1 Johannes 5:6-12

Grys Christene



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Die bekende Nederlandse teoloog, Okke Jager, vertel op ‘n keer van ‘n lidmaat in sy gemeente wat net een begeerte gehad het, sy hele lewe lank: om elkeen van die wette en voorskrifte in die Bybel haarfyn na te kom. Nie een uitgesluit nie, tot op die laaste letter. Van hom het die mense gesê dat as daar nou iemand is wat reguit na die hemel toe sal gaan, dit hy is. As daar iemand is wat die toets by die pêrelpoorte sal slaag sal dit beslis hy wees. Met vlieënde vaandels. Wat meer is, het hulle gesê, as hy dit nie maak nie, dan sekerlik nie een van ons nie.

Op ‘n dag het een van sy vriende hom gevra hoe seker hy is of hy eendag in die hemel gaan kom of nie, en sy antwoord was effens verbasend. Wel, het hy geantwoord, kom ons spreek af: as ek op my sterfdag wit klere aanhet, is ek gered, maar as ek swart klere aan het, is ek verlore.

Kort daarna het hy gesterf. En wat het hy aangehad? Wit klere of swart klere? Verrassend nie met een van die twee nie. Hy het gesterf met grys klere aan. Grys, want hy het nie geweet waarheen hy gaan nie. Dit kon of wit wees, of swart, maar omdat hy nie seker was nie, was sy keuse toe maar tussen in: grys.

Kan ‘n mens seker wees, broers en susters? Oor God? Oor of jy werklik God se kind is? Oor jou saligheid, jou redding? En, by implikasie: oor die hemel? Nee broers en susters, nooit nie, as jy meen dat sekerheid oor hierdie dinge in jouself te vind is nie.

As ons sou reken dat die sekerheid van ons verlossing, broers en susters, byvoorbeeld daarvan afhang of ons al die wette en voorskrifte in die Bybel getrou genoeg nagekom het, sal ons die uitslag van waarheen ons eendag gaan maar eers moet afwag. Of ons goed genoeg gevaar het, sal ons nooit weet in hierdie lewe nie. ‘n Grys doodskleed is dan maar ons voorland.

Net so, broers en susters, as ons sou reken dat die lot van ons ewige bestemming bepaal word deur hoe gereeld ek in die kerk is, hoe gereeld ek my Bybel lees, of ek darem kan sê of ek op ‘n keer werklik bekeer is, en of ek darem ‘n paar geleenthede kan opnoem waar ek buitengewoon naasteliefde uitgeleef het. Ook dan sal ons maar die uitslag van ons lot moet afwag. Sal ons maar in grys moet sterf.

Wat tragies is, broers en susters, is dat daar so baie gelowiges is wat werklik in grys sterf. Hoekom? Want dit kan eintlik nie anders nie: hulle leef in grys. Nie in swart nie, ook nie in wit nie. Hulle stort nie roekeloos oor die afgrond van die sonde nie, maar bereik eintlik ook nooit die bergtoppe van werklike aanbidding en oorgawe aan God nie.

Hulle bars ook nie sommer los in vloekwoorde nie, maar bars ook eintlik nooit los in lofprysing teenoor God vir dit wat Hy hulle elke dag (en in Christus) gee en gegee het nie. Ook kom hulle bitter min onder die invloed van drank, maar net so min kom hulle werklik onder die invloed van die werking van die Gees in hulle lewe.

Versigtig, baie versigtig stap hulle op die paadjies van godsdienstige middelmatigheid. Niks kan eintlik teen hulle Christenskap gesê word nie, maar daar kan ook nie veel vir hulle Christenskap gesê word nie. Ploeterend gaan hulle die lewe in, stap hulle die lewe voort, in gryse godsdienstigheid. In die hoop dat eendag, daardie dag wat hulle voor God sal staan, hulle geweeg sal word en darem nie te lig bevind sal word nie.

Die Bybel, broers en susters, is egter nie ‘n grys boek nie. Want daarvoor is die volgende woorde van God in sy woord te duidelik:

  • God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê (Joh 3:16);
  • Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook (Joh 11:25);
  • Hierdie brief skrywe ek vir julle sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo (1 Joh 5:13);
  • Wie die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie (1 Joh 5:12).

In hierdie verse, broers en susters, is niks troebel of onduidelik nie. Nêrens lees ek hier iets van of woorde soos miskien, dalk, of ‘ja, maar’ nie. God sê dit is so. God sê dit sal so wees, ons het dit reeds. Dit is so.

Van so baie dinge in die lewe, broers en susters, nee, eintlik van alles, is ons so onseker. Ons is onseker oor die politieke toekoms van ons land, oor werksgeleenthede, oor wat van my kinders gaan word, oor wat môre en oormôre gaan oplewer, oor wat met my gesondheid gaan gebeur, noem maar op. Eintlik, kan ‘n mens sê, het ons niks in hierdie lewe nie. Want van niks is en kan ons seker wees nie.

