Genesis 32:1-11, 13-31; 33:1-4, 8-9

Versoening



Broers en susters en kinders in onse Here Jesus Christus:
Wanneer 'n mens in die prediking iets oor versoening wil sê, beweeg 'n mens op gevaarlike terrein. Juis omdat die begrip versoening in ons tyd met allerhande dinge in verband gebring word wat, myns insiens, hoegenaamd nie iets met versoening — veral soos die Bybel dit ken — te make het nie. En nou verwys ek na sake wat vir ons almal bekend is, sake soos die Waarheidskommissie, regstellende aksie, die verspreiding van welvaart en die herverdeling van eiendom en grond.

Die Bybel, broers en susters, se begrip van versoening is iets totaal anders. Versoening, sê die Bybel, vind nie plaas daar waar rykdom herverdeel word, mense afgedank word en ander in hulle plek aangestel word of daar waar mense vertel hoe hulle te na gekom is nie. Nee. Versoening, sê die Bybel, vind plaas daar waar vrees plek maak vir vreugde, waar wantroue plek maak vir aanvaarding, waar haat omslaan in liefde. En dan nie in terme van samelewingstrukture, kollektiewe verhoudings, politieke modelle of wat ook al nie, maar in die eerste plek tussen ek en God, en dan tussen ek en die ander, die naby aan my, die met wie ek byvoorbeeld elke dag in die huwelik en in die huis saamleef. Maar ook die met wie ek — vir ons veral van belang — in die gemeente waaraan ek behoort moet saamleef.

Die vraag daarom vir die prediking vanaand is die volgende: as ons sê ons is in Christus broers en susters van mekaar, almal lede van die een liggaam van Jesus Christus, hoe behoort versoening tussen ons te werk daar waar miskien vrees, wantroue en haat teenoor mekaar bestaan, sodat ons almal, as lede van die een liggaam van Christus, saam kan lewe in vreugde, aanvaarding en liefde, ten midde van die feit dat daar tog bepaalde verskille en opinies oor baie sake tussen ons bestaan.

Die verhaal van die aanloop tot die herontmoeting tussen Jakob en Esau, meen ek, kan vir ons lig werp op hierdie vraag. In Genesis 32 lees ons is Jakob op pad terug na die land van sy vaders om hom daar te vestig, die land wat God aan hulle beloof het. Vir Jakob is daar egter een skynbaar onoorkomende struikelblok wat in die weg van sy ideaal staan: sy broer Esau. Tussen hom en Esau is daar vervreemding — vervreemding wat die gevolg was van al die oneerlikheid, afguns en bedrog in Jakob se lewe.

Die verlede van Jakob ken ons goed: eers het hy Esau se eersgeboortereg met 'n pot lensiesop bekom, daarna het hy, met die hulp van sy ma, dit reggekry dat Isak hom — in plaas van Esau — seën. Onder andere hieroor moes hy vlug na Laban toe. By Laban, nadat hy uiteindelik met Ragel kan trou, steel hy en Ragel Laban se huis-afgode en verlaat sy skoonpa se huis sonder toestemming. Dit is Jakob se verlede, nie 'n baie mooi prentjie nie.

Dit alles, broers en susters, maak dat 'n mens wonder hoekom God nog in Jakob belang gestel het as die een waardeur Hy sy redding aan sy verbondsvolk wou voortsit. Die feit dat God vir Jakob bly kies, en dit moet ons goed verstaan, maak egter nie dat God al Jakob se skelmstreke goedkeur nie. Inteendeel. God roep Jakob tot verantwoording. En die plek waar dit gebeur is by die Jabbokrivier, net voor God sy beloftes aan Jakob vervul. Hier roep God vir Jakob tot verantwoording, hier haal Jakob se verlede hom in.

By die Jabbokrivier, lees ons in Genesis 32, kry Jakob berig dat Esau met 400 man na hom toe op pad is. Vir Jakob het die uur van beslissing dus aangebreek. Nou moes hy in die reine kom met sy broer oor sy verlede — of moet hy maar ondergaan.

Treffend egter, broers en susters, is om Jakob se bewegings in hierdie uur van krisis dop te hou. Tipies Jakob is hy vol streke en plannetjies, en gaan hy nie sommer maklik lê nie. Eers stuur hy groot geskenke vooruit na Esau om hom in 'n goeie bui te kry. Hy belowe onderdanigheid, dus, alles stappe in die regte rigting. Verder verdeel hy sy gevolg in twee groepe, sodat, as Esau miskien een groep uitwis, hy met die ander groep kan vlug. Verder trek hy in die nag oor die rivier, en sorg ook dat daar genoeg afstand tussen hom en die rivier is sodat hy nie daarteen vasgedruk kan word nie en in 'n ander rigting kan spaander indien dit nodig sou word. Daar is dus skynbaar geen einde aan Jakob se vermoë om taktiese skuiwe te maak en homself losgewikkel te kry uit moeilike situasies nie.

Maar by die Jabbokrivier keer God self vir Jakob vas. Vir Esau kan hy miskien vlug, wat Esau betref kan hy plannetjies beraam, maar met God werk dit nie. En daardie nag worstel hy met God tot die dag breek. En gedurende sy nagtelike worsteling met God kom Jakob tot 'n baie belangrike insig: wat tussen hom en 'n toekoms vol vrede, vreugde en voorspoed staan is nie in die eerste plek sy skuld teenoor Esau nie, maar sy skuld teenoor God. In die pad van ware versoening met Esau, ontdek hy, staan nie in die eerste plek sy bedrog teenoor Esau nie, maar sy bedrog teenoor God. Ontdek Jakob dus dat 'n mens nie met jou broer kan versoen voordat jy nie eers met God versoen is nie.

