Matteus 24:1-14

Oorleef die lewe



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Daar is mense wat die boodskap of die belofte wat in vanoggend se gedeelte opgesluit lê, nie sal verstaan nie. Dit is mense wat:

  • nog nooit misluk het nie, en ook nie geduld het met dié wat soms wel misluk nie;
  • 'n kliniese lewe lei waar daar sogenaamd net reg en verkeerd is;
  • regte kwaai vuurvreters is en glo dat God baie gelukkig kan wees dat hulle aan ‘sy kant’ is;
  • graag die volmaakte huis en werk wou hê, en dit gekry het;
  • 'n probleemvrye lewe wou hê, en dit gekry het;
  • nog nooit gehuil het nie;
  • nog nooit in nood gebid het nie; en
  • nog nooit getwyfel het nie.

As trane, hartseer en ellende vir ons vreemd is, broers en susters, en ons nie kan verstaan hoekom ander mense soms kan en wil huil, moedeloos word en soms raadop is nie, is Matteus 24 nie vir ons bedoel nie. As ons egter weet wat dit beteken om soms in die lewe werklik seer te kry, bekommerd te wees, hoop te wil verloor en tou te wil opgooi, moet ons sommer dadelik na Matteus 24 blaai.

Matteus 24, broers en susters, is 'n hoofstuk wat dikwels gebruik word om oor die eindtyd te preek. Dit is ook reg so, want Jesus praat hier wel oor die eindtyd, en wat meer is, Hy sê ontstellende dinge oor hoe die wêreld in die laaste dae sal lyk. So ontstellend, dat sommiges sê hierdie hoofstuk moet liewers net simbolies verstaan word, en nie letterlik nie.

Ander weer sê hierdie hoofstuk handel oor die verwoesting van Jerusalem wat in 70 n C plaasgevind het, en ander weer sê dit handel oor die wederkoms van Jesus. Of, dat Jesus ons in hierdie gedeelte op die oordeelsdag wil voor­berei.

Hoe dit ook al sy, broers en susters, ten minste twee sake in hierdie gedeelte is myns insiens duidelik: Jesus is hier besig om sy dissipels op 'n stormagtige toekoms voor te brei. Sy voorspelling oor die val van Jerusalem het waar geword, en die ander sake waaroor Hy hier waarsku, sal ook bewaarheid word wanneer Hy aan die einde weer kom.

Die tweede saak is dat die dinge waarteen Jesus hier waarsku nie net in Jerusalem gebeur het en eendag weer met sy wederkoms sal gebeur nie. Nee, want nood, lyding en onverskilligheid kom in alle tye voor — ook vandag. Daarom is die raad wat Jesus hier gee, en sy waarskuwings, ook vir u en vir my bedoel. En daarom wil ek vanoggend vanuit hierdie gedeelte nie spesifiek oor die wederkoms iets sê nie, maar oor oorlewing te midde van stryd, ellende en probleme van elke dag.

Maar kom ons kyk eers na die gedeelte wat ons saamgelees het. Die tempel het 'n baie belangrike rol in die lewe van elke Jood gespeel. Dit was die plek waar God teenwoordig was, die plek waar die mens God kon ontmoet. Die tempel was daarom nie alleen verteenwoordigend van die rol van die priesters, die offers en die versoening tussen God en mens nie, maar was ook die simbool van die volk se hart. Dit was vir hulle alles, iets waarsonder hulle, so het hulle geglo, nie sou kon bestaan nie.

Die tempel was inderdaad 'n indrukwekkende, pragtige gebou, en die marmer en goud daarvan het in die son geblink. Die reuse pilare was uit soliede marmer gekerf, en die oorblyfsels van die tempel, asook argeologiese opgrawings gee vandag nog vir ons 'n idee van hoe indrukwekkend hierdie gebou moes gewees het.

Ek is doodseker dat die dissipels, wat maar doodgewone mense soos ons was, in verwondering na die tempel gestaar het. Stel jouself dus voor hoe verbaas en geskok hulle moes gewees het toe hulle Jesus hoor sê het dat daar niks van hierdie geweldige gebou sou oorbly nie. Hy het nie alleen reeds sy rug op die tempel gedraai en daarvan weggestap nie, Hy sê ook dat dit vernietig sal word. Wat eenvoudig vir die dissipels beteken het dat die volk ook vernietig sou word. Want die tempel was immers die simbool van God se volk, dit wat hulle was.

In 70 n C het dan ook gebeur wat Jesus voorspel het. Dit was nie maklik om Jerusalem in te neem nie, aangesien die stad op 'n berg gebou was. Daarom het Titus die stad beleër, die kos en water het opgeraak, en mense het van hongersnood gesterf. Uiteindelik het die stad tot 'n val gekom. Dit was 'n slagting: 97 000 mense is gevange geneem, en meer as 'n miljoen het gesterf.

Dit, broers en susters, was die ramp, die soort ellendes wat oor 'n mens kan kom, waarop Jesus sy dissipels wou voorberei. Ellendes, broers en susters, wat ook oor ons kan kom. Nou nie die inneem van die stad waarin jy bly nie, maar noem maar op: motorkapings, bomme waar toeriste saam is, huisinbrake wat tot moord lei, motorongelukke waarin gesinne uitgewis word, of wat ook al. En in Matteus 24:1-12, broers en susters, dit is immers hoe ek hierdie gedeelte verstaan, sê nie vir ons dat hierdie soort dinge miskien gaan gebeur nie. Nee, Jesus sê hier — en ook op baie ander plekke — dat ons in die wêreld gaan en sal swaarkry. Elke mens het sy ellendes, het sy probleme. Dit is eenvoudig so.

