Psalm 51:1-21

Spyt of berou - kitsoplossing of kruisoplossing?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus

Ons almal ken die bekende advertensies, eers oor die radio en nou ook op televisie, waar die vervaardigers van waspoeier met mekaar meeding oor wie se produk nou eintlik die beste sou wees.

Die een vrou vertel byvoorbeeld hoe vuil haar man se klere is wanneer hy saans van die werk af kom, en dat sy geen raad met die vuil klere gehad het totdat sy na hierdie of daardie waspoeier oorgeslaan het nie. Want dit was wasgoed skitterwit. Nee, sê ‘n ander een, sy het vyf woelwaterseuns, en jy moet sien hoe húlle klere lyk. Maar daardie waspoeier is die antwoord. Want dit verwyder vlekke in ‘n kits. En ‘n derde een vertel hoe haar waspoeier ou klere soos nuwe winkelklere laat lyk.

Kom ons laat dit nou maar wie nou reg is en wie nie, broers en susters, of wie nou die waarheid vertel of nie. Feit is (die Bybel leer immers so), wat jy ook al met jou vuil wasgoed doen, hoe jy ook al van al die vlekke en kolle ontslae raak, jy kan nie op dieselfde manier van die vlekke en merktekens van die sonde in jou hart en lewe ontslae raak nie.

Soos Jeremia 2:22 dit stel:

Al sou jy jou was met loog of met hoe baie seep
Ek sal nog die vlekke van jou sonde sien,
sê die Here my God.

Interessant is dat in die tyd van Jeremia loog en seep toevallig die beste reinigingsmiddels op die mark was. As daar toe al televisie was, sou hulle dit seker ook geadverteer het. En sou mense seker moes besluit: maar wat is nou eintlik die beste, loog of seep?

Daarteenoor egter, broers en susters, sê die Here: die beste reinigingsmiddels op die mark, die vernuftigste pogings van die mens, kan geen enkele sonde uitwis of ongedaan maak nie. Want sonde gaan sit nie maar net op ‘n mens se klere nie. Dit is nie maar net ‘n modderspatsel of stofkol wat jy sommerso kan afvee, uitvee of afstof nie. Nee. Dit is eerder soos ‘n oliekol. Dit sit. Dit trek in. Dit bly. Dit vlek. En maak so vuil, dat die mens oor geen reinigingsmiddel beskik wat die mens se hart voor God weer skitterwit kan was nie.

Daar is natuurlik mense, broers en susters, wat meen, en hulleself daarvan probeer oortuig, dat hulle wel ‘n kitsoplossing vir die sonde gevind het. Want sommige sê: steek dit weg. Ander sê: praat dit goed. Of: gee ‘n ander of die omstandighede die skuld daarvoor. En ander weer: ontken dit eenvoudig.

Maar dit werk nie. Want God sal nog altyd die vlekke sien. En wat meer is, soos die spreukedigter dit stel: “Wie sy sonde wegsteek moet niks goeds verwag nie....” Dit sou Ananias en Saffira (van wie ons in Hand 5:1-11 lees) maar te goed kon beaam. Maar aan die ander kant, gaan die spreukedigter aan, “wie sy sonde bely en daarvan afsien, sal genade ontvang” (Spr 28:13).

En juis daarvan, broers en susters, lewer Dawid (na sy sonde met Batseba) getuienis van in Psalm 51. Ja, dat wie sy sonde waarlik bely, genade van die Here ontvang. Toe Dawid daardie dag vir Batseba huis toe stuur, het hy gedink: niemand sal ooit weet nie. Geen haan sal daarna kraai nie. Dit is verby. Iets van die verlede. Maar nie lank nie of Batseba laat weet: Dawid, ons kan die saak nie meer geheim hou nie. Ons kan dit nie langer wegsteek nie. Want daar gaan ‘n kindjie gebore word. Toe maar, dink Dawid, ek sal ‘n plan maak. As kitsoplossing plaas hy dan vir Uria, Batseba se man, op die voorpunt van die gevegslinies, en hy sterf op die slagveld. Nou sal niemand weet nie. Die saak is afgehandel, meen Dawid. Nou kan hy ook vir Batseba as vrou neem. Maar op ‘n dag is daar ‘n klop aan die deur, en toe Dawid oopmaak staan daar voor hom ‘n profeet, Natan. “Jy is die man”, sê hy vir Dawid. Jy is die man wat teen God gesondig het en jou naaste ‘n gruwelike onreg aangedoen het. En eers toe het Dawid se oë oopgegaan vir die dubbele sondigheid van sy daad. En het sy skuld teenoor sy medemens, maar ook sy strafwaardigheid voor God hom soos ‘n vuishou tussen die oë getref.

Was hy spyt oor wat hy gedoen het? Nee, broers en susters. Uit die Psalm lei ons af dat Dawid gelukkig meer as net spyt was. Hy het ware berou gehad oor wat gebeur het. Want die Gees van God het diepgrypende berou in sy hart gewerk.

Want tussen spyt en berou is daar ‘n groot verskil. ‘n Mens wat spyt is oor sy sonde dink gewoonlik net aan die nadelige gevolge van sy daad. Wie egter berou het, treur oor die daad self. Wie spyt is, kan sy hare uit sy kop trek oor die skade wat hy aan homself gedoen het. Wie egter berou het, wil sy knieë voor God deurkruip oor die oneer wat hy God aangedoen het.

