2 Timoteus 3:1-17

Ons elkeen se groot skuldlas: die liefde



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Die lewe is hard, hoor ons soms mense sê. Die lewe is bitter. Die lewe is wreed. Die lewe is moeilik. Ons ken almal hierdie uitsprake. En in 'n sekere sin, broers en susters, is dit ongelukkig soms waar. Soms is die lewe moeilik en bitter. Juis omdat ons in 'n gebroke wêreld lewe, 'n onvolmaakte wêreld, 'n wêreld wat bewoon word deur sondaarmense, 'n wêreld waarin sommige gebeure geweldige invloed op mense se lewens kan hê.

Dit is egter net so waar, broers en susters, dat alles wat in hierdie wêreld skeefloop, nie altyd op die rekening van die `wêreld' of die `lewe' geplaas kan word nie. Want behalwe vir die feit dat die lewe soms ook mooi kan wees, ja, ek wil amper sê, ingrypend mooi kan wees, is dit verder net so groot feit dat die grootste deel van die leed, swaarkry, bitterheid en lyding wat ons soms in hierdie wêreld ervaar, nie maar net die gevolg van die kragte in die wêreld, die sogenaamde noodlot of wat ook al is nie, maar die gevolg is van dinge wat mense doen. En meer in die besonder: die gevolg is van dinge wat mense aan mekaar doen. Soos iemand eendag vir my gesê het: te dikwels is ons die argitekte van ons eie ellende.
Dat mense die lewe vir mekaar bitter kan maak, en dit inderdaad nog steeds doen, en eintlik altyd sal doen, is 'n waarskuwing wat ons vanoggend baie duidelik in ons gelese gedeelte het. Duidelik sê Paulus dit wanneer hy uit die tronk hier aan Timoteus skryf: `…in die laaste dae sal swaar tye kom'.

En nou moet ons dadelik goed verstaan, broers en susters, dat wanneer die Bybel, en in die besonder die Nuwe Testament van `die laaste dae' praat, daarmee nie bedoel word 'n tydperk êrens vorentoe in die verre toekoms nie, maar dat dit dui op die tydperk wat begin het by die koms van Jesus Christus na die aarde toe, en sal eindig by sy wederkoms. Dus, wat Paulus hier sê is: die tydperk waarin ons nou lewe, nou, vandag, en tot Jesus Christus weer kom, sal daar swaar tye wees. Dus ook in ons tyd.

Wat sal hierdie tyd so swaar maak? Paulus se antwoord op hierdie vraag sal u miskien verras: nie aardbewings, hongersnood, droogtes, oorstromings, swak ekonomiese omstandighede, hoë rentekoerse of duur lewenskoste nie (m a w, nie die dinge wat ons altyd meen hierdie lewe so swaar en bitter maak nie).

Nee, sê Paulus, daar sal swaar tye kom, want die mense, hulle sal die oorsaak daarvan wees. Wat van hierdie mense, sal u miskien vra? Die mense, sê Paulus, sal God en sy verbod verwerp. Die wêreld sal skeefloop by die hart van die mensdom. Die laaste dae, dus die tyd waarin ons leef, sal 'n ander menstipe oplewer. Mense wat veral sonder liefde sal wees. Sonder liefde vir God, sonder liefde vir die medemens, sonder liefde vir die goeie.

Want die liefde vir God, sê Paulus — en hy gebruik hier drie baie sterk Griekse werkwoorde — sal verdring word deur liefde vir die self, liefde vir geld en liefde vir genot.

Ook die liefde vir die medemens sal in die slag bly, sê Paulus. Die mense sal liefdeloos en onversoenlik wees, beledigend teenoor hulle medemens, opstandig en ondankbaar, kwaadgesind, wreed, vals en hooghartig. Daarom, sê die Bybel, sal daar swaar tye wees. Die mense sal die lewe vir hulleself en vir mekaar swaar en moeilik maak.

Die feit dat Paulus hier van die huidige tyd, van ons tyd praat, broers en susters, sien ons eenvoudig net te veel raak elke dag. Ons lees van hierdie dinge elke dag in die koerant. Dit gebeur rondom ons. Om die waarheid te sê, die hele 20ste eeu getuig daarvan, die eeu waarvan daar so baie verwag is, en waaroor sulke mooi drome gedroom is.

