Psalm 137

Wraak kom ons nie toe nie



Die volk bevind hulle tussen die Tigris- en die Eufraatrivier in die Babiloniese magsgebied. Israel is vernietig. ‘n Groot groep van hulle is weggevoer na Babilonië. Jerusalem die stad van koning Dawid, is verwoes. Die tempel op die berg Sion waar hulle tot God gebid het en waar hulle die offers gebring het, bestaan nie meer nie. Die volk is op hulle knieë, hulle is magteloos en verslaan. Hulle kan nie anders as om hulle lot te bekla wanneer hulle dink aan die situasie waarin hulle verkeer nie.

Vers 2 skets die hartseer omstandighede verder. Die liere wat bekend was vir die vrolike note wat dit voortgebring het, is stil. Dit is opgehang aan die wilgerbome wat aan die rivieroewers groei. Daar is nie meer ‘n nut vir die liere nie, want om vrolike musiek in hierdie tye te maak, sal onvanpas wees. Hulle word nog meer mismoedig, want die Babiloniërs verwag van die volk om vrolik en vreugdevol te wees. Hoe ironies is dit tog nie? Die Babiloniërs, wat vir Israel alreeds soveel leed aangedoen het, verwag nou van hulle om in hul oomblik van smart nog ‘n lied te speel!

In ‘n poging om die gevoelens van die Israeliete in hiérdie toestand te peil, moet ons probeer dink aan die omvang van die bespotting waaraan die Israeliete hier blootgestel is. Nadat die Babiloniërs die Israeliete alreeds soveel leed as slawe aangedoen het, kry die Israeliete ook nog die opdrag: “Vermaak ons met júlle musiek en liedere!”

Hierdie bespotting word nog verder gevoer! Die verwysing na ‘n ‘Sionslied’ waarna die Babiloniërs vra, dui daarop dat die Babiloniërs nie net 'n bespotting maak van die Israelitiese volk nie, hulle maak ook 'n bespotting van die magtige God van Israel. ‘n Sionslied is ‘n lied waarin die Israeliete vir God geloof het. Dit verwys na die heuwel Sion waarop die Tempel in Jerusalem opgerig is. Die Tempel was dan volgens die Israeliete dié plek waar God teenwoordig was. Dáár kon hulle hul magtige God gaan aanbid! Maar nou is die tempel geheel en al verwoes! En God? Waar is die volk Israel se God? Dis kompleet asof die Babiloniërs vir die Israeliete wil vra: “Sing vir julle God ‘n lied, Israel! Waar is julle God dan nóú? Hy het van julle vergeet!''.

Om uiting te gee aan hul absolute lyding en verlatenheid in hierdie situasie, vra die Israeliete dan die vraag: “Hoe kan ons die lied van die Here sing in ‘n vreemde land?”. Hulle het geglo dat godsdienstige handelinge in ‘n vreemde land nie moontlik was nie, aangesien dit te vêr verwyderd was van Jerusalem, van Sion, van die Tempel en gevolglik te vêr verwyderd van God. Hulle is te vêr verwyderd van God, aan wie hulle ‘n lied moet sing! Hulle is absoluut verlate!

Maar die Psalmdigter toon ‘n besonderse insig vir sy tyd. Hy lewer nou ‘n persoonlike getuienis. Dit word in die vorm van ‘n Sionspsalm gelewer. Ten spyte van die feit dat dit vir hom moeilik is om in ‘n vreemde land deel te kan hê aan die dáád om ‘n Sionslied te sing, hou hy vas aan die herinnering, aan die gedagte van Jerusalem.

Jerusalem is meer as net die plek wat eens bestaan het. Jerusalem omvat sy hele bestaan. Sy hele wese hang daarvan af. Hier is duidelik sprake daarvan dat Jerusalem vir die psalmdigter gaan om iets meer, om iets groter. Dit gaan om ‘n persoonlike verbintenis wat die psalmdigter met die God van Jerusalem beleef het. Daarom sal Jerusalem sy grootste vreugde bly, daarom kán Jerusalem sy grootste vreugde bly, want dit gaan nie meer om die lokaliteit van Jerusalem, of die gedagte aan Jerusalem nie – dit gaan om ‘n persoonlike verbintenis, wat hy weet nog steeds bestaan! Daarom kan hy, ten spyte van sy wanhopige toestand steeds bly vashou aan hierdie vreugde, aan hierdie verbintenis wat hy wéét bestaan, naamlik God se alomteenwoordigheid. Die gedagte aan God, bly sy grootste vreugde.

