2 Petrus 3:1-7; 1 Petrus 4:7-11

Nugtere denke en geloof: om te werk en te bid



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Ons teksvers van vanaand, 1 Petrus 4:7 lees: `Daarom moet julle selfbeheers en nugter wees, sodat julle kan bid'. 'n Vers wat, wanneer 'n mens dit so met die eerste oogopslag lees, lyk of dit iewers nie klop nie. Want hier staan: jy moet nugter wees om te kan bid. 'n Gebruik van die woordjie nugter wat nie strook met wat ons gewoonlik onder nugter wees verstaan nie.

Want wanneer ons van iemand sê dat hy/sy 'n nugter persoon is (en laat ek dadelik sê, natuurlik gaan dit nie hier oor die verskil tussen nugter en onder die invloed nie), dan bedoel ons dat so iemand met albei voete vas op die aarde staan. 'n Nugter mens is iemand wat dinge en omstandighede objektief kan beoordeel, alle kante van 'n saak kan raaksien, en dan 'n verstandige besluit kan neem. Met ander woorde, 'n nugter mens is iemand met 'n besondere aanvoeling van die harde werklikheid van die lewe, met 'n besondere aanvoeling vir feite, syfers, bewyse, logika en gesonde verstand.

Gebed weer, broers en susters, verstaan ons gewoonlik weer as iets wat op 'n totaal ander vlak lê, te wete iets wat lê op die vlak van die geloof. Want wie opreg bid, broers en susters, sê eintlik by implikasie daarmee: Ek glo. Ek glo in God. Ek glo in die almag van God. Ek glo dat, maak nie saak hoe die feite en die werklikheid lyk nie, God tog op sy manier hier of daar sal ingryp en vir ons dinge anders sal maak, al druis dit wat ons van God vra letterlik teen alle logika, verstand en ja, nugtere denke in.

En nou kom Petrus, broers en susters, en hy maak nugterheid 'n voorwaarde vir gebed. En onmiddellik is die vraag: maar sluit die twee dinge mekaar nie uit nie? Dit is immers dikwels die argument wat ons by baie hoor, broers en susters: Bybel lees? Kerk toe gaan? Bid en in God glo? Nee wat, daarvoor is ek te veel van 'n nugter denkende mens!

Met ander woorde, broers en susters, die eintlike vraag is: moet 'n mens nie maar so 'n bietjie minder nugter wees om werklik te kan bid nie?

Die interessante is egter broers en susters, dat Petrus, en ook Paulus, elke keer wanneer hulle na nugterheid verwys, hulle nugterheid in verband bring met dinge wat gewoonweg nie met nugterheid geassosieer word nie: kom ek noem net 'n paar voorbeelde:

  • Wees nugter…en bly standvastig in die geloof (1 Pet 5:8-9);
  • Wees nugter…en hoop op die wederkoms (1 Pet 1:3);
  • Wees nugter...en lê julle toe op die liefde (1 Pet 4:7-8).

In die Bybel, broers en susters, staan geloof en nugterheid nie teenoor mekaar nie. Inteendeel. Geloof is die groot bewys van ware nugterheid, van werklike verstandigheid. Of andersom: volgens die Woord begin die dien van die Here juis by die wysheid, by verstandigheid en nugterheid.

Vir die Christelike lewensbeskouing is dit daarom nooit 'n geldige argument as iemand sy ongeloof wil regverdig deur hom op nugter denke te beroep nie. Om dit sterker te stel: 'n mens vergis jou radikaal as jy beweer dat jy te nugter is om te kan glo, want ware nugterheid is juis nie 'n eienskap van ongeloof nie, maar van geloof.

Hoe dan so? Kom ek probeer verduidelik. As nugterheid beteken om met die werklikheid rekening te hou, is die vraag onmiddellik: watter werklikheid?

Die ongelowige antwoord gewoonlik op hierdie vraag so: die werklikheid is dit wat ek met my oë kan sien en waaraan ek met my hande kan raak. God is daarom nie deel van hierdie werklikheid nie. God is maar net 'n projeksie, 'n uitvindsel van die mens. God is daardie iets waarna 'n mens vlug en waarmee jy jouself probeer troos as jy hierdie werklikheid nie meer kan hanteer nie. Of soos Karl Marx gesê het: godsdiens is die opium vir die volk. Dit benewel mense se verstand, dit laat hulle ontvlug uit die harde werklikheid van hierdie lewe, dit troos jou oor jou werklikheid. En so bedrieg mense hulleself, want hulle hou nie rekening met die werklikheid nie.

Presies die soort argument wat ons in 2 Petrus 3:3-4 kry: in die laaste dae, sê Petrus, sal daar mense wees wat spot en sê: en wat het nou geword van die belofte van die wederkoms? Dit wat julle sogenaamde Bybel belowe? Want ons vaders is al dood, en tog het alles nog presies net so gebly soos dit was van die skepping af. Dus, as jy nugter oor die saak dink, kan jy tog nie aan iets soos die wederkoms glo nie. Alles bly maar net soos dit is. En om nou te gaan vashou aan 'n belofte dat Jesus weer sal kom, dit is tog nie redelik nie! Word tog so 'n bietjie nugter!

Die geloof, broers en susters, kan nie anders as om hierop soos volg te antwoord nie: hierdie is skyn-nugterheid, die skyn-nugterheid van die ongeloof. Die spotters se probleem is dat hulle juis nie nugter genoeg is nie. Inteendeel. Hulle standpunt verraai juis 'n geweldige gebrek aan nugterheid. Want hulle maak vir alles voorsiening behalwe vir die een groot werklikheid, te wete dat juis God, Hy wat alles gemaak het, die grootste en allesbepalende werklikheid is.

