Johannes 9:1-12

Gee ons om of veroordeel ons?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Almal van ons het al verskeie kere in ons lewens van etikette gebruik gemaak. Ons kinders plak etikette op hulle skoolboeke om te weet watter boek is wat; ons werk etikette aan ons kinders se klere vas sodat dit nie by die skool verlore kan raak nie; ons plak etikette op konfytbottels om te weet watter konfyt in watter bottel is; en ons plak etikette op al die dose wanneer ons trek om te weet wat binne die dose is.

Net tragies, broers en susters, dat ons soms net so maklik en dikwels op mense etikette plak: nie omdat ons weet wat binne hulle is nie, maar omdat ons dink ons weet.

Soos die keer waarvan Johannes ons hier in hoofstuk 9 vertel. Jesus en sy dissipels, vertel hy, het op 'n keer op 'n man afgekom wat blind was van sy geboorte af. En dadelik het die dissipels vir Jesus gevra: `Rabbi, deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s'n?'

Met ander woorde, dat hierdie man 'n bedelaar was wat hulp nodig gehad het, het vir hulle niks getel nie. Ook nie dat hierdie man sy hele lewe as ‘t ware in 'n donker grot deurgebring het nie. Dit het vir hulle nie eers saak gemaak dat hy binne hoorafstand van hulle af gesit het nie. Nee. Hulle het klaar besluit. Hulle het klaar die etiket opgeplak. Sy blindheid was die gevolg van sonde. Al wat oorgebly het was om uit te vind wie se sonde dit was. Syne of sy ouers s'n.

'n Mens wil amper vra: hoe kon hulle so hardvogtig wees? So onsensitief? 'n Mens wil amper sê: hoe kon hulle so blind wees? Dalk gaan u nie van die antwoord hou nie: want dit is makliker om van mense te praat as om hulle te help. Want dit is makliker om iemand, wanneer hy of sy geval het, te beskinder as om die hand uit te steek en as een van sy/haar vriende gereken te word. Want dit is makliker om iemand se egskeiding te bespreek as om geskeides te help. Net so, broers en susters, is dit byvoorbeeld makliker om te stry oor die wenslikheid van aborsie al dan nie as om 'n weeshuis werklik te ondersteun. Of om te kla oor die welsynstelsel eerder as om armes te help.

Met ander woorde: dit is makliker om aan iemand of iets 'n etiket te hang of te heg as om werklik lief te hê. Maar dit is verkeerd, broers en susters. Dit is verkeerd om eers die etiket om te hang en dan die inhoud na te gaan. En het almal van ons dit nie ook maar ondervind nie? Kom ek noem 'n paar voorbeelde:

  • Iemand sê: So, jy het nie werk nie? Maar eintlik bedoel hy: seker maar 'n luiaard of niksnuts
  • Iemand sê: O, jy is 'n rekenmeester. Maar eintlik bedoel hy: Seker maar 'n vaal ou
  • Iemand sê: O, jy het op daardie skool skoolgegaan. Bedoelende: Ons almal weet dit is maar 'n swak skool.

En so kan ons aangaan, broers en susters. Maar kom ons erken maar: etikette is so gerieflik. Plak hulle op iemand, en jy weet presies waar om hulle in die spens te gaan soek.

Wat, broers en susters, as God dit met ons sou gedoen het? Wat as God ons aan ons uiterlike voorkoms geoordeel het? Wat as Hy geoordeel het op waar ons grootgeword het? Of ons beroep? Of die foute wat ons gemaak het toe ons nog jonk was? Of as Hy na ons sou gekyk het en gesê het: Nee wat, te veel sonde, te lui, te humeurig en buierig, te skelm. Hier moet Ek liewer verby.

Ons kan nie anders, broers en susters, om hier maar weer na Matteus 7:1-2 te gaan kyk nie. `Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie; met dieselfde oordeel waarmee julle ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word'.

Wat nie beteken dat 'n mens nie mag onderskei nie, broers en susters. Inteendeel. Dat 'n mens juis moet onderskei om te kyk wat in elke situasie werklik nodig is. Soos Jesus met hierdie blinde man gemaak het. Hy het hierdie man anders as sy dissipels gesien. Eerder as om hom te sien as 'n geleentheid vir bespreking en etikettering, het Jesus hom gesien as 'n geleentheid vir God, 'n geleentheid om God se genade aan ander sigbaar te maak. Waarom is hy blind, vra sy dissipels? Sodat die werke wat God doen in hom gesien kan word!

So effense ander perspektief, sou ek sê. Volgens Jesus is hierdie man nie 'n slagoffer van die noodlot nie, maar 'n wonderwerk wat wag om te gebeur. Daarom gee Jesus hom nie 'n etiket nie. Nee, Hy help hom. Want Jesus is meer begaan oor sy toekoms as oor sy verlede. En miskien, as ons dit verstaan, sal ons meer omgee en minder veroordeel.

Ek sluit af: Met wie het u vandag in hierdie verhaal geïdentifiseer? Heel waarskynlik het 'n paar van ons onsself in die blindgeborene gesien. Want dalk is u die een oor wie die mense praat. Miskien is u die buitestander wat toekyk terwyl ander u bespreek. Ja, miskien is u die een wat 'n etiket omgehang is.

Indien wel, leer dan wat hierdie man geleer het. Wanneer almal jou verwerp, aanvaar Jesus jou. Wanneer almal jou verlaat, eis Jesus jou op. Wanneer iemand anders nie tyd vir jou het nie, sal Jesus jou die woorde gee wat die ewige lewe gee. Ja, wanneer ander oor jou praat, sal God met jou praat. Of dit nou is om te vertroos of om te betig.

Ander van ons het dalk weer met die toeskouers geïdentifiseer. Want dalk is ons die wat ander geoordeel het. Wat die etikette omgehang het. Wat die hamer laat neerkom het en die skuld verklaar het voordat jy al die feite op die tafel gehad het. As dit so is, gaan gerus terug na Johannes 9:4 en maak seker dat jy begryp wat die werk van God is, en wat ook jou en my werk behoort te wees: `Solank as wat dit nog dag is, moet ons die werk doen van Hom wat My gestuur het'.

Wat is die werk van God? Om mense te aanvaar. Hulle lief te hê eerder as om te oordeel. Meer op hulle toekoms te konsentreer as op hulle verledes. Vir hulle te gee en te help eerder as om te oordeel.

Daarom, laat almal van ons maar mooi kyk voor ons die etiket 'n naam gee en dit stewig opplak. Dalk is ons net verkeerd.
Amen