Die skrywer kan homself nie help wanneer hy ‘n tweeledige vloek uitspreek nie. Die eerste is teen die Edomiete wat bygedra het tot die val van Jerusalem en die tweede is teen Babel: “Gelukkig is hy wat jou babatjies gryp en teen ‘n klip verbrysel”.

Hierdie vergelding teen Edom en Babel word egter deur die psalmdigter in die hande van God oorgelaat. Die oproep aan die Here om “wraak te neem”, moet daarom eerder gesien word as ‘n oproep aan God om Sy heersende mag oor die wêreldmagte te bewys. In Sy oorwinning oor hulle, kan God bewys dat Hy selfs magtiger is as die magtige Babiloniese Ryk. Hierdeur kan God bewys dat Hy ook in beheer is van élke volk se geskiedenis.

God se volk, Israel, sit in die vreemde en voel godverlate. Hulle word gespot en beledig. Hulle God word gespot en beledig. Waar sal daar vir hulle uitkoms wees? Hulle hoop lê daarin dat God sal bewys hoe magtig Hy is. Dat God die Babiloniërs en Edomiete sal verslaan. Vir eers lyk hulle toekoms baie donker, want God is vêr, in Jerusalem, en Hy sien seker nie eers hulle probleme raak nie.

Weet u gemeente, dat daar ‘n bekende lied geskryf is oor hierdie teksgedeelte. “By the rivers of Babilon, there we sat down, there we wept, when we remember Zion”, gesing deur Boney M. Besef u broers, susters en kinders, dat ons ook vandag ‘n lied in dieselfde trant kan skryf. Dit sou dalk so kon klink: “Aan die suidpunt van Afrika, daar sit ons en ween, as hulle ons mense moor en ons van ons land vervreem”.

Daar was ‘n tydperk in ons geskiedenis wat die blankes tereg kon praat van Suid-Afrika as die land van melk en heuning. Ons voorvaders het na ‘n vreemde land gekom en dit opgebou tot ‘n vooruitstrewende plek. Werk was daar in oorvloed. Daar was genoeg kos en grondstowwe sodat ons bykans selfvoorsienend kon wees in ons eie behoeftes. God het ons mense geseën sodat ons vooruit kon boer. Die sewentiger -en tagtigerjare van die vorige eeu was ‘n bloeitydperk vir ons mense. Dit het goed met ons volk gegaan.

Daar was somtyds ook moeilike tye. Ons lees in die geskiedenis dat daar gereeld opstande in die Kaap was. Amper soos ons plaasmoorde van vandag. Ons weet ook dat die Engelse wreedaardig teenoor mense opgetree het. Ons dink maar net aan die konsentrasiekampe. Ook lees ons in die geskiedenisboeke dat daar somtyds gesinne en families uitgemoor is deur van die swartstamme. Ons is bekend daarmee dat daar ook van ons eie mense se babatjies se koppe teen rotse verpletter is.

Die groot depressie van die dertigerjare het ook sy merk gelaat op ons eie voorsate. Mense het in armoede en haglike omstandighede ‘n bestaan gevoer. Werk was so skaars soos die spreekwoordelike hoendertande. Maar ten spyte hiervan, het ons mense telkens weer die kop opgetel en aangegaan. Hulle het dit reggekry met ‘n yster wilskrag, en met die genade van Bo. Deur op God te vertrou het ons mense nooit tou opgegee en gaan sit nie. Het hulle nooit moedeloos geword en God begin verkwalik vir hulle omstandighede nie. God het altyd op Sy eie tyd weer voorsien.

Ons eie situasie vandag is ook een waarin ons soos Israel moedeloos raak. Ons beleef ons eie ballingskaptydperk. Alhoewel ons nog in ons eie land woon, voel dit baiekeer asof ons vreemdelinge hier is. Wanneer ons praat is dit oor die land se omstandighede. Elkeen van ons ken iemand wat al in ‘n geweldsituasie gesterf het of ernstig gewond is. Statistieke vertel vir ons dat daar die afgelope vyf jaar 65 000 mense in Suid-Afrika vermoor is. Dít terwyl ons in ‘n sogenaamde vredestydperk leef. In al die jare van die Angola-oorlog het daar nie naastenby soveel mense gesterf of is soveel mense gewond nie.

Ons hoor bykans elke dag op die radio van plaasaanvalle. Ons weet dat dit maar net die spits van die ysberg is wat ons ore bereik. Motorkapings is ‘n alledaagse gesig in die koerante. Verkragting, kindermolestering, huisbraak…die lysie word net langer en langer. Ons word deesdae ook voornemend gekonfronteer met plaasbesetting en grondonteiening. Daar heers ‘n gees van geen respek vir ‘n ander se lewe of sy besittings nie.