Paulus praat pragtig in 1 Tessalonisense 5:4-8 van hierdie spotters wat nie rekening hou met die bestaan van God nie. Hulle is mense van die nag, sê hy, mense van die duisternis. Nagmense is mense wat slaap of hulle dronk drink, sê hy. En ons weet mos, broers en susters, dat mense wat slaap of dronk is een ding in gemeen het: hulle is totaal uit voeling met die werklikheid.

Uit voeling met watter werklikheid? Die werklikheid dat Jesus gesterf en opgestaan het. Dat sy Gees op Pinksterdag uitgestort is. En dat Hy eendag weer sal kom.

Interessant, broers en susters, is dat daar ook met Jesus gespot is toe Hy aan die kruis gehang het (Matt 27:39-43), dat sommige gespot het toe die Heilige Gees uitgestort is (Hand 2:13), en dat ook met die wederkoms gespot is. Met ander woorde: spotters van God en sy beloftes sal daar maar altyd wees.

En 'n mens kan jou kwalik, broers en susters, 'n meer verdoemende oordeel oor die goddeloses en die spotters voorstel as dit wat ons in Psalm 2:4 kry, waar ons lees: `Hy wat in die hemel woon, lag hulle uit, die Here spot met hulle'. En is dit nie 'n ontsettende gedagte nie, broers en susters? Dat God 'n mens uitlag. Persoonlik dink ek dit is om van terug te deins.

Genadiglik, geliefdes, het God nie vir ons gelag in ons sondenood nie, maar eerder daaroor gehuil, en daarom vir ons gesterf. Maar iemand wat in die naam van sogenaamde nugterheid God en sy gebod ontken, vir so iemand begin God wat in die hemel woon, te lag. Watter, wil ek amper sê, verskriklike ontnugtering! En vir so iemand, broers en susters, wat sogenaamd by nugterheid begin, God ontken en dan deur God daaroor uitgelag word, eindig dit nie alleen by ont-nugtering nie, maar ook by die donker. Want vir so iemand word dit letterlik nag.

Maar ons, sê Paulus, ons is nie van die nag nie, ons is van die dag! Want ons, juis omdat ons nugter is, leef vanuit die wonderlike werklikheid dat God bestaan, dat Jesus Christus vir ons sondes kom sterf het, dat Hy opgestaan het en leef, en ja, dat Hy eendag weer sal kom om ons volledig by Hom te neem. En juis, broers en susters, leer die Woord ons, omdat ons hierdie sekerheid het, word daar van ons verwag om wakker en nugter te wees.

Daarom die talle oproepe in Bybel soos: wees wakker, wees gereed, wees nugter, waak, leef elke dag in die verwagting dat Jesus se kom naby is. Wees nugter en verstandig deur daarmee rekening te hou. Anders sal daar met julle gespot word, ander sal julle, uit voeling met die werklikheid, aan die slaap gevang word!

Beteken hierdie nugterheid, broers en susters, dat ons daarom nou maar die kantoordeur moet toetrek, ons huise moet verkoop, moet ophou werk, skoolgaan en studeer?

Interessant is dat daar mense in Tessalonika was wat presies gedink het dat dit is hoe dit behoort te werk. Die wederkoms is op hande, het hulle gehoor, en daarom, het hulle geoordeel, is daar nie meer tyd oor om te werk nie. Maar luister met watter skerp woorde het Paulus hulle tereggewys: wys hierdie leeglêers tereg (1 Tes 5:14), onttrek julle aan elke broer wat so leeglê (2 Tes 3:6), as iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie (2 Tes 3:10), julle moet julle aandag by julle werk bepaal en julle eie brood verdien (2 Tes 3:12). Die wederkoms, sê Paulus, maak werk juis nie oorbodig nie, maar gee dit eerder 'n dieper en noodsaaklike dimensie.

Daar is egter 'n ander en groter gevaar (as ledigheid) vir ons in die tyd waarin ons leef, broers en susters. Dit is dat ons so sal opgaan in ons werk, dat ons so deel sal word van die daaglikse roetine, dat ons die Bybelse nugterheid sal verloor en kan begin glo dat ons lewens enkel en alleen bepaal en beheer word deur die wêreld waarvan ons deel is. Dat ons lewens so gevul kan word deur die dinge wat ons sien, waaraan ons kan raak, die hier en die nou, dat ons ons perspektief, hoop en verlange na die nuwe hemel en die nuwe aarde kan verloor.

Daarom Petrus en Paulus se opdrag: werk en bid! Julle wat dink die wederkoms is so naby en wat daarom ledig wil rondsit: begin te werk! Doen wat van jou verwag word, gebruik die talente wat God jou gegee het tot Hy weer kom! En julle wat net wil werk en nie meer uitsien na die wederkoms nie, begin vir 'n slag weer te bid. Wees wakker en nugter, juis dat julle kan bid en God elke dag meer en meer kan leer ken en kan verwag.

Gebed, broers en susters, is dus vir nugter mense. Vir mense wat nugter genoeg is om te glo en te weet: daar is 'n God in die hemel. Daar is 'n God wat sy hand hou oor die lotgevalle van mense, gesinne, gemeentes en volke.

En u sal met my saamstem, broers en susters: juis in vandag se tyd het ons mense nodig wat nugter is, mense wat realisties is, het ons ouers, predikante en ouderlinge nodig wat nugter en realisties is, sodat ons kan werk aan ons omstandighede, aan dié se omstandighede vir wie ons verantwoordelikheid geneem het, en vir hulle te bid, en vir ons, dat God ons nugter, wakker en biddend sal aantref wanneer Hy weer kom!
Amen