Matteus 24:36-44; 25:14-19, 31-40

Die kastele wat ons bou



Broers en susters in onse Here Jesus Christus

Ek wil vanoggend die prediking begin deur vir u te vra om twee prentjies in u gedagtes te teken, twee prentjies, meen ek, wat eintlik reeds aan u bekend is.

Die eerste prentjie is die van 'n kind op die strand. Die kind is druk besig om met sy emmertjie sandkastele te bou. Hy werk die hele oggend daaraan, pak kasteel na kasteel in 'n kring, grawe 'n sloot om dit uit, en gebruik roomysstokkies om brûe oor die grag te bou. En as hy klaar is, staan hy terug om met trots na sy handewerk te kyk.

Die tweede beeld is die van 'n man wat in sy kantoor sit en werk. Hy sorteer papiere en deel werk uit. Hy knyp die telefoon met sy skouer vas, want sy hande is nodig om op sy rekenaar te werk. Hy teken kontrakte, doen berekenings, en sien tot sy groot verligting dat hy 'n stewige wins gemaak het. En so werk hy sy lewe lank, maak planne vir die toekoms, maak planne om wins te maak, sy kapitaal te laat groei. Hy bou as 't ware brûe met kapitaal, om later in die lewe oor sy resultate terug te kan kyk. En laat ek dadelik bysê, ek wil nie hê dat u hierdie beeld noodwendig as 'n negatiewe beeld moet sien nie.

Twee mense wat in wese albei besig is om 'n kasteel te bou. Hulle vorm, skep iets sinvols, skep iets wat aanvanklik net in hulle gedagtes en drome bestaan het. Met harde werk maak hulle van hulle drome 'n werklikheid. Twee kastele, broers en susters, wat egter uiteindelik deur die inkomende gety platgestoot sal word.

Dit is die ooreenkomste tussen die twee. Maar daar is ook verskille. Die kind sien hoe die branders laatmiddag nader kom as die gety uitstoot, maar die man ignoreer dit. Die kind weet sy kasteel is tydelik en is nie verbaas of bang as die golwe nader spoel nie. Hy weet immers dat dit wel op 'n tyd hoogwater sal word, en het die hele dag gesien dat die golwe nader en nader aan sy kasteel spoel.

Die man weer, ken nie hierdie geheim nie en verstaan dit nie. Daarom sien hy nie elke dag al die dinge wat hom aan die einde van die lewe kan herinner, raak nie. Hy dink nie daaraan dat die opeenvolging van die seisoene, jare wat kom en gaan en die opeenvolging van die dae 'n duidelike teken is dat daar ook eendag 'n dag sal kom wanneer die gety van die lewe sy kasteel sal platstoot nie.

Die een dus voorbereid op die einde, die ander een nie. As die branders begin spoel, klap die een opgewonde op sy hande. Hy is nie jammer nie, weet daar is niks om voor bang te wees nie. Hy het mos geweet dit gaan gebeur. Daarom glimlag hy as sy torings kantel, tel sy emmertjie op, vat sy pa se hand en stap huis toe.

Ongelukkig gaan dit nie met die man so goed nie. Hy is paniekbevange as hy met 'n skok besef dat die brander van die tyd sy kasteel gaan platstoot. Daarom doen hy alles in sy vermoë om sy sandkastele teen die branders te probeer beskerm. Hy probeer die water afkeer, en dink met opstand in sy hart oor al sy harde werk. Dan word dit uiteindelik hoogwater, en kan hy niks meer doen om die muur van water te stuit nie. Al wat oorbly van sy magtige kasteel is paar handevol modder wat hy oorbluf vashou terwyl hy op sy knieë in die water staan.

As hy maar net geweet het, as hy maar net wou luister, as hy maar net dit of dat gedoen het, flits deur sy kop. Maar, broers en susters, soos die meeste van ons, het hy nie geluister nie.

Dit is met sulke mense, broers en susters, met wie Jesus hier in die besonder besig is in Matteus 24. Mense wat nie op die einde voorbereid is nie. Hulle weet nie wat gaan gebeur nie. Hulle is nie noodwendig wreed, opstandig, sondig of sleg nie, net blind en doof. Want hulle sien nie dat die son begin sak het, en hoor nie die geluid van die branders wat al hoe nader en nader kom nie.

God wil egter hê, broers en susters, dat ons nie alleen op die einde voorbereid sal wees nie, maar ook werklik soos sy kinders sal leef tot die einde kom. Feit van die saak is: niemand van ons weet wanneer Christus weer sal kom nie. Dit stel vers 36 immers baie duidelik.

Wat ons egter wel kan weet, is wat God van ons verwag tot die einde kom. Hoe Hy wil hê dat ons wat soms so maklik sê ons is sy kinders, werklik sal leef soos dit pas by kinders van God. Hoe God wil hê ons moet leef, broers en susters, vind ons net in die volgende hoofstuk, Matteus 25:14-30 en 31-40, respektiewelik die gelykenis van die muntstukke/talente en die van die skape en bokke.

In die eerste gelykenis, dié van die uitdeel van die geldstukke (toevallig ongeveer gelyk aan 6000 mans se dagloon), sien ons dat die eerste twee slawe woeker met dit wat die heer aan hulle gegee het. Die derde slaaf egter, gaan steek sy muntstuk veilig in die grond weg.

