1 Tessalonisense 2:17-20

Ons sal eendag sien hoe God ons gebruik



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
In die laat 1990’s het ‘n film ‘Schindlers List’ die lig gesien wat verskeie toekennings ontvang het. Die film handel oor ‘n Duitser, Oskar Schindler. Schindler was ‘n man met alles behalwe ‘n onbesproke karakter. Hy het kwaai gedrink, was ‘n vrouejagter, en het, soos almal maar in Duitsland gedoen het in die tyd van die Tweede Wêreldoorlog amptenare omgekoop vir gunste.

Ten spyte van dit alles, broers en susters, het Schindler egter die nood van die Jode in die konsentrasiekampe Duitsland raakgesien, en het hy dit op homself geneem om diegene wat Hitler wou doodmaak, te red. Hy kon nie almal red nie, maar het gedoen wat hy kon. Wat begin het as ‘n fabriek wat daarop uit was op wins te maak uit die oorlog, het ‘n toevlugsoord geword vir 11 000 wat by hom gewerk het. 11 000 gelukkige mense wie se name op sy lys beland het: Schindler se lys. Die mense op die lys het by hom gewerk, en hy het telkens op een of ander manier gesorg dat hulle niks oorkom nie.

Indien u die film gesien het, sal u onthou hoe dit eindig. Die Nazi’s was verslaan, almal in die konsentrasiekampe is vrygelaat, en Schindler moes vlug. Die rolle was nou omgeruil, nou het hy die vervolgde geword. Toe hy in die nag stilletjies wou verdwyn, het hy op pad na sy motor homself egter vasgeloop in die mense wat in sy fabriek gewerk het, die mense aan wie hy skuiling gebied het.

Maar hulle was nie daar om hom dood te maak nie. Hulle het gekom om hom te bedank vir wat hy vir hulle gedoen het. ‘n Brief van bedanking is aan hom oorhandig waarop almal geteken het wie name op sy lys was. Ook het hulle aan hom ‘n ring oorhandig wat gemaak was uit die goud wat hulle uit van die werkers se tande gehaal het. En in die binnekant van die ring was daar ‘n vers uit die Talmoed gegraveer: ‘Hy wat ‘n enkele lewe red, red die hele wêreld’.

En daar het almal gestaan. Schindler aan die een kant, en die bevrydes aan die ander kant. Rye en rye gesigte. Mans en vrouens. Ouers met hulle kinders. Mense wat dankbaar was vir wat hierdie man vir hulle gedoen het. Wat, sou ‘n mens kon vra, het op daardie oomblik deur Oskar Schindler se gedagtes gegaan? Want watter gevoelens ervaar ‘n mens wanneer jy van aangesig tot aangesig staan voor mense wie se lewens jy ingrypend verander het?

U en ek, ons, broers en susters, sal nog eendag uitvind. Schindler het die gesig van elke geredde gesien. Ons sal eendag ook. Schindler het die dankbaarheid van verlostes aangehoor, u en ek sal dit ook eendag hoor. Hy het daar gestaan, tussen geredde mense, dieselfde wag op u en my.

Wanneer gaan dit gebeur, wil u heel waarskynlik dadelik vra? Die antwoord is eenvoudig: eendag wanneer Jesus Christus weer kom. Hoekom sê ek so? Want die belofte van 1 Tessalonisense 2:19, broers en susters, is nie net vir Paulus bedoel nie. Daar waar ons lees: ‘Wie anders tog as julle is ons hoop en ons blydskap, die kroon van ons werk waarop ons trots sal wees wanneer ons met sy wederkoms voor die Here Jesus sal verskyn?’ En kom ek verduidelik wat ek bedoel met dit alles wat ek tot dusver gesê het.

Wanneer Paulus hierdie verse skryf is dit ongeveer ses maande nadat hy, en ook Silas, vir ‘n tydjie in Tessalonisense vertoef het. Die gevolg van hulle verblyf was ‘n kerngroepie van mense wat tot geloof in Jesus Christus gekom het. Lukas, in Handelinge 17:4, beskryf vir ons in een sin hoe hierdie gemeentetjie gelyk het: Party van die Jode het oortuig geraak en by Paulus en Silas aangesluit. ‘n Groot aantal godvresende Grieke en ‘n aansienlike aantal Grieke en ‘n aansienlike aantal vooraanstaande vroue het ook nog bygekom.

