Johannes 20:30-31

Weeskinders wat 'n Pa kan kry



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Die meeste teoloë wat hulle met die Johannesevangelie besig hou, is van die oortuiging dat dit in hierdie evangelie onder andere daaroor gaan dat daar sommige mense in die gemeente van Johannes was vir wie dit 'n aanstoot was dat mense kon sê dat God na die mens toe gekom het in die gestalte van 'n mens: met ander woorde, hulle wou nie aanvaar dat Jesus, as God, ook 'n mens kon wees nie. Dit het hulle aanstoot in God gegee, want hoe kon God, as Hy God was, die gestalte van 'n mens aanneem. Want dan is Hy mos nie meer God nie.

Die wyse waarop Johannes hierdie probleem oorbrug het, of dan, gepoog het om hierdie mense verby hulle aanstoot te bring, was om 'n aantal wonderwerke van Jesus te vertel. Wonderwerke wat in die Johannesevangelie tekens genoem word, met ander woorde, wonders, of dan tekens, dat hierdie man Jesus werklik die Seun van God was.

Daarom ook Johannes se opmerking in ons twee teksverse: Jesus het nog baie ander wonders gedoen, maar hierdie paar het ek aan julle beskryf sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God.

Of anders gesê: Johannes sê hy vertel die dinge wat tot geloof sal lei. Wat mense sal bring by 'n punt waar hulle sê: ek glo, ek wil Hom volg, want Hy is die Christus, die Verlosser.

Ek wil vanoggend, broers en susters, dieselfde strategie as Johannes volg. Kom ons veronderstel die vraag tussen ons is vanoggend min of meer die volgende: maar kan ek dit waag om hierdie man Jesus Christus, te volg? My antwoord? Ja, ek dink ons kan. Laat ek verduidelik hoekom ek so sê.

Kom ons stel ons is in 'n hofsaal waarin net vier mense teenwoordig is: 'n regter, 'n prokureur met die naam Johannes (voorheen 'n visserman in Galilea), 'n aspirant voog, en 'n weeskind, u en ek. In hierdie hofsaal is die prokureur Johannes besig om te betoog dat u en ek, as weeskind, in die sorg van die aspirant voog, Jesus, geplaas moet word.

Om aan te toon dat Jesus voogdyskap waardig is, het die prokureur reeds ses getuies voor die hof gebring, en staan op die punt om sy sewende getuie, 'n man met die naam van Lasarus, te roep. Maar voor Lasarus geroep word om te kom getuig wat Jesus vir hom gedoen het, gee die prokureur 'n opsomming van sy betoog tot dusver.

Edelagbare, ek het my betoog begin met die gebeure by die bruilof in Kana. Die wyn was op, en dit was 'n groot sosiale verleentheid. Maar toe Jesus die woord gespreek het, het water wyn geword. U het die getuienis van die kelners gehoor. Hulle het dit sien gebeur, en vertel hoe hierdie man Jesus, hierdie mense gehelp het.

Toe het ons die getuienis gehoor van die regeringsamptenaar wie se seun op sterwe gelê het. Hy het ons vertel hoe hy elke moontlike dokter ingeroep het en elke raat probeer het, maar niks het gehelp nie. Toe het hy vertel dat hy van Jesus van Nasaret gehoor het. Feitlik heeltemal moedeloos, het hy vertel hoe hierdie man daar gestaan het, en amper net na my kind te kyk, het hy gesê, het Hy my kind gesond gemaak.

Toe, Edelagbare, gaan Johannes aan, het ons die getuienis gehoor van die lam man by die bad van Betesda. Vir agt en dertig jaar lank was hy lam. Maar toe het hy Jesus ontmoet, en nou ja, u het hom self hier gesien, hy loop weer. Ook vir hom was hierdie man Jesus net goed.

Toe het ons, Edelagbare, die seuntjie gehad wat op 'n dag 'n middagete van vyf garsbrode en twee vissies by hom gehad het. Hy was een van die baie wat agter Jesus aangeloop het om te hoor wat Hy leer en te sien hoe Hy mense gesond gemaak het. En net toe hy wou eet, het iemand gevra dat hy dit na Jesus toe moes neem. En met hierdie skamele ete het Jesus duisende kos gegee. U het gehoor dat daar selfs kos oorgebly het.

Daarna, Edelagbare, het ons by Petrus gehoor van die storm waarin hy en sy maats op see was. Dit was 'n storm, geweldige golwe, swaar wind en donderweer, waarin mense gewoonlik omkom. Maar toe het hierdie man op die water na hulle aangeloop gekom en, deur die storm stil te maak, hulle uit die storm gered.

Laastens, Edelagbare, het u gistermiddag, net voor die hof verdaag het, die man ontmoet wat sy hele lewe lank nog net donker gesien het. Van sy geboorte af was hy blind. En wat was sy getuienis? Hierdie man het hom weer laat sien.

