid te hê.

Die gelykenis van Jesus, die ou een en die nuwe een, probeer vir ons as mense wys dat dit so maklik met mense gebeur dat iets in ons lewe (bv geld, ‘n gawe, of selfs ons vryheid), vir ons so belangrik kan word, dat dit alles word wat ons ten alle koste vir onsself en ons eie voordeel alleen wil gebruik. Elkeen van ons, broers en susters, as ons mooi na ons lewens gaan kyk, sal miskien die tekens hiervan raaksien, en elkeen van ons kan maar weet dat dit ‘n groot faktor vir ons vir die res van ons toekoms gaan wees. Ons sal vryheid en volheid op die regte plek moet gaan soek, anders gaan dit ons vernietig.

Ons dink baie kere dat vryheid beteken om nie afhanklik te wees nie. Vryheid beteken om self te kan besluit; om self die volheid te kan najaag wat ons dink die moeite werd is. En volgens die definisies was die ryk man van Lukas 12 en sy veel moderner vennoot wat die eiland besit het, werklik uitnemende vry mense. Hulle leef die droom wat ons nog in ons koppe het. Nee, sê Jesus, as jy so dink bluf jy jouself. Dit is nie soos vryheid lyk nie! Dit is nie soos ‘n vol lewe lyk nie. Dit is om ‘n slaaf te wees van jouself en jou eie belange. Dit is om blind te wees vir ‘n groter realiteit. ‘n Groter realiteit wat op twee vlakke lê:
As ons bloot vir onsself leef en dit wat ons het bloot vir onsself gebruik, dan is ons blind vir die realiteit dat God van my en jou rentmeesters gemaak het, dat Hy ons vra om ‘n bestuurder te wees namens Hom. In gehoorsaamheid aan Hom behoort ons ook ons gawes, wat dit ook al mag wees, tot voordeel van die mense om ons aan te wend. Maar as ons in ons verhaal ook so gereeld die woordjies ek en my en myne gebruik soos die man in die gelykenis, dan mis ons die punt. Dan mis ons dit wat dit beteken om werklik vry te wees.

Die gelykenis wil ook duidelik maak dat as ons bloot vir onsself leef en wat ons het bloot vir onsself gebruik, ons die realiteit van die ewigheid verloor. As ons bloot dink dat dit gaan in die lewe om bymekaar te maak en bloot vir my om die goeie lewe te leef, dan is ons blind vir die skat wat ons in die hemel behoort te hê. As ons bloot bekommerd is oor die maak van winsgewende beleggings hier op aarde, sodat ons vir die toekoms reg sal wees, dan sal ons sien dat ons nooit by God iets belê het vir die toekoms wat vir alle ewigheid sal aanhou nie.

Kom ons dink weer aan ons vraag aan Jesus vanaand: Jesus, ons wil ‘n vol lewe hê. Ons wil werklike volheid en werklike vryheid beleef. Waarom is dit dan nodig om van onsself af weg te kyk? Waarom is dit dan nodig om nie so sterk op ons eie belange te fokus nie? En Jesus se antwoord? Daar is vir jou geen vryheid in ‘n slaafse navolging van jou eie belange nie. Jy sal eers werklike geluk en werklike vryheid kan beleef as jy begin verstaan dat God ook vir jou ‘n rol het om te speel in hierdie lewe. Hy het vir die wêreld sekere gawes gegee die dag toe jy in die wêreld gekom het. En sy bedoeling met daardie gawes en middele en vermoëns is dat jy dit nie bloot ter wille van jouself sal najaag nie, maar dat jy dit namens Hom sal gebruik op ‘n manier wat volgens sy wil is. Dan begin jy realiseer hoekom jy op aarde is. En daarin lê die vreugde en die volheid en die vryheid om werklik mens te wees — die mens wat jy gemaak is om te wees. Daar is ‘n liefdevolle God wat jou soek en jou tuisbring en jou tot die besef bring dat jy ‘n rol het om te speel in hierdie wêreld. Dit is in die besef wat daar werklik vryheid en volheid van lewe te vinde is.
Amen