Nou is dit interessant, broers en susters, dat sy optrede, indien die muntstuk aan hom behoort het, heeltemal die regte optrede sou wees. Maar nie indien dit aan iemand anders behoort het nie, soos in hierdie geval. Hy was 'n slaaf, die muntstuk het aan sy eienaar behoort, en daarom moes hy daarmee woeker. Dit was die gebruik van daardie tyd, dit was van hom verwag.

Net so, broers en susters, sou ons, indien ons krag, ons vermoëns en ons tyd aan ons behoort het, dit ook maar kon wegbêre vir die dag wanneer ons dit sou hê. Maar nou behoort dit nie aan ons nie. Dit word deur God aan ons geleen, deur God aan ons geskenk.

Soveel te meer ons verlossing, die vergifnis van sonde, die ontvangs van God se liefde en versorging, God se geduld met ons, noem maar op. Ook dit behoort nie aan ons nie. Of, kom ons sê dit anders: God vergewe ons nie, broers en susters, Hy versorg ons nie, Hy gee ons nie ons ver­lossing sodat ons nou verlos, vergewe en versorg kan wees nie. Dat alles nou reg met ons en ons sandkastele kan wees nie.

Nee. Hy gee dit ook, en veral, om 'n ander rede. Sodat ons, wat verlos is, versorg is, weet wat dit beteken om vergewe te word, weet wat dit beteken om liefde te ontvang, weet wat dit beteken om met 'n genadige hand hanteer te word, weet wat dit beteken om in liefde en met deernis beskou te word, dit ook aan ander te kan gee.

Kom ek stel dit sterker. Sodat ons met dit wat God vir ons kan gee, kan woeker. Aan ander moet gee. Dit is immers waaroor die volgende gelykenis, die van die skape en bokke handel. Kom julle, sê Jesus daar, kom julle na My wat, toe Ek honger was, My kos gegee het, toe Ek dors was, My iets gegee het om te drink, Ek 'n vreemdeling was, My gehuisves het, Ek sonder klere was, my klere gegee het, toe Ek siek was, My verpleeg het, toe Ek in die tronk was, My kom besoek het.

En hier, broers en susters, moet ons nie net letterlik probeer verstaan wat Jesus sê nie. Dit gaan natuurlik hier oor hulle wat honger en dors is, wat nie klere het nie, ensovoorts ensovoorts. Maar dit gaan ook oor hulle wat honger is na ondersteuning, na 'n oor wat wil luister, honger en dors is na vergifnis, hulle wat soos vreemdelinge alleen in die wêreld rondloop, wat moeg en sat en moedeloos geword het, wat versorging na die siel nodig het, wat smag na die ware lewe van verlossing uit sonde en skuld. Hulle wat in tronke van skuldgevoelens, woede, haat en jaloesie opgesluit is.

Doen ons iets daaraan, broers en susters? Of bou ons elkeen maar net rustig aan ons eie sandkasteel? Ek gaan nie vanoggend, broers en susters, eers voorbeelde noem om hierdie somtydse lewenshouding van ons te beskryf nie. Maar kyk maar net gerus rondom u. Ken u hulle wat langs u, voor u of by u sit? Wat weet ons van hulle? Meer nog. Wat weet ander van ons? Het ons vir hulle, wat in wese ons broers en susters in die geloof is — hoe verstok hierdie uitdrukking ook vir u mag klink — vertel watter tronke ons in vasgekeer is, waar ons honger en dors lê?

Kerk speel, broers en susters, gelowig wees speel, is nie vir God goed genoeg nie. Is ons werklik gemeente, of kom ons maar net elke Sondag hier saam omdat die gemeente se grense ons op hierdie plek saambring?

Vir sover julle dit aan een van die geringstes gedoen het, het julle dit ook aan My gedoen. Dit is die Here se woord vanoggend aan ons. Dit is die boodskap waarna ons moet luister, dit is die branders wat ons moet hoor kom, net jammer dat soveel dit ignoreer.

U en ek, broers en susters, sien elke dag mense wat optree en leef asof hierdie wêreld nie alleen hulle enigste en permanente tuiste is nie, maar erg aan die eie kasteel bou. Selfs die eie geloofskasteel. Hulle, en ons moet onthou: hierdie lewe is nie ons ewige tuiste nie. Dit gaan tot 'n einde kom op 'n dag wat ons nie verwag nie. Ons is hier maar net reisigers wat eendag by die stasie sal moet afklim. Ons het nie 'n keuse nie.

Tot dan, verwag God van ons 'n bepaalde lewe. Bygesê, as ons werklik meen dat ons God se kinders is. Want as ons dit net in vorm en skyn is, kan ons maar aangaan soos ons aangaan. Maar as ons onsself werklik as God se kinders beskou, deel is van sy huis, saam met al God se ander kinders, kan en mag ek nie wat ek van God ontvang, net vir myself gebruik nie. Want as ons vir niemand of met iemand nie eers ons vreugde om aan God te kan behoort gedeel het nie, of vergewe het omdat ons vergewe is nie, het ons nog niks aan en vir God gedoen nie.

Hoe weet ons, broers en susters, of ons leef soos God van ons vra? Kan ons weet? Ek dink ons kan. Ons weet dat ons leef soos God van ons vra wanneer ons soos die kind rustig ons sandkasteel bou, en ons hande opgewonde klap as die son sak en die branders oor ons huis begin spoel. Erken dat ons tyd uitgeloop het, ons Vader se hand neem en huistoe gaan.
Amen