Ses getuienisse, Edelagbare, is dus gelewer. Ses wonderwerke is deur die getuies bevestig. En hier op die tafel lê die bewysstukke: die kruik wat die wyn bevat het, die beëdigde verklaring van die dokter wat die seuntjie probeer behandel het, die bed van die kreupele daar by Betesda, die kosmandjie van die seuntjie, die gebreekte roeispaan wat deur die geweld van die storm gebreek is, en ook die kierie en bedelbekertjie van die blinde man.

En nou Edelagbare, my laaste getuie om oor hierdie man Jesus te getuig, Lasarus van Betanië. En Lasarus getuig dan min of meer soos volg: Ek ken hierdie man, Jesus van Nasaret, as 'n vriend van ons familie. Wanneer Hy in Jerusalem kom, gaan Hy dikwels tuis by my en my susters Marta en Maria , daar in Betanië. En ons glo in Hom, ons glo dat Hy die Seun van God is. Hoekom vra u, glo ek dit? Omdat ek nie anders kan nie.

Want ek was dood, vier dae lank. Almal het vir my gebid, en my toe later begrawe. Ek moet sê, in die graf het ek groot vrede ervaar. En toe hoor ek sy stem. Eintlik het Hy geskree: `Lasarus, kom uit’. En ek het weer geleef. Ek het toe opgestaan, en Jesus het my hand gevat en my buite toe gelei. Hy het vir die mense gesê om vir my klere te bring. En kyk, hier is ek, ek leef, al was ek dood. Hierdie man, Jesus, het dit vir my gedoen.

Dan sluit die prokureur af: U het, Edelagbare, my getuienisse gehoor. Ek laat nou die besluit in u hande of hierdie weeskind deur Hom aangeneem kan word.

Dan, broers en susters, staan die voog op. Sy stem vul die hofsaal: Ek verteenwoordig hierdie weeskind wat eintlik maar net die somtotaal is van alles wat julle gesien en gehoor het:

  • soos die bruilofsgaste wat nie wyn gehad het nie, en dus geen rede gehad het om fees te vier nie, het hierdie weeskind ook geen rede om fees te vier nie, want hy het niks en is niks;
  • soos die amptenaar se seun, is hierdie kind ook siek, net effens anders: hy is geestelik siek. Daar is geen sin in sy lewe nie, hy het niks om voor te lewe nie, en is uitgelewer aan die wrede wêreld;
  • soos die kreupele en bedelaar kan hy ook nie loop of sien nie, want hy is geestelik blind, hy weet nie dat om My, Jesus te volg, sy oë sal oopmaak vir die ware lewe nie;
  • hy gaan ook dood van die honger, omdat die wêreld, nie soos Ek, bereid is om hom kos te gee nie;
  • ook hy beland soms in die geweldige storms van die lewe, maar hy het nie 'n kompas om hom daaruit te lei nie;
  • en om alles te kroon, is hy ook in wese dood, geestelik dood, want hy het nog nie die ware lewe ontdek nie.

Ek sal vir hom doen wat Ek vir al hierdie ander mense gedoen het. Ek sal hom vreugde gee, genesing, krag, gesig, veiligheid, voedsel en nuwe lewe. Ek sal hom dit alles gee, as U my dit sal toelaat.

En wat antwoord die regter? Jy is my geliefde Seun, oor jou verheug Ek my. Ek sal dit jou toelaat my Seun, jy mag dit alles aan hierdie weeskind doen, maar net op een voorwaarde. En dit is die voorwaarde: Die weeskind moet dit wil hê.

Johannes, broers en susters, het sy getuies vir ons oor Jesus gebring. Die getuies het hulle verhale vertel. As ons dit weer wil nagaan, kan ons dit weer in Johannes se evangelie gaan lees. En die Meester het aangebied om vir ons, die weeskind, te doen wat Hy vir hierdie mense gedoen het: Hy sal ons tafel van wyn voorsien, Hy sal ons werklik laat sien dit waarop dinge neerkom, Hy sal ons krag gee om op te staan en werklik te begin lewe, en bo alles, Hy sal ons oorwinning oor die graf gee. Hy sal vir ons doen wat Hy vir al die ander gedoen het.

Maar of ons dit wil hê of nie, hang van ons af. Die weeskind, moet dit wil hê. Die weeskind moet raaksien dat sonder hierdie man, Jesus, daar geen ware lewe moontlik is nie. Die weeskind moet raaksien dat sonder hierdie Jesus niemand werklik kan sien, of loop waarheen daar werklik geloop moet word nie. Ja, die weeskind moet raaksien dat sonder hierdie Man, hy/sy altyd wees sal wees, altyd alleen, altyd sonder toekoms. Die weeskind moet sien: daar is eintlik geen ander moontlikheid vir my nie.

En dan moet die weeskind sê: Sal u asseblief van nou af my Pa wees. En noem my asseblief u kind.

Die getuienis is gelewer, broers en susters. Jesus wil ons Pa wees, Hy wil vir ons sorg. Hy wil al hierdie dinge, en nog baie meer, aan ons en vir ons doen. Wat gaan gebeur, hang van u en my af. Die keuse is nou ons s’ n.

Mag ons reg kies en waarlik lewe!
Amen