Efesiërs 1:1-14

Uitverkiesing



Broers en susters
Kan ’n mens seker wees dat jy wel uitverkies is? Oor die saak word liefs die swye bewaar. Predikante preek bra selde daaroor en lidmate vermy die onderwerp veiligheidshalwe. Die leer oor die uitverkiesing, of te wel die Predestinasieleer, is ’n onderwerp waaroor gelowiges so min as moontlik wil dink of redeneer. Maar so in die stilligheid kwel dit jou tog: kan ’n mens ooit 100% seker wees dat jy wel uitverkies is? ’n Mens moet weet...jy kan nie in onsekerheid lewe nie!

Laat u ek sommer heel aan die begin gerus stel. Die leer oor die uitverkiesing hou vir ’n gelowige geen bedreiging in nie. Inteendeel, dis eintlik vir die gelowige ’n groot troos! Dit is iets om oor te juig, om bly te wees...Kyk nou maar net na die opskrif van Efesiërs 1: Lof aan God vir sy genade..

Is die uitverkiesing dan iets waaroor ons kan juig? Hoe is dit moontlik? Die uitverkiesing kan tog geen blye boodskap wees nie: dit is eintlik ’n nagmerrie! Want die Bybel sê nou wel dat as ek Jesus Christus deur geloof aanneem, sal ek gered word; maar aan die anderkant wek die leer oor die uitverkiesing terselfdertyd die indruk dat, afgesien van my geloof in Christus, daar reeds vooraf deur God ’n besluit geneem is, wat uiteindelik die deurslag sal gee of ek eendag gered sal word of nie.

Die leer oor die uitverkiesing laat met ander woorde die gedagte by mens ontstaan dat al het ek Jesus Christus as Verlosser aanvaar, dit tog aan die einde kan blyk dat ek nie uitverkies was nie, en daarom verlore sal gaan. Veral Efesiërs 1 vers 4 wek die indruk dat God reeds vooraf besluit het wie uitverkore sal wees. Beteken dit dus dat die uitverkiesing ’n ewige raadsbesluit van God is waaraan niemand iets kan verander nie? Het God dan reeds voor jou geboorte jou lot beseël?

Baie gelowiges is van mening dat God in sy uitverkiesing en verwerping van mense absoluut willekeurig te werk gaan en dat ’n mens gevolglik tot en met die dag van jou dood nie seker kan wees wat jou ewige lot uiteindelik sal wees nie. Moet ons dus aanvaar dat God ‘lootjies trek’? Is dit waar dat God iewers in die gryse verlede, nog voordat daar ’n siel hier op aarde was, al die mense wat eendag hier op aarde sou leef so voor sy geestesoog laat verby gaan het, en toe eenvoudig ’n klomp mense vir die hel uitgesonder het? Hoe kan ’n mens so ’n God ’n God van liefde noem? Is God dan besig om ‘n ‘kat en muis – speletjie’ met miljoene mense se lewens te speel? Wat dan van diegene wat hul lewe lank in God geglo het? Moet hulle nou verlore gaan net omdat hulle toevallig nie uitverkies is nie? Indien God dan wel ‘n sekere aantal mense moet verwerp, sou ‘n mens ten minste verwag dat Hy die soort lewe wat mense hier op aarde leef in ag moet neem, nie waar nie? Waarom skryf God dan nie maar liewer by voorbaat die goddeloses en die ongelowiges af nie? Dan sou daar ten minste meer sprake van billikheid wees!

Maar so kan mens ook nie redeneer nie: ons moet steeds in gedagte hou dat die Bybel juis enige vorm van eie verdienste skerp afwys! Nog ons goeie dade, nog ons geloof kan ooit as enige grond dien om uitverkies te word nie. Die uitverkiesing mag miskien die indruk wek dat God heel aan die begin miljoene mense se name in ’n hoed gegooi het en ’n aantal name daaruit getrek het met die gevolg dat diegene wie se name getrek word, die koninkryk van God beërwe en die res verlore gaan... Maar dit is nie waar nie! Een ding moet ons baie goed begryp: God bestem niemand vooraf vir die hel nie. Efesiërs 1:4 sê tog uitdruklik dat God juis die ewige heerlikheid al van die begin af voorberei het omdat dit sy oorspronklike doel was, en trouens tot vandag toe nog is, dat niemand verlore moet gaan nie. God het geen behae in die dood van ’n sondaar mens nie. Inteendeel. Hy wil hê dat elkeen hom sal bekeer en lewe! Juis daarom het Hy sy Seun na die wêreld gestuur (Joh 3:16). Indien sommige weier om hulle te bekeer of God se genade verwerp, is dit dus hul eie skuld as hulle eendag verlore gaan, nie God se skuld nie!