Die vervreemding tussen hom en Esau was dus bloot net 'n simptoom van die vervreemding tussen hom en God. En voor dit nie reggestel was nie, kon daar geen versoening met sy broer plaasvind nie. Dit besef Jakob daar waar hy alleen by die rivier sit. Hoe kan ons so sê, kan u miskien vra? Jakob sê dit self: `Red my tog uit die mag van my broer, want ek is bang vir hom' (Gen 32:11). Met ander woorde, Jakob het besef: al kan hy hoe goed sy broer omkoop en sogenaamde vrede tussen hulle bewimpel, dit neem nie die vrees weg nie. Want al is sy saak miskien skynbaar met Esau reg, met God is dit nog lank nie.

Juis daarom konfronteer God Jakob die aand by die rivier as dié Een teenoor wie hy in die eerste plek skuldig staan. Wat Jakob verder ontdek is dat in al die jare van streke en skemas en sette en oneerlikheid God nie maar net 'n onbetrokke toeskouer was nie. Nee. Daardie dade was ook, en in die eerste plek, sonde teenoor God. En hierdie skuld moes nou bely word, moes nou uit die weg geruim word voordat hy Esau kon ontmoet.

En in sy worsteling met God ontdek Jakob 'n verdere belangrike saak: sy hulp in die lewe kan hy nie bou op plannetjies en skemas en streke nie. Nee. Sy hulp kan alleen van God af kom. En die wyse waarop God dit vir Jakob leer is merkwaardig: hy slaan Jakob op die heup sodat hy mank loop. God kon net sowel Jakob se been/heup afgeslaan het. Maar Hy doen dit nie.

Hy slaan dit net mank, meen ek, om ten minste twee redes: in die eerste plek as 'n voortdurende, ewige herinnering vir Jakob dat God altyd, soos sy mank heup, by die mens is, en altyd weet en sien wat die mens doen. En in die tweede plek: dat Jakob vir altyd sou onthou dat Hy afhanklik voor God leef, so afhanklik as wat God, as Hy wou, Jakob se heup heeltemal kon afslaan. Dat Jakob na die nag se worsteling nog kon lewe, ja, nog kon loop, was alleen die gevolg van die genade van God in sy lewe. Dat God hom, toe Hy hom eintlik moes oordeel en dood, in sy oordeel begenadig het. Wat Jakob dus besef het is duidelik: alleen op grond van die liefde en genade van God kan 'n mens bly bestaan. Want as God wil kan Hy sy genade terugtrek, en dan sterf jy.

Dat Jakob dit besef het, broers en susters, is baie duidelik uit wat Jakob dan ook later vir Esau sê wanneer hy sy broer tegemoet gaan. As Esau vra: `Wie is al hierdie mense by jou', dan antwoord Jakob nie — soos die Jakob van ouds seker sou geantwoord het — dit is die mense en besittings wat ek bymekaar gemaak het, wat ek met al my plannetjies en oneerlikheid bekom het nie. Nee, sy antwoord is die van 'n nuwe mens, die antwoord van iemand wat weet van wie alles in die lewe kom: `Dit is die kinders wat God in liefde vir my gegee het'. Nie wat ek in my bravade en eie krag versamel het nie, maar dit wat God vir my gegee het.

En die gevolg van dit alles: die begin van 'n nuwe verhouding tussen Jakob en Esau. Met God versoen kon Jakob nou, ook met Esau versoen, rustig woon en leef. Sonder vrees, sonder streke, met die voortdurende wete, elke keer wanneer hy mank na sy veekrale loop: ek is van God afhanklik, dit gaan goed, ek beleef vreugde en vrede, want ek het vrede met God.

Wat, broers en susters, leer hierdie ou verhaal ons. Ek meen die boodskap is duidelik: versoening tussen mense, ook tussen ons as broers en susters in Christus, kom nie deur allerhande plannetjies, skemas, die regte besluite op vergaderings, strukture of wat ook al nie. Versoening kom waar mense hulle met God versoen, met God in die lewe worstel en geworstel het, onder die diepe besef gekom het dat alles wat ons doen en is die gevolg is van die grasie, die genade van God.

Dan eers kan ons versoenend met mekaar saamleef. Want eers dan weet ons ware vreugde en vrede begin by God. By niks en niemand anders nie. Van God ontvangde vrede en vreugde wat ons in staat stel om so te gaan lewe dat ons ook in staat is om in ander se lewens vrede en vreugde te bring. Wat net een ding beteken. Die wêreld kan nie sonder God nie. Net God kan alles verander. Daarom is die opdrag aan ons om die evangelie met woord en daad te gaan lewe, soveel meer ter sake in ons tyd. Die uitspraak: `die wêreld het Christus nodig', is daarom ook alles behalwe iets wat maar net 'n charismatiese of sogenaamd te gevoelsmatige godsdienstige uitspraak is. En as die wêreld Christus nie in ons sien, sien hoe versoenend ons as gelowiges teenoor mekaar lewe nie, waar sal hulle dit sien?
Amen