Genesis 6:1-4

Die mens se soeke na die ewige lewe



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Die gedeelte wat ons saamgelees het, is inderdaad 'n baie moeilike en problematiese gedeelte. In die eerste plek, dit praat van hemelwesens, mense in die hemel wat ons nie kan sien nie en daarom nie weet wie of wat hulle is nie. Tweedens sê die gedeelte dat die hemelwesens na die aarde gekom het (ook vir ons vreemd), en met vrouens op die aarde getrou het. En derdens, kinders wat uit hierdie verhoudings gebore is, was so groot soos reuse. Dus, inderdaad 'n vreemde gedeelte. Om eerlik te wees, ek het dikwels al gedink dat hierdie gedeelte nie veel verskil van die sprokies wat ek soms vir my kinders lees nie.

Maar nou is dit so, broers en susters, dat hierdie verhaal nie maar net in 'n storieboek staan nie, maar in die Bybel. En wat meer is, die verteller van hierdie verhaal vertel ons dat ook God deel van die gebeure is, ten minste in die opsig dat wat in die verhaal gebeur, by God 'n bepaalde reaksie na vore bring. En juis daarom kan 'n mens dit nie maar net een kant toe skuif nie, en bly die vraag voor ons opduik: maar wat wou die verteller van die Genesisboek vir ons hier sê? Hoe moet ons die gedeelte verstaan?

Ek wil, vanaand, broers en susters, 'n poging aanwend om aan u 'n moontlike verklaring van die gedeelte te gee. 'n Verklaring waarmee u dalk sal of kan verskil, 'n verklaring waaroor ons gerus met mekaar kan gesels. 'n Verklaring, broers en susters, wat ek egter ook meen tog verantwoord kan word. Maar kom ons begin.

Voor ons na die gedeelte kyk, broers en susters, wil ek egter aan die begin drie belangrike en noodsaaklike inleidende opmerkings maak wat ek meen waarsonder ons die gedeelte nie sal kan verstaan nie.

In die eerste plek is dit belangrik om te onthou dat die boek Genesis, alhoewel dit heel eerste in die Bybel staan en vertel van die begin van die hemel en aarde, nie die oudste boek in die Bybel is nie. Inteendeel, Genesis (of ten minste sekere gedeeltes daarvan) word gedateer tussen 600 en 500 v C (in die tyd van die ballingskap), met ander woorde, gedurende die tydperk wat die Jode/Israeliete die eerste keer werklik in kontak gekom het met die Persiese, Mediese, Assiriese en Griekse kultuur, filosofieë, godsdienste en ander oortuigings.

Tweedens: ons moet onthou dat ons in die Bybel 'n bepaalde wêreldbeeld kry, met ander woorde, 'n bepaalde verstaan van die wêreld, wat dit is, hoe dit aanmekaargesit is, hoe dit daar uitsien. Kom ek noem 'n paar voorbeelde: volgens die Ou Testament staan die aarde op vier pilare (1 Sam 2), en onder die aarde is daar water en die onderwêreld (Gen 1/2). Bo die aarde vind ons 'n firmament, dan is daar waters bo die firmament, en bo die waters is die hemel (Gen 1/2). Verder het die hemel ook pilare (Ps 104) en tussen die firmament en die waters bo dit is daar vensters/sluise waardeur die reën op die aarde val (Gen 7). Verder kan diere met mense praat (slang/Bileam), en so kan ons aangaan. En nou is die vraag nie of dit alles nou waar is of nie waar is nie, die feit is ons moet raaksien dat in die Bybel ons 'n andersoortige wêreldbeeld het as wat ons vandag huldig.

'n Derde en laaste inleidende opmerking wat by bogenoemde twee aansluit: In die kontak met die Perse, Mede, Assiriërs, Grieke en talle ander volkere het Israel ook kennis gemaak met hulle gode, verhale oor hierdie gode, en ook verhale oor die begin/skepping van die aarde. So is daar byvoorbeeld die baie bekende Assiriese skeppingsverhaal (die sg Enuma Elish), wat in baie opsigte ooreenkom met die skeppingsverhaal in die Bybel, en selfs baie ouer is as dié in die Bybel. Maar daar was ook, vir ons meer belangrik, verhale van gode wat by aardse vroue kinders verwek het, kinders wat bekend gestaan het as godmense, of dan mensgode, of dan reuse. Kom ek noem u 'n paar voorbeelde van hierdie verhale:

Die Ugaritiese god, El, het die twee goeie gode by aardse vroue verwek. Die Griekse god Zeus het Herakles verwek by Alkmene, die vrou van Amfitrio, en vir Perseus by die maagd Danaë. Herakles, word vertel, was reusagtig groot en baie sterk, 'n soort godmens wat byvoorbeeld die hond van die hel, Kerberos, uit die hel oorwin en gaan haal het. Perseus weer was so sterk dat hy die slange-hoof van Medusa gaan haal het en Andromeda van die verskriklike draak gered het. Tipiese manne van naam, reuse van die outyd, manne wat, omdat hulle godmense was, vir ewig lewe, wat nie sal doodgaan nie. Want hulle is of gode, of halfgode, en gode leef mos vir ewig. En, baie belangrik om raak te sien, gode en halfgode/mensgode, wat natuurlik met die God van die Israeliete gekompeteer het. Want vir die Israeliet was daar net een God, die God van Abraham, die God van die verbond, die ware Skeppergod.

