Efesiërs 2:1-10

God se reddingsboei



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Die samelewing waarin ons leef, so lyk dit dikwels, is ‘n samelewing waarin niemand meer verkeerd is nie, maar almal reg. Almal mag ‘n standpunt oor ‘n bepaalde saak hê, en waarheid is dan die konsensus wat tussen mense bereik kan word.

Kom ek noem een voorbeeld om dit te illustreer, dié van godsdiensgelykheid. In ons tyd, word beweer, mag niemand meer aanspraak maak op die sogenaamde feit dat een godsdiens beter of meer waar of uniek is nie. Want of jy nou ‘n Moslem, Hindoe, Jood of Christen is, maak nie saak nie. Ons almal aanbid maar dieselfde God, net op ‘n ander manier en met ‘n ander Bybel. So, iemand wat byvoorbeeld beweer dat die Christelike godsdiens uniek is, maak ‘n ongeldige uitspraak.

Christene, broers en susters, kan ‘n argument soos hierdie egter nie maar net so aanvaar omdat dit die mode van die tyd geword het om so oor die saak te praat nie. Vir ons is en bly die Christelike geloof die enigste en ware godsdiens. Maar wat, broers en susters, sou ons sê as ons hierdie oortuiging van ons moet verduidelik? Of anders gestel, wat onderskei die Christendom van ander gelowe?

Ek wil hierdie vraag vanaand antwoord, broers en susters, op ‘n eenvoudige manier en deur die gebruikmaking van ‘n eenvoudige, en hopelik, gepaste voorbeeld.

Maar kom ek begin deur dit soos volg te stel: die verskil tussen die Christelike geloof en ander geloof lê in die rigting van beweging. Die ander godsdienste van die wêreld is ‘n beweging van onder na bo, ‘n geklim teen ‘n leer wat mense self oprig.

Teen hierdie leer word met alle mag en mening geklim, want die hoogste sport daarvan lei vir hulle na die hemel. En die wyses waarop geklim word is velerlei: selfonthouding, meditasie, geweldige dissipline, die najaag van goeie werke en allerhande geestelike ervaringe, om maar net ‘n paar te noem.

En baie mense, broers en susters, goeie mense, gawe mense, nederiges, liefdevolles, edeles en medemenslikes het al teen hierdie leer uitgeklim, maar nie een het nog die boonste sport bereik wat teen die poort van die paradys lê nie. Nie een nie. Want dit is te hoog. Ek wil amper sê: hemelhoog.

Daarteenoor, broers en susters, is die Christelike geloof ‘n beweging van bo na onder. Verder: dit is nie gerig op ‘n leer nie, maar op ‘n reddingsboei, ‘n boei wat God van bo na onder toe uitgooi, ‘n boei wat ons na Hom toe inhaal, en ons dan omhoog voer op God se tyd en manier. Hier is daar geen sprake van verdienste nie, trouens, die hele gedagte van verdienste en prestasie hoort tuis by die godsdienste met hulle selfopgerigte lere.

Of, om dit saam te vat maar ook om dit anders te sê: Om te klim is ‘n prestasie, dit hoort by die ander godsdienste. Om egter met ‘n reddingsboei ingehaal te word, is genade. En dit is die Christelike godsdiens.

Kom ons kyk weer hoe pragtig en duidelik die skrywer van Efesiërs dit vir ons in Efesiërs 2:8-9 stel: Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie.

God se reddingsboei is natuurlik Jesus, hy wat God was en vir ons sondes mens geword het. Maar let wel, broers en susters: op geen manier is Jesus maar net vir ons ‘n voorbeeld vir ons eie verlossing nie. Ek moet nie dink dat ek soos Jesus moet word om gered te word nie. Want Jesus klim nie voor ons die leer van verdienste uit om ons só te inspireer om self te begin klim nie. Met ander woorde, Hy help ons nie sodat ons onsself kan help nie. Hy red ons.

