Matteus 18:21-35

Wie is ons?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Twee Sondae terug, in die konsistoriegebed voor die erediens, het die betrokke ouderling sy gebed begin deur dankie te sê vir die feit dat ons as gemeenskap van gelowiges dié oggend so saam in die erediens kan wees.

Hierdie gebed het my aan die dink gesit. Wie is hierdie ‘ons’ waarna daar in die gebed verwys is? Wie of wat is die gemeenskap van die gelowiges? Ek wil vanoggend begin deur oor hierdie vraag so bietjie saam met u te dink.

Hierdie ons kan in die eerste plek na die kerk verwys, die ‘een, heilige, algemene Christelike kerk’ waarna die Apostolicum verwys. Of dit kan verwys na ons wat deel is van die Hervormde Kerk. ‘n Bietjie nader kan hierdie ons natuurlik verwys na ons gemeente, naamlik dat ons lidmate van gemeente (naam).

Nog nader beskryf, broers en susters, en baie belangriker, verwys hierdie ons na ons, ons elkeen wat vanoggend hier sit. Ons, wat nie een dieselfde is nie. Maar ook ons, wat een saak betref, almal dieselfde is. Naamlik, dat ons almal stukkende, gebroke en gewonde mense is.

Wat bedoel ek hiermee? Eenvoudig dit: wie van ons vanoggend hier, broers en susters, het nie al, of loop dalk nie tans met een of ander pyn in die hart nie? Wie van ons kan sê dat die lewe ons nog nooit verniel het nie. En wie van ons het nie miskien op ‘n keer deur keuses of besluite onsself dalk so bietjie verniel nie?

Daarom: die kerk, hierdie gemeente, ons, ja ons, is mense wat heling nodig het. Ons, as gemeente, bestaan uit sondaars, sondaars wat daar moet wees vir ander sondaars. Of anders gesê: die kerk, en daarom ook ons gemeente, is veronderstel om ‘n gemeenskap te wees waar gewonde mense saamkom om mekaar se wonde te verbind — ‘n helende gemeenskap vir gebrokenes. Sondaars wat daar is vir ander sondaars.

Nou is dit ongelukkig so, broers en susters, dat al hoe meer mense die kerk verlaat. En van die redes wat hulle gee? Hulle ervaar die kerk nie so nie. Die kerk, sê hulle, weet nie wat vergifnis beteken nie, in die kerk gee niemand regtig vir mekaar om nie. In die kerk is daar nie ruimte vir anders wees nie, in die kerk is daar nie ruimte vir kritiek nie, in die kerk moet jy maar net inval by alles, en jou mond hou. Daarom, sê hulle, as hulle aan die kerk dink, dink hulle nie aan daardie kere toe die kerk hulle opgetel en hulle wonde verbind nie, maar hulle voel eerder, as hulle aan die kerk dink, asof daar met ‘n draadborsel oor hulle harte en wonde gekrap word.

‘n Mens sou lank, broers en susters, oor hierdie sake kon praat. Maar, ter wille van die argument, kom ons los dit vanoggend daar. Kom ons aanvaar dat die kerk, ons, nie altyd is wat ons behoort te wees nie, nie altyd optree soos ons behoort nie, en soms miskien wel, toe ons mens moes optel en wonde moes verbind, wonde net vererger het.

Hoe het ons dit gedoen? Dalk was ons medelye te min, dalk was die gesindheid van Christus, wat in ons moet wees, nie ons gesindheid nie, dalk het ons nie in ‘n gees van sagmoedigheid ander reggehelp nie, dalk het ons ander se andersheid nie genoeg erken nie. Maar bo alles, dalk het ons nie met ander gedoen soos God met ons doen nie. Met ander gemaak soos God met ons maak nie.

Hoe maak God met ons? Dit leer Jesus ons in die eerste gedeelte van die gelykenis wat ons saamgelees het. Daar was ‘n man wie se lewe by ‘n punt gekom het waar alles stukkend was. Sy skuld was groot, onbetaalbaar groot. Hy het niks anders as straf verdien nie. Dit was met hom verby. En ook die van sy gesin. Hulle sou verkoop word om deel van die skuld te betaal.

Maar dan, vertel Jesus, wys God hoekom Hy liefde is. Sy innige jammerte vir elkeen van sy kindertjies neem oor. En Hy skryf al die skuld af. Hy verbind die wonde, Hy maak heel wat stukkend is. En natuurlik, so gee Hy nuwe lewe!

Dan sien ons egter, broers en susters, dat die mooi verhaal wat Jesus vertel, lelik word. Daar is ongelukkig mense, impliseer Jesus hier, wat genade ontvang het, soos hierdie man, wat daardie genade van God nie verstaan nie. Daar is ongelukkig, sê Jesus, begenadigdes wat nie genade wat hulle ontvang het, verstaan nie. Hulle wil genade ontvang, maar wil dit nie uitdeel nie. Ten minste nie in dieselfde maat as wat hulle dit ontvang het nie.

Want daar is diegene wat ander beskinder oor wat ook al, al het hulle lankal reeds hulle sonde bely en berou daaroor uitgespreek. En daar is die wat so maklik vergeet dat God hulle al soveel kere vergewe het. Hulle skenk nie maklik vergifnis nie, al het God die ander persoon lankal reeds vergewe. Hulle dra ‘n wrok in hulle hart, terwyl God dit nie doen nie.