‘n Klein groepie gelowiges, broers en susters, wat reeds toe al ‘n prys vir hulle geloof betaal het. Letterlik. Die jong gelowiges is voor die stadsleiers gesleep en gedwing om ‘n afkoopsom te betaal vir hulle vrylating. Daardie nag, lees ons in Handelinge 17:10, het hulle vir Paulus, Silas en Timoteus gehelp om uit die stad weg te kom.

Paulus vertrek dus uit Tessalonisense, maar sy hart het daar agtergebly. Die gemeente was nog so jonk en broos, maar vir Paulus baie spesiaal. Die blote gedagte aan hulle het hom gevul met trots oor dit wat die Here daar gedoen het. En hy wou hulle so bitter graag weer sien. Ons dank God altyd , lees ons in 1 Tessalonisense 1:2, vir julle almal wanneer ons in ons gebede aan julle dink. Ja, hy (Paulus) het bly droom van die dag wanneer hy hulle weer sou sien, maar veral van die dag wanneer hulle saam vir Christus sou sien. Want kyk wat sê hy vir hulle in 1 Tessalonisense 2:19 (ek vertaal dit vry):

Ek is baie trots op julle, want ek weet julle is op pad na God se splinternuwe wêreld. Op daardie dag wat Jesus Christus terugkeer, sal my hart oorloop van blydskap as julle daar langs my voor Hom staan. Julle sal die bewys wees dat ek my werk vir die Here goed gedoen het. Ek sal trots vir Christus kan sê dat julle voluit vir Hom geleef het en dat julle alles gedoen het wat ek julle geleer het. Ek kan nie genoeg vir julle sê hoe opgewonde ek oor julle almal is nie.

Hierdie vers, broers en susters, laat ‘n mens dink aan Schindler en die oorlewendes. ‘n Ontmoeting tussen bevrydes en die een aan wie hulle hulle vryheid te danke het. Hier is dit net Paulus wat op die dag wanneer die Here weer kom. Hy sal tussen die see van gesigte soek na sy vriende. Hy sal hulle kry en hulle sal hom kry. En daar in die teenwoordigheid van Christus sal hulle ‘n soort van ‘n ewige reünie geniet.

Presies dieselfde, broers en susters, kan ook met ons op daardie dag gebeur. Natuurlik weet ons nie presies hoe dit sal wees nie, maar kom ons stel onsself die volgende voor: ons sal daar staan saam met al ander die ander kinders van God, met nuwe liggame, sonder pyn en kommer. Totaal nuutgemaak, verheerlik soos Christus. En dalk sal ons hoor dat Christus vir ons sê: Ek is so trots op jou, my kind, dat jy toegelaat het dat Ek jou kon gebruik. As gevolg van jou is hier vandag ook ander mense.

En as ons dan verbaas sou antwoord deur te sê dat dit seker nie moontlik is nie (want ons is darem nie ‘n Paulus nie), sal God dalk vir ons sê: hier is jou buurman, die ou brompot wat altyd oor alles gekla het. Hy het egter jou geduld raakgesien, gesien dat jy tog in sy wel en weë belangstel. En danksy daardie geloofshouding van jou, is hy vandag hier.

En hier is die vrou wat lidmaat in jou wyk was waarin jy ‘n ouderling was. Nadat jy haar gereeld besoek het toe sy in die hospitaal was, gereeld vir haar daar gelees en gebid en met haar oor haar geloof gepraat het, het sy besef dat jy werklik in haar as mens belangstel, en dat die saak van die Here vir jou belangrik is. Ek het daardie gesprekke van jou gebruik, en daarom is sy vandag ook hier.

En sien jy daardie ses of wat wat daar staan. Toe jy met die jeug gewerk het, het jy nooit veel gesê nie. Maar jy het jou huis vir hulle oopgegooi. En in jou sitkamer het hulle die Here leer ken. Daarom is hulle vandag hier.

En so hou dit aan. ‘n Kollega het gesien hoedat jy jou humeur beteuel het. ‘n Ontvangsdame vertel hoe jy haar elke oggend, sonder uitsondering, vriendelik gegroet het. ‘n Vriend vertel jou dat jy altyd opgeruimd was, altyd bereid was om die liefde van die Here uit te straal. En so hou dit aan.

Dit is dan, broers en susters, dat ons sal begryp wat Paulus bedoel het toe hy gesê het: Wie anders tog as julle is ons hoop en ons blydskap, die kroon op ons werk waarop ons trots sal wees wanneer ons met sy wederkoms voor die Here sal verskyn?

