Romeine 12: 9-21

Die geweld van die goeie



Broers en susters in onse Here Jesus Christus

Vers 21: “Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie”.

‘n Duitser by name Gerhard Zwerenz het ‘n paar jaar gelede ‘n kortverhaal geskryf met die titel: “’n Mens moet nie met jou laat mors nie”. Hierdie verhaal het min of meer as volg verloop:

Twee families woon in teenoorstaande woonstelblokke — kom ons noem hulle familie A en familie B. Op ‘n dag gaan leen die vrou van familie A ‘n braaipan by die vrou van familie B. Toe sy egter na etlike maande nog nie die braaipan terugbesorg het nie, begin mevrou B om lelike skinderstories oor haar in die buurt te versprei. Dit moes die ore van mevrou A bereik het, want die volgende dag toe kom die kinders van mevrou B van die skool af terug met oë wat toegeslaan is. Daardie nag grou familie B ‘n diep gat voor familie A se woonsteldeur, sodat die arme mnr A, toe hy die volgende dag wou werk toe gaan, met ‘n aaklige gil in die gat val en sy been breek. Eintlik ook maar goed so, want indien hy die gat vrygespring het, sou hy omgekom het in die bomontploffing wat sy kar aan stukke geruk het. Dadelik besluit familie A om wraak te neem , om vuur met vuur te vergeld, en hulle begin die woonstel van familie B met lugafweerkanonne bestook. Dié antwoord op hulle beurt deur ‘n klein atoombom netjies op die kombuisvloer van familie A te slinger…

‘n Onheilspellende paddastoelagtige wolk blom bokant die stad uit en só eindig die verhaal: Ons is nou wel almal dood, daar is nie meer woonstelle of strate of ‘n stad nie; net ‘n grysbruin vlek het oorgebly, maar mense, ons het ons kant gebring, ons het nie met ons laat mors nie!

‘n Mens weet nie mooi of jy moet lag of huil oor ‘n verhaal soos dié nie. Miskien moet ons, indien ons maar ‘n bietjie eerlik wil wees, huil oor hierdie verhaal, want hierin herken ons tog in ‘n groot mate ons eie lewenshouding, ons eie lewensverhaal.

Maar meer nog. Dit is in ‘n sin ook ons land se verhaal. Die ongeregtigheid en die bitterheid, die woede en wantroue het gemaak dat ons wat in een land in vrede moet saamleef, vegtende families, ja, vyande geword het. Ons lê weerskante van gevegslinies, figuurlik maar tog somtyds ook letterlik. Ons gluur mekaar aan oor geweervisiere, uitgerolde lemmetjiesdraad en goed gemikte projektiele. Ons sê: “So is die lewe mos, geweld roep om geweld, koeël om koeël, bloed om bloed, liggaam om liggaam, kinderlyk om kinderlyk. Dit is tog die wet van die wêreld, ‘n oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand. ‘n Mens moet mos nie met jou laat mors nie, of hoe?”

Hierdie kringloop van geweld het so monsteragtig geword, dat ons kan wonder of dit hoegenaamd nog gekeer kan word? Dit versprei soos ‘n kanker en sluk almal in sy pad in en verower en verwoes alles wat goed en mooi is. Niemand kan daaruit tree as wenners nie. Daar is net verloorders, want slagoffers word op hulle beurt weer daders en daders word weer slagoffers en slagoffers word weer net daders en so hou dit aan en aan in ‘n nimmereindigende, vernietigende draaikolk.

Wanneer ons dit alles waargeneem het, dan is dit geen wonder dat daar soveel mense is wat stom, geskok passief, deur die lewe gaan nie. Mense wat hulle verantwoordelikhede in die samelewing prysgee. Só gee mense as’t ware boedel oor aan die bose en laat die kwaad maar sy gang gaan. Intussen is die getal grafte besig om te groei en te groei...

In die tagtigerjare het ‘n Ierse sanggroep, The Fury’s, ‘n liedjie opgeneem waar die sanger tussen rye en rye wit kruise in ‘n begraafplaas staan. Voor hom is die graf van ‘n negentienjarige seun wat in 1916 in die een of ander groot veldslag gesterf het, en hy sing as volg: (Verskoon die engels)

But here in the graveyard it is still no man’s land,
the countless white crosses stand mute in the sand,
to man’s blind indifference to his fellow man,
to all generations that were butchered and downed,
And did they believe when they answered the call,
did they really believe that this war will end wars?
The sorrow, the suffering, the glory, the pain,
the killing and dying was all done in vain.
It all happened again and again and again and again...

Kan hierdie siek kringloop van geweld en teengeweld ooit gebreek word? Kan die seer en hartseer van sinnelose geweld stopgesit word? Kan dit? Dit kán. So sê die Woord van God vir ons. Nie net kan die kringloop gekeer word nie, maar kan ook die hele skema van kwaad wat telkens dreig om ons wêreld te verwoes, gekeer word. Dit is die implikasie van die woorde wat die Apostel Paulus aan ons voorhou in vers 21: “Laat jou nie deur die kwaad oorwin nie, maar oorwin jy die kwaad deur die goeie”.

Dit is ‘n merkwaardige, wil ons bykans sê, ongelooflike uitspraak wat gemaak word. Paulus moet tog self besef hoe moeilik, meestal onmoontlik dit is om die skakels in hierdie kettingreaksie te breek. Hy weet ook hoe swak die mense is aan wie hy skryf, hoe broos hulle is, mense van vlees en bloed. Nie mense wat ons engele sou kon noem nie, maar mense wat van nature geboei en bekoor word deur die bose. En tog staan dit hier, swart op wit: Oorwin julle, oorwin jý die kwaad met die goeie.