Die fout wat die meeste maak, is om die uitverkiesing en verwerping op een vlak langs mekaar te plaas. Hulle is van mening dat dit soos die twee kante van ’n muntstuk is; dat dit met ander woorde ‘n kwessie van kruis wen ek, munt verloor jy is. Die Bybel beklemtoon egter dat die uitverkiesing en verwerping glad nie met mekaar verband hou nie. As jy gered word, word jy alleen gered op grond van God se genade in Jesus Christus. Die verwerping daarenteen is slegs die voltrekking van die oordeel oor diegene wat deur die hardheid van hul harte, hulself verwerplik gemaak het omdat hulle nie God se genadige aanbod in Jesus Christus wou aanneem nie.

God besluit dus nie reeds vooraf wie eendag gered en wie verlore sal gaan nie. Daar bestaan geen donker besluit agter/buiten my geloof in Jesus Christus wat uiteindelik sal bepaal wat my ewige lot is nie. Efesiërs 1:4 stel dit uitdruklik dat ’n mens op geen ander manier as in Jesus Christus uitverkies word nie (vgl ook Ef 1:11). Indien God wel vooraf sou besluit het wie gered is en wie verlore sal gaan, sou dit nie strook met die res van die Bybelse leer oor die verlossing in Jesus Christus nie. Romeine 10:11 sê immers uitdruklik: ‘Elkeen’ wat die Naam van die Here aanroep en in Hom glo, sal gered word...en nie teleurgestel word nie.

Wat lei ons dus hieruit af? Die volgende: wie in Jesus Christus glo, uitverkies is! Om te glo beteken dus presies dieselfde as om uit verkies te wees. Ook die omgekeerde is waar! ’n Mens kan tog nie uitverkies wees as jy nie in Christus glo nie. Deur Jesus Christus deur middel van die geloof aan te neem, word jy dus uitverkies (Ef 1:11, 13-14).

Om hierdie rede hoef daar nooit enige twyfel of onsekerheid by `n gelowige te bestaan of hy/sy wel uitverkies is of nie. As jy Jesus Christus deur die geloof aangeneem het, is jy uitverkies. Die uitverkiesing kan dus nooit van geloof in Christus losgemaak word nie. Die uitverkiesing is nie ’n afsonderlike besluit van God wat geen verband hou met geloof in Jesus Christus nie. Nee! Geloof en uitverkiesing gaan hand-aan-hand. Efesiërs 1 beklemtoon dat die uitverkiesing en die verlossing wat Jesus Christus vir ons deur sy dood aan die kruis en sy opstanding bewerkstellig het, ten nouste met mekaar verband hou. ’n Mens kan dus alleen die leer oor die uitverkiesing reg verstaan as jy dit beoordeel teen die agtergrond van Jesus Christus se verlossingswerk. Die feit dat God selfs sy enigste Seun nie gespaar het nie, dien as onteenseglike bewys dat niemand vooraf vir die hel bestem is nie!

Daar is dus hoop vir alle mense, selfs vir diegene wat God se genade nog steeds volhardend verwerp, mits hulle Jesus Christus deur die geloof as Verlosser en Saligmaker aanneem.

KONKLUSIE:
Wanneer Paulus dus sê dat God alreeds voordat die wêreld geskep is, besluit het wie uitverkies is, is dit geensins sy bedoeling om die indruk te probeer wek dat jou lot reeds voor jou geboorte beseël is nie. Inteendeel. Paulus wou slegs daarmee beklemtoon dat ons verlossing in Jesus Christus nie iets is wat onseker of twyfelagtig is nie. Ons verlossing in Jesus Christus staan absoluut vas en seker: niks of niemand kan iets daaraan verander nie, want dis `n ewige raadsbesluit van God dat diegene wat Jesus Christus deur geloof aanneem, nooit verlore sal gaan nie (Ef 1:4, en veral vers 5)

Is daar iets meer aangrypend as God se genade vir ons as mense? Dink daaraan: selfs voordat ons gebore was, het God alreeds ons belange op die hart gedra! Laat ons God daarom loof en dank vir sy genade soos Paulus in sy brief aan die Efesiërs.
Amen