Johannes 13:1-17

Die geheim van vergifnis



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Een van die kommentare op hierdie gedeelte beskryf Jesus se voetwassing van die dissipels op die volgende aangrypende wyse: `Om te sien hoe die hande van God mans se voete was en tone vryf is net nie reg nie. Die dissipels behoort mos eerder sy voete te was. Natanael behoort eintlik die water in te gooi. Andreas behoort die handdoek om te hê. Maar hulle doen dit nie. Niemand doen dit nie. Want in plaas daarvan om te dien, kibbel en stry hulle oor wie as die belangrikste beskou moet word'.

Watter teleurstelling, broers en susters, moes dit seker nie vir Jesus gewees het nie. Petrus wat sê: `Ek is die nommer een dissipel'. Jakobus wat antwoord: `Nee, ek is baie geesteliker as jy'. En Johannes wat reageer en sê: `Julle is laf. Ek het meer mense na Jesus toe gebring as enigeen van julle'.

En terwyl hulle so stry, staan die wasskottel onaangeraak in die hoek. Die handdoek lê vergete op die vloer. Elke dissipel sien dit, hulle weet wat hulle moet doen, maar hulle doen dit nie. Dan staan Jesus op. Hy praat nie. Hy trek sy bokleed uit en maak die handdoek om Hom vas. Hy tel die beker op en gooi die water in die skottel in. Dan kniel Hy voor hulle en begin was. En die handdoek om sy lyf is ook die handdoek waarmee Hy hulle voete afdroog.

'n Mens wil sê: dis net nie reg nie. Want is dit nie erg genoeg dat hierdie hande die volgende oggend deurboor gaan word nie? Moet hulle vanaand nog stof en vuil ook afwas? Veral die vuil en stof van mense wat dit eintlik nie verdien nie? Want het die dissipels se liefde nie teen hierdie al begin afkoel en hulle lojaliteit al begin taan nie?

As ons daar was, broers en susters, sou ons seker wou sê: Maar Here, U kan mos nie Johannes se voete was nie! Onthou U nie dat hy 'n rukkie vroeër vuur uit die hemel wou afroep om 'n hele dorp te verteer wat U nie wou ontvang nie? En onthou U nie dat hy iemand wat by U groep wou aansluit, wou keer om dit te doen nie? U kan tog nie so iemand se voete was nie!

En Jakobus! Slaan hom liewers oor. Hy wou mos die ereplek aan U regterhand hê. Hy wou nie dien nie. Hy en sy broer het mos aangedring op spesiale behandeling. Laat hy daarom liewers sy eie voete was. Gee hom die handdoek. Leer hom liewers 'n les.

Ook Fillipus. Slaan hom ook oor. Dit is mos hy wat gesê het dat daar te min kos is om die skare te voed. U het hom toe getoets en hy het gefaal. U het aan hom 'n kans gebied, en hy het niks minder as 'n gemors daarvan gemaak nie.

En ons kan nie anders Here, as om dieselfde van ou Petrus te sê nie. Goed, dit is nou wel sy voete wat op die water geloop het. Maar daar dieselfde voete wat U nou was het in die water ingesink weens sy ongeloof. Ja, hy het bely dat U die Christus is, maar dit is ook hy wat gesê het dat U nie hoef te sterf nie.

So Here, moenie hulle voete was nie. Nie een van hulle verdien dit nie. Het hulle U miskien tot hulp gekom in Nasaret toe almal U onder die klippe wou steek, of toe die Fariseërs begin klippe optel het om u te stenig?

U weet mos wat hulle gedoen het. En bowendien, U weet mos ook wat hulle op die punt staan om te doen. U kan alreeds hoor hoe hulle daar in die tuin lê en snork terwyl U in angs besig is om te bid. Hulle sê nou hulle sal wakker bly, maar U weet mos hulle gaan nie. Eerder: U gaan bloed sweet, en hulle gaan rustig lê en slaap. U kan nou al hoor hoe hulle wegsluip van die soldate af. Ja, vanaand maak hulle beloftes, maar môreoggend gaan hulle spore maak.

Daarom Jesus, asseblief, kyk om U rond. Hoeveel van hierdie twaalf gaan saam met U voor Pilatus staan? Hoeveel van hulle gaan bereid wees om saam met U gegesel te word? En as U gaan struikel onder die gewig van die kruis, wie van hulle gaan naby genoeg wees om die kruis by u oor te neem en dit te help dra?

Nie een van hulle nie. Niemand van hulle nie. Inteendeel. 'n Vreemdeling sal geroep word om dit te doen, want nie een van hulle sal eers in sig wees nie. Daarom Here, moet nie hulle voete was nie, hulle verdien dit nie. U verdien dit eerder, daarom, laat hulle U voete was.

Dit is, broers en susters, wat ek meen ons heel menslik miskien sou wou sê as ons daardie aand daar kon wees. Maar waarom? Hierdie meen ek, is die belangrike vraag. Waarom sou ons dit wou sê? Omdat ons meen dat dit onregverdig is? Omdat ons nie wil sien dat God soos 'n dienskneg optree nie? God op sy knieë, met 'n vuil handdoek om sy lyf? Of, broers en susters, maak ons beswaar omdat ons nie bereid is om dieselfde te doen nie?