Geloof, broers en susters, en dit moet ons goed verstaan, is daarom nie maar net self ook weer ‘n leer wat ek van onder na bo oprig nie. Nee. Geloof is ‘n gawe wat saam met die reddingsboei van God uitgegooi word. Dit is deel van die pakket van genade, om dit so te stel.

Dit is om in Jesus Christus God se reddingsboei te sien, jou hand uit te steek en te weet dit is God wat jou jou hand laat uitsteek. Dit is om jou hand uit te steek en ‘n Hand te ontvang, dit is om jou te laat omarm, te laat omhels, deur Jesus Christus as die enigste Verlosser en Redder van sondaarmense. En dan uit te roep: Ek glo Here, kom my ongeloof te hulp!

Maar nou is die belangrike vraag vanaand, broers en susters, wat u en ek soms doen met Jesus Christus, die reddingsboei wat God na ons toe uitgooi. En kom ek verduidelik wat ek hiermee bedoel.

Het u al ooit gesien dat iemand, wat op die punt is om te verdrink, skree om hulp en genadiglik ‘n reddingsboei in die hande kry wat ander na hom/haar toe uitgegooi het, nie met oorgawe in die reddingsboei inklim nie, maar eers die volgende vrae begin vra: ek wonder of ek hierdie reddingsboei kan vertrou: Miskien moet ek eers kyk of dit die SABS se stempel op het. Of dalk moet ek eers uitvind of die firma wat die boei gemaak het, darem ‘n goeie reputasie het. Ek wonder ook of die reddingsboei my gewig sal dra. Sal ek daarin pas? Wat meer is, gaan dit gemaklik wees om daarin te sit of om daaraan te hang? Moet ek nie miskien rondkyk of ek ‘n ander boei sien nie? Of moet ek nie miskien eers vra dat hulle nog ‘n paar na my toe uitgooi en dan eers almal uitprobeer nie?

Natuurlik doen drenkelinge dit nie, broers en susters. Dit is in der waarheid absurd om te dink dat iemand wat op die punt staan om te verdrink, dit sal doen. Dit is waansin, sal ons sê.

Maar tog, broers en susters, miljoene mense doen dit. Wat meer is, ook ons doen dit soms. Want so dikwels gebeur dit dat God sy Reddingsboei na ons toe uitgooi, sy Seun, en dan doen ons presies dieselfde.

Want terwyl ons vir ons lewe in die water van die sonde en veroordeling spartel vra ons ook maar soms van die volgende vrae: as ek hierdie reddingsboei wat God na my toe uitgooi gryp en daarin klim, sal my lewe darem nog gemaklik wees? Wat meer is, sal hierdie reddingsboei my werklik kan red uit die water van die sonde? En wat meer is: is daar nie ‘n moontlikheid dat hierdie reddingsboei my so sal wegvoer dat ek gebring word waar ek nie wil wees nie? Of: miskien moet ek eerder self probeer swem, want wie weet, dalk kan ek self die kant haal?

Daar is net een manier, broers en susters, en dit stel Efesiërs 2:8-9 baie duidelik, waarop ons gered kan word: wanneer God in ondenkbare groot genade sy Reddingsboei na ons toe uitgooi, moet ons dit gryp. Met alles wat ons het. En as ons dit gegryp het, moet ons nie dink dat ook dit ons flinkheid was nie. Want ook dit was ‘n stuk genade.

Dit is absurd om te dink dat iemand wat besig is om te verdrink nie ‘n reddingsboei met oorgawe wil gryp nie. Iemand wat egter meen dat hy of sy nie besig is om te verdrink nie, sal egter nie sommer ‘n reddingsboei gryp nie. Is dit nie dalk soms ons probleem nie? Dat ons dink ons het God se reddingsboei nie nodig nie? Dat ons self die leer kan bou en kan opklim na God toe. As ons dink dit is moontlik, het ons die wesenlike boodskap van die Christelike geloof versaak. En sal ons God nooit sien nie.
Amen