En as u nog steeds nie oortuig voel nie, bepaal maar self of die woorde van Jesus in verse 5 tot 9 nie ook maar in vandag se lewe waar is nie: Baie sal onder my Naam kom en sê ‘Ek is die Christus’, en so baie mense verlei. Julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Die een nasie sal teen die ander opstaan, die een koninkryk (mag) teen die ander, daar sal hongersnood wees, pessiektes en aardbewings op baie plekke. Julle sal deur ander gehaat word omdat julle in My glo.

Klink nie juis bemoedigend nie, broers en susters. Maar hierdie is die werklikheid, meen ek, waarmee ons vandag moet saamleef. 'n Werklikheid wat moet maak dat ons versigtig die pad van die lewe sal stap, juis omdat ons baie van die probleme waarmee ons soms te doene kry nie met die eerste oogopslag raaksien nie. Dit maak ons probleme egter nie minder gevaarlik of maar net niksseggend nie.

Wat meer is, broers en susters, is dat ons dikwels nie die oorsaak van ons probleme is nie, maar dat ons eenvoudig daarmee moet saamleef. U en ek het byvoorbeeld nie alkohol uitgevind nie, maar die paaie waarop ons ry, is vol dronk bestuurders. Ons verkoop nie self dwelms nie, maar daar is mense om ons wat dit doen. Ook besluit ons nie oor nasionale of internasionale politiek nie, maar is tog daar waar bomme ontplof.

Presies hierdie was die realiteit waarin die dissipels geleef het. Dit was nie hulle skuld dat die tempel verwoes sou word nie, dit was ook nie hulle skuld dat die volk Jesus verwerp het nie. Maar omdat hulle deel van daardie sondige en gebroke wêreld was, moes hulle noodgedwonge met die gevolg van die sonde saamleef, was hulle slagoffers van ander se sonde. Net soos u en ek dikwels die slagoffers van ander se sonde is.

God, in sy Woord, broers en susters, is baie eerlik oor die lewe en wêreld waarin ons ons bevind. Hy gee vir ons op geen stadium die waarborg dat ons ongeskonde anderkant sal uitkom omdat ons aan Hom behoort nie, ook gee Hy nie die waarborg dat geen ellende oor ons sal kom omdat ons aan Hom behoort nie.

Wat moet ons dan doen, is die vraag, om te oorleef? In hierdie gedeelte gee Jesus ons drie dinge om aan vas te hou, drie waarhede waaroor daar geen twyfel bestaan nie.

Die eerste anker wat Hy ons gee, is die belofte van oorwinning in vers 13: ‘Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word’. Let wel: God sê nie hier dat ons gered sal word omdat ons suksesvol is, perfek, sonder sonde is nie, maar as ons volhard tot die einde. Wat beteken, broers en susters, dat ons dikwels sal struikel, foute sal maak, selfs soms erg sal gly in die lewe. Dit beteken egter nie vir God die einde nie. Wat Hy vra is dat ons sal volhard, dat ons elke oomblik van die lewe verbete aan Hom sal bly vasklou. En as ons sy hand gelos het, weer daarna sal gryp. Altyd. Dan sal ons gered word.

Die tweede saak wat Jesus hier noem is die belofte dat iets met volharding bereik sal word: die evangelie van God sal so verkondig word deur die hele wêreld tot getuienis van almal (vers 14). Een van die grootste veldslae van die wêreld is in 1066 beslis toe Wilhelm van Normandië Engeland binnegeval het. Tot op daardie stadium was Engeland onoorwinlik, so het almal gesê. Maar Wilhelm het 'n geheime wapen gehad: die stiebeuel. Tot op daardie stadium moes 'n soldaat eers van sy perd afklim voor hy kon veg, omdat hy nie stewig en veilig op die perd se rug was nie. Maar met die stiebeuel kon hulle stewig staan en veg. Wat sogenaamd onmoontlik was, om Engeland te verslaan, was toe eintlik heel eenvoudig.

Vir die dissipels moes Jesus se woorde dat sy evangelie deur die hele wêreld verkondig sal word, seker ook na die onmoontlike geklink het. Maar God het vir hulle, en vir ons, ook iets gegee waarop ons kan staan. Sy Gees. Feitlik net vyftig dae later, toe die Gees uitgestort is, was hulle seker stom van verbasing oor hoe die evangelie begin het om sy loop oor die hele wêreld te neem. Wat onmoontlik gelyk het, het waar geword. Net so, broers en susters, kan vir ons dit wat onmoontlik lyk, waar word.

Die derde en laaste anker dat ons in hierdie lewe sal kan oorleef is Jesus se belofte in vers 14: daar sal 'n einde kom aan alles. 1 Tessalonisense 4:16 beskryf hierdie einde pragtig: ‘[Die] Here sal self van die hemel neerdaal met 'n geroep’. 'n Roep wat die einde van een wêreld en die begin van 'n ander sal aankondig. Wat sal Jesus Christus roep? Ek raai maar, maar miskien nie te mis nie: Hy sal 'n bevel gee wat 'n einde sal maak aan al die pyn en ellende op aarde, 'n bevel wat die vreugde van die hemel oopsluit. En as ons volhard het, sal ons gered word.

Hierdie, broers en susters, is nie goeie nuus vir mense wat net vir hierdie wêreld leef nie. Maar vir elkeen wat leef vir die wêreld kom, is dit 'n heerlike belofte.

Hoe oorleef ons in hierdie wêreld? Onthou Jesus se belofte:

  • die wat volhard, sal gered word;
  • die evangelie sal verkondig word; en
  • die einde sal kom.

Amen