1 Johannes 4:7-21

God drie-enig is 'n God van liefde



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Soos seker aan die meeste van u bekend het ons kerk met ingang van hierdie jaar 'n nuwe Kerkorde. In wese, broers en susters, is die kerkorde van enige kerk dit wat alles in die kerk reël: dit bevestig onder andere wat ons glo, verduidelik wat die ampte en werkopdrag van die verskillende ampte is, dit reël die kategese, bepaal die algemene orde in die kerk, en bepaal ook, om dit eenvoudig te stel, wanneer daar oor wat gepreek behoort te word.

Wat in hierdie verband nou nuut in die nuwe kerkorde is, is dat dit bepaal dat op die Sondag na Pinkster oor die drie-eenheid van God in die prediking gehandel moet word. Die gedagte hier agter, broers en susters, is eintlik heel eenvoudig en logies: eers het ons in die vier weke voor Kersfees en ook op Kersdag gepreek oor die koms van Jesus Christus na die aarde toe, toe het ons in die sewe weke voor Goeie Vrydag en Paassondag gehandel oor die lyding van Jesus Christus, sy dood en sy opstanding, daarna het ons Hemelvaart gevier, en laastens, verlede Sondag, was die tema die uitstorting van die Heilige Gees, dit wil sê, Pinkstersondag.

En nou het die kerk dit goedgedink om op die Sondag na Pinkster, dit wil sê, nadat ons oor die lewe en werk van Jesus Christus en aan die Gees aandag gegee het, ons dan aandag sal gee aan al drie die persone in die drie-eenheid, naamlik God as Vader, Seun en Heilige Gees.

'n Mens sou hierdie tema natuurlik op verskeie maniere kon aanpak. 'n Mens sou byvoorbeeld by Artikel 8 van die NGB kon begin wat sê dat God drie-enig as een enige wese bestaande uit drie persone verstaan moet word. Of, ons sou kon begin by die baie bekende stryd die kerk in die derde en vierde eeu rondom Arius waar sommige mense gemeen het dat Jesus Christus net mens was, en nie ook God nie. Of ons sou kon begin by Genesis 1 waar die Woord ons leer dat God gesê het kom laat Ons mense maak wat na Ons beeld geskep is, dit wil sê, die eerste keer wat ons van God drie-enig in die Bybel lees. 'n Nader moontlikheid sou wees om te handel oor hoe die kerk se belydenis oor die Heilige Gees gegroei het vanaf die Apostolicum, dan in Nicea en laastens in die geloofsbelydenis van Atanasius. Of, twee laaste voorbeelde, ons sou kon begin by die doop van Jesus, waar die Woord ons vertel dat tydens Jesus se doop, toe die Gees in die vorm van 'n duif op Jesus neergedaal het, die Vader uit die hemel gesê het ‘hierdie is my geliefde Seun’; of dan by die doopformulier waar ons ons kinders doop in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees.

Ek wil vanoggend egter, broers en susters, by 'n ander punt begin, naamlik by die wyse waarop ons God ken, juis omdat God Homself aan ons as sy kinders, op 'n bepaalde manier kenbaar maak. Of kom ek stel dit anders en dalk meer eenvoudig: ons as God se kinders, broers en susters, ons ken God alleen, ons ervaar God alleen teenwoordig in ons lewens omdat God Homself aan ons op 'n bepaalde wyse openbaar, naamlik as Vader, Seun en Heilige Gees.

Want dit is eenvoudig waar, broers en susters, dat ons van ons kant af, juis omdat ons sondig is, juis omdat ons so anders as die heilige God is, nie uit onsself of van ons kant af, God kan ken nie. Nee. Alleen omdat God Homself aan ons kenbaar maak deur onder andere sy Woord, ken ons God.

Soos netnou gesê, broers en susters, is die eerste wyse waarop God Homself aan ons kenbaar maak naamlik dat Hy ons Vader is. En onmiddellik as ons sê Vader, broers en susters, impliseer dit kinders, naamlik ons. Wanneer ons dus van God die Vader praat, praat ons van God wat in 'n persoonlike verhouding met u en met my, sy kinders wil staan. Juis daarom verbind ons God as Vader aan die skepping van die mens. Dat Hy as Vader mense geskep het met wie Hy in 'n persoonlike verhouding wil staan.

God as Vader wil egter nie net met ons in 'n persoonlike verhouding staan nie, Hy is ook bereid om dit van sy kant in stand te hou, al wil die mens van sy kant af nie altyd God ken nie. Juis daarom verbind ons ook God die Vader aan die verbond wat Hy met Abraham (en dus by implikasie met ons) gesluit het waarin Hy belowe dat Hy altyd ons Vader sal wees, en ons sy kinders.

Nou weet ons egter baie goed, broers en susters, dat die mens van die begin af in wese sy rug op God gekeer het. Waar die mens na die beeld van God geskep is, het die mense die sonde gekies en die beeld van God in hom verloor. Waar God getrou aan sy verbond gebly het, leer die Ou Testament ons, het die volk telkens maar net weer en weer sy rug op God en op sy gebooie gedraai. Waar God aan die mens die lewe gegee het, daar het die mens die lewe sonder God, en dus die dood, gekies.

