Matteus 20:1-16; 1 Korintiërs 1:26-31

Is God regverdig? (Preek 4)



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Vanaand is die laaste preek van vier preke waarin ons probeer het om ‘n een tot een gesprek met Jesus te voer. Ons het die afgelope paar weke die moderne vrae wat daar soms in ons harte is, voor Jesus op die tafel gesit en probeer hoor hoe Hy ons vrae vir ons in moderne taal antwoord. By die drie vorige geleenthede het ons ontdek dat daar ‘n liefdevolle God bestaan en dat Hy op geen ander manier teenoor ons optree as vanuit sy oneindige liefde nie. Ons het ontdek dat dit nie ons is wat soek na God nie, maar dat God in sy groot liefde na ons op soek is en dat Hy ons terugdra na sy kinders, sy kudde toe.

Derdens het ons by Jesus gehoor dat, wanneer ons nou deel (of weer deel) van sy kudde is, die kind van God alleen werklike volheid en vryheid sal beleef wanneer ons van onsself wegkyk en Jesus volg. Daar is vir jou geen vryheid in ‘n slaafse navolging van jou eie belange nie. Jy sal eers werklike geluk en werklike vryheid kan beleef as jy begin verstaan dat God ook vir jou ‘n rol het om te speel in hierdie lewe. Hy het vir die wêreld sekere gawes gegee die dag toe jy in die wêreld gekom het. En sy bedoeling met daardie gawes en middele en vermoëns is dat jy dit nie bloot ter wille van jouself sal najaag nie, maar dat jy dit namens Hom sal gebruik op ‘n manier wat volgens sy wil is. Dan begin jy realiseer hoekom jy op aarde is. En daarin lê die vreugde en die volheid en die vryheid om werklik mens te wees — die mens wat jy gemaak is om te wees. Daar is ‘n liefdevolle God wat jou soek en jou tuisbring en jou tot die besef bring dat jy ‘n rol het om te speel in hierdie wêreld. Alleen in hierdie besef is daar werklik vryheid en volheid van lewe te vinde.

En as ons nou moet eerlik wees, broers en susters, is dit nou nie eintlik die lekkerste ding om te hoor nie. Ons hou daarvan om te dink dat ons weet wat vir onsself goed is en dat ons dit wat goed is kan realiseer. Ons wil graag onsself help.

Maar dan kom die realiteit dat dit nie so eenvoudig is nie. Dan kom die woorde van die Bybel dat elke een van ons sonder uitsondering — sonde doen en tot niks goeds in staat is nie.

En die oomblik as ons dit hoor, dan gebeur iets in ‘n mens. Dit is asof jy wil sê: Maar ek is darem ook nou nie so sleg nie. Ek probeer darem die regte dinge doen en ek probeer die regte keuses maak. Dit is nou nie nodig om altyd so klem te lê op ‘n mens se negatiewe punte nie - daar is darem baie positiewe aspekte ook. Nie alle mense is darem so sleg nie. Daar is slegte ouens, maar dan is daar darem ook ouens wat beter is. God moet dit ook in gedagte hou. God kan tog nie vir my en die verkragter oor dieselfde kam skeer nie. Hy kan ons wat hier in die kerk sit nie eers in dieselfde asem noem as die plaasmoordenaar of die fanatikus wat ‘n vliegtuig in ‘n gebou laat vasvlieg nie. Dit is nie regverdig om mense deur die bank oor dieselfde kam te skeer nie. Daar is tog darem verskille tussen die moordenaar, my goeie buurman en die vriend wat altyd bereid is om vir my op te staan — selfs al maak dit hom ongewild. En as God op dieselfde manier na alle mense kyk; ons almal oor dieselfde kam skeer, dan kan God nie regverdig wees nie.

Kom ons vra die vrae vir Jesus Christus. Hier waar Hy by wyse van spreke by ons is: Here Jesus, is God regverdig? Vir ons klink dit nie aanvaarbaar of billik om ons wat werklik hard probeer en iemand wat nie ‘n saak met God het nie, oor dieselfde kam te skeer nie. Dit is darem nie regverdig nie. Is God werklik regverdig in die manier hoe Hy na mense, na ons kyk?

