Romeine 12:17-21; Jakobus 3:13-18; Matteus 5:9

Oorwin die kwaad deur die goeie



Votum en seën
Lofsang:
Na wet:

Na belydenis:
Gebed

Skriflesing:
Romeine 12:17-21
Jakobus 3:13-18;
Matteus 5:9

Sang:
Prediking:
Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Dit is eenvoudig opmerklik hoeveel onenigheid, konflik en haat daar soms, en miskien al hoe meer, tussen mense en groepe van mense is. Dit lyk soms asof mense net eenvoudig nie in vrede met mekaar kan saamleef nie. Daarom, as ons sê dat ons in ‘n tyd leef waarin daar ‘n byna onuitspreeklike behoefte aan vrede is, hoef dit eintlik nie eers betoog te word nie.

Maar waarom, broers en susters, is daar nie vrede tussen mense en groepe van mense nie? Dikwels omdat mense voel dat hulle verontreg is, dat hulle op 'n onverdiende wyse benadeel is.

Verder, broers en susters, kom vrede nie sommer vanself met 'n towerstaf nie. Om werklik vrede te maak is en kan nooit geen goedkoop oppervlakkige daad wees nie. Inteendeel. Vrede maak is 'n diep­gaande proses wat met inspanning en moeite gepaard gaan. Want soms, broers en susters, en ons almal ken dit, verg dit 'n byna bomenslike wil om bepaalde konflikte te bowe te kom. Geen wonder dat Jesus die vredemakers in Matteus 5:9 die eretitel `kinders van God' gee nie.

Die mense met wie Jesus in hierdie vers praat se omstandighede was nie veel anders as ons omstan­dighede vandag nie. Die oproep om vrede te maak in Jesus se tyd was dus ongetwyfeld net so moeilik uit­voerbaar vir sy volgelinge as wat ons voel dat dit vir ons vandag is.

Jesus se hoorders was die gewone mense van die land, heel waarskynlik diegene van die laer klas: vissers, timmermanne, kleinboere, werkers en dagloners. Op poli­tieke gebied het die hele land gebuk gegaan onder die on­derdrukkende heerskappy van die Romeinse ryk. Joodse gebruike is nie net geminag nie, maar die Romeinse lewenstyl het die Joodse kultuur erg verdring. Die mense in klein beroepe het gesukkel om 'n bestaan te maak omdat hulle nie opgewasse was teen die uitbuiting van die groot grondeienaars en geldbesitters wat die ekonomie beheer het nie. Die belastings was hoog, en veral die kleinboere het swaar geleef.

Die meeste mense het dus maar vir hulle daaglikse brood geswoeg. Die bekende bede van die Onse Vader, te wete ‘gee ons vandag ons daaglikse brood’ het ook beteken dat kos vir elke dag geen vanselfsprekendheid was nie. Dat die gewone hoorders van Jesus diep gegrief was oor hulle situasie, en dat hulle verbittering ervaar het teenoor die uitbuitende politieke owerheid en die rykes in die same­lewing is net menslik, natuurlik en logies. Sommiges van hulle, soos die Selote, die Samaritaan, die Egiptenaar, Menahem, Jesus ben Zakkai en nog baie ander het dan ook gepoog om die Romeinse juk met geweld af te gooi. Uit geskiedskrywing uit daardie tyd is dit duidelik dat opstande en die uitbreek van geweld aan die orde van die dag was.

Om in so ‘n situasie, broers en susters, 'n vredemaker te wees is geen geringe of maklike taak nie. En tog, dit is wat Jesus van sy volgelinge, en ook ons vandag as sy volgelinge, vra—dat ons vredemakers sal wees.

Waar moet ons vredemakers wees? Oral waar ons in onvrede met ander leef. In die huwelik, waar dit soms gebeur dat ons mekaar bitter seermaak as man en vrou. Of as kollegas. Dalk doen ons mekaar in by die werk. Ons neem ander dalk nie in ag nie. Ons steek mekaar in die rug. Of as vriende, waar ons dikwels probeer om onvrede op te los deur mekaar terug seer te maak.

Deur so op te tree wen niemand nie en baat niemand daarby nie, broers en susters, en ons weet dit. Of om kwaad vir die ander een te word en daarom nie met mekaar te wil praat nie. En as daar gewoonlik nie iets buitengewoons gebeur nie — sodat mense mekaar kan vind nie — dan is die volgende stap gewoonlik om mekaar af te kraak en sleg te maak

Of, broers en susters, om op die onreg jou aangedoen met wraak te antwoord. Waar ons dikwels met al die middele tot ons beskikking die persoon of persone wat ons leed aandoen terug leed aan te doen. Ons neem die strydbyl op. Ons dink aan allerhande maniere om hulle wat my leed aangedoen het te skaad, soos byvoorbeeld deur die persoon te beskinder of te beswadder. Oog vir ‘n oog en tand vir ‘n tand word dikwels ons strategie.

Die vraag is egter, broers en susters, of die woord van God so ‘n reaksie van ons verwag? Kan wraak 'n mens werklik beter laat voel indien jy leed aangedoen is? Wat meer is, wat word werklik bereik met so ‘n reaksie? Kan die oog wat van die teenstander geëis word ooit die eie oog teruggee? Sal dit nie juis die vyand aanspoor om nog die ander oog ook te neem nie? Die groot vraag is: sal iemand van buite die Christendom, veral vandag in ons omstandighede en in ons land, ooit glo dat 'n Christen 'n Christen is wanneer 'n Christen se lewe met haat, geweld, teenreaksie en wraak deurspek is?

