Matteus 11:25-30

Ons sakke, God se uitnodiging



Votum en seën
Lofsang:
Gesang 184:1, 3 en 4
Na wet:
Gesang 542:1-2
Na belydenis: Gesang 238:1, 3 en 5
Gebed
Skriflesing: Matteus 11:25-30
Sang: Gesang 157:1 en 2
Prediking:
Broers en susters in onse Here Jesus Christus
Almal van ons het ‘n sak. ‘n Goiingsak. Waarskynlik is die meeste van ons nie eers bewus hiervan nie. Of dalk het ons nog net nooit so daaroor gedink nie. Maar hierdie sak het ons. ‘n Growwe, krapperige goiingsak.

Ons gebruik hierdie sak om klippe in rond te dra. Rotse, klein klippies en groot klippe. Klippe van alle vorms en groottes. Party van hierdie klippe het ons nie voor gevra het of gesoek het nie. Ander weer het ons self bymekaargemaak. En ander weer is doodeenvoudig aan ons gegee.

Wat is hierdie klippe in die sak wat ons ronddra? Party is rotse van verwerping. Jy het een gekry die keer toe gedink het jy was die man vir die taak, maar die ander het nie so gedink nie. En toe jy nie gekies word nie, het jy verwerping beleef. Op ‘n nader keer het jy nie die span gehaal het wat jy gedink het jy moes nie, en so is nog ‘n klip in jou gesit. Nog ‘n klip van verwerping. Iets, wat jy gesê het, jy nooit sal vergeet nie.

Ander klippe in jou sak se naam is berou. Berou oor die keer toe jy humeur verloor het. Berou oor die dag toe jy beheer verloor het en dinge gesê het wat jy nie moes nie. Berou oor die oomblik toe jy jou beginsels oorboord gegooi het ter wille van aanvaarding. Berou oor al die jare wat jy jou prioriteite verloor het.

‘n Ander klip in die sak se naam is skuldgevoel. Skuldgevoel omdat jy op ‘n keer iemand moedswillig te na gekom het. Skuldgevoel oor die keer toe jy saam met ander teen ‘n ander persoon gekonkel het. Skuldgevoel omdat jy soveel kere nagelaat het om jou hand vir ander uit te steek en te help. Skuldgevoel oor die keer wat jy weet jy nie hard genoeg probeer het nie.

Dan is daar in ons sakke klippe met die naam kommer. Telkens wanneer ons oor ons eie toekoms dink, raak ons negatief. As ons dink oor wat alles nog vir ons kinders, ons geliefdes voorlê, sien ons soms net spoke. En so bou ons kommer op kommer. En laai ons die klippe van kommer in ons sak. Klippe wat miskien eerder klippe van kleingeloof genoem moet word.

En so is daar nog baie ander klippe met baie ander name. Klippe wat ons nie verdien nie, en klippe wat ons self in ons sakke gesit het. En nog steeds vir ons en deur onsself in ons sakke gesit word. En mettertyd word ons sakke swaar. Ons word moeg. Want die sak is swaar om te dra. Die sak vertraag ons gang. Ongelukkigheid staan geskryf op ons gesigte. Ons skouers hang van die gewig van die sak. En al wat ons voel is hoe die sak skuur en skawe.

Gou kom ons ook agter dat dit nie te maklik is om van hierdie sak ontslae te raak nie. Ons vat ons sak saam kantoor toe, en sit dit op die vloer neer. Ons neem onsself voor om so hard te werk dat ons van ons sak sal vergeet. Maar telkens wanneer ons vir ‘n oomblik opkyk, staan die sak daar vir ons en loer.

Wanneer ons gaan slaap, vergeet ons darem so ‘n rukkie van ons sak. Maar wanneer ons wakker word, is die sak maar weer daar. Oomblikke van heerlike saamwees met ander of ons gesin skuif darem die sak so nou en dan op die agtergrond. Maar sodra ons weer die normale gang van die lewe aanpak, is die sak weer terug.

Party van ons vat selfs ons sakke saam kerk toe. Wanneer ons in die kerk kom sit, hoop ons dat die sak darem so ‘n bietjie ligter kan word. Maar dit gebeur nie. Want onder die preek, hoe goed bedoeld ook al, raak ons bewus van nog ‘n paar oomblikke van swakheid in ons lewens, word ons so met ons verhouding met God gekonfronteer, sien ons al die leemtes in ons geloofsverhouding weer so raak, dat ‘n paar klippe bykom. Klippe van berou, van nalaat, kleingeloof, of wat ook al.

Wat is die gevolg hiervan, broers en susters? Ons word mense wat voortstrompel in die lewe, gebuk onder ons verlede. Terwyl ons sakke soms ons hede totaal oorneem. Want kom ons wees maar eerlik, broers en susters: dit is moeilik om die gawe van vriendelikheid te beoefen as jou hart onrustig is, dit is baie moeilik om ander aan te moedig as jy self aanmoediging nodig het, dit is moeilik om ander te vergewe as jy self vol skuld is, dit is moeilik om om te gee as jy self omgee dringend nodig het, dit is moeilik om jou hand uit te steek en aan te raak as jy die een is wat aanraking so dringend nodig het.

