Matteus 12:22-31; 1 Johannes 5:14-17

Wanneer God se vergifnis ophou



Broers en susters in onse Here Jesus Christus

Tydens 'n vorige geleentheid rondom die tema vergifnis het ons gehandel oor die vraag of daar ‘n einde kan kom aan vergifnis wat een mens aan ander moet gee.  Ons antwoord was ‘n ja-nee antwoord.

Vergifnis het nie grense nie, het ons gesien, wanneer die een wat verkeerd gedoen het om vergifnis vra, vergewe word en dan aan daardie sake waarvoor hy/sy vergifnis gevra het, iets gaan doen.

Vergifnis het egter wel ook grense, wanneer die een wat vergewe word, op daardie vergifnis trap.  Iemand kan nie maar net aanhou om te doen wat verkeerd is of wat hy/sy wil en dag verwag dat hy/sy vergewe moet word nie.  Nee.  Vergifnis behoort iets te doen aan die een wat vergewe word.  Dit wys vir so iemand dat hy/sy ‘n kans kry om ‘n nuwe pad te loop.

Kom ons sê dit anders: vergifnis het grense, en die persoon wat vergewe word, trek gewoonlik daardie grense.  Om vergifnis te kan ontvang, moet jy ook bereid wees om om vergifnis te vra.  Wanneer iemand om vergifnis vra, en dit kry, plaas dit op so iemand ‘n verantwoordelikheid om nou anders te gaan lewe.  Iemand wat om vergifnis vra moet dus in ‘n sekere sin wys dat hy die vergifnis ‘werd’ was deur dit te gaan leef.

Of nog anders gesê: as jy nie bereid is om iets te gaan doen aan die dinge waarvoor jy om vergifnis vra nie (nou anders te gaan lewe nie), moet jy ook nie vergifnis verwag nie.

Maar wat van God, broers en susters?  Kan God se vergifnis opraak?  Hoe ontstellend dit ook al mag klink, broers en susters, op ten minste twee plekke in die Bybel is die antwoord op hierdie vraag ja.  Ja, God se vergifnis kan opraak.  Kom ons kyk na hierdie twee gedeeltes wat ons vroeër so pas saamgelees het.

Die eerste gedeelte, Matteus 12:22-31 praat van die sogenaamde sonde teen die Heilige Gees.  In Matteus 12:31 staan daar: ‘Elke sonde en lastering kan die mense vergewe word, maar die lastering teen die Heilige Gees kan nie vergewe word nie’.  En dan kom die moeilike gedeelte: ‘As iemand iets teen die Seun van die mens sê, kan dit hom vergewe word, maar as iemand iets teen die Heilige Gees sê, kan dit hom nie vergewe word nie, nie in hierdie bedeling nie en ook nie in die toekomstige nie’.

Wat wil die Here hier vir ons sê, broers en susters?  Baie mense verstaan dit so: wanneer die Gees ons oor ‘n bepaalde saak in ons lewens aanspreek, en ons gee nie gehoor aan die roepstem van die Gees nie, en ons gaan doodeenvoudig aan om verkeerd te doen, te doen dit waarteen die Gees ons gewaarsku het, dan het ons teen die Gees gesondig, en dit sal jou nooit vergewe kan word nie.  Indien hierdie die regte interpretasie van die gedeelte sou wees, broers en susters, sou dit beteken dat ons almal al op ‘n keer hieraan skuldig sou wees.  Want wie van ons het tog nie al, teen ons beterwete en teen die leiding van die Gees in, verkeerd opgetree en verkeerd gedoen nie.

Gelukkig, broers en susters, wil ek amper sê, is dit nie wat hierdie gedeelte wil sê wat sonde teen die Heilige Gees beteken nie.  Wat wil die gedeelte sê?

In die gedeelte sien ons hoe die ongelowige Fariseërs toekyk hoe Jesus duiwels uit mense dryf.  En daar is eintlik geen ander manier waarop ‘n mens hierdie wonderwerke van Jesus kan verstaan as dat God se teenwoordigheid vir hierdie duiwels eenvoudig te veel was nie.

Maar die Fariseërs het ‘n ander storie.  Jesus sê hulle, kom van die duiwel af, daarom luister die duiwels vir Hom.  Jesus se antwoord dat geen leërmag teen homself kan veg nie, wys hoe absurd die Fariseërs se siening is.  Hulle wil maar net nie glo en aanvaar dat Jesus van God af kom nie.  Want as hulle sou, sou hulle moes erken dat hulle siening van redding deur goeie werke van die tafel gevee is.

Daarom soek hulle allerhande verskonings.  Waar God se krag werk, sien hulle die duiwel.  Waar God se Heilige Gees mense red, daar sien hulle manifestasies van die duiwel.  En van die duiwel moet jy wegbly, jy moet hom beveg, en juis daarom sal hulle die werk van die Heilige Gees beveg met alles wat hulle het.

Wat is die implikasies van so ‘n siening?  As jy die Heilige Gees duiwel noem, sal jy nooit naby God kom of kan kom nie.  Jy sal die hele tyd God se Gees, en die werking van sy Gees misken.  Feitlik reguit in die arms van die duiwel in.  Dit is dan wat hierdie sonde teen die Heilige Gees beteken: om die Gees as die duiwel te sien en Hom die duiwel te noem.  Wat beteken dat jy van hierdie ‘duiwel’ (die Gees) sal wegvlug, en so nooit by God sal uitkom nie.

