1 Johannes 4:7-12

Waar is vergifnis oral nodig?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus

Ons gaan vanaand prakties oor vergifnis praat. Maar voor ons daarby kom, die volgende belangrike opmerkings ten opsigte van vergifnis soos dit in die Woord ons aangebied word:

  • Van die heel begin af, so vroeg as Adam en Eva, is dit vergifnis wat die verskil gemaak het, wat gemaak het — en nou nog maak — dat God ons nie verlaat of verwerp nie;
  • God vergewe uit genade, met ander woorde, God gee vergifnis sonder dat die ontvanger iets daarvan verdien.  Vergifnis en genade gaan dus hand aan hand;
  • Genade, op sy beurt weer, word ons toegedeel omdat God ons liefhet, so lief dat Hy sy Seun gestuur het, sy Seun wat aan die kruis gesê het: vergeef hulle;
  • Dus: vergifnis, genade en liefde gaan hand aan hand; dit werk saam, nie een kan werk sonder die ander drie nie;
  • daar is krag in vergifnis.  Dit verander mense se lewens radikaal.  Dit skep nuwe lewensmoontlikhede wat daar nooit was nie;
  • omdat ons op hierdie wyse deur God vergewe het, ons die opdrag het (nie die keuse nie, maar die opdrag), om ander te vergewe soos God ons te vergewe.  Om aan ander, soos God aan ons, nuwe lewensmoontlikhede te skep;
  • ten slotte gebeur dit dikwels dat ons nie kans sien om ander te vergewe nie.  Daar kan baie redes voor wees, maar een van die redes is dikwels dat ons reken dat ons eintlik nie so sleg is nie, en daarom nie vergifnis nodig het nie, en daarom reken ander nie ons vergifnis nodig het nie.
  • Vergifnis begin daarom altyd by ‘n mens self, dit begin by selfontdekking.  Dit begin by die besef dat jy vergifnis nodig het.  Wanneer dit gebeur leer ons nie alleen om onsself te vergewe nie, maar om dieselfde aan ander te doen.

Vanaand, broers en susters, gaan ons baie prakties oor vergifnis dink.  Feit van die saak is, is dat ons die hele dag tussen mense is.  Oral waar ons woon, werk en gaan is daar mense, mense met wie ons oor die weg moet kom.  Gewoonlik gaan dit nie sleg nie, maar soms is daar tog ernstige verskille van opinie tussen mense.  Veral as ‘n mens baie by dieselfde mense kom, soos by jou gesin en werk, kan daar ernstige verskille kom.  Of ons tree soms so op dat wat ons doen, hoe goed bedoeld dit ook al mag wees, ander mense seermaak.  As ‘n mens hierdie sake nie reg hanteer nie, kan verhoudings ernstige probleme optel.  Daarom moet ‘n mens altyd, by wyse van spreke, die noodhulpsak vol vergifnis altyd byderhand hou om daaruit vergifnis te haal wanneer dit nodig is.

Ek wil vanaand, broers en susters, aan twee verhoudings waarin die meeste van ons staan en waarin vergifnis dikwels die nodigste is, aandag gee.  Die twee verhoudings is ons huweliksverhoudings en ons verhouding met ons kinders.

Kom ons kyk eerste na vergifnis in die huwelik.  Trou, het die ou mense gesê, is nie perdekoop nie, want van ‘n perd kan ‘n mens maklik ontslae raak.  Maar nie van ‘n huweliksmaat nie.  Juis omdat ‘n mens, die dag toe jy getrou het, voor God ‘n belofte van trou teenoor mekaar afgelê het.

Om vir ewig saam met iemand te woon, broers en susters, is nie altyd maklik nie.  Twee mense wat trou is twee individue met verskillende belange wat nou een word.  Dit is nou nie meer my lewe, my besluite of my sitkamer nie, maar ons lewe, ons belange, ons huis, ons sitkamer.  Jy kan nou nie meer doen en besluit net soos jy wil nie, want daar is ook ‘n ander een om aan te dink en te respekteer.  Getroudes ken dit baie goed, want dit is dikwels die oorsake van feitlik al ons verskille in die huwelik.  Verder: omdat jou huweliksmaat die een is met wie jy die meeste tyd deurbring, is dit juis die terrein van die lewe waar die noodhulpsak van vergifnis die volste en byderhandste moet wees.

In ‘n mens se huwelik, broers en susters, het dit baie, feitlik alles, met jou ingesteldheid te doen hoe dikwels jy bereid is om groot dosisse vergifnis uit jou noodhulpsak te haal.  En kom ek verduidelik wat ek hiermee bedoel.