En met baie geduld in sy oë en met begrip vir die vraag wat ons vra, laat Jesus ons op die gras sit en Hy sê: Laat Ek vir julle ‘n storie vertel…

Op ‘n keer is ‘n nuwe bankbestuurder by ‘n bepaalde bank aangestel. Die tak van die bank was geleë in ‘n area waar daar welaf mense gewoon het, maar ook mense met ‘n middelmatige en ‘n baie lae inkomste. Hy besluit toe om self die huisleningafdeling van die bank te hanteer en maak toe ‘n plan om te kyk of hy nie alle mense van daardie area in staat kan stel om ‘n huis te besit nie. Die plan wat hy gemaak het was om mense rente te laat betaal op grond van hulle inkomste. Sommiges het die gewone rentekoers betaal, maar hulle wat minder verdien het, se koerse was gekoppel aan hulle inkomste. So het sommiges feitlik geen rente betaal nie. So het hy dit vir baie meer moontlik gemaak om ‘n huis te bekom.

In die drie jaar wat daarop gevolg het, het die situasie in die gemeenskap egter versleg. Inflasie was hoog, ‘n resessie het ingetree en baie mense het hulle werk verloor. Baie het dwelms begin verkoop om aan die lewe te bly, en die woonbuurt het vinnig agteruitgegaan. Die wat dit kon bekostig, het uit die woonbuurt getrek, maar baie kon dit net nie bekostig nie. Die meeste kon ook nie meer hulle verbande betaal nie. Die bestuurder het toe baie mooi na die situasie gekyk en besluit om in sekere gevalle sekeres se rentekoerse verder te verlaag, of selfs sommiges se skuld gedeeltelik of heeltemal af te skryf. – alles om soveel as moontlik mense in hulle huise te hou.

Baie gou het mense bewus geword van wat die bestuurder gedoen het. Hulle wat nie in moeilike situasies was en daarom nie afslag gekry het nie, was woedend en het vir bestuurder geskreeu. “Hoe kan jy so onregverdig wees? Hoe kan jy daai ou se skuld afskryf en daai ou se rentekoers verlaag, maar ek moet betaal soos wat die kontrak sê? Ons skuld moet ook afgeskryf word!” “Maar julle het tog ooreengekom op die voorwaardes soos wat julle dit nou het. Dit is wat julle kontrak sê.” “Ja maar…” “En julle was baie dankbaar om die spesiale lenings van die begin af te kry, en dit het dit vir julle moontlik gemaak om ‘n huis te koop wat julle andersins nie sou gehad het nie.” ‘Ons kan dit nie glo nie. Dit is so onregverdig. Ons dring aan op geregtigheid.’

Miskien is daar meer as een manier van dink oor hierdie verhaal onder ons hier in die kerk teenwoordig. Daar is dalk van ons wat dink: Joe, maar daardie mense wat lenings gekry het was darem ongelooflik ondankbaar. Ander kan weer dink: Dit is darem verskriklik onregverdig om alle mense nie oor dieselfde kam te skeer nie. Maar kom ons maak dit ‘n bietjie meer werklik met ‘n ander voorbeeld. Jy skryf ‘n vraestel en meeste van die klas druip, maar jy kry 65%. En jy voel heel gelukkig. Maar dan besluit die dosent/onderwyser om die druipelinge, maar net die druipelinge alleen, se punte met 10% te verhoog. Meeste van die klas is nou deur, maar jy het nog steeds 65%. Jy kon ‘n onderskeiding gehad het as die dosent net billik was — as hy almal oor dieselfde kam geskeer het, maar nou is hy nie!

So ‘n voorbeeld uit ons eie wêreld dra presies dieselfde emosies as die voorbeeld van arm mense wat uitstel en verligting op ‘n lening gekry het en mense wat net-net hulle lening kan betaal wat nie die uitstel gekry het nie. En dit is presies dieselfde emosies wat na vore gekom het toe Jesus die gelykenis van die arbeiders in die wingerd vertel het. Dit is verhale wat ons so ‘n bietjie ongemaklik laat voel, verhale wat reeds vir 2000 jaar gevoelens van “maar dit is onregverdig” by mense laat leef.