Wie spyt is, betreur die skade aan sy eie naam. Wie berou het, treur oor die skade aan God se naam. Wie net spyt is vind nog ruimte vir selfverdediging, soek ‘n kitsoplossing,. Wie egter ware berou het, neem volledig en onvoorwaardelik skuld op homself. Sonder verskonings, sonder ‘n “ja...maar” of ‘n “ek kon nie anders nie”.

Met ander woorde, broers en susters, wie ware berou het werp homself geheel en al op God se genade, barmhartigheid `en liefde. Soos Dawid dit pragtig in die Psalm stel: “Wees my genadig, o God, in u troue liefde” (Ps 51:3).

Ons sou dus ook kon sê, broers en susters, dat ware berou nie ‘n ervaring is wat gekoppel kan word aan ‘n sondetjie hier of glipsie daar nie. En juis dit is so merkwaardig van Psalm 51: Dawid bely nie alleen die verkeerdheid van ‘n enkele daad nie, maar bely ook die diepgewortelde sondigheid van sy hele wese wat agter elke daad of sonde staan. “Ek was al skuldig toe ek gebore is”, sê/bely hy, “met sonde belaai toe my moeder swanger geword het” (Ps 51:5).

Ken ons dit ook, broers en susters? Hierdie diepe skuldbesef voor God? Stem ons sonde ons ook tot voortdurende verootmoediging voor die heilige God? Want skuldbesef en berou, broers en susters, is immers nie iets wat maar net so nou en dan by ‘n Christen behoort op te kom nie. Nee. Dit behoort ‘n blywende ondertoon van ons lewens te wees.

Wanneer Dawid dus bely: “Teen U alleen het ek gesondig” (Ps 51:6), openbaar Dawid ‘n diepe insig oor die aard van die sonde. Naamlik, dat sonde in die eerste plek altyd sonde teen God is. Ja, ook wanneer ek my medemens verontreg, sondig ek in die eerste plek teen God.

Hieroor, broers en susters, meen ek moet ons almal vir ‘n slag baie goed nadink: elke keer wanneer ek iemand te na kom, liefdeloos behandel, selfs nalaat om ‘n medemens te wees, sondig ek in die eerste plek teen God.

As ‘n mens so oor die aard en diepte van die sonde nadink, broers en susters, wonder ‘n mens soms hoe mense dit nog kan regkry om hulleself voor God - met allerhande kitsoplossings - regverdig te verklaar. En tog, as ‘n mens mooi daaroor nadink, is dit moontlik. Want dit is moontlik dat ‘n mens so ver van God af kan begin lewe (ja, al is jy gelowig), dat ‘n mens innerlik so afgestomp kan begin raak, dat daar so ‘n groot eelt op ‘n mens se hart kan begin groei, dat ‘n mens so kan ophou om na die Gees in jou lewe te luister, dat ‘n mens geen greintjie werklike en diepgaande sondebesef oor het nie.

So totaal anders klink dit egter in Psalm 51. Want die digter van Psalm 51 weet dat sonde skuld meebring, en dat skuld skeiding beteken. Skeiding van God. En juis daarom pleit hy voor God: “Moet my tog nie van U wegdryf en U Heilige Gees van my af wegneem nie!” (Ps 51:9).

So werp hy hom op die genade en barmhartigheid van God. En vlug hy nie met sy sonde weg van God af (soos ons dikwels maak nie), maar juis na God toe. “Neem my sonde weg”, pleit hy, “dat ek rein kan wees, was my dat ek witter as sneeu kan wees” (Ps 51:9).

Vir sonde dus, broers en susters, is daar geen kitsoplossing nie. Alleen ‘n kruisoplossing. God moes sy eie Seun gee. Op Golgota is ons sonde op sy rekening geskryf. Só volledig was sy offer aan die kruis dat Hy as ‘t ware vir ons gesê het: Toemaar, dit alles is My skuld. Jou skuld, jou sonde, die vlekke in jou hart en lewe – dit is alles My skuld. Ja, op Golgota het almal die vinger na Hom gewys en gesê: “U is die man!”

Nou wil ek vanoggend beweer, broers en susters, dat iemand wat iets hiervan verstaan, dat iemand wat al werklik só vergifnis ontvang het, nie anders kan om ten minste twee dinge te doen nie.

Eerstens: wie al só vergifnis ontvang het, sal nie anders kan as om dankbaar en gehoorsaam voor God te gaan leef nie.

En, tweedens, wie al só vergifnis ontvang het, en beleef het hoe bevrydend dit is, sal nie anders kan as om ook te gaan vergewe nie.

Die vraag aan ons almal behoort dus vanoggend te wees: Indien ons nie die behoefte het om van harte dankbaar voor God te leef nie, indien ons nie die intense behoefte het om ander ook te gaan vergewe nie, waar lê die kortsluiting? Is dit omdat ons meen ons nie werklik sonde het nie, is dit omdat ons nog altyd maar net spyt was oor ons sonde en nog nooit ware berou oor ons sonde gehad het nie, is dit omdat ons meesters geword het van die uitdink van kitsoplossings, is dit omdat ons meen sonde teen ander nie ook – en in wese – sonde teen God is nie, of is dit omdat ons God in Christus nie persoonlik ken nie?
Amen