Kom ons dink 'n oomblik hieroor. Het ons nie ook mense soos die dissipels in ons wêreld nie? Tweegesigte wat beloftes verbreek. Mooiweersvriende. Want wat hulle sê en doen is nooit dieselfde nie. Wat liewers belangrik wil wees, of dan die belangrikste. Of wat meen dat ander se probleme nou nie eintlik my probleme is nie. Mense wat ons nou nie dalk alleen by die kruis gelaat het nie, maar wel alleen met ons vrae, ons probleme, ons siekte, bekommernis.
Ons sê: `Bal liewers jou vuiste vir sulke mense'. Maar Jesus sê: `Maak die skottel vol'. Ons sê: `Slaan hom bloedneus'. Maar Jesus sê: `Was sy voete'. Ons sê: `Maar sy verdien dit nie'. Maar Jesus sê: `Jy is reg, maar jy ook nie'.

Kom ons wees eerlik, broers en susters. Ons kan nie altyd verstaan hoekom God vir ons, met al ons gebreke en sonde, so goed kan wees nie. Maar Hy is. Hy kniel voor ons, neem ons voete in sy hande en was dit. En hier moet ons mooi begryp: wanneer Jesus hier sy dissipels se voete was, was Hy by implikasie ook ons s'n. U en ek is deel van hierdie verhaal. Ons is saam aan die tafel. Want ons is ook sy dissipels. Dit is egter nie ons voete wat hier deur Jesus gewas word nie, maar dit is by implikasie ons sonde wat Jesus hier afwas.

En hierdie reiniging, broers en susters, is nie maar net 'n mooi gebaar van God se kant af nie. Nee. Dit is 'n noodsaaklikheid. Luister wat Jesus in vers 8 sê: `As Ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie'. Jesus sê nie: `as julle nie julle voete was nie. Waarom nie? Want ons kan nie. Ons kan nie ons eie sonde afwas nie. Ons kan nie ons eie sondevuil skoonmaak nie. Ons voete moet in sy hande kom. Dit kan nie anders nie.

Ons moet nie, broers en susters, wil ek weer sê, die betekenis hiervan miskyk nie. Om jou voete in Jesus se skottel te sit, is om die onreinste gedeelte van ons lewens in sy hande te plaas. In die tyd van die Bybel was mense se voete altyd aangepak van modder en vuil. Die dienskneg by die fees byvoorbeeld moes daarom toesien dat die gaste se voete skoon kom. Hierdie rol neem Jesus hier oor. Hy word ons dienskneg.

Maar natuurlik, broers en susters, net as ons dit toelaat. Die water van God kom net oor ons onrein lewens as ons bereid is om te bely dat ons onrein is. Net as ons bely dat ons voete vuil is omdat ons byvoorbeeld op die verkeerde paaie geloop het of die verkeerde afdraaipaaie gekies het.

Ja, ons is soms ook maar soos Petrus geneig om trots te wees en ons teen te sit: `Ek is nie vuil nie Jesus, sprinkel maar net 'n paar druppels oor my, en ek is sommer gou piekfyn!'

Ons sal nooit, broers en susters, skoon kom, vergewe word, bevry word, voor ons nie bely dat ons sondig is nie. Dit is die eerste deel van die geheim van vergifnis.

En, die tweede deel van hierdie geheim is: ons sal nooit die voete kan was van diegene wat ons seergemaak het voordat ons Jesus, die Een wie ons seergemaak het en steeds elke dag seermaak met ons sondige lewens, toelaat om ons voete te was nie.

En dit, broers en susters, saamgevat, is die totale geheim van vergifnis: ons sal nooit, maar nooit, in staat wees enigeen meer te vergewe as wat God ons reeds vergewe het nie. Net deur God toe te laat om ons voete te was, kan ons die krag kry om iemand anders s'n te was.

Miskien sê u nou: goed, dit alles klink so mooi, maar dit bly maar nog moeilik, soms selfs te moeilik. Dit bly maar moeilik om een te vergewe wat my diep seergemaak het.

Indien u so voel, broers en susters — en kom ons wees maar eerlik, almal van ons voel soms so — gaan dan nog 'n keer na die bovertrek. Hou Jesus dop hoe Hy van die een dissipel na die volgende beweeg. Kyk na die vuil handdoek. Hoor die water spat. En hoor dan wat Johannes in vers 12 sê:

Toe Hy hulle voete klaar gewas het. Met ander woorde, Hy het almal se voete gewas, Hy het nie een oorgeslaan nie. Hoekom is dit belangrik? Omdat dit beteken dat Hy Judas se voete ook gewas het. Dat Jesus sy eie verraaier se voete gewas het. Dat Hy aan sy verraaier net soveel aandag as aan die ander gegee het. Binne die volgende uur sou dieselfde voete die Romeinse soldate na Jesus toe lei. Maar nou was Jesus daardie selfde voete. Dit, terwyl Hy maar te goed geweet het wat Judas sou gaan doen.
Dit wil nie sê, broers en susters, dat dit vir Jesus maklik was nie. Dit wil ook nie sê dat dit vir ons maklik gaan wees om dieselfde te gaan doen nie.

Nee. Al wat dit wil sê is wat ons die groot geheim van vergifnis kan noem: ons sal nooit in staat wees enigeen meer te vergewe as wat God ons reeds vergewe het nie. Wat meer is: God sal nooit van u en my iets verwag wat Hy nie selfs alreeds gedoen het nie.

Wanneer ons dit verstaan, meen ek, word vergifnis die maklikste ding op aarde.
Amen