Die van u wat in die geskiedenis belangstel, sal presies weet wat ek hiermee bedoel. Want wat het gebeur hier so teen die draai van die 19de en 20ste eeu? Gee maar net die vernuftige mens, met sy denke en al sy vermoëns kans, is gesê, en hy sal vir homself 'n wonderlike paradys, 'n utopia, skep. Waar alles wonderlik, reg en goed sal wees, juis omdat die mens met sy vermoë alles wonderlik, goed en reg sal maak. Want vroeër van God gebid is, is gesê, sal ons nou sommer self doen. Ons sal alles regmaak, reg doen en reg hou.

En toe kom die 20ste, broers en susters. 'n Eeu van geweldige hoogtepunte (ja, dit was ook daar), maar ook 'n eeu van ongeëwenaarde haat en geweld. Twee bloedige wêreldoorloë en 'n hele reeks ander gebeure skud die mensdom. Een dodelike wapen na die ander word vervaardig. Die misdaadsyfer neem wêreldwyd toe, om nie eers te praat van georganiseerde misdaad nie. En armoede en hongersnood is aan die orde van die dag. Dus, allesbehalwe 'n utopia!

Waar, kan 'n mens vra, broers en susters, het dit alles skeefgeloop? Wat is vir al die chaos verantwoordelik? Is dit botsende ideologieë? Die internasionale magstryd? Sosiaal-maatskaplike probleme? Bepaald, want natuurlik is dit alles deel van die oorsaak van die wêreld waarin ons nou leef.

Maar, sê Paulus hier by implikasie, dit bring ons nie by die kern, by die hart van die probleem van ons tyd nie. Want agter al die bloedvergieting, agter al die onreg en uit-buiting, sê Paulus, skuil die bedorwe hart van die mens, harte waaruit die liefde verdwyn het.

Want die mense sal, sê Paulus, liefhebbers van hulleself wees. Daarin, sê die Bybel, kan die kern van al die ontaarding saamgevat word. En is dit nie eenvoudig net te waar nie, broers en susters? Wie 'n liefhebber van homself is, wie op homself verlief is, dink eenvoudig net nie aan ander en ander se belange nie. Ander se geluk en welsyn is vir so iemand eenvoudig net nie van belang nie.

En ons weet mos maar te goed hoe hierdie selfliefde alles kan verwoes, broers en susters. Net een lid van 'n huisgesin wat 'n liefhebber van homself is, maak mos sommer maklik die hele huisgesin ongelukkig. Een kollega by die werk wat sy eie sin en wil op alles en almal wil afdruk, vertroebel die hele atmosfeer by die werk. Ja, broers en susters, so kan net een persoon, of dit nou by die huis, by die werk, by die skole van ons kinders, in die gemeenskap of in die kerk is, die gevolg het van haat en verdeeldheid.

In hierdie wêreld, sê Paulus, is die Christen, elke gelowige die kerk, dus ons, geroep om anders te wees en anders te lewe. Want teenoor die goddelose mens van die laaste dae, sê Paulus, staan die mens wat die verlossing gevind het in Jesus Christus, die mens wat in gehoorsaamheid aan die Skrif leef, mense wat in diens van God staan, God se mense, noem Paulus dit in 2 Timoteus 3:14-17.

En hierdie mense van God, sê Paulus, het 'n ander lewenswyse (v 16), hulle is mense van die liefde (2 Tim 1:13; 3:10), hulle streef na vrede, is vriendelik teenoor almal, hulle vermy rusies (2 Tim 2:22-25).
Ons, die Christene, is tot hierdie liefde verplig. Al het u dit al soveel keer gehoor, ons is tot hierdie liefde verplig. Jesus self het aan ons hierdie gebod as opdrag gegee. Gaan lees maar gerus 1 Johannes en kyk hoeveel die Bybel dit daar sê. En nie net mekaar nie, selfs ons vyand moet ons liefhê. Soos ons onsself liefhet, moet ons ander liefhê.

