Matteus 18:15-18; 21-35

Wanneer daar nie meer vergifnis is nie



Broers en susters in onse Here Jesus Christus

Die gevaar is altyd daar dat mense God se vergifnis goedkoop kan maak.  Want God is mos ‘n God van liefde en genade, en daarom kan ek maar aangaan soos ek wil en lewe soos ek wil, en God moet maar net vergewe.  Dit is mos sy werk.  Hy moet mos vergewe, want Hy is mos ‘n God van liefde.

Dieselfde, broers en susters, geld ook vir mense.  Veral mense wat nie regtig Christene is nie, ken hierdie storie goed.  Hulle sal baie gou vir Christene laat verstaan dat Christene maar moet vergewe.  Hulle is mos Christene, en daarom moet hulle maar net vergewe en bly vergewe.

Dit is egter, broers en susters, nie hoe dit werk nie.  Want vergifnis, broers en susters, het grense.  Daar is ‘n punt waar vergifnis nie meer verwag kan word of gegee moet word nie.  Want vergifnis het grense wat, as iemand oor daardie grense gaan, so iemand homself in ‘n land bevind waar vergifnis opgedroog het.  En kom ek verduidelik.

In ons gelese gedeelte, broers en susters, sien ons dat Petrus, terwyl Jesus met sy dissipels praat oor vergifnis, van Jesus wil weet hoe ver vergifnis moet gaan.  Let wel, Petrus vra die vraag omdat hy goed wil wees, omdat hy regtig wil vergewe.  Hy dog verder dat hy die Here sal beïndruk deur selfs ‘n ruim voorstel in hierdie verband te maak: wat van sewe keer, vra hy?  En nou weet ons mos dat sewe die (simboliese) getal is wat op volheid dui.  Dus, Petrus bedoel dat ‘n mens so ver moet gaan as wat jy menslik moontlik kan gaan.  Jy moet alles insit wanneer dit by vergifnis kom.

Jesus se antwoord, broers en susters, druk vergifnis egter oor alle grense.  Nee, Petrus, sê Hy, nie sewe keer nie, maar sewentig maal sewe keer.  Met ander woorde: die eindpunt van vergifnis kan ‘n mens nie sien nie.  Dit gaan net aan en aan.  Jy moet ander vergewe sonder om te begin wonder of jy nou aan die einde van die pad gekom het.

Maar kan dit regtig wees wat God van ons vra, broers en susters?  Is dit moontlik om alle mense, in alle omstandighede, so te vergewe en te bly vergewe?  Met ander woorde: het vergifnis regtig nie grense nie?  Die antwoord op hierdie vraag, broers en susters, is ‘n dubbel antwoord, ‘n antwoord wat sê: ja-nee.  Vergifnis het nie grense nie, maar dit het tog ook grense.  En kom ek verduidelik.

Vergifnis, broers en susters, het nie grense nie, wanneer die een wat vergewe word werklik die vergifnis ontvang en sy deel doen.  Maar vergifnis het wel ook grense, wanneer die een wat vergewe word, op daardie vergifnis trap.

Vergifnis, broers en susters, is en kan nooit bedoel wees om olie op die vuur te wees vir iemand wat aanhou verkeerd doen nie.  Iemand kan nie maar net aanhou om te doen wat verkeerd is of wat hy/sy wil en dag verwag dat hy/sy vergewe moet word nie.  Nee.  Vergifnis behoort iets te doen aan die een wat vergewe word.  Dit wys vir so iemand dat hy/sy ‘n kans kry om ‘n nuwe pad te loop.

Dit wys vir iemand dat daar aanvaarding (en vergifnis) is indien hy/sy bereid is om binne die grense van daardie aanvaarding te leef.  Iets wat ons pragtig sien in die gelykenis wat ons vanaand saamgelees het.

Die koning was bereid om sy amptenaar te vergewe vir alles wat hy verkeerd gedoen het.  Hy het miljoene geskuld, maar dit is hom alles kwytgeskeld.  Daar het vergifnis nie grense geken nie.

Maar toe die vergewe amptenaar gaan en baie duidelik wys dat die vergifnis niks aan hom gedoen het nie, dat hy sommer sy skuldenaar in die tronk wil laat gooi, het hy self die grense van vergifnis vir homself getrek.  Daarom het die koning hom laat roep en hom in tronk laat gooi.  Nie omdat hy nie skuld kon betaal nie (nee, dit was lankal reeds vergewe), maar omdat hy nie self wou vergewe nie.

God se vergifnis het hom koud gelaat en dit het hom by die grens van God se vergifnis laat kom.  En die groot ironie van die saak is dat hy self daardie grens getrek het.

Kom ons sê dit anders: vergifnis het grense, en die persoon wat vergewe word, trek gewoonlik daardie grense.  Om vergifnis te kan ontvang, moet jy ook bereid wees om om vergif nis te vra, soos die koning se amptenaar.  Hy wou vergewe word, daarom het hy as ‘t ware gesmeek om vergifnis.  En omdat hy gevra het, het hy dit gekry.

Omdat hy daarvoor gevra het, en dit gekry het, het dit op hom ‘n verantwoordelikheid gelê wat hy moes aanvaar.  Wat hy ontvang het, moes hy gaan lewe.  Hy moes dus in ‘n sekere sin wys dat hy die vergifnis ‘werd’ was deur dit te gaan leef.  Of nog anders gesê: as jy nie bereid is om iets te doen aan die dinge waarvoor jy om vergifnis vra nie, moet jy ook nie vergifnis verwag nie.  Want om vergifnis te kan ontvang, moet jy daarvoor vra, en as jy daarvoor vra moet jy iets doen aan die ding waarvoor jy vergifnis vra.

Dit verduidelik Matteus ons baie pragtig in Matteus 18:15-18.  Daar vra Matteus die gemeente dat hulle eers baie mooi moet gaan praat met ‘n gemeentelid wat op die verkeerde pad is.  As al die gesprekke egter nie help nie, droog die vergifnis op.  As die persoon wou luister en bereid was tot inkeer, was die vergifnis daar.  Maar nou nie.  Want hy wil nie tot inkeer kom nie.

Vergifnis, broers en susters, maak nie mense papperds nie. Vergifnis maak Christene nie tekens van uitbuiting nie.  Vergifnis wil verhoudings herstel: daar waar inkeer is, gevra word vir vergifnis, vergifnis gegee word en lewens dan verander.

Dit is dan ook hoe ons Jesus se ‘sewentig maal sewe’ moet verstaan.  Dit beteken dat ons oral  en altyd moet vergewe waar vergifnis werklik vergifnis kan wees.  Daar waar inkeer is, om vergifnis gepleit word, daar waar mense as ‘t ware die vergifnis ‘werd’ is.

Daar waar die vrug van vergifnis met dankbaarheid geëet word, het iemand eendag gesê, mag ‘n mens nooit ophou om vergifnis te gee nie.
Amen