Op ‘n keer het ‘n nuwe intrekker vir sy buurman gevra hoeveel mense by hulle in die huis bly.  Die buurman se antwoord was ‘vier’, waarop die intrekker gesê het dat hy net twee mense in en uit die huis sien gaan.  Waarop die buurman op sy beurt soos volg geantwoord het:  Jy sien, in ons bly daar ‘n koning en dienskneg, en ‘n koningin en ‘n diensmeisie.  Daar bly ‘n dienskneg, want dit is die manier waarop hy sy vrou hanteer.  En daarom is daar ‘n koningin, want dit is hoe sy voel wanneer haar man haar so dien.  Dieselfde geld vir die diensmeisie: sy dien die man so dat hy soos ‘n koning voel.  Hulle albei staan mekaar by en dra mekaar op die hande, en doen vir mekaar wat hulle kan.

Dus: om ‘n koning en koningin in die huis te kan hê, moet daar ‘n dienskneg en ‘n diensmeisie wees.  Dit is die geheim van die huwelik.  Want as dit nie so is nie, is al wat oorbly twee opponente wat geforseerd word om elke dag die lewenspad saam te stap.  En dit voorspel nooit iets goeds nie.

Vergifnis in ‘n gesonde huwelik, broers en susters, is altyd ook nodig.  Maar dit kom gewoonlik maklik.  Wanneer ‘n huwelik te veel vergifnis nodig het, is dit nie goed nie, want dit beteken dat die huweliksmaats nie op ‘n gesonde basis met die regte gesindheid teenoor mekaar saamleef nie.

Daarom die vraag: hoe lyk u en my huwelik?  Hoop ons dat ‘n oorvloed van dosisse vergifnis ons huwelik aan die gang sal hou, of is ons bereid om so vir mekaar te leef — as dienskneg en diensmeisie — dat daar eintlik net ‘n koning en koningin in ons huwelik leef?

Dieselfde geld vir ons verhouding met ons kinders.  Partykeer, broers en susters, kry ‘n mens kinders regtig jammer vir die ouers wat hulle het.  En ek dink nou spesifiek aan ouers wat in hulle kinderdae nie alles kon gekry of bereik het wat hulle wou nie.  Hulle het ‘n hele klomp onvervulde ideale, en wou so graag presteer toe hulle klein was.  Maar ongelukkig kon hulle nie.  Maar nou het hulle kinders wat dit kan doen.

Daarom druk hulle hulle kinders, en soms so erg dat hulle kinders nie meer tyd het om kinders te wees nie.  Want die kinders moet presteer, anders het pa en ma nie iets om oor te spog nie.

Vergifnis het hier te make met die houding dat ons ons kinders sal toelaat om te wees wat hulle is, elkeen met sy eie besondere vermoëns en talente wat die Here hulle gegee het.  Wat meer is, omdat ons kinders nog baie het om te leer en nog moet grootword, al hulle baie foute hê en nog maak.  Juis hier moet ons bereid wees om te vergewe, saam met regte leiding en belangstelling.  Vergifnis beteken nie dat ek maar net vergewe en my gesig van my kind se foute wegdraai nie.  Want dan is vergifnis en verstoot eintlik dieselfde.  ‘n Mens beskerm nie jou kind deur maar net sy foute mis te kyk nie.  Nee.  Vergifnis en die regte leiding en belangstelling gaan, wat betref ‘n mens se kinders, altyd hand aan hand.

Ek wil afsluit.  Genade, liefde en vergifnis, het ons gesien, gaan altyd hand aan hand.  Iemand wat ander liefhet sal vergewe, sal vergifnis uitdeel.  Iemand kan nie vergewe as hy nie ander liefhet nie, nie ‘n genadige mens is nie.  En niemand sal genadig wee en vergewe, as hy/sy nie weet en ervaar dat God hom/haar liefhet nie.

Daarom juis die gedeelte van vanaand.  God is liefde, sê Johannes.  Daarom vergewe Hy, het ons gesien.  Ons wat vergewe, het lief, en daarom ken ons God.  Een ding bly egter staan soos ‘n paal bo water, een ding is daar waarby ons nie kan verbykom nie: om lief te hê, om te vergewe, is nie maar net ‘n opsie nie, dit is ‘n opdrag.  Vers 11 sê dit baie duidelik.

En wanneer dit gebeur, wanneer ons liefhet en vergewe, eers dan, sê vers 12, het God sy doel met ons volkome bereik.  Kom ons werk vir hierdie doel.  Ns ons sien raak hoe lief God ons het, en kom ons deel sy liefde en vergifnis uit.
Amen