Kan ons, broers en susters, as ons miskien soms so maak, roem op Golgota, dié teken van God se genade in ons lewe, as ons optrede dit weerspreek? Dit is wat Jesus hier wil sê. Dit help nie ons sing van God se vergifnis en bevryding in ons lewe, maar hierdie hoop, gesondmaking en bevryding deel ons nie met ander nie. Dit, terwyl die kerk, die gemeente, ons wat God se mense is, tog diegene is wat met uitnemendheid kan getuig van God se onvoorwaardelike en onbeperkte vergifnis en genade.

Dit is tog die kerk, broers en susters, dit is tog ons, wat daarvan kan getuig dat God ons uit die modderige slyk van ons sondige bestaan tot sy bruid, tot ‘n koningin, verhef het. En juis daarom behoort ons optrede ‘n spieëlbeeld te wees van dit alles wat ons van God ontvang het.

Dit is jammer, impliseer Jesus in die laaste gedeelte van sy kort storie, dat dit tog soms gebeur. Maar dit is ook baie gevaarlik, wil Jesus hier sê. God vergewe nie ons sonde omdat ons ander vergewe nie. Nee, Hy vergewe onvoorwaardelik. Maar wat kan gebeur is dat ons gebrek aan liefde, genade en vergifnis ‘n streep deur ons eie vergifnis kan trek.

En hierdie saak, broers en susters, is vir God so ernstig, vertel Jesus in hierdie laaste gedeelte van sy kort storie, dat dit God se innige jammerte vir mense laat oorgaan in woede. Daarom, net soos aan die einde van die Onse Vader-gebed in Matteus 5:14-15, sluit Jesus hierdie kort storie met ‘n ernstige appél af: so sal my Vader wat in die hemel is, ook met julle maak as elkeen sy broer nie van harte vergewe nie! Harde woorde. Ernstige woorde.

Wat vra die Here van sy kerk, broers en susters? Wat vra die Here van die gemeenskap van die gelowiges? Wat vra God van ons? Kom ek probeer ten slotte hierdie vrae antwoord deur ‘n paar stellings. Wat God van ons vra, as sy mense, as sy kerk, as sy gemeente, as sy kinders wat roem oor die gebeure op Golgota, is:

  • Ons moet leer om meer lief te hê, meer te vergewe en minder te onthou;
  • Ons moet onthou dat die kerk nie bestaan vir onsself nie, maar vir die wêreld;
  • Ons moet vir ander kan sê: ek aanvaar jou en is lief vir jou soos jy is;
  • Ons moet weer hoor dat mense wat mekaar nie kan vergewe nie, nie werklik vir mekaar omgee nie;
  • Ons moet hoor dat die kerk wat nie wil aanvaar dat die kerk uit sondaars vir sondaars bestaan nie, hard, eiegeregtig en onmenslik word;
  • Ons moet weer besef dat omdat Christus Homself weggegee het vir mense, die mense in die kerk hulself vir mekaar moet prys gee ter wille van die evangelie wat ons almal saam glo; en
  • Ons moet die feit dat ons Reformatories is — dus met die leuse ‘altyd terug na die Skrif’ — sigbaar moet maak in hoe ons mekaar vergewe.

Alleen so, broers en susters, sal ons die kerk van die Here wees. Gemeente van die Here wees. ‘n Liefdesgemeenskap, omdat dit die gemeente van die Here is, wat mekaar opsoek, mekaar vashou en mekaar nooit sal wil verloor nie!

Volgende week, broers en susters, gaan ons in die kerkbanke sit met ‘n voorbereide tafel voor ons. Ek hoop dat almal van ons, wanneer dit ons beurt is, gaan opstaan uit ons sitplek om aan die tafel van ons Here te kom aansit. Daarmee gaan ons sê: ek kan nie bly sit as die Here my nooi na sy tafel, na sy versoening, na sy vergifnis, na sy genade nie. Dit is vir my net nie moontlik nie. Want daarsonder kan ek nie.

Maar wanneer ons kom aansit, broers en susters, kom ons kyk vir ‘n slag na hulle wat saam met ons aansit, en na die ander saam met ons in hierdie kerkgebou. Hulle is deur God aan ons gegee, aan ons gegee om aan hulle te gee dit wat God ons aan sy tafel aan ons gee.

Mag ons hierdie opdrag nooit so uitvoer dat hulle wat eers binne was, eens op ‘n tyd hier saam met ons was maar nou buite staan, sal sê: nee dankie. Want toe ek stukkend was, toe ek gebroke was, toe ek julle nodig gehad het, was julle nie bereid om dit wat julle aan hierdie tafel ontvang het, in oorvloed, met ander te deel nie.

Die kerk is daar om God te dien. Die kerk is daar vir sondaars. Die kerk is daar vir God se kinders. Vir God se kinders om mekaar op te soek, vas te hou, en mekaar nooit te verloor nie!

Is dit wie hierdie ‘ons’ is wat elke Sondag in hierdie kerkgebou saamkom?
Amen