Nie, broers en susters, met ‘n uit die hoogte, kyk-net-wat-het-ek-gedoen soort trots nie. Nee. Eerder ‘n nederige vreugde wat wil sê: dankie Here, dat u my gebruik het, u het alles moontlik gemaak, dankie dat ek so trots kan wees op hulle geloof, die wat hier by my staan.

Sal daar eendag in die hemel, broers en susters, so ‘n oomblik wees? Ek weet nie. Ons kan nie met sekerheid sê nie, ons kan maar net afleidings maak. Soos ek vanoggend afleidings gemaak het vanuit 1 Tessalonisense 2:19. Maar as daar so ‘n oomblik gaan wees, broers en susters, kan ons van twee dinge seker wees.

Die eerste is dat die grootsheid, die heerlikheid en die omvang van daardie dag onbeskryflik gaan wees. Want kyk wat sê 1 Korintiërs 2:9: wat die oog nie gesien het nie, wat die oor nog nie gehoor het nie, en wat nog nooit in die hart van die mens opgekom het nie, dit het God vir ons daar by Hom gereed gemaak.

Die tweede saak waarvan ek seker is, broers en susters, is dat ons nie spyt sal wees oor enige opoffering wat ons ooit vir die Here gemaak het nie. Al die ure wat ons vir Here afgestaan het, byvoorbeeld vir werk in my gemeente, ons sal dit nie berou nie. Elke sent wat ek vir die werk van die Here gegee het? Ons sal dit alles weer gee, plus nog. Al die kere wat ons ‘n arme of sieke gehelp het, of net daardie bietjie liefde uitgedeel het? Ons sal dit alles weer doen. Ons sal dit alles weer wil doen.

Maar nou, broers en susters, vandag, kan ons dit nog doen. Daardie oomblik, eendag wanneer Christus weer kom, wat onbeskryfliker sal wees as wat die oog nog ooit gesien of die oor nog ooit gehoor het, bly vir ons, solank ons leef, ‘n toekomstige oomblik. En solank dit ‘n toekomstige oomblik bly, gee God aan ons tyd, gee God aan ons die geleentheid om dit alles te gaan doen, dit wat ons eendag sou wou oordoen as ons saam met God en sy kinders vir altyd by Hom sal wees. Dit wat ons eendag daar sal sien, hoe God ons gebruik het, gebeur vandag, môre, en oormôre.

Daarom: u as diaken, neem maar weer die ou groen offergaweboek, en vat hierdie keer ‘n sak vol liefde en blymoedigheid saam. Deur net aan daardie voordeur te klop, gebruik die Here dalk vir u op ‘n manier wat ons onsself nooit sou kon voorstel nie.

En u as ouderling, kom ons lees maar weer ‘n keer vir ons wykslede uit die Bybel. Kom ons bid maar weer vir hulle. Kom ons stel maar weer belang. Soos ons telkens in die verlede gedoen het. Kom ons bied maar weer ons hulp aan. Kom ons gaan lê maar weer ons besoeke gereeld af. Miskien, net miskien, gebruik God ons gehoorsame pogings op so ‘n wyse as wat ons onsself nooit sou kon indink nie.

Ja, broers en susters, kom ons almal gaan weer, van voor af, kom ons gaan leef voor God soos ons weet God van ons vra. Want dit is tog in die eerste plek alles waaroor hierdie lewe gaan, God, en net God alleen. Kom ons gaan dien God deur ons naaste te dien. Kom ons gaan leef weer die liefde. Kom ons gaan doen weer dit wat ons hand vind om te doen. Al het ons in die verlede al hoeveel keer moed opgegee. Al het ons al hoeveel keer vir onsself gesê dat niks meer die moeite werd is nie.

Want miskien, broers en susters, net miskien, gebruik God vir u en vir my so dat ons eendag daar, saam met God en al God se ander kinders, iemand sal raaksien wat met ons paaie in hierdie lewe gekruis het. En op daardie kruispunt van my pad en syne, iets van God se liefde, iets van Jesus Christus se dienende liefde aan daardie skandekruis, in my lewe raakgesien het. En daarom was daardie persoon se lewe nooit weer dieselfde nie. En daarom is daardie persoon vandag saam met my hier, in die heerlike teenwoordigheid van God.

Daar, broers en susters, sal ons, as ons sien hoe God in sy genade ons gebruik het, alles wil oordoen, en nog meer wou doen. Maar hier, vandag, kan ons dit nog doen. Hoef ons meer te sê?
Amen