Wat meer is, broers en susters, is dat die Christelike liefde van ons vra dat mense moet liefhê as mense, as dit wat hulle is. Soos God ons as mense, met ons sonde en al ons gebreke , in Christus liefgehad het. Sonder voorwaarde. Deur jouself soveel as moontlik in ander se skoene te probeer plaas, soos Jesus homself in ons skoene kom plaas het deur mense te word en as sondelose mens vir sondaarmense te kom sterf.

Nou weet ek maar te goed, broers en susters, dat die betoning van onvoorwaardelike, Christelike liefde, nie alleen soms bitter, bitter moeilik is nie, maar ook sy risiko’s het. Want wanneer 'n mens 'n ander onvoorwaardelik liefhet, maak jy jouself kwesbaar, jy stel jouself bloot, juis omdat 'n mens, as dit kom by onvoorwaardelike liefde, jouself as 't ware aan ander gee. Wat beteken dat 'n mens soms, in die uitleef van die liefde, baie seer kan kry.

Daar is 'n Griekse legende wat dit pragtig stel: die liefde, lui hierdie legende, dra soos die bye heuning, maar ook 'n angel met hom saam. Dit bring geluk en vreugde waar dit beantwoord word, maar geweldige pyn en hartseer waar dit verwerp en onbeantwoord word.

Maar miskien moet ek hier bysê, broers en susters: die feit dat die liefde met homself 'n angel saamdra, hang waarskynlik daarmee saam dat alles wat soms in die naam van liefde aangebied word, nie waarlik liefde is nie. Hiervan is daar soveel tragiese voorbeelde: uit sogenaamde liefde wil die moeder of vader hulle kind se lewe vir hulle leef, of sê die vriend vir sy vriendin: `as jy my liefhet, dan sal jy..' En veral met ons kinders, broers en susters, moet ons versigtig wees: ek glo dat veral 'n kind kan aanvoel wanneer die liefde opreg is of wanneer dit kortkom.

Ek wil begin afsluit: in ons tyd, in die laaste dae, noem Paulus dit, moet ons miskien vir 'n slag ons lewens en ons wêreld goed onder die vergrootglas neem. Lyk ons wêreld soos hy lyk omdat ons uitgelewer is aan magte soos die ekonomie, die politiek, die ongelowiges (of watter sogenaamde stuk[kie] noodlot ook al), of lyk dit om ons soos dit lyk omdat die mensdom die sleutel tot 'n gelukkige bestaan, die Christelike liefde verloor het? Hoe lyk u huwelik, 'n verhouding met u kollegas by die werk, u verhouding met 'n huisgesin, met u breër familiekring, met u mede gemeentelede? En as ek dit so stel, wonder ek soms of iemand wat in selfliefde lewe, nog bereid sou wees om dit te doen.

Maar selfs as ons bereid sou wees om dit te doen, broers en susters, moet ons egter een laaste ding baie goed onthou: liefde, ware liefde, die Christelike liefde, kom nie sommer net spontaan in die hart op nie. Dit val nie in 'n mens se skoot nie. Ons besit dit nie ook van nature nie. Nee, ons kan dit net as 'n gawe van Bo ontvang, ons kan dit net ken en leef as ons werklik 'n lewende, dinamiese, bloeiende en groeiende verhouding met ons Skepper het. Want wie God ken, sê 1 Johannes 4:7 baie duidelik, sal die liefde ook ken.

En ons, broers en susters, wat God ken, dus die liefde ken, dus die liefde in ons hart ontvang het, moet egter goed hoor: ons is 'n dure verpligting opgelê: 'n Verpligting wat die Woord van God in Romeine 13:8 so stel: `Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê'

Geleentheid om hierdie liefde te betoon word aan ons almal gegun. Ons elkeen behoort tot 'n familie- of vriendekring. Ons almal woon iewers met ander langs ons of by ons. Niemand van ons leef so alleen dat ons nooit iemand anders raakloop nie. U en ek sit ook nie vanoggend hier stoksielalleen in die kerkbanke nie.

Daarom kry almal van ons elke dag die geleentheid om die skuld van die liefde te vereffen. Elke dag. En wie met die Christelike liefde erns maak, sal gou agterkom dat ons nooit aan hierdie skuld klaar betaal sal kry nie. Veral nie in die laaste dae waar daar swaar tye was, is en sal kom nie!
Amen