Paulus het iets interessants raakgesien oor die manier waarop ons soms mense behandel. Hy het dit gesê oor die huwelik, maar die beginsel geld in wese vir elke verhouding in ons lewens. ‘Wie sy vrou liefhet, het homself lief’ (Ef 5:28). Met ander woorde, daar is ‘n verband tussen hoe ons oor onsself voel en hoe ons oor ander mense voel. As jy innerlike vrede het, juis omdat jy vrede met God het, as jy werklik aanvaar dat God jou liefhet, dat jy sy kind is, dat Hy goed vir jou is, dat jy in sy oë heilig is en dat Hy jou nie alleen aanvaar soos jy is nie maar ook gemaak het soos jy is en lyk — dus, innerlike vrede het — dan sal jy ook goed vir ander kan wees.

Maar die teenoorgestelde is ongelukkig ook waar. As jy nie vrede met jouself en God het nie, as jy nie aanvaar dat God jou liefhet nie, as jy nie aanvaar het dat God ook jou sonde en skuld vergewe het nie, as jy nie aanvaar dat daar by God altyd nuwe kanse en nuwe lewe is nie, gaan mense dit gou agterkom. Want onvrede binne bars een of ander tyd uit in onvrede na buite. En die tragiese van die storie van die goiingsak is dat ons dikwels juis geneig is om ons klippe te gooi na hulle wat ons die meeste liefhet.

Alles wat ons tot dusver gesê het, broers en susters, bring ons by die dringende vraag: hoe vind ‘n mens rus? Ons teksvers (Matt 11:28-30) antwoord hierdie vraag gulhartig: ‘ Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.’.

Nou weet ek, broers en susters, dat baie van u dalk nou sit en vir uself sê: tipies. Maak mos altyd of alles so maklik is. Maar dit werk eenvoudig nie so nie. Want dit wat hier staan, het ek al probeer, en baie keer meer as maar net een keer. Ek het my Bybel gelees, ek het kerk toe gegaan, ek het gebid, maar ek het nie verligting gekry nie. My sak het ek nog, en moenie ‘n fout maak nie, hy is lekker swaar.

As u so voel, broers en susters, mag ek vir u ‘n baie netelige, dog noodsaaklike vraag vra? Kan dit nie dalk wees dat u, om van u sak ontslae te raak, na godsdiens toe gegaan het en nie na God toe nie? Is dit nie miskien net moontlik dat ons, om te probeer oorleef in ons tyd, wel kerk toe gegaan het, maar Christus nooit gesien het nie?

Kom na My toe, sê Matteus 11:28. Soek My in jou lewe. Werk eers aan jou verhouding met my. Los eers al die ander dinge. Kom hoor eers dat Ek jou werklik liefhet. Dat Ek jou aanvaar soos jy is. Dat Ek jou gemaak het soos jy is, anders as alle ander mense. Kom hoor eers weer dat Ek aan jou gawes en vermoëns gegee het wat ander nie het nie. Juis omdat Ek jou op ‘n manier wil gebruik soos Ek ander nie kan gebruik nie. Aanvaar eers weer dat Ek van jou weet. Dat jy elke dag in my gedagtes is, soos Psalm 8 sê.

Aanvaar die verlossing wat Ek jou bied. Aanvaar dit werklik. Jesus Christus het ook vir jou gesterf. Daarom: as jy My kind, dit werklik aanvaar, sal En jy sal nuut word.

En kom dan, en wees eerlik met My. Erken dat jy hartsgeheime het wat jy nog nooit hanteer het nie. Dat jy in jou sak klippe het wat jy nog nooit vir iemand gewys het nie. Om verskeie redes. En gee daardie sak vir My.

Vrede met God, broers en susters, lei tot vrede met jouself. Aanvaarding deur God, lei daartoe dat ek myself kan aanvaar. En alleen wanneer ek vrede met myself het — omdat ek vrede met God het — kan ek vrede hê met ander en my omstandighede. Vrede met God beteken ook vrede met my verlede. Dit beteken dat my verlede nie hede of toekoms bepaal nie. Ware vrede beteken dat God al die klippe in ons sakke weggevat het. Het. Dit is verby. Daarom ook: die wat hulle sakke nog wil saamdra, het nog nie werklik na God gekom nie.

Of kom ons sê dit anders: God, broers en susters, doen nie halwe werk nie. Sy verlossing aan die kruis was eenmalig volledig. In ons teksvers is daar ‘n baie, baie duidelik belofte. Kom na My toe, en Ek sal julle rus gee. En God hou sy beloftes. Daarom: hulle wat werklik gekom het, sal rus kry.

‘n Verhouding met God, broers en susters, is iets wat lewe. Want God lewe. ‘n Ware verhouding met God gee daarom ook nuwe lewe. ‘n Lewe sonder sakke. Want sy las is lig en sy juk is sag.
Amen
Sang
Dankgebed
Slotsang:
Gesang 492:1-2
Slotseën