Behalwe van een saak. Dat ons aan God behoort. Dat ons sy kinders is. Want wie die Seun het, het die lewe, en wie glo, sal lewe. En vir my, broers en susters, het die woordjie het nog nooit iets anders gespel as het nie, en die woordjie sal nog nooit iets anders beteken as sal nie. Die lewe, kindskap, die ewige lewe, is aan my gegee. Ek het dit, hier en nou. En daarom sal ek nooit sterf nie.

Hoekom, broers en susters, is ons hiervan egter baie dikwels nie seker nie? Daar is ten minste twee redes hiervoor. Eerstens reken ons nog maar altyd dat geloofsekerheid sekerheid van jou geloof beteken. In plaas daarvan dat dit gaan oor die sekerheid oor God in wie ons glo. Geloof in jou eie geloof (om te glo dat jy darem regtig glo) en geloof in God is nie dieselfde saak nie.

Solank ons ons sekerheid oor ons verlossing soek in onsself, broers en susters, in wat ek doen of kan doen, wat ek bereik het of nog kan bereik in die geloof, sal ons altyd in grys klere sterf. Want dan bou ons ons sekerheid op verganklike dinge, menslike dinge. Maar wanneer ons ons sekerheid bou op God, op die feit dat Hy in Christus na ons toe gekom het (deur sy doop en sy bloed, soos vers 6 dit stel), sal ons nooit meer hoef te twyfel nie.

Die tweede rede waarom ons somtyds twyfel oor die sekerheid van ons verlossing het te make met ons ore. Aan wie ons ons ore uitleen. Vers 9 in ons gedeelte sê dit pragtig raak: ons aanvaar mense se getuienis. En laat ek byvoeg, soms te maklik en te gou. Sodra ons iemand leer ken, en so iemand maak aan ons beloftes, glo ons dit dikwels onvoorwaardelik. Al weet ons dat daar tog iets kan voorval wat die belofte wat gemaak is dalk nie waar sal maak nie. Almal is tog maar net mense, en mense kan vergeet, of besluit om ‘n belofte nie gestand te doen nie.

Hoe is dit dan moontlik, broers en susters, dat ons nie ook ons ore aan God wil uitleen nie? Want ook God maak aan ons beloftes, waarvan een is dat wie glo sal lewe, wie die Seun het, die lewe het. Tog, en dit gaan die verstand te bowe: ons neem mense so maklik op hulle woord, maar as die ewige, almagtige en onveranderlike God kom en ook ‘n belofte maak, het ons ewe skielik daarmee ‘n probleem.

Die boodskap van die Bybel oor hierdie saak, broers en susters, is baie baie eenvoudig (en miskien is dit die probleem: ons dink as dit by God kom kan dinge net nie eenvoudig wees nie): sekerheid oor verlossing lê buite onsself. Dit lê by God. By die God wat sy Seun gestuur het. So seker as wat God bestaan en lewe, so seker is ons God se kinders. Want wie glo, het die lewe, sal nie sterwe nie.

Hulle wat God hier nie op sy woord wil neem nie, broers en susters, hulle wat reken dat meer nodig is vir sekerheid oor verlossing en bestemming, is die ellendigste van alle mense. Of anders gesê: hulle het nog nooit werklik in God geglo nie. Want hier is net twee moontlikhede. broers en susters, en kom ons wees maar baie eerlik met onsself vanoggend. Jy glo in God, of jy glo nie. Jy glo in die kruis, of jy doen dit nie.

Probleem is net: baie reken daar is ‘n derde moontlikheid. Dat die kruis nie genoeg is nie. Dat God se beloftes nie goed genoeg is nie. En omdat God se beloftes nie goed genoeg is nie, is God ook nie groot genoeg nie. Daarom is volle oorgawe, volle oorgawe aan God uit dankbaarheid vir gedane verlossing nog nooit van sommige mense se lewens gewees nie. Daarom ploeter hulle voort in ‘n gryse, middelmatige godsdiens met die hoop dat hulle dit darem eendag sal maak.

Ons hoef nie, broers en susters, as grys mannetjies en vroutjies deur die lewe, of in die graf in te gaan nie. In spierwit verse beskryf Johannes vir ons in Openbaring 7:9 en 14 hoe ons kleredrag as Christene eendag sal lyk, en in werklikheid in God se oë alreeds lyk: Hierna het ek ‘n groot menigte gesien wat niemand kon tel nie. Hulle was van elke nasie, stam, volk en taal. Hulle het wit klere aangehad. Dit is hulle wat hulle klere gewas en wit gemaak het in die bloed van die Lam. Of, in kort, dit is hulle wat geglo het, dit is hulle wat God op sy woord geneem het. Grys, broers en susters, is uit God se mode.
Amen