Met hierdie as agtergrond, broers en susters, kom die verteller van Genesis nou en vertel hy aan sy mense die verhaal van die skepping van die hemel en die aarde. En in hierdie skeppingsverhaal wil die verteller in die eerste plek een ding baie duidelik stel: God alleen het geskep en is daarom alleen God, en God alleen lewe dus vir ewig.

Verder teken hy vir ons die skeppingsverhaal as 'n verhaal van die mens se opstand teen God. Adam en Eva, vertel Genesis, het in die aller ideaalste omstandighede gelewe. So ideaal dat God selfs in die aandluggie kom wandel het om met hulle te gesels. Hulle was goed geskape, na die beeld van God.

Maar dan gaan die mens en hy steek sy hand uit na die boom van kennis. En God sê dan (Gen 2): as hulle tog nie nou ook die hand uitsteek na die boom van die lewe nie. En om dit te verhoed, beveel God hulle om die tuin te verlaat. Maar die feit is, hierdie oortreding van die mens het die mens die ewige lewe gekos.

En, vertel Genesis ons verder, sedert die dag is die mens op soek na die ewige lewe. Wil die mens soos God word wat nie alleen alles kan ken nie, maar ook vir altyd kan lewe. En doen die mens alles in sy vermoë om die ewige lewe te verkry. Gee die mens nie om wat hy daarvoor moet betaal of met wie hy hom daarvoor inlaat nie.

En, om die toppunt van hierdie menslike strewe, die uiterstes waartoe die mens bereid is om te gaan, te illustreer, gebruik die verteller bogenoemde alombekende verhale van godmense, en hoe die reuse tot stand gekom het. Hoe dat 'n god uit die hemel na die aarde gekom het, en die een of ander vrou op die aarde verlei. En hoe daar uit die verbintenis 'n halfgod-halfmens gebore word: 'n mens, maar tog 'n god. Dus: 'n mens wat vir altyd kan lewe, die ewige lewe het!

Met ander woorde, broers en susters: die sug van die mens na die ewige lewe, die soeke van die mens om dit te bekom, dit is hierop waar die verteller van Genesis sinspeel met sy verhaal oor die gode- en mensevermenging. Die mens, sê Genesis, het hemelbestormers geword. As God hom dan die boom van die lewe ontsê, sal hy self 'n plan maak. Soos ons in Genesis 11 weer lees: die mens wil 'n toring bou om tot by God te kom, om in die hemel te kom, om God te word.

Nou sien ons egter, broers en susters, dat God hierdie opstand van die mens teen Hom, hierdie plan van die mens sien om soos God te wil word, om ewig te wil lewe raaksien en vernietig: die mens is vlees. Vlees sal Hy bly. God sal hy nooit word nie, want sy lewensasem wat hy van God ontvang het sal van hom weggeneem word net 120 jaar lank sal hy voortaan leef. Niks meer nie, sê die verteller van Genesis. En dan val die klem hier nie soseer op die 120 jaar as getal nie, maar op die begrensdheid van die menslike lewe.

Dit dan, meen ek, broers en susters, is 'n manier om hierdie gedeelte te verstaan. Die opstand van die mens teen God het hom die ewige lewe gekos. Die mens wil soos God word, en doen alles in sy vermoë om die ewige lewe terug te kry. Om hierdie strewe van die mens bloot te lê, gebruik die verteller alombekende verhale, soos mense wat met gode trou en so vir ewig kan lewe. God, sê die verteller, sien dit egter raak, en bring daaraan 'n einde. En wat meer is: met hierdie uitbeelding van God wat 'n einde maak aan hierdie strewe van die mens, sê die verteller ook: God is sterker en magtiger as al die ander gode van wie hierdie verhale vertel is, want Hy sien deur hulle, hy bring hulle ook tot 'n einde.

Wat sê hierdie verhaal vandag vir ons, broers en susters? Ten minste dat ons nie onsself kan red nie. Dat ons nie kan opklim na God nie. Dat God aan ons lewens grense stel. En dat alleen God aan ons die ewige lewe kan gee.

En die wyse waarop ons daaraan deelagtig word, is dan juis ook nie om te probeer opklim na God toe nie, maar dat God na ons toe afgeklim het, dat God self sterflike mens geword het, sodat ons vir altyd kan lewe.

Genesis 6, broers en susters, hoe ons dit dan ook al verstaan, sê dus vir ons ten minste een ding: die ewige lewe lê by God, Hy is die gewer daarvan. En ons word dit alleen deelagtig in Jesus Christus. Daarom, Genesis 6 wys ons dus heen na Jesus Christus, maak ons vatbaar vir die evangelie van Christus, en wys ons op die sinloosheid om self die verlossing te soek.

Dit wys ons ook op die feit dat God reg deur al ons planne sien, ook daar waar ons self 'n `man van naam’ wil word, 'n eie koninkrykie rondom onsself wil vestig, met ons alleen in die middelpunt, met ons as die belangrike/ste. En om dit te sê, span die verteller van Genesis 6 alles in om dit reg te kry, selfs die bekende verhale van die gode wat met mensedogters kom trou.
Amen