In die gelese gedeelte is daar 1 tema wat soos ‘n goue draad deurloop, naamlik die liefde. Eerstens ‘n liefde wat in die gemeente onderling moet heers, en daarna hulle optrede na buite moet kenmerk. Paulus het 11 aangrypende hoofstukke hieroor geskryf, sodat hy nou hier in die 12e hoofstuk kan sê: Kyk, die kwaad kán oorwin word deur die goeie. En die manier waarop dit gebeur, die wapens van die goeie...is die liefde.

Dit is ‘n besonderse tipe liefde waarvan Paulus hier praat. Dit is nie ‘n liefde wat gebore word uit ons eie vroomheid of voortreflikheid nie; nee, dit is ‘n liefde wat van buite onsself kom. Dit moet as ‘n geskenk aan ons gegee word. God moet hierdie liefde as ‘n gawe aan ons skenk. En Hy doén dit.

Dit is die liefde van God die Vader, wat ons herinner aan die Onse Vader gebed, veral met die klem op vergifnis, selfs van jou vyande. Maar dit herinner ook aan die liefde van die Seun, Jesus Christus. Dis immers die styl wat ons self by Jesus geleer het. Toe Hy aan die kruis gehang en beledig is, het Hy nie terug beledig nie. Toe Hy gely het, het Hy nie terug gedreig nie, maar oorgegee aan God wat alleen regverdig kan oordeel. Dit is egter ook die liefde van die Heilige Gees. Dié Gees wat ‘n verskeidenheid gawes aan die gemeente skenk, en ook hierdie één deurslaggewende gawe, naamlik die liefde, skenk.

Wat ons in hierdie verse hoor is die liefdes aanbod van God die Vader, God die Seun, God die Heilige Gees. Die troos vir ons vanoggend uit hierdie aanbod is: die kwaad kán gekeer word, want die kwaad is in beginsel reeds op Golgota oorwin. God het die bose magte ontwapen, Hy het die bose in die openbaar tot spot gemaak, want Hy het die bose weerloos meegevoer tot ‘n oorwinning aan die kruis. Die gevolg van die bose, naamlik die dood, is na twee dae vanuit die graf vernietig. Hy het by wyse van spreke, tot in die hart van die bose geklim, en die bose van binne oorwin. Dít is die evangelieboodskap wat die Gees sedertdien in die wêreld verkondig: die lewe, die liefde, die goeie, ja, Christus is uit die graf uit!

Juis daarom is hierdie oproep vanoggend, nie ‘n leë bevel nie, nie ‘n onhaalbare droom nie. Nee, die kwaad kan gekeer word, want die kwaad ís gekeer. Die bose kán gestuit word, want die bose ís gestuit.

Die geweld van die goeie, is sterker as die geweld van die kwaad. Ons “vyande” kan oorwin word, kan gewen word vir die goeie, net soos wat ons ook gewen is, en telkens gewen moet word, vir die goeie. Nie deur dit op die wêreld se wyse te doen deur ons vyande te domineer of te demoniseer of as dit nie help, helaas, die dood nie. Ook nie deur die kwaad goed te praat of oor die hoof te sien nie. Paulus leer immers: Verafsku wat sleg is. Ons kan die kwaad oorwin deur die kwaad en die bose te verras. Deur anders op te tree as wat hulle sou verwag of sou voorskryf. Deur te reageer met liefde, met versoening, met vrede, met die goeie. Die kringloop van die kwaad kan tot stilstand gedwing word, in die nuwe kringloop van die liefde. Hierdie nuwe kringloop is ‘n gawe van God, en tog moet dit ook sigbaar word in die gesindhede en dade van mense.

Hierdieliefdes aanbod, word terselfdertyd ook ‘n liefdesgebod. Dit vra die volle inset van ons as persoon, ons energie, ons tyd, ons lewe, ons alles. Veral in die tyd waarin ons leef, moet ons die skakels van die bose uithaal, en vervang met skakels van die goeie.

Broers, susters en kinders, die evangelie wil ons oproep tot verantwoordelikheid. Dit wil geensins ontken dat dit nie maklik is om die bose met die goeie te beantwoord nie, maar dit wil vir ons leer, dat met genade van God, dit wel moontlik is. Ons raak meer en meer bewus van mense wat reg in eie hande neem. Mense wat gefrustreerd is oor die geweldsituasie in ons land en terugslaan. Rugbyspelers wat heelwaarskynlik gereageer het na herhaaldelike strooptogte en reg in eie hand geneem het. Mans wat waarskynlik moedeloos is met die gebrek aan dissipline en willekeurig op taxi’s losbrand. Mense wat so gefrustreerd is met die situasie op ons paaie, dat hulle mekaar met bofbalkolwe platslaan. Mense soos u en ek, wat oënskynlik geen antwoord het op die situasie in ons land nie.

Maar gemeente, vanoggend het ons ‘n moontlike oplossing gevind, ons moet dit net ons eie maak. Deur God se genade, is dit moontlik om ‘n nuwe ketting van vrede te begin. Ons wéét vanoggend dat die antwoord op ons probleem, by God te vind is. Ons moet God se liefde, ons eie liefde maak. Ons het vanoggend die voorreg om hierdie boodskap te hoor en dit aan te gryp. As ons in die tronk sit, sal ons nie die geleentheid hê nie. Kan dit ooit die moeite werd wees, om kwaad met kwaad te vergeld, en as beloning, ‘n lewenslange tronkstraf kry? Gemeente, dit is nie God se oplossing nie, dit is die antwoord van ‘n wêreld waarin die bose regeer. Vir ons is die bose dood en verslaan, want die liefde van God, beheers ons lewe. Die bose kan waarlik oorwin word deur die goeie.
Amen