1 Petrus 1:1-12

Hoekom is koningskinders arm?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Daar was eendag 'n boemelaar (en hierdie is terloops 'n ware verhaal) wat daagliks 'n baie streng roetine gevolg het. Ses uur elke oggend het hy by die deur van sy nederige huisie in die buitewyke van Parys in Frankryk uitgestap, na die stasie gestap waar hy 'n trein gehaal het na die middestad. So getrou was hy dat die mense op die trein hom al geken het: stukkende baadjie en hoed, papiersak op die skoot en skoene aan wat al beter dae geken het.

Hy het sy eie bedelplekkie in die stad gehad. Reg voor een van die grootste katedrale (kerke) het hy sy bedelary lankal reeds tot 'n baie fyn kuns vervolmaak. Sodra hy iemand geïdentifiseer het, het hy aan die betrokke persoon bly torring totdat die persoon 'n frank of twee in sy papiersak gesit het. Op sy goeie dae moes hy die papiersak meer as een keer in sy baadjiesak leegmaak, op slegter dae het hy nie veel gekry nie. En so het hy dag vir dag, week vir week, maand vir maand en jaar vir jaar getrou sy bedelwerk gedoen. Feitlik sy hele leeftyd lank. Afgesien van die weer.

Elke aand het hy dan moeg die deur agter hom toegetrek, en die oes van die dag maar iewers in sy huisie neergesit. Netheid was ook nie sy sterkste punt nie. Inteendeel. Sy hele ou huisie het uit sy nate gebars van al die papiersak­ke en ou koerante. So erg was dit later dat sy bure begin kla het.

Later het iemand van die gesondheidsafdeling sy huisie besoek, en aangebied om hom te help om sy huis skoon te maak. Oral tussen die rommel het hulle papiersakke vol geld gekry, die vrug van sy jarelange arbeid. Die geld wat gevind is is toe namens hom by die bank gaan inbetaal, met die skokkende resultaat: die boemelaar was 'n miljoenêr.

Toe hy die aand die nuus kry, het hy net sy skouers opgehaal. En die volgende dag was hy weer op koers na sy plekkie in die stad, hoed in die een hand en die papiersak in die ander. Skatryk, maar volgens hom brandarm.

Ek ken baie Christene, broers en susters, wat op 'n haar na soos hierdie boemelaar leef. Skatryk, maar straatarm. In wese miljoenêrs, maar brandarm soos kerkmuise. Mense wat nie weet wat hulle het, hoeveel hulle besit nie. En dan nie oor dit wat hulle in hulle huise of in die bank het nie, maar omdat hulle nie weet wat hulle in die hemel het nie, die onmeetlike rykdom wat daar vir hulle lê en wag nie.

En wat is hierdie rykdom wat daar vir hulle lê en wag? Die ewige lewe. 'n Erfenis wat, volgens Petrus, onverganklik, onbesmet en onverwelklik is. Met ander woorde, dit kan nie vergaan nie, motte kan dit nie opvreet nie, roes kan dit nie beskadig nie, inflasie kan die waarde daarvan nie verminder nie, niks kan dit besmet nie, en soos met blomme gebeur, kan dit nie verwelk nie. Dit staan dus vas, ons het dit, en ons gaan dit kry. En hierdie wete, sê Petrus, maak God sê kinders, koningskinders, skatryk.

Maar tog, broers en susters, is dit dikwels in gelowiges se lewens nie so nie. Is hulle, al is hulle skatryk omdat hierdie erfenis vir hulle in die hemel lê en wag, brandarm. Of, in terme van die verhaal hierbo, al het hulle miljoene in die bank, gaan hulle elke dag nog uit om te gaan bedel.

Hoekom is dit so? Daar kan verskeie redes wees. Kom ek noem net 'n paar. Die eerste rede hoekom God se kinders soms brandarm voel, al is hulle skatryk, is omdat hulle nie wil aanvaar dat hulle werklik, net omdat hulle glo, hierdie erfenis in besit geneem het nie. Daarom, in plaas daarvan om blymoedig en met oorgawe te leef, gaan hulle dag vir dag deur met die bekommernis, met die vrees, dat, as hulle nie gehoorsaam genoeg lewe nie, as hulle nie genoeg goeie werke doen nie, as hulle sonde nie minder word nie, hulle nie hierdie erfenis in besit sal neem nie. Bly hulle as 't ware bedel vir 'n saak wat hulle lankal reeds deur die geloof in besit geneem het. En juis omdat hulle nie hierdie erfenis nou al in besit wil neem nie, is hulle brandarm.

Hierdie wyse van gelowig leef, broers en susters, lei op sy beurt na 'n volgende armoede in ons lewens, naamlik 'n tekort aan tyd, veral tyd vir ons naaste. Hoekom? Want 'n lewe voor God wat maar net bestaan uit 'n eie poging om in die hemel te kom, uit 'n poging om in die geloof maar net self kop bo water te hou, maak dat daar niks tyd oor is vir ander rondom my nie.

Wat op sy beurt weer lei na 'n armoede aan vreugde. Want juis omdat ons nie tyd oor het om aan ander se leed, hartseer/behoeftes aandag te gee nie, het ons nooit meer die voorreg om in ander se vreugde te deel wanneer God hulle uit hulle ellende of van hulle bekommernis verlos nie.

Die grootste armoede wat 'n mens egter kan ervaar, broers en susters, is wanneer ons nie wil aanvaar dat daar vir ons 'n erfenis in die hemel lê in wag nie, is 'n armoede aan hoop. Want waarop kan 'n mens hoop as jy nog nie seker is van die uitkoms van jou toekoms nie? Natuurlik weet ons nie wat vir ons in ons elkeen sê toekoms lê en wag nie. Dalk gaan ons toekoms sleg wees, dalk goed.

Die feit van die saak is egter dat, wat ook al met ons in die toekoms sal gebeur, niks kan verander aan die feit dat ons eendag almal by God sal wees nie. En dit is tog die uiteinde van ons elkeen se lewe. Daarom maak ons fisiese toekoms mos nie eintlik saak nie.

Maar dit begin wel saak te maak as ons soos brandarm Koningskinders lewe. Met vrese vir die toekoms, negatiewe gevoelens daaroor, so asof dit wat in die toekoms met ons gaan gebeur, die absolute, die belangrikste saak in hierdie lewe is.

Dit is egter nie. Die absolute, die belangrikste, die onveranderbare is dat ons, as ons glo, ons eendag by God sal wees. Dit maak ons ryk, skatryk. Dit maak van ons multimiljoenêrs. Dit maak dat ons kan hoop. Bo alles, dit maak dat ons ons bedelpapiersakke maar kan wegpak. Hoekom doen ons dit tog nie maar nie?

Want dan word 'n mens vry. Vry van armoede, vry van geswoeg en gesweet om God te probeer behaag asof ons redding daarvan afhang, vry om God en ander te dien, vry om te hoop en werklik te begin lewe.

En dit kan. Ons moet dit net aanvaar dat ons skatryk is, dat daar vir ons 'n erfenis in die hemel lê en wag. Hoe ellendig., broers en susters, moet hulle nie wees, voel en leef wat dit nie wil aanvaar nie?
Amen