God se liefde vir die sondaarmens, broers en susters, leer die Bybel ons, het egter nie, al het die mens wat gedoen, tot 'n einde gekom nie. 1 Johannes 4:9 vertel ons dat God ons, soos in die geval van die verbond, weer eens, maar hierdie keer finaal, in Jesus Christus tegemoet gekom het. Jesus, wat van die begin af God was, het mens geword en onder ons kom woon. Daarna het Hy gely, eers sy hele lewe lank omdat Hy bereid was om sy Goddelike eienskappe af te staan en 'n slaaf vir mense te word, maar veral deur die kruis.

Dit was God se groot daad van liefde. Hier vind ons God se groot ja vir die mens, God se ja in Jesus Christus. 'n Ja wat selfs tot in die graf strek, en regdeur die graf. 'n Liefde wat gemaak het dat Jesus weer gelewe het en, die versoening wat hy tussen God en mens bewerkstellig het, volvoer het deur op te vaar na die hemel om vir ons daar elkeen 'n plek by die Vader gereed te gaan maak.

Omdat God ons liefhet, broers en susters, het Hy ons egter nie alleen agtergelaat nie. Nee, as bewys dat Hy ons geskep het, dat ons aan Hom behoort, dat Hy ons bly liefhê desondanks ons sonde, dat Hy ons deur Christus met Hom versoen het, sê 1 Johannes 4:13, het Hy ons sy Gees gegee.

En met die ontvangs van sy Gees het God aan ons die volgende saam met sy Gees, of dan deur die Gees, gegee:

  • Deur die Gees het ons die wedergeboorte ontvang, met ander woorde, is ons nuwe mense gemaak, mense wat in staat is om God te dien en te eer;
  • Deur die Gees het ons die geloof as gawe ontvang sodat ons, deur in Jesus Christus te glo, verlos kan word;
  • Deur sy Gees werk God elke dag in ons sodat ons kan weet hoe om gehoorsaam voor God te lewe. Dit doen Hy deur ons lewens te ondersoek vir sonde, ons te oortuig dat ons sondig voor God is, en bring Hy ons om ons sonde te bely. Die Gees lei en rig ons egter ook elke dag dat ons kan weet hoe om voor God te lewe;
  • Deur die Gees word ons dus die krag gegee om ons verhouding met God in stand te hou; daarom gee Hy ook aan ons elkeen bepaalde gawes waarmee ons God kan dien;
  • Wat meer is, broers en susters, en dit leer Efesiërs ons, die Gees wat in ons woon is ook die waarborg dat ons dit wat Jesus Christus vir ons bewerkstellig het, naamlik die ewige lewe, eendag werklik sal ontvang.
  • En omdat die Gees al hierdie dinge vir ons doen, sê 1 Johannes 4:17, omdat die Gees op al hierdie wyses in ons bly, hoef ons nie eers die eindoordeel of wederkoms te vrees nie.

'n God wat so handel, as Vader, Seun en Gees, sê 1 Johannes 4:7-8, kan nie iets anders as 'n God van liefde wees nie. En hieroor kan ons net juig, broers en susters. Want ons verdien niks hiervan nie.

Maar, sê 1 Johannes 4:20-21, die feit dat ons al hierdie dinge van God ontvang, plaas 'n sekere verpligting op ons. 'n Verpligting in dié opsig dat juis hierdie verhouding wat God met ons het, 'n verhouding wat gekenmerk en gedra word deur God se liefde vir ons, die norm vir al ons verhoudinge teenoor almal denkbaar moet wees.

Want, sê Johannes hier, as iemand sê: dankie tog, God het my lief, daarom het ek Hom ook lief, maar ek haat my broer of suster, dan het so iemand God nie lief nie. Of om dit sterker in Johannes se taal uit te druk: so iemand kan God, sê hy, onmoontlik liefhê of ken.

Waarop alles dus neerkom, broers en susters, is die volgende: dit is goed dat ons vanoggend weer hoor dat God drie-enig van die begin van die skepping af totdat die aarde en hemel eendag weer herskep sal word, met ons, by ons en in ons woning maak. Dit is goed om te hoor dat God drie-enig ons sonder perk liefhet.

Maar ons kan dit nie maar net hoor nie. Ons moet dit wat ons hoor, ook gaan gehoorsaam. Want as ons dit nie doen nie, sê Johannes, het ons geen kennis van God nie, het ons God nie lief nie. Of, om dit anders te stel: sê ons met ons belydenis elke Sondag dat ons in die drie-enige God glo, maar met ons elke dag se lewe sê ons iets anders.

En as dit so geword het, ken ons God nie. Wie egter liefhet, bely nie alleen God as drie-enig nie, maar wys ook dat hy/sy met God 'n persoonlike verhouding het. En wie dit met God het, sal ervaar dat God elke dag Homself, as die heilige drie-enige God, nog net meer en meer aan so iemand bekend maak.

En wie God so teenwoordig ervaar, het eintlik niks meer nodig nie. Mag dit in ons almal se lewens so wees.
Amen