Ons gaan nou die gelykenis in Matteus 20:1-16 lees. Maar net voor ons lees, enkele opmerkings. Net voor die gedeelte kom die ryk jongman na Jesus toe, en vra wat hy moet doen om gered te word. Jesus sê dat hy die gebooie moet nakom, waarop hy dan antwoord dat hy dit doen. En toe sê Jesus dat hy ook sy besittings moet verkoop en aan die armes gee. Dit kon die jongman nie doen nie. En dan sê Jesus vir sy dissipels dat vir mense wat baie skatte op aarde het dit soms moeiliker is om te fokus op die koninkryk van die hemel. En Hy wys uit dat die waardesisteem wat hier op aarde geld, anders is as die waardesisteem wat in die koninkryk van God geld. En om dit te verduidelik, om nog ‘n voorbeeld te gee van hierdie ander soort waardesisteem, vertel Jesus hierdie gelykenis:

Lees Matteus 20:1-16.

Kan ons onsself die skok indink van die werkers? As dit vir ons moeilik is sal die verhaal van die lenings of die voorbeeld van die toetsuitslae dalk dieselfde emosie by ons wakker maak. Ons voel nie asof dit regverdig is nie. En dan begin die gelykenis ook nog met die opmerking dat ‘so is die koninkryk van God’. Beteken dit dus dat die koninkryk onregverdig is? En dit bring ons terug by die vraag: Is God regverdig?

Baie verklaarders van die Bybel sien in hierdie gelykenis ‘n definisie van God se genade teenoor verdienste in die geloof. Met ander woorde, God tree teenoor ons op soos teenoor die werkers wat laat gekom het. God gee vir ons wat ons nodig het, en nie bloot omdat ons iets verdien nie. Die laat-beginnende werkers het net soveel nodig gehad vir hulle families as die wat vroeg begin werk het. En deur hulle nood te verlig wys die eienaar van die wingerd hoe genade, hoe barmhartigheid lyk. Dus: dit is logika van genade: maak nie saak wat jy verdien nie, God wil genade gee.

Die sleuteloomblik van die gelykenis, broers en susters, is wanneer die eienaar vir die eerste werkers sê: Vriend, ek doen jou geen onreg aan nie. Het jy nie met my ooreengekom vir die gewone dagloon nie? Vat jou geld en gaan huis toe. Ek wil vir hierdie laaste een dieselfde gee as vir jou. Mag ek dan nie met my geld maak wat ek wil nie? Of is jy afgunstig, jaloers, omdat ek goed is?

Ook in ons moderne verhaal gebeur presies dieselfde. Die werkers en die huiseienaars wil hê die beloning moet verband hou met die diens wat gelewer is. Hulle wil hê dat dit quid pro quo moet wees, met ander woorde, hierdie beloning of hierdie straf kom altyd vir hierdie of daardie daad.. En dit is ook soos ons dink. Omdat ons op ‘n sekere manier opgetree het, omdat ons redelik gereeld in die kerk is, omdat ons ‘n taak in die gemeente verrig, kan ons sekerder wees van die seën van God. Ons het baie vir die kerk en vir God ingesit, en daarom verdien ons iets terug. Ons verdien die seën van God darem verseker meer as die ou wat nooit hier kom nie en wat nog nooit iets vir God gedoen het nie — om nie eers te praat van die opperste sondaars nie! En dan maak ons onsself wys dat dit vir ons oor regverdigheid gaan, terwyl dit eintlik vir ons maar net oor onsself en oor ons eie voordeel gaan. Dit is asof Jesus deur die gelykenis(se) wil sê: Elkeen wat dink dat beloning afhang van dit wat jy doen, hy verstaan nie hoe God werk nie, verstaan nie God se hart nie.

Weet, u wat gebeur dikwels met ons? As ons hardwerkend is en ons beste gee en bereid is om op te offer vir ons geloof, dan voel dit vir ons asof ons ywer minder werd word as God aan te veel mense te veel genade bewys. Dan voel dit nie vir ons regverdig dat God aan ander genade bewys wat dit minder verdien as ons nie. Maar dit is juis die hart van genade: dat ‘n mens dit nie verdien nie.