Hoe sal God dan kan vergewe, broers en susters?  Jy sal nie God se kind wees nie, jy sal nie raaksien dat jy sonde in jou lewe het, jy sal nie deur die Gees gelei word om dit te bely nie.  Want jy vlug die hele tyd van God af weg.  Jy sal nooit by God uitkom, om deur die werking van sy Gees, en deur die eie maak van Jesus se kruisdood, God se kind kan word nie.  En wie nie God se kind is nie, sterf onvergewe as kind van die wêreld.

Maar wat dan van die sonde teen die Seun wat vergewe sal word?  Hierdie sonde verwys natuurlik na Jesus se kruisdood, die feit dat Jesus deur die toedoen van mense aan ‘n kruis onskuldig moes hang, dat hulle Hom selfs gespot het aan daardie kruis.  Dit sal vergewe word, want Jesus het juis vir hulle gesterf.  Maar wie sê dat die werking van God deur sy Gees die werking van die duiwel is, sal nooit by God kan uitkom nie, sal nooit God se kind kan wees nie.  En sal, onvergewe, sonder God sterf.

Die tweede sonde wat nie vergewe sal word nie, is die sogenaanmde sonde wat na die dood lei.  1 Johannes 5:16 beskryf hierdie sonde so: ‘As iemand sy broer sonde sien doen wat nie na die dood lei nie, moet hy bid en God sal die broer die ewige lewe gee.  Daar is [egter] sonde wat tot die dood lei; daarvoor sê ek nie dat hy moet bid nie’.  Wat is hierdie sonde wat tot die dood lei, en wat as ‘n mens dit doen?

In 1 Johannes word daar op verskeie plekke van sonde gepraat.  Die woord sonde het op al hierdie plekke egter nie dieselfde betekenis nie.  In 1 Johannes 1:8 praat Johannes byvoorbeeld van sonde in die sin van om ‘n fout te maak of om in ‘n spesifieke geval ongehoorsaam aan God te wees.  Hierdie soort sonde, sê 1 Johannes 1:9, moet ‘n mens bely, en God sal jou vergewe.  Om foute te maak is dus ooglopende nie sonde wat tot die dood kan lei nie.

In 1 Johannes 3:9 word daar weer gesê dat ‘n kind van God nie kan sondig nie.  En kom ek gebruik ‘n voorbeeld om te verduidelik wat Johannes hier bedoel.  ‘n Rugbyspeler sal nie op die veld draf met die idee dat hy alles in sy vermoë gaan doen om die ander span te bevoordeel en te laat wen nie.  Nee, hy sal voluit vir sy eie span speel.  So is dit ook met die Christen.  Hy is in die span van God.  Hy sal daarom alles in die stryd werp om vir God te leef.  Hy sal nie allerhande gedagtes koester om die boosheid in die wêreld te bevorder nie.  Daarom kan ‘n kind van God eintlik nie sondig nie.  Sonde in hierdie sin beteken dus om die hele tyd vir ‘n ander span te speel en nie meer lojaal te wees teenoor jou eie span nie.  So kan ‘n Christen nie leef nie.  Want om kind van God te wees, beteken juis om soos Jesus te leef.  Dit moet jou ingesteldheid en lewe bepaal.

Dit bring ons by die sonde wat na die dood lei waarteen 1 Johannes 5:16 dit het.  In 1 Johannes 2:18-20 lees ons van ‘n aantal lidmate van die gemeente wat hulle goed gevat en geloop het.  Hulle was nie meer deel van die gemeente nie, en het waarskynlik ‘n ander gemeente gaan stig.  Verder het hulle heel waarskynlik hulleself nog Christene genoem, maar 1 Johannes 2:18 sê hulle was nie meer Christene nie, maar antichriste, wat beteken het dat hulle teen Christus gedraai het.

En nou weet ons mos, broers en susters, dat daar sonder Christus geen redding vir enige mens is nie.  Met ander woorde, omdat hierdie mense hulle rug op Christus gedraai het, en so van Hom af weggestap het, het hulle gekies om reguit na die verlorenheid en die dood te stap.  Om jou rug op God te draai, in die sin dat jy nie meer wil glo dat daar alleen in Hom redding te vind is nie, is ‘n doodsonde.  En dit is waarteen Johannes hier waarsku.

Die sonde wat na die dood lei is die sonde om te dink dat jy sonder God en Jesus in hierdie lewe, maar veral in die lewe hierna, oor die weg sal kom.  So ‘n fout sal jou jou lewe, en jou die ewige lewe, kos.

Dus: weer eens hoor ons in albei hierdie tekste die duidelike boodskap van die evangelie van Jesus Christus: naby aan Jesus, daar waar die Gees in jou leef, daar is jy naby aan vergifnis.  Ver van Jesus af, daar is jy ver van redding af, en sonder God en Jesus, daar is jy sonder redding.  Daar stap jy in die kloue van die ewige dood is.  En hierdie sondes kan jou nie vergewe word nie, want God in Christus is nie daar om vergifnis uit te kan deel nie.

Mag dit nooit in ons lewens gebeur nie.
Amen