1 Johannes 3:1-10; Matteus 5:9

Vrede en mag, twee kante van dieselfde muntstuk



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Vrede tussen mense/groepe is alleen moontlik daar waar mense mekaar respekteer, mekaar erken as medemens, mekaar waardeer vir dit wat ons is, en mekaar sien as gelykes, juis omdat ons almal in die eerste plek skepsels van God is.
.
Die teenpool van vrede, broers en susters, is egter mag. Mag wat 'n gelyke vennootskap tussen mense eenvoudig net nie moontlik maak nie. Die eerste reël van mag, die verkryging daarvan, of, kom ons stel dit sommer prontuit, die gryp daarna, is om nooit af te buk na iemand toe nie. Moet nooit afbuk na ander om swak te lyk nie. Moet nooit afbuk om 'n fout te erken nie. Moet nooit afbuk om iemand te help wat jou nie miskien later kan help nie. Want afbuk beteken dat jy heel waarskynlik jou greep op jou sport in die lewe sal verloor, en so effens laer op die leer tot stilstand gaan kom.

Saam met die `nooit-afbuk-beginsel' is daar ook ander belangrike dinge wat 'n mens moet onthou, of doen, om mag te gryp. Naamspoggery, titelverwerwing, vertoon, magspeletjies en nog baie ander sake is hier ter sprake.

En die uiteinde van alles? Of ons dryf en beheer ander mense, of ander dryf en beheer ons. Of ander vrees ons, of ons vrees ander. Nie dat ek saamstem met mense wat sê dat die hele lewe in wese maar net 'n magstryd geword het nie, maar dat sommige mense soms magspeletjies speel (ons hierby ingesluit), is egter ongelukkig ook waar.

Miskien net 'n enkele opmerking voor ek aangaan, broers en susters. Ons moet darem net altyd bewus wees van die feit dat daar 'n groot verskil is tussen 'n strewe na voortreflikheid, en 'n strewe na mag. Die strewe/begeerte na voortreflikheid (wat terloops in almal van ons behoort te leef), meen ek, is 'n gawe van God, en uiters noodsaaklik in ons gemeenskap, waar 'n mens werk, maar ook in die kerk. Juis daarom word die strewe na voortreflikheid altyd gekenmerk deur respek vir ander mense, respek vir ander se kwaliteite, en ook die begeerte om God se gawes aan jou te gebruik op so 'n manier dat dit God behaag.

Want dit is eenvoudig waar, broers en susters, dat wat elkeen van ons kan doen soos niemand anders dit kan doen nie, byvoorbeeld dalk kinders grootmaak, huise bou, moedeloses bemoedig, werklik na ander te kan luister, sagmoedig en met deernis ander tereg te wys, of wat ook al. Maar daar is dinge, broers en susters, wat net u kan doen, en heel waarskynlik leef u om dit voluit en met oorgawe te doen.

Paulus praat byvoorbeeld hiervan in 1 Korintiërs 12 wanneer hy praat van die gemeente as liggaam, waar party voete is, ander hande, ander bene en ander weer ore of mond, om maar net daarmee te sê dat God aan elkeen bepaalde besondere gawes of vermoëns gegee het. En, natuurlik is ons dit aan God verskuldig om dit wat Hy ons gegee het, dit waartoe Hy ons in staat gestel het, uit te leef, uit te bou en aan te wend tot sy eer en opbou van mekaar.

Maar daar is 'n baie groot verskil, broers en susters, tussen jou bes doen om God te verheerlik, en te doen wat dit ook al kos om jouself te verheerlik. Die strewe na voortreflikheid is daarom 'n kenmerk van volwassenheid, en die strewe na mag eintlik kinderagtig.

Nou sal dit u dalk interesseer om te hoor dat die eerste werklike magspel nie op die oorlogsveld of in die politieke terrein plaasgevind het nie, maar in 'n pragtige en rustige omgewing, in die tuin van Eden. Die eerste belofte van prestige, eer en mag is gefluister met 'n sis, 'n oogknip en 'n slangagtige grinnik.

Want in die skaduwee van die boom van die lewe het die slang presies geweet wat om vir Eva aan te bied om haar te oorreed om van die verbode vrugte te eet. Dit was nie plesier nie, ook nie gesondheid nie, ook nie voorspoed nie.

Nee, dit was 'n geweldige aanbod, 'n aanbod wat Eva nie kon weerstaan nie. Hoor wat het die slang vir haar gesê: Maar God weet julle oë sal oopgaan die dag as julle van hierdie boom eet en dan soos God sal wees omdat julle dan alles sal ken.

Woorde wat Eva op 'n kwesbare plek getref het. Want dit was woorde wat eintlik gesê het: sit die kroon op jou kop. Tel die septer van mag op. Trek die mantel aan. En kyk hoe voel dit om mag te hê. Absolute mag soos God absolute mag het. Kyk 'n bietjie hoe lekker dit voel om in beheer te wees!

En Eva het die hoek ingesluk. Want die versoeking om soos God te wees, het haar siening van God verduister. Al wat sy gesien het was al die beheer, al die mag, die moontlikheid om jou lewe self te bepaal en in te rig soos jy wil. Sonder dat iemand in jou pad sal staan om enige van jou besluite en grille teen te staan.