Hierdie gelykenis laat ons onsself afvra: Hoe sou jy gevoel het as die ander wat minder gewerk het as jy net soveel soos jy verdien het? Sou jy gesê het: Ek is saam met jou bly? Of sou jy gesê het: Haai, wag ‘n bietjie…? Sou ons lank genoeg gestop het om raak te sien wat dit van die hart van die werkgewer sê, van die hart van God sê, of sou ons aangedring het op regverdigheid soos ons dit verstaan? Sou ons aangedring het dat ons kry wat ons verdien en die ander kry wat hulle verdien?

Die eienaar van die wingerd is regverdig teenoor almal — niemand kry minder as wat daar ooreengekom is nie, maar Hy behou homself die reg voor om genade te bewys. Hierdie gelykenis wys ons as mense se geneigdheid uit om die liefde van God te vat maar dit dan aan te wend ter wille van ons eie ego’s. Ons wil heeltemal en absoluut aanvaar word deur God, maar ons wil darem ‘n bietjie meer aanvaar word as die ander mense, wat dit in ons oë, minder verdien om aanvaar te word.

Dit is amper soos die ou gesegde wat sê: Dit is nie genoeg dat jy sukses behaal nie, jou vriende moet ook misluk. Iemand anders sê weer dat as ‘n professor hoor dat sy goeie vriend die Nobelprys gewen het, is dit dan goeie nuus of slegte nuus of ‘n mengsel van die twee? Wat gebeur met die fabriekwerker wie se vriend skielik deel van bestuurspan van die fabriek word? Wat gebeur met die meisie wat verloof raak, en dan hoor dat haar vriendin ook beplan om te trou, nogal ‘n maand voor haar eie troue?

Julle vra My, sê Jesus: Is God regverdig in hoe Hy na ons as mense kyk en hoe Hy teenoor ons optree? Is Hy regverdig, volgens menslike maatstawwe? Nee, Hy is nie en daarvoor moet julle baie dankbaar wees! As dit sou gebeur dat God na ons kyk volgens ons eie gevoel van regverdigheid en volgens wat ons werklik verdien sou ons almal verlore gewees het. Nie een van ons het nie God se genade nodig nie. Nie een van ons kan werklik sê dat ons hoop dat God ons op grond van ons dade beoordeel nie. Nie een van ons kan sê dat ons nie ook maar hier in ons worstel met die groot ou eie ek en met gevoelens dat ons God se genade meer as ander mense verdien nie. Nie een van ons kan sê dat ons nog nooit gekonfronteer is met gevoelens van jaloesie oor wat ander van God kry nie. En die blote feit dat dit vir ons nie lekker is om te hoor hoe daar dalk genade aan ander minder goeie mense bewys gaan word, wys vir ons hoe selfgesentreerd ons lewe en hoe selfgerig ons geloof soms is. En dit alleen wys vir ons hoe nodig ons God se genade het.

Kom ons kyk net gou vir oulaas wat ons in die afgelope paar weke wys geword het:

  • Ons het gesien dat God liefdevol is en dat Hy so teenoor ons optree;
  • een voorbeeld van sy liefdevolle optrede is dat Hy na ons soek en ons na sy kudde toe terugbring;
  • toe het ons gesien dat om in daardie kudde te wees van ons vra om van onsself af weg te kyk en onsself op Christus te rig. En die rede daarvoor was dat God weet dat daar vir ons niks goeds wag as ons bloot op onsself gerig is nie.
  • Maar terwyl ons nou in die kudde is kom God met skape daar op sy skouer aan wat darem werklik nie dieselfde weiding en versorging verdien as ek nie. Maar as ek so dink dan verstaan ek nog nie hoe liefdevol die hart van God is nie. Ek verstaan nog nie dat genade beteken dat dit iets is wat ek nie verdien het nie. Dan verstaan ek nog nie hoe bevoorreg ek is om in die kudde te mag wees nie. Dan verstaan ek nog nie hoe wonderlik ek deur God versorg word en oorlaai word hier in die kudde nie.

Is God regverdig, volgens menslike maatstawwe? Nee, en dankie vir die Vader daarvoor! As Hy was, was ek verlore. Is Hy dan onregverdig? Nee, nooit vir een oomblik nie. Maar sy hart vol liefde laat Hom verby dit kyk wat ons kwansuis dink ons verdien of wat ons nie verdien nie, en Hy oorlaai ons met volheid en vrede en geluk. En dit is nie iets wat ons kan verdien nie — dit is iets wat God in sy groot liefde vir ons gee.
Amen