Teenoor so ‘n lewe, broers en susters, kom die Woord van God met harde woorde: ‘Oorwin die kwaad deur die goeie’ (Romeine 12:21), ‘gelukkig is die vredemakers’ (Matt 5:9), ‘leef in vrede met alle mense’ (Rom 12:18), ‘die met wysheid van Bo leef in vrede met ander’ (Jak 3:18). Maar hieroor later meer.

Daar is natuurlik ook 'n tweede reaksie wat by mense of groepe teenwoordig kan wees as hulle verontreg word. Mens kan die leed wat jou aangedoen is passief verduur soos 'n skaap gelei ter slagting. ‘n Christen kan by­voorbeeld redeneer en sê: ‘Dit is nou maar eenmaal 'n ge­lowige se lot dat hy moet ly’. Hoe meer ek ly en die onreg my aangedoen sluk, des te groter sal my beloning eendag in die hemel wees.

Buitendien, deur alle eeue heen was daar oorloë en haat en nyd en konflik tussen mense. Dit is maar net ‘n teken of kenmerk dat hierdie aarde aan die verbygaan is. Ek die gelowige wag daarom op die toekomstige in die hemel waar sal daar vrede wees. Dit is nie my taak om my hier op aarde daarvoor te beywer nie. Die grootste Christene deur die eeue heen was buitendien martelare.

Ook hierdie beskouing kan nie die antwoord vir die gelowige wees nie. Indien 'n gelowige bloot ander se aanvalle op hom of haar absorbeer en passief ly sonder om iets daaraan te doen, is hy of sy slegs besig om 'n klomp haat in hom of haarself op te krop wat eendag in geweld tot uitbarsting kan kom. Meer nog: hy of sy is verder ook besig om die vyand of onderdrukker aan sy eie lot oor te laat.

Daar kan miskien oor so 'n optrede geoordeel word dat daar minstens nie met haat of geweld gereageer word nie, maar aan die ander kant word daar ook nie met liefde gereageer nie. Want niks word ook gedoen om die haat en geweld en onreg in hierdie wêreld te verminder nie.

Wat sê die woord van God, broers en susters, moet die Christen se optrede ten opsigte van geweld, haat, onvrede en woede wees? In Matteus 5:38‑48 gee Jesus as 't ware self 'n uitleg van sy saligspreking oor die vredemakers. Sy volgelinge moet nie maar net hulle vyand se haat bloot verduur nie. Nee. Hulle moet iets daaraan doen. Hulle moet poog om vrede te maak. Want dit is wat dit beteken om lief te hê.

Paulus sluit in Romeine 12 direk hier by Jesus aan. Die gelowige kan nie maar net kwaad met kwaad vergeld nie (Rom 12:17). Nee, die Christen se aktiewe taak is om die kwaad deur die goeie te oorwin (Rom 12:21). Paulus haal Spreuke 25:21-22 aan om dit te onderstreep: `As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is gee hom iets om te drink; want sodoende sal jy op sy kop vurige kole ophoop' (met ander woorde jy laat hom brand van skaamte).

Die gelowige moet dus so optree dat sy liefde die vyand se hart vermurwe. Die gelowige kan en mag dus nie 'n le­wenshouding van ‘verdra maar net’ hê nie, maar hy of sy moet aktief besig wees om op 'n nie-gewelddadige wyse sy vyand te oorwin.

En laat ons maar eerlik wees, broers en susters: hierdie soort lewe wat God van ons vra, hierdie manier van vrede maak, is so uit pas met wat daagliks in die lewe gebeur dat mens byna wil reageer deur te sê: ‘ag man, moet nou nie belaglik wees nie’. ‘n Ander saak moet ons egter nie vergeet nie: juis die oënskynlike belaglikheid van liefdevolle optrede het dikwels ‘n skokkende effek wat dit op die ou end juis effektief maak.

Dit is natuurlik nie altyd maklik om vrede te maak nie. Miskien omdat dit so deel van ons lewens is om eerder terug te betaal, of ons dikwelse gevoel dat dit die ander persoon se plig is om te kom regmaak. Ook maak som­miges nie maklik vrede nie, omdat die een wat vrede maak, dikwels as ‘n swakkeling deur die wêreld beskou word. Juis daarom vra dit soveel opoffering om vrede te maak, vra dit iets van ons as God se kinders.

Daar is egter ‘n paar redes, Bybelse redes, waarom dit belangrik en nodig is om vrede te maak.

In die eerste plek, broers en susters, is dit ‘n opdrag. ‘n Opdrag wat nie alleen van God kom nie, maar ook ‘n opdrag wat voortvloei uit die wese van God self. God self is ‘n vredemaker. Het Hy dan nie in Jesus Christus met ons kom vrede maak nie? Dit is hoe God is, en hoe Hy verwag sy kinders moet wees. Ons kan nie daarby verbykom nie.

Die tweede rede is dat, as ons nie vrede maak nie, ons mooi moet dink aan die resultaat daarvan. Is ons bereid om altyd met haat in ons harte te leef? Of, aan die positiewe kant: watter goeie gevolge is daar nie wanneer ons bereid is om die pad te loop wat Christus geloop het?

Is dit nie beter wanneer mense mekaar weer vind nie? Is dit nie goed wanneer mense mekaar weer in die oë kan kyk nie? Natuurlik. Maar nie net vir hulle nie, maar ook vir die rond­om hulle, die wat in dieselfde gemeenskap, dorp, stad of land woon.

Gelukkig is die vredemakers, het Jesus op ‘n keer op ‘n berg gesê. Want hulle sal kinders van God genoem word.
Amen
Dankgebed
Slotsang:
Slotseën