Net soos die volk Israel in ballingskap, is ons eie situasie ook een van hartseer, van mistroostigheid, van wanhoop. Ons eie lied wat ons sing is een waarin daar nie vreugde voorkom nie. Dit is ‘n lied waarin ons ook ons eie lot wil bekla. Ons mense is platgeslaan en moedeloos. Soos Israel sit ons ook met die vraag hoekom dit alles moet gebeur? Hoekom is dit so dat onskuldige mense vermoor word en verkrag word? Hoekom loop die skuldiges vry rond en lyk dit asof hulle beter daaraan toe is as ons? Hoekom tree God nie op om dit te keer nie? Die antwoord hierop is nie eenvoudig nie. As ons eerlik wil wees sal ons moet erken dat ons eintlik glad nie ‘n antwoord het nie. Ons weet nie hoekom die onregverdiges nie nou gestraf word nie. Al wat ons weet is dat hulle straf verseker in die hiernamaals, groot sal wees. God sal hierdie dade nie ongestraf laat nie.

Ons moet daarteen waak dat ons nie moedeloos raak nie. Soos ons voorvaders moet ons naby aan God leef. Moet ons op God vertrou dat Hy ook in hierdie dae vir ons ‘n uitkoms sal bring. Die meerderheid mense in Suid-Afrika is Christene. Die meerderheid mense is moeg vir die geweld. Dit is ‘n klein minderheid wat mense opsweep en bang maak, wat moor en plunder waar hulle gaan. Vandag, miskien meer as in die verlede, is dit nodig om te bid vir leiding. Moet ons as kerk sterk staan in die wêreld en aan die mense daar buite verkondig dat God die antwoord op ons probleme is. Dit sal ons alleenlik kan doen as elkeen van ons self gló dat God ons enigste hoop is. Ons moet daarteen waak dat die haat van die wêreld ons nie blind maak vir God se liefde nie. Dat ons eie haatgedagtes nie dalk tussen ons en God kom staan nie.

Dit is te verstane dat ons sal moedeloos word, dat ons gesprekke ons omstandighede sal weerspieël, dat ons mekaar sal opsweep tot vergelding. Dit help egter net ons slegte situasie aan. Ons moet vir mekaar begin hoop bring met God se Woord. Ons moet erns maak van ons gebede en waarlik om vrede begin bid, en dan ook erns daarmee maak om vrede te bewerkstellig. As mense haatpraatjies voer, moet ons Jesus Christus se liefde verkondig. As mense met wraakgedagtes rondloop, moet ons hulle oortuig dat dit verkeerd is.

Ons het die reg en die verantwoordelikheid om onsself en ons families te beskerm. Ons moet alles in ons vermoë doen om onsself te beveilig. Ons moet paraat wees vir elke situasie. Maar ons moet daarteen waak dat al die geweld en die wraakpraatjies van mense ons nie opsweep om self geweldenaars en moordenaars te word nie. Wanneer ons iemand aanrand of moor wat nie onsself bedreig nie, dan is dit verkeerd. Dan tree ons buite die wet op en dan gaan ons volgens daardie wet gestraf word. Bid gemeente dat God vir ons oordeel sal gee om nie roekeloos op te tree nie. Bid dat ons nie soos die geweldenaars sal word en self reg in eie hande wil neem nie.

Ons is bevoorreg broers, susters en kinders, dat ons nie soos die Israel van ouds Godverlate hoef te voel nie. Ons het vir Jesus Christus aan die kruis ontmoet en daarmee saam die belofte dat ons nooit alleen sal wees nie. God is hier by ons in die persoon van die Heilige Gees. Hy sien dat ons moeilike omstandighede het. Hy ervaar saam met ons pyn en lyding. Hy is nie blind en doof nie, Hy is bewus van al die geweld en spanning wat ons moet deurmaak.

Vertrou soos ons voorvaders dat God vir ons sal verlos uit hierdie omstandighede. Bid tot God sodat daar vrede in ons land sal wees. Bid tot God om vir ons harte te gee wat nie vol haat -en wraakgedagtes is nie.

Ons kan maar ons hartseer lied hier aan die Suidpunt van Afrika sing, ons moet egter onthou dat ons ook nog genoeg rede het om ‘n vreugdelied te sing, want ons vreugde is in God, God wat ook in ons geweldgeteisterde land teenwoordig is.
Amen