Nou wil ek beweer, broers en susters, dat ons flirtasies met mag baie min blatant en openlik is. Inteendeel. Almal van ons word ontsteld wanneer ons hoor van mense wat ander huur om hulle vyande letterlik van die gras af te maak, wanneer ons agterkom dat veral in die politiek mense mekaar sal beswadder om hulle politieke mag uit te wis, of wanneer daar in die boewewêreld absoluut met mag vrees by alle teenstanders gewek word.

Maar dit beteken nie, broers en susters, dat ons soms ook maar die magspeletjie speel nie. Want die spel van mag het baie gesigte. Kom ek noem u 'n paar: dit is die werkgewer wat nooit enige werknemer sal prys vir goeie werk nie (want werknemers moet in elk geval op hulle plek gehou word), dit is die ouer wat altyd wil hê sy kind moet beter, en nooit die kind prys vir wat hy/sy wel al vermag het nie, dit is die man wat nooit bereid is om goed te wees vir sy vrou nie, want as hy dit doen, is hy bang dat hy sy magtigste wapen sal verloor — haar vrees vir sy verwerping. Dit kan die neem van iemand se lewe wees, maar doodeenvoudig ook die neem van iemand se beurt, dit kan die afkraak van ‘n ander deur ‘n skinderveldtog wees. Ja, dit kan selfs die oorname van 'n volk deur 'n leier wees, of selfs die oorname van 'n gemeente deur 'n predikant.

Want al hierdie speletjies, broers en susters, word net met een woord presies dieselfde gespel: M-A-G. En almal het dieselfde oogmerk: ek sal kry wat ek wil hê ten koste van jou, al moet ek ook wat aan jou doen. Almal het dieselfde spelplan: stoot, druk, dreig, gryp en lieg. Ja, wanneer ons en ander so maak, het ons almal na dieselfde slang geluister wat in ons ore saggies fluister: Dink net, jy sal soos God wees.

Net tragies, broers en susters, dat al hierdie speletjies ook almal dieselfde uiteinde het: hulle kom tot niks. Inteendeel, wanneer 'n mens bo staan, as daar so 'n plek is, is die enigste verdere moontlik pad wat jy kan gaan ondertoe. En die afgaanproses is dikwels baie pynlik.

Dit het Karel die Grote, broers en susters, om 'n voorbeeld uit die Bybelse tyd te neem, baie goed geweet. Daar word vertel dat hy die wat naby aan hom was gevra het dat wanneer hy eendag begrawe moes word regop op sy troon in sy graf, met sy kroon op sy kop, septer in sy hand, mantel om sy skouers met 'n oop boek op sy skoot.

Amper 'n duisend jaar later het keiser Othello, wat darem magtiger as Karel wou wees, beveel dat die graf van Karel oopgegrawe moes word om te kyk of hy soveel mag gehad het dat selfs na sy dood daar werklik aan sy versoek voldoen is. Hulle het alles gevind soos Karel beveel het: net nou was die troon skeef afgesak, die mantel was vol gate gevreet, en op sy skoot was die boek wat Karel die Grote versoek het: die Bybel, oopgemaak en gemerk waar daar in Matteus 16:26 staan: Wat sal dit 'n mens help as hy die hele wêreld as wins verkry, maar sy lewe verloor?

Jesus, broers en susters, praat egter anders oor mag. Vir Hom is die teenpool van mag nie swakheid nie, maar vrede. Kry vir jou mag in die hande, en jy sal soos God wees, het die slang gesê: Daarteenoor sê Jesus: wees 'n vredemaker, en jy sal 'n kind van God genoem word.

Wat verkies ons, broers en susters? Om een oomblik, of dalk langer, God in ons eie oë te wees en God oor ander se lewens te speel, of om vir ewig God se kind te wees?

Wat ons in wese in elk geval reeds is, broers en susters. Kyk hoe stel 1 Johannes 3:1 dit: Kyk watter groot liefde God aan ons bewys het, Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook. Wat meer is, sê Johannes, die wêreld ken ons nie, juis omdat ons nie God oor ander wil speel nie.

Maar Johannes stel dit ook in ander woorde in vers 10: Hierin is dit duidelik wie kinders van God is en kinders van die duiwel is, dit wil sê: hierin sien ons duidelik wie kinders van God is, mense wat vrede lewe, teenoor mense wat self God wil wees deur met mag, in mag en deur mag te wil lewe: iemand wat nie sy broer liefhet nie, behoort nie aan God nie.

Wat verkies ons, broers en susters? Om 'n oomblik/oomblikke God te wil wees, of vir altyd kind van God. Die keuse behoort eenvoudig te wees. Want wat kan die wêreld 'n mens meer bied as om God se kind te wees, broers en susters? Is daar byvoorbeeld 'n beter titel as die een, kind van God, wat ons reeds het, soos Johannes dit duidelik hier stel?

Sal dit, broers en susters, 'n duisend jaar van nou af saak maak watter titel die wêreld aan u en my toegeken het? Hoe belangrik ons sogenaamd was. Oor wie ons almal baasgespeel het? Hoeveel ons kon regkry om te dreig?

Nee, dit sal nie. Wat wel saak sal maak is wie se kind jy was. Kind van mag of kind van God. Want wie kind van God is het 'n status, 'n erenaam, sê Paulus in Romeine. Wat meer is, sê Hebreërs, kinders van God is kinders van die Koning, die ewige Koning. En wie kind van 'n Koning is het tog in werklikheid niks meer nodig nie.

Wie mag wil gryp, wil God wees. En mense kan nie God wees nie. Wie vredemakers is, is kinders van God. Wie kinders van God is, sê Johannes, bly in God, en God in hom.
Amen